Is die viering van Halloween ’n lekkerny – of ’n truuk – vir Christene?

Vraag: Is daar enige verband tussen die Christendom en die viering van Halloween op 31 Oktober?

Antwoord: Halloween is alles behalwe ’n Christelike vakansiedag, ten spyte van gereelde pogings om die gebruike daarvan oor te neem en te verander. Na aanleiding van ’n brief wat na 601 n.C. deur Pous Gregory I aan ’n biskop in Engeland geskryf is, is pogings aangewend om heidense feeste soos die Keltiese Samhain, wat deurtrek is van vrees vir dwalende geeste, duiwels en feetjies, te “verchristelik” (Evans - Wentz, W.Y. The Fairy Faith in Celtic Countries, bll. 288-290). Regdeur die Middeleeue is hierdie fees, wat op of om en by die begin van November gevier is, beskou as ’n tyd wanneer bonatuurlike waarsêery en kontak met die dooies en selfs met die duiwel, die heel moontlikste en aanvaarbaar was (Encyclopedia Britannica, vol 5. “Halloween”. Bl. 646).

Nêrens in die Bybel word die aanneming of “verchristeliking” van gebruike wat duidelik bestempel word as gruwels, aangemoedig nie. God het met afkeur na Sy mense gekyk wat die praktyke en gelowe van heidense volke as hulle eie aanvaar het (Deuteronomium 12:30-31). Inteendeel, Sy vermanings teen toordery en waarsêery is baie duidelik (Deuteronomium 18:10; 1 Samuel 15:23; 2 Konings 17:17, 21:6; Galasiërs 5:20; Openbaring 18:23).

Die Bybel bevat ook duidelike aanduidings dat die aanbidding, verering, of andersins om hulp te soek by die dooies, heeltemal teen die instruksies van die Almagtige God is (Deuteronomium 14:1; Jesaja 8:19). Bygelowe wat spruit uit die vrees vir dwalende geeste of siele wat reeds vertrek het, is onlogiese aannames wat die leringe van Christus en die Apostels weerlê. Christus het ons geleer van ’n komende opstanding (Mattheüs 22:31-33) en die Apostels het die toestand van die dood met slaap vergelyk, waar mense nie gekontak kan word voor hulle opstanding nie (1 Korinthiërs 15:6, 12-20; 1 Thessalonicense 4:13-18).

Enige bevelskrif of brief wat heidense plekke en heilige dae “heilig” verklaar het, was taktiek wat bedink is om bekeerlinge van ’n ander godsdiens as die een wat Jesus verkondig, bymekaar te maak – nie ’n geïnspireerde of goedgekeurde praktyk volgens die God van die Bybel nie. Regdeur die geskiedenis was die mening van sommige belydende Christene dat daar nie van bekeerlinge verwag kon word om al hulle nie-Christelike feeste eensklaps prys te gee nie. ’n Ander manier moes bedink word om hulle “geleidelik” te oortuig om hulle gewoontes prys te gee (Bede. Ecclesiastical History of the English Nation, Book I. “A Copy of the Letter Which Pope Gregory Sent to the Abbot Mellitus, Then Going Into Britain”. Hoofstuk 30). Hierdie “taktiek” was egter ’n volslae mislukking wat voortgeduur het: “Die ou oortuigings wat geassosieer word met Samhain het nooit heeltemal uitgesterf nie. Die kragtige simboliek van die dwalende dooies was te sterk ... die praktyk om tradisionele gebruike te behou terwyl daar probeer is om hulle te herdefinieer het ’n behoudende effek gehad: Die tradisionele oortuigings en gebruike het bly voortleef, in nuwe gedaantes”. (Santino, Jack. “The Fantasy and Folklore of All Hallows”, loc.gov). As ’n voorbeeld van die “blindes wat die blindes lei”, is dit wat ’n mens kon verwag (Lukas 6:39).

Wat daarvan as u sou sê dat u nie in die werklike geestelike dominansies wat van lankal af geassosieer word met Halloween glo nie, dat u dit net wil gebruik as ’n verskoning vir ’n tema vir ’n partytjie of ’n aand van pret? Hou in gedagte dat Christene moet leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4) en die Skrif moet gebruik as riglyn vir dít wat vir hulle Verlosser aanvaarbaar is.

Die Skrif toon aan ons dat Christus en sy volgelinge bekeerlinge vermaan het om hulle ou weë te laat vaar sodat hulle “in ’n nuwe lewe kan wandel” (Mattheüs 9:16-17; Lukas 9:62; Romeine 6:4, 13:11-13; 2 Korinthiërs 6:16-17). Hoewel die grootste gedeelte van die Europese wêreld die voor-Christelike tradisies met die afgewaterde woorde van Christus gemeng het, sou geen getroue lid van Christus se “klein kuddetjie” gewoontes wat van heidense oorsprong is, aanvaar het nie. Dieselfde behoort vandag ook te geld.