U Bybel waarsku van ’n tyd, aan die einde van hierdie huidige tydvak, wanneer byna die hele wêreld verenig sal word in opstand teen God Self! Wat sal u doen wanneer daardie tyd aanbreek?

’n Ongekende wêreldwye verwerping van God Self – Sy hele lewenswyse – is net om die draai! Luister! Dit is nie ’n klein “godsdienstige” sakie nie. Soos u sal sien, sal dit ’n werklike massiewe verwerping van die God van die skepping wees. Dit sal regoor die wêreld plaasvind en miljarde mense betrek. Baie duisende sal vervolg of gemartelword vir verset teen hierdie mag!

Ek en my kollegas het in diepte die werklike gevaar wat hierdie laaste opstand sal inhou, bespreek. Ons wil al ons intekenare op die Wêreld van Môrewaarsku teen ’n baie kragtige beweging wat besig is om u lewens te beïnvloed! Indien u werklik geloof in die Bybel het, behoort u te begin om gebeure in die wêreld baie meer noukeurig dop te hou as die meeste mense – want, op hierdie oomblik, is verskeie fases van eindtydse profesieë besig om saam te kom. Die “hoofstroom” kerke van hierdie wêreld het feitlik geen werklike begrip van hierdie enorme gebeure wat binnekort gaan plaasvind nie!

Dink!
Is u en u geliefdes verstandelik, emosioneel en geestelik voorbereid om gedreig en moontlik selfs fisies bedreig te word deur ’n ongekende wêreldwye opstand? Hierdie geprofeteerde opstand sal feitlik elke greintjie oorblyfsel van “Christelikheid” verwerp en sal dan ’n “terugkeer na godsdiens” aanspoor met die werklike aanbidding van ’n magtige en geheimsinnige figuur wat homself sal aankondig as die “god” van ’n godsdiens-stelsel wat die hele wêreld sal mislei. Is u gereed? Is u begrip van die Bybel standvastig, akkuraat en waar? Is u persoonlike geloof in God en Sy geïnspireerde Woord stewig – of “wankel” dit? Hoe sal u en u gesin reageer wanneer ’n magtige en charismatiese godsdienstige figuur letterlik vuur uit die hemel laat neerdaal? Hoe sal u reageer wanneer massas van die mensdom klaarmaak om teen die terugkerende Jesus Christus en Sy leërs uit die hemel te veg – vir wie hulle selfs mag afmaak as “ruimtewesens” wat kom om die mensdom te vernietig?

Wat u Bybel duidelik voorspel

Die meeste studente van Bybelprofesie, verstaan dat die Bybel duidelik ’n eindtydse herlewing van die Heilige Romeinse Ryk voorspel. In Openbaring 17:11, beskryf God se Woord die finale “Dier” of super-diktator wat binne ’n paar jaar hoof sal wees van die hele Romeinse stelsel. Gedurende daardie tyd word dit beskryf dat tien “konings” of leiers van nasies vir slegs een “uur” saam met die dier sal regeer (vers 12). Die profesie gaan voort: “Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (vers 13). Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Adolf Hitler – wat ’n voorloper was van hierdie laaste diktator – nie in staat om die ander leiers van Europa met mooipraatjies of druk te oorreed om hulle aan hom te onderwerp nie. Inteendeel, Adolf Hitler se magtige leër het oor die grootste deel van Europa gespoel en daardie nasies militêr verower. Hierdie keer sal dit egter deur politieke en moontlik selfs finansiële druk wees, dat die leiers van die Europese nasies – voorheen deel van die Romeinse Ryk – hulle mag en gesag sal “gee” aan hierdie “Dier” wat in die nabye toekoms sal kom.

Hoekom?
Omdat ons sogenaamde “Westerse” wêreld die ware God – die God van die Bybel – oor die laaste paar dekades byna geheel en al versaak het. Dit is waarom die werklikskokkende gebeure wat in vers 14 beskryf word, hoegenaamd kon plaasvind. Teen daardie tyd sal al hierdie nasies so ver gedistansieer wees van die ware God, dat hulle uiteindelik letterlik teen Jesus Christus met Sy wederkoms sal veg! “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (vers 14).

