Ons nasies is in ’n kulturele en morele krisis. Indien u ’n moeder is, wat kan u doen om u kinders te beskerm teen die komende rampspoed?


Regoor die Verenigde State sal miljoene families Moedersdag op 10 Mei vier. Nasies rondom die aarde vereer hul moeders op verskillende tye vir hulle liefde, versorgende natuur en vir die opofferings wat hulle vir hul kinders en gesinne maak. Ons behoort sekerlik ons moeders te bedank – asook die moeders van ons kinders – vir hulle lewenslange liefde en ondersteuning. Ons leef in ’n krisistyd waarin elke moeder se rol noodsaaklik is. Die Westerse nasies is by ’n beslissende kruispad, hulle is voorlopers in die wêreld met egskeidings en moedig immoraliteit aan. Dwelmmisbruik en misdaad vier hoogty. Seksuele perversie en verslawing ondermyn nie net die nasionale karakter nie, maar word teen ’n toenemende tempo uitgevoer. Vir miljoene mense het moraliteit en godsdiens onbelangrik geword.

Waarom maak dit saak? Profesieë van die Bybel dui aan dat ons nasies ’n totale ineenstorting van ons samelewings tegemoetgaan, tensy ons as volkere bekeer. Jesus Christus het voorspel dat die ergste tyd van oorlog in die menslike geskiedenis ooit gaan kom net voor Sy Wederkoms. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). Die profeet Jeremia verduidelik hoe erg hierdie tye sal wees ... “want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Om ons huidige rigting om te draai, moet daar ’n drastiese verandering in ons gesindheid teenoor God en die ware godsdiens van die Bybel wees.

Die rol van vaders is beslissend en kan nie genoeg beklemtoon word nie. Net so met die rol van moeders – hulle het ’n unieke en diepgaande invloed op die groei en geestelike ontwikkeling van hul kinders. Groot leiers het getuig van die belangrikheid van ’n wyse en liefdevolle moeder. Die Verenigde State President, Andrew Jackson, het sy moeder geloof as “so sagmoedig soos ’n duif en so dapper soos ’n leeuin” (Mother o’ Mine: A Mother’s Treasury, bl. 106). Uitvinder Thomas Edison het sy moeder vereer deur te sê: “My moeder het my gevorm”. En die Verenigde State President Abrabram Lincoln het gesê: “Alles wat ek is en hoop om te wees is ek aan my moeder verskuldig” (ibid., bl. 107).

’n Moeder se rol was nog altyd belangrik, maar haar rol is nog meer belangrik wanneer sy ’n kind se enigste ouerlike invloed is. Dit is deesdae die hartseer werklikheid van miljoene kinders in ons Westerse nasies. Skrywer David Blanckenhorn wys daarop dat, as gevolg van die heersende buite-egtelike swangerskappe en egskeidings in die Verenigde State, “meer as die helfte van ons nasie se kinders ’n aansienlike deel van hul kinderjare weg van hul vaders deurbring voordat hulle die ouderdom van agtien jaar bereik” (Fatherless America, bl.1).

Rampspoed op die horison

Een van die vroegste oproepe om Moedersdag in die Verenigde State te vier, het gekom van Julia Ward Howe. In 1870 het Howe ’n Moedersdag geproklameer en die aandag gevestig op die benarde toestand van moeders wat hul mans en seuns in oorloë in die midde-negentiende eeue verloor het.

      Alhoewel die mans histories die spit moes afbyt in oorloë, het oorloë ook ’n verskriklike uitwerking op die vrouens en kinders gehad. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hele gesinne in die Nazi-konsentrasiekampe gesterf. Mense was in spoorwegtrokke ingejaag om verneder, verdierlik en uiteindelik uitgeroei te word.

Gedurende oorlog word die bykans ondenkbare roetine. Die Skrif beskryf die onmenslike uitwerking wat oorlog op desperate ouers kan hê. Moses waarsku die Israeliete: “En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak” (Deuteronomium 28:53). Die geskiedenis toon ook dat sommige ouers hul kinders doodgemaak en geëet het tydens die Romeinse beleëring van Jerusalem in 70 n.C. Is dít ondenkbaar in ons moderne tyd? Vra uself af: Hoeveel miljoene verfynde, “verligte” mense in ons Westerse beskawing keur deesdae die moord op ongebore kindertjies goed terwille van die blote gerief van die ouers?

