Merkwaardige ontwikkelings in Europa mag binnekort ’n hoogtepunt bereik in een van die deurslaggewendste gebeure in die geskiedenis van die vasteland. Bybelprofesie wys duidelik dat ’n polities-ekonomiese-militêre mag wat geïdentifiseer word deur ’n herlewing van die geskiedkundige Romeinse Ryk net voor Jesus Christus se Wederkoms, te voorskyn gaan kom op die Europese vasteland (sien Openbaring 17-18). Die Skrif wys dat hierdie dieragtige wese saamgestel sal wees uit tien nasies of groepe nasies en deur ’n vrou gery sal word – in profetiese terme dui dit op ’n godsdienstige organisasie of kerk. Pogings om Europa te herenig pas al hoe meer by hierdie beskrywing van die Bybelse eintyd-dier. Die Vatikaan en sy langtermyn agenda het ook ’n onmiskenbare ooreenkoms met die vrou wat die dier ry.

Die Rooms-Katolieke Kerk het ’n lang geskiedenis van intieme betrokkenheid by Europa se politiese en godsdienstige sake. In die 4de eeu n.C. het Keiser Konstantyn met Sylvester, biskop van Rome, ooreengekom om die invloed van die Kerk te koppel met die mag van Keiserlike Rome. Eeue later is ’n pous, Karel die Grote, as die eerste “Heilige Romeinse Keiser” gekroon. Pouse het voortgegaan om die Keiserlike kroon toe te ken toe die Ryk herlewe het onder Otto die Grote (koning van die Duitsers) en het ’n hoogtepunt bereik onder Charles V van die Hapsburg vorstehuis. Die pousdom het ook ooreenkomste gesluit met Mussolini en Hitler. Dit was deel van ’n welbegrepe agenda. Deur die eeue heen het die Kerk aanspraakmakers op die Keiserlike titel se aansprake eg verklaar en sodoende geleenthede verkry om sy invloed en beheer oor die Ryk uit te brei.

Hierdie eeue-oue agenda het nie gesterf met die laaste aanspraakmaker tot die Keiserlike titel nie. Pous Pius die 12de het in 1945 probeer om hierdie wedersyds voordelige verhouding te herstel deur ’n nuwe (oorheersend Katolieke) land tot stand te bring bestaande uit Oostenryk en dele van Duitsland onder die leierskap van Dr. Otto von Hapsburg, die erfgenaam van die Oostenrykse troon. Hoewel hierdie droom nie gerealiseer het nie, het die pousdom die moontlikhede gesien in ’n verenigde Europa waar baie lande se bevolking 80 tot 90 persent Rooms-Katoliek is. Pous Johannes die 23ste het veertig jaar gelede voorspel dat die nuwe Europa “die grootste Katolieke supermoontheid sal word wat die wêreld nog ooit geken het” en “die grootste enkele menslike weermag wat die mensdom nog ooit gesien het”. Hierdie is een van die hoofredes waarom die Vatikaan die vereniging van Europa so aktief bevorder het.

Pous Johannes die 23ste het Rooms-Katolieke aangespoor om “in die voorste linies” te wees in ’n poging om Europa te verenig. Baie van die “stigters” van die nuwe Europa was toegewyde Katolieke, net soos baie van hul leidende voorstanders vandag is. Selfs die pers het “die idee van ’n verenigde Europa as ’n hoofsaaklik Katolieke begrip” beskryf (The Financial Times, 22 Mei 1995). Dit was egter Pous Johannes Paulus die 2de wat hierdie belangrike Vatikaanse agenda vir ’n kwart eeu bevorder het. Hy het bykans 700 toesprake gelewer rakende Europa en het Europeërs herhaaldelik aangespoor om hul “wortels te ontdek” namate hulle hul “gesamentlike Europese huis” bou. Hierdie wortels gaan terug tot die aliansie tussen die Katolieke Kerk en die Heilige Romeinse Ryk wat Europa vir meer as ’n duisend jaar regeer het. Johannes Paulus die 2de het gewaarsku dat donker wolke oor ’n vasteland hang wat toegee aan onbeteulde verwêreldliking en dat Europa sy identiteit kon verloor en dat sy eenheid “binne ’n dekade in duie kon stort” as dit nie sy Katoliek Christelike afkoms erken nie (sien The Economist, 24 Augustus 2002).