“Hoe is dit moontlik dat dit kan gebeur?” mag u vra. Dit is omdat u Bybel ook baie duidelik ’n naderende massiewe misleiding van hierdie wêreld se bevolking voorspel! Dit sal baie verder strek as enigiets wat u al ooit gesien het! As ons teruggaan na Openbaring 13, vind ons dat hierdie komende politieke/militêre leier genaamd die “Dier” duidelik beskryf word. Die “dodelike wond” wat met die val van die Romeinse Ryk in 476 n.C. toegedien is, is “genees” toe Justinianus die Ryk in 554 n.C. herstel het (Openbaring 13:3). Die Romeinse militêre mag het beide vrees en respek afgedwing gedurende die Donker Eeue en die ware heiliges van God is dikwels vervolg of doodgemaak deur daardie moondheid (verse 4-10).

In vers 11 word ’n “ander dier” uitgebeeld wat soos Christus (“soos ’n lam”) lyk, maar sy boodskap is soos dié van ’n “draak”, Satan die duiwel (sien Openbaring 12:9)! God sê aan ons hierdie tweede dier sal “selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13). Deur middel van hierdie soort “wonderwerke” sal die valse profeet die bewoners van die aarde verlei [mislei], deur die tekens wat aan hom gegee is om te doen (vers 14). Sal u mislei word?

Ja, u Bybel voorspel duidelik dat ’n magtige godsdienstige leier “selfs vuur uit die hemel [sal] laat neerdaal voor die oë van die mense”. Dinge soos hierdie gaan die mense skok tot ’n bewustheid dat die geesteswêreld wat die Bybel beskryf, baie werklik is! Indien u glo dat God Almagtig die talle profesieë oor hierdie toekomstige tyd van godsdienstige en politieke omwenteling geïnspireer het, dan behoort u vurig u Skepper te vra vir werklike begrip.

Die Bybel beskryf ook hierdie toekomstige tyd in 2 Thessalonicense 2:1-12. Bestudeer asseblief deeglik wat die apostel Paulus geïnspireer was om aan ons te sê. Nadat hy God se mense gewaarsku het om nie te aanvaar dat Christus alreeds teruggekeer het nie, sê Paulus: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie [asof die dag van Christus se wederkoms al daar is], want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (verse 3-4). Ja, die apostel Paulus maak dit duidelik dat twee uiters belangrike gebeure van wêreldwye betekenis eers sal moet plaasvind net voor Jesus Christus se wederkoms om die mensdom te red van totale uitwissing.

’n Ongekende OPSTAND

Alhoewel die Ou en Nuwe Vertalings van die Bybel, die terme “afval” en “afvalligheid” in bogenoemde gedeelte gebruik, vertaal baie, baie gerespekteerde vertalers hierdie frase as “die opstand” of “groot opstand”. In Die Lewende Bybel lees ons: “Julle moet julle nie laat mislei nie, op watter manier ook al. Want daar is iets anders wat nog eers moet gebeur. Daar moet ’n groot opstand teen God wees en daar moet ’n man kom wat die groot rebel teen God sal wees – ’n man van die hel. Hy sal in opstandkom teen alle godsdiens en aanbidding en homself belangriker as dit alles maak. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en sê dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4). In die Nuwe Lewende Vertaling lees ons: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en diewettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie. Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is”.

Namate Amerika en die sogenaamde Christelike wêreld hul toenemend distansieer van die God van die Bybel en miljoene jong mense – selfs kerkgaande jeug – openlik in ontug leef en terwyl 40% van alle babas in die VSA vir ongehude moeders gebore word en die instelling van die huwelik nou aangeval word en belydende “Christelike” leiers probeer om aan ons te vertel dat “dieselfde-geslag” huwelike heeltemal in orde is, kan ons begin besef dat feitlik elke enkele oorblyfsel van ware Bybelse Christelikheid in die spervuur is. Dit sal voortgaan om op te bou tot ’n massiewe opstand teen die God van die Bybel, die Skepper-God!

