Toe The Matrix in 1999 vrygestel is, het baie rolprentgangers dit begryplik afgemaak as net nog ’n rolprent belaai met genoeg grafiese geweld om dit onkykbaar vir ouers en kinders te maak. Tog het iets hierdie verhaal onderskei van ander en het dit die verbeelding van miljoene rolprentaanhangers aangegryp. Deur ’n eeue-oue tema aan te spreek, het The Matrix ’n hunkering aangeraak wat dieper strek as wat selfs die vervaardigers daarvan ooit kon besef.

Neo, die held van The Matrix, ’n andersins doodgewone ou, het ontdek dat die wêreld om hom – wat so normaal en oor die algemeen aangenaam voorgekom het – in der waarheid ’n vervalste werklikheid was, wat sorgvuldig deur sy vyande daargestel was om die skokkende waarheid van hom te weerhou!

Sou dit u verbaas om uit te vind dat The Matrix in een opsig ontstellend ná aan die waarheid gekom het? Mag u dalk self onwetend in ’n sorgvuldig daargestelde vervalste werklikheid leef? Indien wel, hoe sou u weet? Indien u wil uitvind, gaan voort om hierdie artikel te lees!

Die meeste mense gaan deur hul lewens sonder veel nabetragting of ondersoek. Van hulle politieke sienings af tot hulle standpunte oor sake van die dag, is die meeste mense meer daarin geïnteresseer om te stry – om te bewys hulle is reg en die ander persoon verkeerd – as om werklik dié dinge waarin hulle glo, te ondersoek om te sien of dit met die waarheid versoen kan word.

Hierdie gebrek aan introspeksie en selfondersoek raak ook ons godsdienstige idees. Hoeveel mense plaas eerlik hulle oortuigings aangaande God “onder ’n vergrootglas”? Hoeveel mense ondersoek werklik hulle opvattings oor die betekenis van die lewe, oor reg en verkeerd, oor goed en kwaad? Hoe dikwels gaan mense nie eenvoudig net maar aan met die godsdienstige gebruike en praktyke wat hulle as kinders geleer was, sonder om seker te maak dat die god wat hulle aanbid, die ware God is nie?

In sy skrywe aan Christene wat net ’n paar dekades na Christus se opstanding geleef het, moes die apostel Paulus hulle aanspoor tot sodanige selfondersoek. Hy skryf: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galasiërs 1: 6-7).

Paulus het gesien dat ’n ander evangelie in die Christelike kerk begin wortelskiet het – ’n evangelie wat anders was as dié van Jesus Christus. Let op sy bekommernis: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11: 3-4).

Paulus het gestry teen die verspreiding van ’n lering wat ’n ander evangelie, ’n ander Gees – en die verkondiging van ’n ander Jesus, behels het! Hoewel die leerstellings en gewoontes baie nét soos die ware evangelie van Jesus Christus geklink het, was dit nogtans ’n vervalsing! Terwyl dit misleidend eenders voorgekom het, was dit nogtans nie die waarheid nie.

Die Bybel beskryf die stryd om die suiwerheid van die Christelike geloof te behou, slegs ’n paar jaar nadat Christus Sy Kerk gestig het. Selfs in die voorlaaste boek van die Bybel sien ons die stryd voortgaan: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).

Wie is die vervalser?

Wie was egter die eintlike bron van die vervalste “Christendom” wat besig was om die jong Kerk te verlei? Paulus verduidelik: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Korinthiërs 11: 13-14).

Satan die duiwel was die oorsprong van die verwarring en korrupsie in die vroeëre Kerk. Paulus noem hom “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Dit was hy wat die jong Kerk in die eerste eeu binnegedring het, die liggelowiges mislei en ’n vals evangelie voorgehou het, asook ’n vals geloof en ’n vals Christus.

