Verlede maand ’n honderd jaar gelede – op 30 Junie 1908 – het die geheimsinnige “Tunguska ontploffing” bome ontwortel oor ’n 830 vierkante myl gebied in sentraal Rusland. Wetenskaplikes beraam dat die Tunguska ontploffing ’n energielading vrygestel het wat ’n duisend maal meer kragtiger was as dié van die kernontploffing wat Hirosjima, Japan, in Augustus 1945 verwoes het.

Die meeste wetenskaplikes glo dat die Tunguska voorval veroorsaak was deur ’n ontploffende meteoor wat uit die ruimte geval het. ’n Paar het bespiegel dat dit ’n asteroïde of ’n komeet was wat met die aarde gebots het. Ander fisici het weer gespekuleer dat dit veroorsaak kon wees deur ’n “swart gat” of ’n deeltjie van kosmiese anti-materie wat met ons planeet gebots het.

Kort na die Tunguska ontploffing het ’n paar Russiese boere gereken dat dit Armageddon inlui, hulle het verwag dat die einde van die wêreld spoedig sou volg. Hulle was natuurlik verkeerd. Die Skrif praat egter wel van ’n tyd wanneer meteore uit die lug sal val en verwoesting oor die planeet aarde sal saai. Wat sê u Bybel werklik oor “Armageddon” – en wat volg daarna?

Die mensdom het nie nodig om na die ruimte te kyk vir verwoesting nie – die aarde het ’n lang rekord van sy eie. Daar was meer as 250 groot oorloë sedert die Tweede Wêreldoorlog en drie keer soveel mense het in die laaste 90 jaar in oorloë gesterf as in die vorige 500 jaar gesamentlik!

Die 20ste eeu het die teregstelling van soveel as 50 miljoen mense onder die Kommunistiese bewind van Mao Zedong gesien. Tussen 1958 tot 1961 word beraam dat meer as 30 miljoen mense gesterf het in Mao se “Groot Sprong Vorentoe”. Meer as 20 miljoen mense is onder Josef Stalin se bewind in Sowjet Rusland gedood. Sedert 1983 is meer as 2 miljoen van die Dinka, Nuba en Neur volke in die Soedan sistematies uitgemoor terwyl meer miljoene ontwortel is. Daar word beraam dat 3 miljoen mense in die agtjarige burgeroorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo omgekom het.

Op hede woed daar minstens 20 groot siviele oorloë of gewapende konflikte oor die wêreld. Die Sunni en Shiite Moslems van Irak gaan voort om mekaar uit te roei en die Amerikaans-geleide koaliese magte het duisende ongevalle gely. Verskeie lande werk hard om by die “kernklub” aan te sluit – om oor kernwapens te beskik – selfs terwyl Amerika en Rusland voortgaan om ’n voorraad van meer as 30 000 kernplofkoppe tussen die twee van hulle te handhaaf.

Regdeur die wêreld se geskiedenis het nasies, bondgenootskappe en ryke teen mekaar geveg. Die mensdom het oorlogvoering as ’n lewenswyse beoefen! Het ons al ooit dekades of eeue van wêreldvrede beleef? Wat is ons geskiedkundige rekord? Historici Will en Ariel Durant het hierdie vraag nagevors en tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Oor die laaste 3 421 jaar van aangetekende geskiedenis, was slegs 268 sonder oorlog” (The Lessons of History, bl. 81).

Omdat ons die menslike natuur ken, kan ons seker wees dat daar meer oorloë in die toekoms sal wees. Jesus Christus het dit Self bevestig. Toe Sy dissipels aan Hom gevra het wat die teken van Sy Wederkoms en die einde van hierdie tydperk sal wees, het Hy gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheus 24:4-8).

Jesus waarsku oor ’n oorlogsbrand wat die hele wêreld sal omsluit. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Indien God nie ingryp nie, sal daardie tyd in totale vernietiging eindig. Is dit moontlik dat die mensdom hulself heeltemal kan uitwis deur oorlog? Voor die kerntydperk, sou baie mense “nee” gesê het. Nou kan ons egter beter as ooit tevore die potensiële gevolge van die mensdom se ontsaglike oorlogvoerende mag besef. Die atoombom wat op 6 Augustus 1945 op Hirosjima, Japan, geval het, het byna 4080kg geweeg. Deesdae kan ’n “briewetas-kernbom” wat minder as 136kg weeg nog groter verwoesting saai oor ’n groot stad.

Sal die mens “Armageddon” teweegbring? Sal die wêreld se militêre magte dalk hul wapens neerlê en vrede vind? Die Bybel voorsien die besonderhede – en dit is nodig dat ons weet wat dit aan ons vertel!

Wat is “Armageddon”?