Ouers behoort deesdae te besef dat sonder God, hul kinders en gesinne geweldig kan ly. Moses het hierdie waarskuwing van God geboekstaaf: “En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes. En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees” (Levitikus 26:21-22).

Moeders is van nature besorg oor die koers wat ons nasies inslaan. ’n Godvresende moeder verlang slegs die beste vir haar gesin. Sy gee om vir die toekoms van haar gemeenskap, omdat dit haar kinders se toekoms direk beïnvloed.

Wat kan ’n moeder egter doen om haar kinders te beveilig en voor te berei vir ’n gelukkige en suksesvolle toekoms?

Leer kinders om met God te wandel

Sonder algehele, volkome bekering en wending tot God sal ons nasies nie ’n verskriklike einde ontwyk nie. Hoe kan ons kinders egter weet hoe om dit te doen, tensy hulle dit geleer word?

Een van ’n moeder se belangrikste verantwoordelikhede is om haar kinders te leer hoe om God werklik te aanbid. Dit is soos Dr. Jeffrey Fall skryf in Suksesvolle Ouerskap volgens God se riglyne: “Vir Christenouers is die uiteindelike doel om in hul kinders se jong, ontvanklike jare ’n grondslag te lê sodat hulle altyd daarna sal streef om God ook as hul Vader te hê”. Moses sê aan die Israeliete: ... “en jy moet dit [God se woorde] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:7).

Ongelukkig het baie moeders – asook vaders – hierdie Godgegewe rol vergeet. In hul boek, Passionate Housewives: Desparate for God, stel outeurs Jennie Chancey en Stacy McDonald dit dat “sonder ’n skriftuurlike model, skep die ‘professionele ma’ dikwels ’n kindgesentreerde huis – ’n fantasie-huishouding wat ten beste beskryf kan word as die toppunt van speelterreine” (bl. 24-25). Moederskap gaan nie slegs daaroor om ontspannings- en onderwysgeleenthede aan haar kroos te voorsien nie – dit gaan daaroor om morele en geestelike beginsels in die volgende geslag vas te lê.

Die Bybel dui aan dat dit slegs deur ouers se oortuigende en toegewyde godsdienstige onderrig is dat die volgende geslag voorspoedig sal wees en sal floreer. Dawid skryf: “My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. Ek wil my mond open met ’n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. Hy tog het ’n getuienis opgerig in Jakob en ’n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het – om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (Psalm 78:1-7).

Indien u wil hê dat u kinders die toekomstige rampe wat vir ons voorlê, moet vryspring – en hul terselfdertyd voorberei vir God se Koninkryk – stel u self die regte voorbeeld? Leef u ’n ware Christelike lewe? Dr. James Dobson het geskryf: “Indien die redding van ons kinders vir ons regtig so lewensbelangrik is, dan moet ons begin om hulle geestelik voor te berei nog voordat hulle kan verstaan waaroor dit werklik gaan. Terwyl hulle grootword moet hulle hul ouers gereeld op hul knieë voor God sien staan terwyl hulle met Hom praat. Hulle sal vinnig op daardie ouderdom leer en nooit vergeet wat hulle gesien en gehoor het nie” (Parenting isn’t for Cowards, bl. 104).

Nogtans, soos outeur Carla Barnhill opgemerk het, glo baie vrouens verkeerdelik dat “hulle uiteindelike waarde te vinde is in moederskap en nie in hul verhouding met God nie” (The Myth of the Perfect Mother: Rethinking the Spirituality of Women, bl. 14). Dit is ’n fout. Indien ’n moeder graag godvresende kinders wil opvoed, dan is haar eerste prioriteit om self ’n godvresende ma te wees wat haar Christelikheid uitleef en in haar persoonlike lewe met God wandel.