Wat was die uiteinde van hierdie stryd in die eerste eeu? Hier is ons, twintig eeue later – alles het tog sekerlik goed uitgewerk, het dit nie? Of het dit? Ons weet dat Jesus Christus beloof het om Sy Kerk te bou en dat die magte van Hades – die doderyk – dit nooit sou oorweldig nie (Mattheüs 16:18)! Hoewel dit baie vervolg, beswadder en misverstaan sou word, sou die Kerk wat Jesus Christus gestig het, en wat die “hele raad van God” verkondig (Handelinge 20:27), nooit van die aarde af verdelg word nie en sal volgens profesie, teenwoordig wees by Sy klimaktiese Wederkoms!

Wat sien ons egter vandag? ’n Verstommende verskeidenheid van gelowe en praktyke wat almal aanspraak maak op die naam “Christen”, maar tog nie almal reg kan wees nie. Die boek Openbaring beskryf hoe ons wêreld sal lyk in die dae kort voor die Wederkoms van Jesus Christus. Johannes skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Ja, Satan mislei nog steeds die hele wêreld! Sy vervalsing het nog nooit opgehounie! Satan het nie sy pogings laat vaar om ’n valse Christendom, ’n valse evangelie en ’n valse Christus te versprei nie. Hy doen hom steeds as ’n engel van die lig voor. Hy isnog steeds die god van hierdie wêreld en hy is nog steeds die vader van leuens.

Dink na oor hierdie profesie aangaande die eindtyd – ons tyd: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak” (Openbaring 13:11). Hier, in hierdie beskrywing van ’n groot vals profeet – die toekomstige antichris wat binnekort aan die hele wêreld bekend gemaak sal word – kan ons sien dat hy soos ’n lam lyk. Natuurlik sal baie mense aanneem dat hy Christus verteenwoordig. Diegene wat kan onderskei, sal egter besef dat hy nie soos ’n lamklink nie – dat hy eerder soos ’n draak praat, soos die slang van ouds, Satan, die Duiwel, wat sy vervalste godsdiens versprei om die hele wêreld te mislei.

Vervalste Christendom?

Ons het uit die Skrif gesien dat Satan reeds vir eeue lank kragtig aan die werk is om die wêreld te mislei. Ons het gesien dat die wêreld onder sy invloed sal wees gedurende die eindtyd. Laat ons dus kyk na ’n moeilike vraag wat baie min mense die moed sal hê om eerlik te beantwoord: Verteenwoordig vandag se “hoofstroom Christendom” die werklike Christendom van Jesus Christus of die vervalsing wat deur Satan aangebied word?

Baie historici en geleerdes het al hierdie vraag oorweeg. Lees hierdie opmerking van die Protestantse geleerde, Jesse Lyman Hurlbut: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang daar ’n gordyn oor die Kerk, waardeur ons tevergeefs poog om te kyk; en wanneer dit uiteindelik rondom 120 n.C. lig met die geskrifte van die vroegste Kerkvaders, vind ons ’n Kerk wat in baie aspekte heeltemal anders is as in die dae van Petrus en Paulus” (Story of the Christian Church, bl. 41).

Hurlbut is allesbehalwe die enigste in sy gevolgtrekking. Is dit egter werklik moontlik dat die vervalste Christendom wat die vroeëre Kerk in die eerste eeu soos ’n virus binnegedring het, steeds in die een-en-twintigste eeu teenwoordig kan wees? Christus noem Sy ware volgelinge ’n “klein kudde” (Lukas 12:32). Is dit moontlik dat die vervalsing eintlik die oorheersende vorm is van wat die meeste mense vandag “Christendom” noem?

Indien dit wel die geval is, hoe sal ons weet? Hoe kan ons bepaal of die geloof wat ons navolg, die waarheid of die vervalsing is?

In ons pogings om ’n vervalste geloof te identifiseer, kan ons gerus ’n wenk aanneem van die Verenigde State se Tesouriedepartement, wat ’n stryd voer teen vervalste geld. Een van die mees effektiewe maniere om ’n vervalsing uit te ken, is om heeltemal en intiem vertroud te wees met die ware Jakob. Wanneer mens terdeë bewus is van hoe ’n $20-noot tussen jou vingers voel – die ingewikkelde besonderhede van die kunswerk, die papier se gewig in jou hand, die wyse waarop dit reageer wanneer jy dit vou, die manier waarop klein veseltjies in die materiaal verweef is, die manier waarop die ink net so effentjies in die papier ingesypel het – kan mens meer geredelik seker wees wanneer jy ’n namaaksel in jou hand hou. Wanneer mens die “ware Jakob” ken, staan die namaaksel vir jou uit soos dag teen nag, selfs wanneer andere wat nie so vertroud is nie, dit nie eens sou agterkom nie!