Namate hierdie verskriklike tendens voortduur sal ’n baie slinkse Satan die duiwel misbruik maak van die situasie deur ’n valse godsdienstige “verlosser” daar te stel. Dit sal ’n magtige leier wees wat die mensdom heeltemal sal betower deur ontsagwekkende wonderwerke wat hy toegelaat sal word om uit te voer. Die apostel Paulus se geïnspireerde profesie gaan voort: “... dán sal die wettelose op die toneel verskyn. Hy sal egter deur die asem uit die Here Jesus se mond doodgemaak en deur die glans van Sy koms vernietig word. Die Satan sal dit bewerk dat die wettelose mens se koms gepaardgaan met groot magsvertoon en tekens en vals wonderwerke” (2 Thessalonicense 2:8-9 NLV). Kyk na die tydsberekening van die “wettelose” mens (NLV), en sy verskyning en hierdie massiewe opstand teen ons Skepper! God se Woord sê spesifiek dat Christus hierdie goddelose mens sal vernietig “deur die verskyning van Sy wederkoms”! Dit kon dus nie verwys het na enige wegval ofafvalligheid wat 20, 50 of 2,000 jaar gelede plaasgevind het nie! Hierdie gebeure lei dan tot die wederkoms van Christus!

As gevolg van die buitengewone wonderwerke, sal hierdie charismatiese godsdiensleier “... in die tempel van God as God ... sit en voorgee dat hy God is” (vers 4). Tog word hy genoem die “wettelose mens” en die hele godsdiens-stelsel waarvan hy die hoof is word “die wetteloosheid” genoem (vers 7 NLV).

Wetteloosheid? Praat Paulus hier slegs van plaaslike verordeninge of verkeerswette? Natuurlik nie! Die hele Nuwe Testament toon dan tog dat diegene wat bereid is om werklik te glo wat duidelik daarin geskryf staan, verstaan dat ’n ware “heilige” van God soos volg gedefinieer word: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Vroeër het Jesus aan die jong man wat gekom het om te vra na die weg van die ewige lewe, gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Jesus noem toe sommige van die Tien Gebooie.

Jare ná Christus se dood en opstanding, skryf die geliefde apostel Johannes: “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:4). Om dus die ware God te ken – die God van die Bybel – moet ’n mens werklik die Tien Gebooie gehoorsaam. Dit is nie so dat God se wet“aan die kruis gespyker” is nie – Christus se offer laat eerder toe dat die sondes van bekeerde Christene vergewe kan word. ’n Waarlik bekeerde Christen behoort homself eerder te onderwerp om die ware Christus van die Bybel in hom te laat leef deur die Heilige Gees. Soos die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad het, en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Die “verborgenheid van die ongeregtigheid” beskryf dus ’n hele godsdiensstelsel wat Jesus se leerstelling dat ons die gebooie moet onderhou verwerp. Dit is vervang met ’n emosionele geloof in die persoon van “Christus” – in werklikheid eintlik ’n vals Christus wat die stelsel se leiers self uitgedink het. Die komende “wettelose mens” (2 Thessalonicense 2:9 NLV) sal gebruik maak van bonatuurlike wonderwerke en waarlik duiwelagtige metodes om die grootste deel van die hele wêreld te laat wegdraai van die ware God en sal homself “in die tempel van God as God” voorgee (vers 4). Die meeste mense sal in opstand kom teen die ware Jesus Christus van die Bybel en sal eerder trou sweer aan ’n sataniese vervalsing wat ’n bespotting maak van wat verkondig word en eintlik leerstellings is wat heeltemal in teenstelling is met die ware leerstellings van Jesus Christus.

Die Expositor’s Bible Commentary verduidelik (vry vertaal): “Die man van wetteloosheid sal die heilige gebied beset ten einde aanbidding, wat God alleen toekom, te ontvang en selfs te vereis. Dit is uiteraard ’n Joodse tempel wat in die toekoms in Jerusalem herbou sal word. Afhanklikheid van hierdie woorde van Daniël 9:26, 27; 11:31, 36, 37; 12:11 (vgl. Mattheüs 24:5 en Markus 13:14) vereis so ’n verwysing” (bl. 322).

