Te midde van die bedrywigste tyd in die Amerikaanse verkiesingstryd, het baie Amerikaners die Geheelbeeld uit die oog verloor! Waar is die Verenigde State werklik op pad heen? Is enige van die huidige presidensiële kandidate selfs in die geringste mate daartoe in staat om die werklike groot probleme wat die volgende Amerikaanse President sal konfronteer, op te los?

Verder mag daardie min Amerikaners wat werklik gewillig is om die God van die Bybel te glo en te vertrou, vra: Is ons spoggerige “demokratiese proses” werklik die beste manier om ’n nasie te bestuur?

Min mense besef dat – gedeeltelik as gevolg van demokrasie – Amerika afstuur op ’n finansiële ramp, tensy groot veranderings plaasvind! Namate Stemdag nader kom, sal enigeen van die Demokratiese of Republikeinse genomineerdes die moed hê om aan die burgers te vertel presies hoe ernstig die probleem werklik is – en hoe dit elkeen van hulle se sak moet raak?

Vier jaar gelede het nie een van die belangrikste kandidate daardie moed gehad nie. Soos die USA Today in ’n voorbladartikel kort voor die 2004 verkiesing aangedui het: “Die Amerikaanse belastingbetalers het ’n verborge skuld van ten minste $53 biljoen [ons beklemtoning] in regeringsobligasies, meestal van MedicareSocial Security en federale skuld. Hierdie skuld is gelykstaande aan $473,456 per huishouding wat die persoonlike skuld van $84,454 per huishouding vir huislenings, motorfinansiering en ander lenings, verdwerg. Die federale regering sal die belasting moet verdubbel of die voordele onmiddellik met die helfte moet sny om sy beloftes gestand te doen om mediese hulp en pensioenvoordele aan afgetredenes te verskaf in die komende dekades. Beide die grootste politieke partye en die presidensiële kandidate het dit vermy om die probleem aan te spreek uit vrees dat hulle die kiesers sal kwaad maak” (4 Oktober 2004).

Het enigiets werklik verander? Die werklike skuld het natuurlik groter geword – die USA Today het nie lank gelede nie berig dat die skuld opgehoop het tot $516,348 per huishouding. ’n Kolossale finansiële “ysberg” staan op die punt om “Oorlogskip Amerika” te tref, en moontlik selfs te kelder, maar die “vrees om die kiesers kwaad te maak” sal waarskynlik weer hierdie saak uit die publiek se oog hou gedurende hierdie verkiesingjaar!

Hoekom?
Omdat politici in ons moderne “demokrasieë” (of dit suiwer demokrasieë of verteenwoordigende republieke is) baie selektief moet wees oor watter feite hulle aan die kiesers bekend maak. Gewoonlik moet hulle die mense slegs dit vertel wat hulle wil hoor – of dit waar is al dan nie. Wanneer politici die publiek aan te veel realiteit blootstel, kom dit gewoonlik neer op politieke selfmoord! Die mees suksesvolle politici is gewoonlik dié wat die meeste belowe: “Ek sal julle belasting verminder en nogtans vir julle groter voordele gee”. Dit is “demokrasie aan die werk”.

Baie van die oorspronklike Amerikaanse leiers – George Washington, John Adams, Thomas Jefferson, Alexander Hamilton, Benjamin Franklin en andere – was besonder intelligent, hoogsgeletterd en uiters bekend met die Engelse gemene reg en die beginsels waarop die Amerikaanse demokrasie gebou was. Hulle agtergrond het hulle daartoe in staat gestel om “demokratiese” instellings te vestig en in stand te hou – ten minste vir ’n wyle. In teenstelling hiermee kan nie van die groot massas onopgevoede en wanopgevoede mense regoor die wêreld, wat nooit die geringste ondervinding met demokratiese waardes of instellings gehad het nie, geredelik verwag word om demokrasie te maak slaag nie. Baie van die eerste Amerikaanse leiers het hierdie feit besef. Die tweede President van Amerika, John Adams, het waarlik gesê: “Ons het nie ’n regering wat by magte is om die stryd te voer teen menslike hartstogte wat nie in toom gehou kan word deur moraliteit en ware geloof nie. Ons grondwet is slegs gemaak vir ’n morele en godsdienstige nasie. Dit is heeltemal ontoereikend vir die regering van enige ander”.

 Wat behels ’n “morele en godsdienstige nasie”? Miljoene Moslems regoor die aardbol voel dat “Amerikaanse demokrasie” die wêreld toegegooi het met vieslike rolprente, tydskrifte en musiek wat ongeoorloofde seks en geweld verheerlik, families uitmekaarskeur en God belaster. Dit is moeilik om dit te ontken! Amerikaners behoort te onthou dat ’n onlangse Hoof-uitvoerende beampte wat gekonfronteer is met getuienis oor sy eie immorele gedrag, dit moeilik gevind het om te definieer wat is “wat”! Hy het behendig vrae oor sy dade ontduik en gesystap, maar op die ou end het hy nogtans bekend geraak as ’n flirt – ’n diep immorele persoon – wat werklik ’n gruwelike voorbeeld as President van ons nasie gestel het.