Ons kan dieselfde strategie aanwend om ’n vervalste geloof, ’n vervalste Christus of ’n vervalste Christendom uit te ken. Wanneer mens eers vertroud is met die ware standaard, kan dit nie anders as dat die namaaksel, deur die bestaande verskille, sal uitstaan nie ongeag hoe subtiel hulle ook al mag wees!

Wat is daardie ware standaard? God se Woord – die heilige Bybel! 
Kyk na die voorbeeld van die Bereane. “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17: 10-11).

Die $20-noot toets

Wat vind ons dus wanneer ons die “$20-noot toets” op sekere aspekte van tradisionele Christendom toepas? Hoe vergelyk dit met God se Woord, hoe weeg dit op daarteen?

Dink aan die beloning van die wat gered is. Baie kerke verkondig dat iemand hemel toe gaan wanneer hy te sterwe kom. Vir sommiges beteken dit om op ’n wolk rond te sweef met ’n harp in die hand. Andere beskryf die hemel weer as ’n “geluksalige visie” waar mens eenvoudig vir alle ewigheid met vreugde na God se gesig staar.

Wat leer die Bybel egter aan ons, wat is die beloning van diegene wat gered is? In die gedeelte van die Skrif wat bekend staan as die Saligsprekinge, onthul Jesus iets belangriks: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5).

God se Woord beskryf konsekwent dat die erfenis van die heiliges hier op aarde sal wees! Wat sê die Bybel sal die heiliges hier op hierdie aarde doen? Neem kennis: “En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27).

Ons lees ook Christus “het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Later sien ons dat die heiliges saam met Christus vir ’n duisend jaar lank sal regeer (Openbaring 20:6)!

Is dit net ’n soort simboliese taal of beeldspraak wat ons kan weg rasionaliseer of maar kan ignoreer? Die apostel Paulus het nie so gedink nie. Kyk na wat hy aan die Christene in Korinthe skryf: “Durf iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6: 1-3).

Op hierdie plekke – en ook op baie ander – verduidelik die Bybel dat dit die beloning van die heiliges is om letterlik saam met Jesus Christus in mag en glorie te regeer! Is dít egter wat vandag verkondig word in die meeste kerke wat Christendom bely? Die suiwer woord van God gee aan ons ’n rotsvaste standaard wat ons in staat stel om Satan se vervalsing uit te ken.

Dink nou aan ’n paar van die tradisionele feesvieringe wat met hedendaagse “Christendom” verbind word. U het waarskynlik al die liedjie gehoor wat verklaar dat Kersfees die “wonderlikste tyd van die jaar” is. Mense ruil geskenke uit, versier bome, hang kouse op vir Kersvader en geniet baie tradisies wat vir geslagte lank oorgedra word en in Christus se naam gevier word. Met Paastyd vertel ouers aan hulle kinders dat die “paashaas” vir hulle gekleurde eiers en lekkers bring en hulle almal geniet paasbolletjies en ander ou tradisies wat in Christus se naam beoefen word.

Nogtans sal enige ensiklopedie wat werd is om gelees te word, dit duidelik stel dat daardie gebruike en tradisies hulle oorsprong het in heidense aanbiddingsgebruike wat Christendom met eeue vooraf gegaan het – of selfs met millenniums! Mense wat bewus is van hierdie oorspronge, sê soms dat dit geoorloof is om nie-Christen gebruike te “doop” deur dit op te neem in Christelike aanbidding. Hoe voel God egter regtig oor die gebruik van heidense praktyke om Hom en Sy Seun te aanbid? God maak Sy gevoelens baie duidelik in die Bybel. Hy het duidelik opdrag gegee dat heidense praktyke nie gebruik mag word om Hom daarvolgens te aanbid nie (Deuteronomium 12:30-32).