Presies wat is Armageddon? Die woord Armageddon is ’n transkripsie van die oorspronklike Hebreeuse woorde har megiddo, wat die “heuwel van Megiddo” of die “berg van Megiddo” beteken.

Megiddo is omtrent 88 km noord van Jerusalem in Israel geleë. In antieke tye het Megiddo die belangrikste handelsroete tussen Egipte en Damaskus bewaak. Megiddo kyk uit oor die grootste vlakte in Israel, wat in die Bybel die laagte van Jisreël genoem word. In die Ou Testament word melding gemaak van verskeie groot veldslae wat hier plaasgevind het. In onlangse geskiedenis, slegs 90 jaar gelede – in September 1918 – het die Britse generaal Edmund Allenby die leërs van die Ottomaanse Ryk verslaan in wat bekend geword het as die Eerste Wêreldoorlog se “Veldslag van Megiddo”.

Dit is belangrik om te onthou dat die groot veldslag wat in die Skrif voorspel word, nie by Armageddon sal plaasvind nie. Openbaring 16 gee die werklike volgorde van gebeure. Armageddon is die versamelplek waar die wêreldmagte sal byeenkom voor daardie groot, finale veldslag (Openbaring 16:16). U Bybel noem daardie groot, finale veldslag nie die Slag van Armageddon nie, maar noem dit eerder “die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God” (vers 14).

Sal die wêreld se weermagte ons planeet werklik blootstel aan die gevaar van kosmiese kernvernietiging? Baie van u wat hier lees mag onthou dat ons, nie so lank gelede nie, in ontsettende gevaar verkeer het. In 1962 het Amerika en Rusland tydens die Kubaanse Projektielkrisis kernrisiko-neming op mekaar toegepas. In 1973 het President Nixon die Amerikaanse weermag op kerngereedheid geplaas toe die Sowjet Unie gedreig het om in te gryp in die Midde-Oosterse oorlog tussen Israel en sy Arabiese bure. Kan dit weer gebeur? Die Skrif sê: “Ja!”

Waar pas hierdie groot veldslag in die algehele panorama van Bybelse profesieë in? Die sesde hoofstuk van Openbaring gee die profetiese hooftrekke. Hier beskryf die apostel Johannes sy visioen van die beroemde vier perderuiters van die Apokalips. Die perderuiters simboliseer vals christusse en vals godsdiens, oorloë en die vernietigende uitwerking daarvan, hongersnode wat normaalweg op oorloë volg, en dan pessiektes en siekte-epidemies wat weer op hongersnood volg. Johannes skryf: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle [die vier ruiters] is mag gegee oor die vierde deel van die aardeom dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8).

Selfs die massa slagtings wat ons sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesien het, sal vervaag in vergelyking met die dood wat die aarde sal versluier in hierdie geprofeteerde tyd. Miljarde mense sal omkom na gelang oorlog, honger en siektes die aarde verswelg.

Die vyfde seël

Na die vier perderuiters, wat die eerste vier seëls verteenwoordig, volg die vyfde seël, wat die martelaarskap van Christene aandui tydens ’n twee-en-’n-halwe jaar periode van verdrukking (Openbaring 6:9-11). Na dít sien ons die sesde seël, ook bekend as die hemelse tekens. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Meteore wat strepe maak na die aarde sal vrees en skok vir die mense rondom die aarde meebring, en sal veroorsaak dat die Tunguska voorval in vergelyking onbelangrik voorkom. Ontsaglike aardbewings sal ook die aarde skud. Hierdie tekens lei die Dag van die Here in – die tyd van God se gramskap en oordeel oor ons ondankbare, rebelse wêreld.

Oordeel? Ja, Jesus Christus, die Lam, sal toornig wees! Hy sal God se regverdige oordele fel. Die Dag van die Here word “die groot dag van sy toorn” genoem! (Openbaring 6:17).

Hierna sal die sewende seël geopen word, bestaande uit sewe basuin-oordele of plae, wat gelewer word tydens die jaarlange Dag van die Here. “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Die basuine sal waarskuwings blaas aan die sondige mensdom! Die sewende basuin sal bestaan uit die “sewe laaste plae”, beskryf in Openbaring 15:1.

Die vyfde, sesde en sewende basuinplae word weë genoem. Die woord “wee” is ’n uitroep van smart. “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!” (Openbaring 8:13).

Openbaring 9 beskryf die eerste wee – die vyfde basuinplaag. Die vyfde engel blaas ’n basuin wat ’n militêre aksie ontketen wat vyf maande lank duur. Dan volg die tweede wee – die sesde basuinplaag – ’n intense militêre teenaanval wat uitgebeeld word deur simbole van perde en ruiters.

Ons lees: “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (Openbaring 9:12-14).