God belowe seëninge aan diegene wat Hom van ganser harte gehoorsaam. In Deuteronomium 6 waarsku Moses Israel: “So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy ’n lang lewe hê” (vers 2, NV). Indien u wil hê dat u kinders voorspoedig moet wees en ontwikkel, leer hulle dan om na God op te sien en om Hom hulle lewe lank te volg.

Leer kinders om hul vader te respekteer

In ons samelewing wat toenemend vader-neutraal en vaderloos is, het baie kinders deesdae eenvoudig nie ’n betekenisvolle verhouding met ’n vader nie. Nogtans is ’n positiewe verwantskap met ’n kind se vader noodsaaklik vir gesonde groei en ontwikkeling. Dit vorm ook die grondslag vir ’n kind se verhouding met sy ewige Vader, God.

Indien u ’n moeder is, leer u u kinders om hul vader te respekteer? Moeders kan ’n rol speel deur te help om hul kinders se harte na hul Hemelse Vader te draai, asook na hul fisiese vaders. Wat daarvan as u, as vrou, voel dat u u eggenoot nie kan respekteer nie? Wat daarvan as u voel dat hy dit nie werd is om na opgesien te word nie? Dobson merk op: “U, as die moeder, hou die sleutels tot die verhouding van u seuns [of dogters] met hul vader. Indien u hom respekteer as ’n man, sal hulle meer geneig wees om na hom op te sien en na te volg. Indien u dink dat hy ’n papperd of ’n verslaafde of ’n verloorder is, dan word daardie gesindhede direk oorgedra op die interaksie tussen hulle” (Bringing Up Boys, bl. 94). Stel u ’n voorbeeld wat u kinders help om hul vader te respekteer, ten spyte van sy menslike tekortkominge?

Die apostel Paulus skryf: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder – dit is die eerste gebod met ’n belofte – sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:1-3). Deesdae is dit ’n verleentheid vir baie ouers om gehoorsaamheid en respek van hul kinders te verwag. Baie ouerskaptegnieke verwag tans slegs verdraagsaamheid en selfuitlewing van jong mense en die opbou van jeugdige selfrespek. Dit veroorsaak dat ouers dikwels voel dit is egoïsties en selfsugtig om gehoorsaamheid van hul kinders te verwag. God wil nogtans hê dat kinders selfbeheersing en godvresendheid moet aanleer asook om te groei na Sy gelykenis. Soos Paulus opmerk, om ouers te eer en aan hulle onderdanig te wees, is een van die Tien Gebooie. Dit is ook ’n gebod met ’n belofte van ’n lang en oorvloedige lewe.

Hoe nou as u onenigheid in die huis het? Probeer om versoen te raak, indien dit enigsins moontlik is. Werk daaraan om dit moontlik te maak. ’n Minder volmaakte huwelik waar daar ’n vader en ’n moeder is, is dikwels vir alle betrokke partye beter as afsondering en egskeiding. Navorsers Paul Amato en Alan Booth het tot die gevolgtrekking gekom dat “hoogstens een derde van die egskeidings so ellendig is dat kinders onwaarskynlik enige voordeel daaruit trek. Die oorblywende nagenoeg 70% behels lae-konflik huwelike wat kinders baie minder sal benadeel as die werklikheid van ’n egskeiding” (“Two parents, even unhappy, are better”, Today, 7 Januarie 1998).

Wat nou as u ’n enkelmoeder is? Moet nie probeer om u kinders teen hul vader te laat draai nie. Leer hulle om hom te respekteer soveel as wat hulle daartoe in staat is. Dit beteken nie om sy verkeerde gedrag te verdra nie, maar wel om hul te leer om hom te respekteer as ’n medemens. Selfs indien hul vader heeltemal afwesig is, of indien hy totaal ongeskik is om as rolmodel te dien, kan u nogtans u kinders leer om ander manlike gesagsfigure te respekteer. Dit sal hulle help om ’n groter mate van sekuriteit te bekom wanneer hulle hul weg deur die lewe moet vind en dit sal die weg voorberei vir ’n verhouding met hul Hemelse Vader. Dit sal hulle help om hul tot bekering te bring in hul eie verhouding met God. Dit mag hulle vrywaar van groot lyding in die jare wat voorlê (Spreuke 30:17).