Die omvang van die Vatikaanse agenda word geopenbaar deur die pogings om ’n Europese grondwet daar te stel vir die ontluikende supermoontheid. Godsdiensgroepe was nie uitgenooi na die Europese grondwetlike kongres nie, omdat wêreldse kragte kerk en staat wil skei. Dit het egter nie die Vatikaan verhinder om die uitkoms te probeer beïnvloed nie. Pous Johannes Paulus die 2de het in ’n private oudiënsie met Valery Giscard d’Estang, president van die kongres, hom aangespoor om nie die godsdienstige “sement” te vergeet wat Europa lank bymekaar gehou het nie. Johannes Paulus die 2de het ambassadeurs aan die Vatikaan herhaaldelik daaraan herinner dat ’n Europese grondwet die rol wat Katolisisme in die Europese geskiedenis gespeel het, moet erken. Toe ’n vroeë konsep nagelaat het om God, godsdiens, Christelikheid of die rol van die kerk te noem, het die Vatikaan die dokument afgemaak as “totaal onvoldoende” (Londen Daily Telegraph, 2 Februarie 2003). Gevolglik het die Vatikaan “die Katolieke Kerk se mees ambisieuse planne” ontsluier om te verseker dat die nuwe grondwet nie slegs ’n verwysing na God bevat nie, maar ook die wetlike status van kerke waarborg en “die versekering van ’n amptelike dialoog met Europese instellings” (euobserver.com, 24 April 2003). Dit is net eenvoudig nie op die Vatikaanse agenda om uit die Nuwe Europa gelaat te word nie.

In ’n poging om sy gewig agter die strewe om Europa te verenig te gooi, het die Vatikaan aangekondig dat “die stigters van Europa” – Alcide De Gasperi van Italië, Robert Schuman van Frankryk en Konrad Adenauer van Duitsland – sowel as Charles die 1ste, die laaste Hapsburg Keiser van Oostenryk-Hongarye, op die weg geplaas is om as heiliges verklaar te word. Die Vatikaan, onder leiding van Pous Johannes Paulus die 2de, het openlik die ooswaartse uitbreiding van die Europese Unie en die toelating van 60 miljoen Rooms-Katolieke in Pole gesteun. Die Vatikaan se pogings om die 1,000 jaar oue breuk met die Oosterse Ortodokse Kerk te heel kon miljoene “vervreemde” broers en susters terugbring na die omhelsing van die “moeder”-kerk. Hierdie is nie geïsoleerde gebeure nie, maar deel van ’n verreikende agenda om die invloed van die Katolieke Kerk in Europa en die wêreld te herstel. Sodoende word die gebiede wat afgestaan is tydens die “Groot Skeuring” van die 11de eeu, die Protestante Hervorming en die opkoms van die ateïstiese kommunisme wat groot dele van Oos-Europa in die 20ste eeu verswelg het, herwin.

Die Vatikaan het lank reeds die belangrike rol raakgesien wat die Vatikaan alleen kan speel in die integrasie van Europa. In 1975 het Pous Paulus VI aangekondig: “Kan dit nie gesê word dat dit geloof is … die Katolieke geloof wat Europa gemaak het nie? … Geen ander menslike mag in Europa kan die diens lewer wat aan ons toevertrou is nie … om Europa se Christelike siel te herontwaak, waar sy eenheid gewortel is” (The Principality and Power of Europe, Hilton, bl. 34-35). Die Vatikaan is egter nie sonder belangrike bondgenote nie. Dr. von Hapsburg, ’n lid van die Europese Parlement en hoof van die Pan-Europese Beweging, het opgemerk dat “die keiserlike kroon van Karel die Grote en van die Heilige Romeinse Ryk dalk wel moontlik ’n rol mag speel” in die uiteindelike struktuur wat in Europa te voorskyn kom (ibid., bl. 35). Die diepte van hierdie agenda word weerspieël in ’n stelling deur ’n Katolieke lekewerker: “Ek dink die Europese Unie is nie bloot net ’n ontwerp van mense nie, maar ook van God” (The Tablet, Londen, Oktober 1999).

Terwyl die Bybel openbaar dat God nie agter die eenwording van Europa is nie, is die vasberade pogings van een kerk om die dier te bestyg en te ry, wat nou besig is om vorm aan te neem op die fondamente van die antieke Romeinse Ryk, lank gelede in die Skrif voorspel (Openbaring 17:3-7; sien ook Daniël 2; 7; Openbaring 13; 18) en is vandag in wording! Om meer te wete te kom oor hierdie profesieë wat ’n hoogtepunt gaan bereik met die Wederkoms van Jesus Christus, bestel ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring.