Diegene wat die Bybel glo, verstaan dat Jesus geopenbaar het dat ons wêreld baie traumatiese tye in die gesig sal staar in die jare net voor Sy wederkoms. Deesdae kry honderde miljoene mense regoor die wêreld swaar en hoewel baie organisasies en individue probeer help, duur die lyding voort.

Jesus het teen godsdienstige misleiding en vervolging in die eindtyd gewaarsku en gesê dit sal gevolg word deur streeksoorloë en etniese geweld, daarna ongekende hongersnood en wêreldwye siekte-epidemies (Mattheüs 24:4-7).  Hierdie profesieë word in simboliese taal gevind in Openbaring 6 – die berugte “Vier Ruiters van Openbaring”.

Alhoewel ontelbare miljoene mense vandag swaarkry, waarsku die Skrif ons dat die mensdom se lyding baie erger sal word in die jare net voor Christus se wederkoms. As ons verstaan dat so baie mense in die wêreld hulp nodig het in hulle tyd van benoudheid, wat behoort ons gesindheid dan te wees in hierdie tyd? Wat is ons hoop vir môre?

Mense het nou hulp nodig

Van Amerika tot Frankryk, van Japan tot Afrika, is menslike lyding ’n wêreldwye verskynsel. Volgens ’n BBC-nuusverslag van 19 Junie 2013 is daar tans meer as 7,6 miljoen ontwortelde vlugtelinge – die meeste sedert 1994 en dit sluit nie eens die meer as een miljoen mense in wat in 2013 uit Sirië gevlug het nie! Dit is egter nie net diegene wat vlug vir oorlog, geweld, weerstoestande of armoede in ontwikkelende lande wat hulp nodig het nie. Volgens die National Alliance to End Homelessness, is daar bykans 100,000 kronies hawelose mense wat in Amerika langs die strate slaap. Volgens The Economist, “oorskry ’n groeiende getal haweloses, die perke van die stad se vrygewigheid” in Parys, Frankryk (“Down and out in Paris”, 13 Oktober 2012). Die Wêreld Voedselprogram beraam dat daar 870 miljoen mense wêreldwyd is wat nie genoeg kos het om te eet nie (WFP.org, “Hunger Statistics”, 10 Julie 2013). Die lys word net langer.

Omdat die menslike element soms in statistieke verlore raak, kan twee kort voorbeelde uit Japan help om die wêreldwye verskynsel van nood te illustreer, ongeag van waar of hoe “modern” ’n nasie ook al mag wees. Dakloosheid in Japan – veral onder ouer mense – het gedurende die afgelope jare toegeneem. Volgens Reuters, was 73.5% van Japan se haweloses in 2012 mense ouer as 55 jaar. Die verhaal van die 50-jarige Toshiyuki Ishioka, ’n oud-sakeman, is baie bekend: “Die maatskappy vir wie ek gewerk het, het bankrot gespeel, daarom lewe ek nou al vir agt jaar op straat”. Sy bruingebrande, leeragtige vel het hom ouer laat lyk as sy jare. “Dit is ook vir ouer mense soos ek moeilik om werk te kry, want ons is nie meer so sterk nie”. Kyoko Machiya vertel ’n soortgelyke storie. Die skraal 64-jarige vrou woon in ’n tydelike struktuur van karton en sê dat hoewel sy probeer het om in ’n skuiling vir haweloses te woon, sy uiteindelik besluit het om daar uit te trek: “‘Dit is nie hulle skuld nie, maar dit is bitter moeilik om omring te wees van mense met ernstige geestelike siektes’, het Machiya gesê. ‘Dit was nie ’n aangename omgewing nie, daarom het ek weer op straat geëindig’” (Reuters, “Old age far from gentle for Japan’s graying homeless”, 1 Maart 2013).