Watwou!
Kan ons begin om ons in te dink in die werklik skokkende en ontsagwekkende gebeure wat oor hierdie wêreld sal kom binne die volgende 10 tot 15 jaar? Ek wil nou graag aan almal van u ’n moontlike scenario gee van hoe hierdie verstommende gebeure kan ontwikkel. Jesus Christus beveel Sy ware volgelinge om hierdie eindtydse gebeuredop te hou en te “bid” (Lukas 21:36). Hier is wat u moet “dophou” oor die volgende paar jaar. Toekomstige gebeure, wat ek nou sal beskryf, sal heel moontlik in drie fases ontwikkel.

Drie fases van opstand

In die eerste fase sal ons sien dat hierdie massiewe wêreldwye opstand teen die Skepper voortgaan om toe te neem en uit te brei terwyl ons getuies sal wees van die toenemende verwerping van die Bybel en van feitlik alle vorige begrippe van godsdienstige waarhede regdeur die grootste deel van die Westerse wêreld. Ons sal al hoe meer homoseksuele bedrywighede sien en die verheerliking van seksuele verhoudings, eerder as die tradisionele huwelik. Ons sal meer vrouens sien wat hul ongebore babas vermoor, meer jong mense, sowel as ander ook, wat in ontug lewe en elke voorheen aanvaarde beginsel van ordentlikheid verontagsaam in hulle optrede – ons sal die versnelde ineenstorting sien van al die norme van ’n ordentlike samelewing.

Dan sal daar egter ’n sterk reaksie wees teen moderne Westerse wêreldtendense, namate mense begin bang word wanneer hulle die verbrokkeling van die samelewing sien, asook die toenemende groei van militante Islam en ander godsdienstige bewegings wat begin om na vore te kom namate die voormalige “Christelike” invloed oor die Westerse wêreld afneem. Dit is deurslaggewend dat, op ’n sekere stadium, ’n kragtige godsdienstige leier – in u Bybel beskryf as die “valse profeet” – na vore sal tree en vinnig sal begin om verstommende wonderwerke te verrig wat nie wetenskaplik verklaar sal kan word nie. Hy en die godsdienstige stelsel waaraan hy verbonde is, sal begin beheer neem oor alle godsdienste in die Westerse wêreld. Hierdie man sal ’n sterk invloed uitoefen en saamwerk met ’n sterk politieke leier – die “Dier” – soos duidelik in Openbaring 13 beskryf word. Die apostel Johannes is geïnspireer om ons te vertel van hierdie valse profeet wat soos ’n “lam” lyk: “Hy oefen al die gesag van die eerste dier [die Romeinse Ryk] namens hom uit. Hy maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het” (vers 12).

Openbaring 18 maak dit duidelik, dat hierdie hele stelsel “Babilon” genoem word. In die tweede fase, namate hierdie twee individue – die “Dier” en die “valse profeet” – se mag toeneem, sal hierdie stelsel feitlik alle handel en besigheidsbedrywighede van die hele wêreld oorneem en beheer daaroor uitoefen! Hulle sal die “merk van die dier” afdwing op almal wat in vrede wil leef binne hul stelsel. Slegs diegene met die merk van die dier sal toegelaat word om deel te neem aan koop en verkoop. “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Openbaring 13:16-17). Wat is daardie merk? Om meer hieroor te leer, lees gerus “Die geheimsinnige merk van die dier” elders in hierdie uitgawe.

Hierdie magtige godsdiens-politieke kombinasie sal nie vir ewig duur nie. Wanneer God hierdie moderne “Babilon” tot ’n val bring, sal “... die handelaars van die aarde ... ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (Openbaring 18:11). God se Woord beskryf die industriële reuse, die groot handelaars en die skeepseienaars van die aarde wat in absolute ontsteltenis sal wees wanneer hierdie stelsel in duie stort: “Wee, wee die groot stad ... omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!” (vers 16). “En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes!” (vers 19), dan ook weer: “... want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei [mislei]. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (verse 23-24).