Bou u huis

As ’n grondslag om kinders te leer om God te eer en hul ouers te respekteer, het moeders ’n spesiale verantwoordelikheid om van haar huis ’n tuiste te maak. Ons lees: “Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af” (Spreuke 14:1). Bou u ’n huislike lewe van vrede, rustigheid en vreugde waar kinders kan grootword in ’n veilige en beskermde omgewing?

Spreuke 31 beskryf ’n moeder wat daarna streef om ’n warm, vreedsame en godvresende huis te bou. Sy is nie ’n geïdealiseerde “super-ma” nie, maar eerder ’n vrou wat haar godgegewe talente ten volle beoefen. Sy vrees God (vers 30), respekteer haar man sodat hy op haar vertrou (verse 11-12), voorsien klere en kos aan haar gesin (verse 13-15, 21-22), beheer haar tong en praat met vriendelike onderrigting (vers 26). Godvresende moederskap is nie ’n onbereikbare ideaal nie – dit behoort die doewit te wees van elke moeder wat daarna streef om God te volg.

In moderne Amerika is “tuis” dikwels weinig meer as slegs ’n gebou waar mense wat aan mekaar verwant is, slaap – waar daar weinig sinvolle interaksie tussen gesinslede is. Die televisie en die Internet neem deesdae baie van die volwassenes se tyd by die huis in beslag – omtrent 20 uur per week, volgens ’n onlangse peiling. Kinders het hierdie tendens waargeneem en streef dieselfde patroon in hul eie lewens na. In 2005 het ’n meningspeiling deur die National Institute on Media and the Family, berig dat kinders tussen die ouderdomme van 8 en 18 jaar, 44.5 uur per week voor die rekenaar, televisie of speletjieskerms deurbring.

As ’n moeder het u ’n unieke geleentheid om wisselwerking in u gesin aan te moedig – om u huis op te bou deur opregte gesinsbande. Hoe kan u dit vermag? Is daar ’n eenvoudige sleutel?

Eet saam. Dit is ’n eenvoudige stap maar met verreikende resultate en sal help om u kinders voor te berei om hul toekoms dapper tegemoet te gaan. Dr. Blake Bowden van die sentrum by die Cincinnati Kinderhospitaal het ’n opname gemaak van 527 tienderjariges om te probeer vasstel watter gesins- en leefstyl-eienskappe verband hou met geestelike gesondheid. “Wat hulle weereens waargeneem het is dat tienderjariges wie se ouers vyf of meer kere per week aandete saam met hulle genuttig het, minder geneig was om dwelms te gebruik, om depressief te wees of om met die gereg te bots. Hulle was ook geneig om beter te doen op skool en om omring te wees met ’n ondersteunende vriendekring ... Gesinsmaaltye bly steeds wonderlike geleenthede om die waarhede van ons geloof oor te dra. Namate die seëninge van die dag in oënskou geneem word, sien kinders bewyse van God se liefdevolle, getroue versorging en die belangrikheid om Hom te vereer deur ’n tyd vir danksegging” (Bringing Up Boys, bl. 92-93).

’n Moeder kan ook kommunikasie binne die gesin bewerkstellig. Dr. Dobson gee hierdie advies: “Laat my toe om by u, moeders, aan te dring om gereeld met u seun (en natuurlik met elke ander lid van u gesin) te praat. Dit is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word. Werk hard daaraan om die lyne van kommunikasie oop en suiwer te hou. Vind uit hoe u eggenoot en kinders voel en waaroor hulle dink ... Wanneer u aanvoel dat teruggetrokkenheid besig is om te ontwikkel, moet nie toelaat dat nog ’n dag verloop voordat u die versteekte gevoelens uitgebring het nie. Dit is die eerste beginsel van ’n gesonde gesinslewe” (ibid., bl. 96). Moet nie toelaat dat u huis slegs ’n bymekaarkomplek word waar verwante gesinslede kom en gaan nie – wees ’n katalisator vir werklike kommunikasie en u sal hulle help groei tot sterk jong manne en vroue.