Soos gereelde lesers van hierdie publikasie weet, is Jesus Christus die God wat daardie opdrag gegee het. Ons behoort van Sy ware Kerk te verwag om Hom gehoorsaam te wees. Wat sê Hy van diegene wat Sy gebooie ten gunste van hulle eie idees verwerp? Hy het aan die Fariseërs gesê: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:9). Christus het ’n praktyk verdoem wat vandag algemeen beoefen word in “hoofstroom Christendom” – pogings om Hom te aanbid deur tradisies te gebruik wat daargestel was vir die aanbidding van valse gode!

Wat sal u kies?

The Matrix is maar een van baie wetenskap-fiksieverhale waarin ’n held ontdek dat die wêreld om hom nie is wat dit voorgee om te wees nie, maar dat dit in der waarheid ’n slinkse misleiding is – ’n vervalste realiteit – wat ontwerp is om die waarheid van hom te weerhou.

In hierdie verhale kom daar dikwels ’n oomblik wanneer die held die waarheid begin uitvind en dan ’n moeilike besluit moet neem: “Keer ek terug na die gerieflike wêreld wat ek nog altyd geken het, selfs al weet ek dat dit ’n leuen is, of neem ek moedig die volgende stap en gryp ek die waarheid ten volle aan, ongeag hoe ongerieflik die besluit ook al mag voorkom?”

Wanneer u die ware Christendom van die Bybel ontdek en verstaan hoe dit verskil van die “Christendom” wat om ons beoefen word, mag u voor so ’n oomblik in u lewe te staan kom.

Indien wel, sal u nie alleen wees nie. Ek ken daardie gevoel. Ek was ook al daar. Dit verg moed om te handel volgens wat ’n mens leer. U mag selfs ’n gevoel van angs ervaar en wonder waar dit alles sal eindig wanneer u begin om dít wat u in die Bybel leer, te beoefen.

Maar, soos wat ek gevind het, is daar ook werklike vreugde en opgewondenheid wanneer mens waarhede ontdek wat jy nog nooit voorheen geleer was nie. Gedeeltes in die Bybel wat u moontlik al baie male voorheen gelees het – maar nooit ten volle verstaan het nie – raak wérklik en pas in die groter prentjie in. Namate u dele van die Bybel ontdek wat u voorheen geïgnoreer het, begin u insien wat ’n wonderlike boek die hele Bybel is! ’n Mens begin sien dat God werklik nie die skepper van wanorde is nie (1 Korinthiërs 14:33). U begin self die oorvloedige lewe ervaar wat Hy belowe het aan almal wat aan Hom gehoorsaam is (Johannes 10:10).

U mag egter soms wonder of u alleen staan in die nastrewing van ware Christenskap, eerder as die vervalsing. Weereens verskaf die Bybel die antwoord in Jesus Christus se belofte dat Hy Sy Kerk sal bou en dat die magte van die doderyk of die graf dit nie sal oorweldig nie (Mattheüs 16:18). Namate u die Bybel lees, sal u begin insien dat Sy ware Kerk wel bestaan en teenwoordig sal wees met Sy Wederkoms, wagtende op die dag wanneer dit aan Hom gebied sal word as ’n bruid wat “haarself gereed gemaak het” (Openbaring 19:7).

Die apostel Paulus noem die ware Kerk – nie die vervalsing nie – “die huis van God, wat die gemeente [kerk] is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timotheüs 3:15). Elders sê Jesus: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8: 32). Dit verg moed om ’n gerieflike leuen te verwerp en na die waarheid te begin uitreik. Maar iewers, soos ’n klein, maar kosbare edelsteen tussen ’n hoop namaaksels, is daar ’n Kerk wat werklik die waarheid van Jesus Christus verkondig, daardie selfde presiese boodskap en lewenswyse wat Hy self na hierdie aarde gebring het.

Hoe sterk is u begeerte om daardie Kerk te vind? En dan, wanneer u dit gevind het, sal u gewillig wees om van die vervalsing afstand te doen?