Dit behoort nou vir ons almal duidelik te wees dat dit beslis nie sommer net ’n klein afvalligheid van een of ander kerk of spesifieke godsdiens is nie! Dit is eerder ’n massiewe oorname van die grootste deel van die wêreld deur twee individue onder die invloed van en deur die mag van Satan die duiwel! Om eerlik te wees, hierdie twee individue sal so magtig en invloedryk wees dat duisende “hoofstroom” predikante by hulle sal aansluit en hul kuddes met hulle sal saamneem. Hulle sal mislei wees deur die grootste misleiding in die wêreld se hele geskiedenis! Sal u daarmee saamgaan? Of sal u begin om werklik hierdie profesieë te bestudeer, God begrip te vra en die geloof en moed hê om u Skepper te gehoorsaam?

In die derde fase sal ons die finale uitslag van hierdie skokkende opstand sien! Tydens die hoogtepunt van hulle mag, terwyl hulle deur Satan die duiwel beïnvloed of self moontlik beset is en letterlik gevul is met ydelheid, sal die leiers van hierdie komende stelsel direk veg teen Jesus Christus met Sy wederkoms! “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14).

Johannes is later geïnspireer om ons in te lig: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Jesus Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Openbaring 19:19-20).

Daar gaan dus ’n tyd kom wanneer u sal sien hoe baie van u vriende en geliefdes besluit om vervolging en selfs marteling vry te spring deur saam te gaan met hierdie stelsel, namate dit magtiger word. Die einde van die leiers van hierdie stelsel word egter baie duidelik gestel: Die poel van vuur! Hul volgelinge “is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (vers 21).

Aan die einde van hierdie tydvak, sal die oorgrote meerderheid mense mislei wees en gelei word in ’n ongekende opstand teen die ware Skepper. Daar sal egter ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) wees wat die ware leerstellings van Christus en Sy oorspronklike Apostels sal volg. Sommige in hierdie klein kuddetjie van gebod-onderhoudende Christene sal beskerm word in ’n plek van veiligheid, sal die marteling gespaar word wat van ander vereis sal word. Hulle is die Christene wat uitgebeeld word as die Kerk in Philadelphia, aan wie Christus sê: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10). Aan hierdie Christene gee God die belofte: “... maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou [die Kerk] gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd” (Openbaring 12:14). Hierdie heel getrouste groep Christene sal vir drie-en-'n-half jaar op die aarde beskerm word, terwyl verskriklike vervolging voortduur.

Gedurende hierdie tyd sal Satan “oorlog voer” teen daardie Christene wat nie heeltemal so ywerig was voor die aanvang van die Groot Verdrukking nie (Openbaring 12:17). Ek bid dat diegene van u wat hierdie artikel lees, onder daardie gelowiges sal wees wat beskerm sal word. Indien u nie is nie, bid ek dat u die moed en oortuiging sal hê om op te staan ​​teen die dier en die valse profeet, selfs wanneer dit ’n marteldood beteken.

Beide diegene wat beskerm is in die plek van veiligheid en hulle wat gesterf het as getroue martelaars tydens die Groot Verdrukking, sal geseën word met die ewige lewe in die Koninkryk van God. Hulle sal die geleentheid gebied word om saam met Christus te regeer en vrede oor die hele wêreld te bring. Hulle sal deel in die eerste opstanding met Christus se wederkoms. Die Bybel stel dit duidelik: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Namate hierdie ontstellende gebeure begin om – stadig maar seker – regoor die wêreld te ontvou, sal u die geloof beoefen en die moed aan die dag lê om die ware God van die Bybel vurig te “soek” en om vir ewig een van Sy heiliges te wees? Sal u paraat wees en versigtig “waak”vir die dinge wat, soos Bybelprofesieë onthul, nog moet gebeur voor Jesus Christus se wederkoms? Sal u God se weg kies, of die weg van opstand? Mag God aan u die begrip, die geloof en die moed gee om die regte keuse te maak!