Meer onlangs het die staat van New York sy Goewerneur verloor toe dié bedank het omdat hy gekonfronteer was met getuienis van sy betrokkenheid met ’n “hoë profiel” prostituut! Verstommend, het die voormalige Adjunk-goewerneur, nadat hy ingesweer was as Goewerneur, erken dat hy en sy vrou buite-huwelikse verhoudings gehad het! Dit lyk of die meeste burgers eenvoudig maar “met die stroom saamgaan” met so baie immorele situasies in die regering – en inderwaarheid, regdeur ons hele gemeenskap. As gevolg van die konstante dromslae van die media – wat ontug, owerspel, homoseksualiteit en ander perversies wat ’n losse lewenstandaard aanmoedig – raak sodanige gedrag heeltemal “aanvaarbaar” vir ons veronderstelde “Christelike” nasie!

Ons moet ophou om onsself te bluf! 
Indien die God van die Bybel werklik bestaan – en Hy bestaan wel! – sal Hy nie so ’n immorele nasie baie langer seën nie! “Westerse demokrasie” produseer nie meer die tipe leiers wat dit voorheen gedoen het nie. Ons leiers word toenemend oorweldig deur katastrofes wat hulle minder in staat is om te hanteer en dit sal grootliks die aansien en mag van Amerika en die nasies wat van die Britte afstam, verswak. ’n Liefdevolle God sal hierdie katastrofes gebruik om mense tot die besef te skud van hoe kwesbaar hulle is. Die mense van Amerika, en sy bondgenote wat van Britse afkoms is, is bestem om verneder te word – om werklik verootmoedig te word deur nasionale beproewingserger as enigiets wat hulle nog ooit ervaar het!

Die Ewige God sê aan ons: “Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:7-8). Ons in hierdie Werk van die lewende God het baie jare vir u presies vertel wat gaan gebeur! Baie van u besef dit. Besef u egter hoe die voorspelde eindtydse gebeure besig is om te versnel – dit raak ons daaglikse lewe, ons lewenstandaard, ons regering en ons gevoel van sekuriteit op wyses soos nog nooit tevore nie?

Dus, wat lê nou werklik vir Amerika voor in die onmiddellike toekoms?
Die ware Jesus Christus van die Bybel gaan binne die leeftyd van die meeste van u wat nou hierdie tydskrif lees, terugkeer om op ’n troon in Jerusalem te sit en oor hierdie hele wêreld te regeer! Die Bybel praat duidelik hiervan, van die een kant tot die ander kant – alhoewel die meeste belydende Christene nooit daarvan geleer is nie. Christus sal die “Koning van die konings en die Here van die here” wees – en reg hier op hierdie aarde regeer, gelei en gemagtig deur die Almagtige God, die Vader (Openbaring 19:15-16).

Gedurende daardie tyd, hoedanig sal Christus se regering in werklikheid daar uitsien, en waarmee sal vandag se ware Christene – ware heiliges van God – besig wees? Sal hulle in die hemel wees en niks doen nie, of sonder om te werk net op harpe speel?

U Bybel sê: “Nee!
Inteendeel, God se woord beskryf duidelik die ware regering wat op hierdie aarde ingestel gaan word, en die rol wat u, lesers, dan daarin mag speel – indien u ’n ware Christen en “oorwinnaar” word met God. Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3). Paulus gaan dan voort om te verduidelik hoe die Christene in Korinthe veronderstel was om te leer hoe om God se regering in die Kerk te beoefen deur probleme onder hulleself reg te “oordeel”. Ons wat ware Christene is, moet leer om die korrekte vorm van regering te beoefen – want daardie soort regering gaan binnekort oor hierdie hele aarde regeer! Sal dit ’n “demokrasie” wees? Nee! Die Skrif wys, van Genesis tot Openbaring, dat ampte in God se regering altyd gevul is deur aanstellings – nie deur politiekery of misleidende beloftes wat gemaak word om stemme te “koop” nie.

Jesus belowe: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons wat dus gewillig is om ons Skepper te gehoorsaam, moet leer om ons menslike selfsug te oorwin, en deur middel van God se Gees leer om nou God se regering te beoefen!

Mag ons begin om te hunker na God se werklike regverdige en liefdevolle soort regering, wat ware vrede en voorspoed vir elke mens op hierdie aarde sal bring! Mag elkeen van ons sy deel doen om voor te berei om in daardie regering te wees en om die doel te vervul waarvoor God ware Christene gedurende hierdie tyd roep.

Christus se Koninkryk – Sy regering – kom gouDít is wat voorlê vir Amerika, en vir ’n baie verwarde en lydende wêreld. Mag God daardie dag verhaas!