In die moderne samelewing word moederskap beide “onderskat en oor-geromantiseer” (Barnhill, bl. 14). Dit behoort nie een van die twee te wees nie – dit is eenvoudig net die rol wat God voorsien het om te verseker dat die waarheid en die regte waardes aan die volgende geslag oorgedra word asook dat kinders in ’n omgewing opgevoed word waar hulle ’n godvresende karakter kan ontwikkel (Maleagi 2:15). Dit is jammer om te sê, maar die moderne samelewing gee dikwels weinig aanmoediging en ondersteuning aan moeders wat graag “huislik” [tuisteskeppers] wil wees (Titus 2:5). Dorothy Patterson, ’n tuisteskepper en adjunk-fakulteitslid van Chriswell Kollege, verduidelik hierdie dubbele standaard: “Die grootste deel van die wêreld sal natuurlik saamstem dat dit heeltemal in orde is om ’n huishoudster te wees, solank dit nie in u eie huis is nie, om mans met beleefde bewondering te behandel solank die man die baas in die kantoor is en nie u eie man nie, om na kinders om te sien kan selfs as heldhaftig beskou word waarvoor presidensiële toekennings gegee kan word, solank dit net nie u eie kinders is nie”. Minder en minder moeders leer hul jong dogters hoe om ’n huishouding waar te neem. Na alles, “wie het tyd om te leer hoe om ’n huishouding te bestuur – veral as beplan word om nie baie tyd daar deur te bring nie?” (Chaney en McDonald, bl. 24-25).

In ’n krisisgevulde wêreld het moeders die unieke voorreg om ’n plek van vrede vir gesinslede wat onder groot spanning verkeer, te skep, deur hul huise gasvry, warm en verwelkomend te maak. Moeders kan ’n omgewing bevorder waar gesinslede kan leer om gereeld met die nodige respek en bedagsaamheid met mekaar te praat. Hulle kan hul kinders help om goddelike sedelikheid aan te leer, oor God se weë te praat en te leer hoe om die lewe te benader.

Die apostel Paulus waarsku dat Christelike ouers sal moet bontstaan teen die einde van hierdie tydvak in die heersende tendense van die samelewing om hulle, “want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:2-4). Moeders kan deesdae baie doen om te verhoed dat hul kinders in hierdie groef verval.

Kan moeders ’n verskil maak? U ouerskap mag nou wel nie in staat wees om die wêreld te red nie maar u kan egter u kinders opvoed en aanmoedig, hulle leer om God te gehoorsaam en hul ouers te respekteer. U sal hulle nie slegs op die regte pad na ’n gelukkige en godvresende volwassenheid help nie, maar u mag hulle selfs red van vernietiging saam met ’n verwarde en sondige geslag (Spreuke 23:13-14). Ja, moeders, u kan in hierdie tyd van krisis ’n verskil maak!

Moeders en Gesondheid

“Navorsers het bevind dat vroeë binding noodsaaklik is. Dit word selfs gekoppel aan fisiese gesondheid veertig of vyftig jaar later. Ongelooflik, maar 91% van kollege-mans wat gesê het dat hulle nie ’n persoonlike verhouding met hul moeders gehad nie, het koronêre hartvatsiektes, hoë bloeddruk, duodenumsere en alkoholisme in hul middeljare ontwikkel. Slegs 45% van die mans wat moederlike warmte en nabyheid kon onthou, het soortgelyke siektes ontwikkel. Selfs nog meer verrassend is die feit dat 100% van die deelnemers aan hierdie navorsing wie se ouers koud en afsydig was, later talryke ongesteldhede in hul middeljare ontwikkel het. Kortliks, die kwaliteit van vroeë verhoudings tussen seuns en hulle moeders is ’n sterk voorspeller van lewenslange psigologiese en fisiese gesondheid. Wanneer aan sekere behoeftes in kleintyd nie voldoen word nie, doem daar probleme langs die pad op” (Bringing Up Boys, Dobson, bl.85).