Van oorloë tot tsunami’s, van droogtes tot modderstortings, van siektes tot die ekonomie; menslike lyding het baie oorsake. Die Bybel openbaar dat hierdie probleme sal vererger voor Christus se wederkoms en dit sal veral die moderne nasies, wat afstammelinge van antieke Israel is, teister. Aan diegene wat geseënd is om onder die Westerse nasies te woon, lyk dit of die ergste swaarkry nog altyd “êrens anders” is. Die Skrif waarsku egter dat die “Westerse” lande, wat in die Skrif aangedui word as die “Huis van Jakob”, voor Christus se wederkoms ’n tyd van verskriklike rampe en ellende sal beleef, as gevolg van moderne Israel se sondes. Dit sal veel erger wees as enigiets wat ons vandag sien, selfs in die lande wat die swaarste kry (Jesaja 48:1-12; Esegiël 5:11-17). Hierdie straf sal sy hoogtepunt bereik met die Groot Verdrukking waarvan Jesus Christus gepraat het (Mattheüs 24:21).

Goddelike barmhartigheid

Wat behoort ’n Christen te doen in ’n wêreld waarin daar soveel lyding is? Indien ons die armes afskeep of minag, doen ons sonde (Spreuke 14:21). Liefdadigheid beteken ook nie dat ons onwys moet wees of toelaat dat ons uitgebuit word nie (2 Thessalonicense 3:10-12), maar God wil hê dat ons diegene wat werklik in nood verkeer helpdeur van ons tyd, talente, gebede, bemoediging of geld te gee (Romeine 12:6-11). Jakobus 1:27 sê dat suiwer godsdiens beteken dat ons weduwees en wese in hulle tyd van nood behoort te besoek. Getroue Christene sal nie nalaat om aan alle mense goed te doen tot so ver hulle in staat is nie, veral nie in hulle diens aan hulle broers en susters in die geloof nie (Galasiërs 6:10). Die Skrif is duidelik: Indien ons sien dat mense in nood verkeer, maar geen medelye met hulle het nie, dan is die liefde van God nie in ons nie (1 Johannes 3:17).

Of ons ryk of arm is, moet ons onthou dat alles wat ons het, ’n gawe van God is – die kos wat ons eet, ons klere en die lewe self (Levitikus 26:4; Mattheüs 6:25, 33). God verwag dat ons dit sal waardeer en Hy beveel ons om vrygewig te wees teenoor ander. Daar is egter ook ’n bykomende waarheid wat ons moet verstaan. Daar is ’n soort hoop en hulp wat ons aan diegene wat swaarkry kan gee, wat baie belangriker is as enigiets wat ons fisies kan aanbied.

Uiteindelik is daar geen manier waarop enigeen van ons – individueel of enige organisasie of menslike regering – hierdie wêreld se probleme kan oplos nie. Trouens, die Bybel waarsku dat toestande nog baie erger sal word in die jare wat voorlê. Om hierdie wêreld se probleme op te los is die wederkoms van Christus nodig. Hierdie waarheid is ’n fundamentele deel van die lewensbelangrike boodskap van die Koninkryk van God wat spoedig sal kom. Dit is hierdie boodskap wat die Kerk van God beveel is om te verkondig tot aan die einde van hierdie tydvak. Deur te bid, te ondersteun en deel te neem aan die verkondiging van die ware Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God is van die mees diepgaande maniere waarop u God se wil kan doen en mense vandag kan help. Help hulle om berou te hê oor hulle sonde, om geseën te word namate hulle volgens God se wette begin lewe, om ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus te hê en om ’n ware hoop vir ’n beter toekoms vir alle mense te hê!

Soos Jesus beveel: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die evangelie is die goeie nuus van Jesus Christus se wederkoms, wanneer God die trane van almal wat hom volg se oë sal afvee (vergelyk Openbaring 7:17) en wanneer Christus vrede en oorvloed oor die hele aarde en vir die hele mensdom sal bring (Jesaja 2:2-4; Amos 9:13; Miga 4:4; Openbaring 19:11)! Dit is die hoop vir ’n wêreld wat swaarkry!