VRAAG: Terwyl Jesus Sy gehore toegespreek het tydens die eerste eeu, het Hy soms vir hulle gesê dat die oordeelsdag “verdraagliker” sal wees vir die sondige mense van Sodom en Gomorra (Matthéüs 10:15) asook vir dié van Tirus en Sidon (11:21-24) as vir baie van daardie mense wat Sy boodskap tydens Sy bediening op aarde gehoor en dit verwerp het. Hoe is dit moontlik? Indien al hierdie mense geoordeel en veroordeel was, hoe kan sommige mense dit dan makliker hê as ander in die oordeelsdag?

 

ANTWOORD: God het daardie stede vernietig om van hulle ’n voorbeeld en ’n waarskuwing te maak “vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:6). Die meeste mense van vandag besef nie hoe sulke strawwe uit die verlede inpas by God se plan vir die mensdom nie. Toe Jesus gesê het dat die oordeelsdag vir Sodom, Gomorra, Tirus en Sidon meer draaglik sou wees, het Hy geopenbaar dat die inwoners van hierdie stede nog nooit die geleentheid gehad het om Sy boodskap te verstaan nie.

Hoe kan ons dit verstaan? Ons moet besef dat, soos die Nuwe Testament verduidelik, daar drie verskillende “tydperke van oordeel” vir die mensdom is. Die apostel Petrus het die eerste oordeelstydperk só beskryf: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

Hierdie is die “Kerktydperk”, die eerste oordeelsperiode. Petrus noem die Kerk “die huis van God” – ware Christene wie se oë oopgemaak is om die boodskap van Christus te verstaan. Jesus hou Sy dissipels aanspreeklik vir hierdie kennis en verwag dat hulle geestelike vrugte sal dra (Matthéüs 25:14-30; 2 Petrus 1:1-9; Johannes 15:1-10). Ware Christene word in hierdie leeftyd beoordeel volgens hulle werke en gehoorsaamheid aan die Woord van God (1 Petrus 4:17; Openbaring 22:12).

Die volgende oordeelsperiode is die “Duisendjarige Vrederyk”. Bybelprofesie wys dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer en Sy Koninkryk op aarde sal vestig vir ’n tydperk van ’n duisend jaar (Openbaring 20:2-6). Dan sal al die nasies na Jerusalem kom, die wêreldhoofstad van Christus se Regering, om geleer te word (Jesaja 2:1-4). Die hele wêreld sal blootgestel word aan die wonderlike Waarheid en volmaakte lewenswyse van God – “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Gedurende hierdie tyd sal God Sy heilige en regverdige Wette in die harte van mense skryf deur middel van die Heilige Gees (Hebreërs 8:10-12). Net soos tydens die “Kerktydperk”, sal mense beoordeel word volgens hulle gehoorsaamheid aan die Woord van God.

Die derde en finale oordeelsperiode kan die “Laaste Oordeelsperiode” genoem word – die boek Openbaring noem dit die groot Wit Troon oordeel (Openbaring 20:11-12). In hierdie tydperk sal miljarde mense wat in onkunde oor God se Waarheid en Sy lewenswyse geleef en gesterf het, weer tot fisiese lewe opgewek word (Eségiël 37:1-14). Vir die eerste keer sal hulle oë oopgemaak word vir die Waarheid en hulle sal hulle eerste werklike geleentheid hê om gered te word.

Jesus Christus het verduidelik dat die manne van Ninevé en die koningin van die Suide saam met die mense in Sy gehoor in die toekoms opgewek sal word en hulle sal diegene van Jesus se tyd veroordeel, wat Sy boodskap gehoor en verwerp het (Matthéüs 12:41-42). Dink net aan die omvang van die tyd van oordeel wat Jesus beskryf! Miljarde mense deur die eeue van die geskiedenis heen van die mensdom, sal saam lewe om God se lewenswyse aan te leer en dit te vergelyk met hoe hulle voorheen sonder God geleef het.

Miljoene mense glo vandag verkeerdelik dat God óf wispelturig is en miljarde mense wat nooit eers Sy verkondigde boodskap gehoor het nie na die verdoemenis sal stuur óf dat Hy inkonsekwent is en redding sal gee aan sommige mense wat nog nooit Sy Evangelie gehoor het nie. Die waarheid is baie meer inspirerend! Om meer te wete te kom van God se plan vir ons almal ná die dood, vra asseblief vir ons gratis boekie, Wat gebeur wanneer u sterf?