Tydens hierdie tydstip in die profesie sal ’n weermag van 200 miljoen soldate weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg om ’n derde deel van die aarde se bevolking te vernietig. “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:15-18).

Kan u u dit indink? Hier word wêreldoorlog op ’n ongeëwenaarde skaal beskryf. Hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog sal die dood van miljarde mense sien. Soos Jesus ons gewaarsku het, tensy daardie dae verkort was, sou geen vlees gered word nie – alle lewe op aarde sou vernietig word.

Die sewende basuin

Na dit alles, sal die sewende basuin geblaas word. Vir Christene is die blaas van die sewende basuin goeie nuus – want dit sal Jesus Christus se Wederkoms en die vestiging van God se Koninkryk op aarde aankondig. Ons lees: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Hierdie sal ’n vreugdevolle tyd vir Christene wees. Hoe sal die wêreld egter daarop reageer? Die Skrif sê aan ons: “En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom” (vers 18).

Die leërs van die woedende konings van die ooste sal weswaarts beweeg oor die Eufraatrivier. Die wêreld se leërs sal mekaar ontmoet te Megiddo, wat uitkyk oor die laagte van Jisreël. Die Bybel beskryf hierdie samekoms as die sesde van die laaste sewe plae. “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word. En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:12-14). Dan: “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (vers 16).

Gevalle engele – Satan se demone – sal maak dat die opponerende magte sal saamsmelt om teen Christus te veg met Sy Wederkoms. Nadat hulle by Megiddo saamgekom het, sal hulle suidwaarts beweeg na Jerusalem om teen Christus te veg. Neem kennis: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou” (Joël 3:1-2).

Wat die Bybel die dal van Jósafat noem, tussen die Olyfberg en die stad Jerusalem, word deesdae die Kidronvallei genoem; dit strek nogal ’n ver ent suidwaarts. Dit is hier, nie te “Armageddon” nie, waar die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God sal plaasvind. Jósafat beteken in Hebreeus “oordeel van die Ewige”. Tydens hierdie klimaktiese veldslag sal God die nasies oordeel.

God sal die Europese supermoondheid, genaamd die “Dier” in die boek Openbaring, saam met hulle oordeel en straf. Die leërs van hierdie hovaardige supermoondheid sal waarlik probeer om teen Christus met Sy Wederkoms te veg! “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openbaring 19:19-21).

Ja, God sal daardie rebelse nasies wat verkies om teen die Vredevors met Sy wederkoms te veg, verslaan! Soos die apostel Paulus skryf: “... die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:17-18).

Die mensdom se oorlogsugtige geaardheid

Wanneer die mensdom hul tot oorlog wend en faal om God te vrees, wat gebeur dan? Op 2 September 1945, reg aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die Amerikaanse Weermag se Generaal Douglas MacArthur, aan boord van die oorlogskip Missouri, die historiese les van oorlog opgesom: “Militêre alliansies, mags-ewewigte, volkebonde, het elkeen op sy beurt gefaal, wat as die enigste moontlike pad vorentoe die smeltkroes van oorlog laat. Die volslae vernielsugtigheid van oorlog blokkeer nou hierdie alternatiewe uitweg. Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie ’n beter en meer regverdige stelsel kan ontwikkel nie, dan is ons Armageddon voor ons deur. Die probleem is basies teologies van aard en behels ’n geestelike oplewing en verbetering van die menslike karakter wat met ons bykans ongelooflike vooruitgang in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële en kulturele ontwikkeling van die laaste twee duisend jaar, kan sinkroniseer. Dit moet uit die gees kom as ons die vlees wil red”.

Die menslike geaardheid het nie verander sedert MacArthur hierdie woorde geuiter het nie. Nasies het nog nie hul lesse geleer nie. Soos Generaal Robert E. Lee so treffend tydens die Amerikaanse Burgeroorlog opgemerk het: “Dit is goed dat oorlog so verskriklik is – anders sou ons te lief daarvoor geword het”. Hoe jammer tog die nasies van die aarde hou aan om so lief vir oorlog te word dat die mensdom eersdaags totale uitwissing in die gesig sal staar – dood van alle lewe op aarde – tensy God Almagtig ingryp om ons te red. Hy sal.

Intussen gaan nasies maar voort om wapens van massa vernietiging te ontwerp. Soos Generaal MacArthur voorspel het, Armageddon sal eersdaags voor ons deur wees.

Ná Armageddon!

Ons nasies behoort hulle te bekeer van hul goddelose en immorele lewenswyses. Selfs al is dit te laat vir u nasie, kan u steeds persoonlik berou tot bekering hê. God kan u beskerm tydens die gevaarlike tye wat voorlê. Jesus het Sy volgelinge vermaan: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Bid u dat God se Koninkryk moet kom? Bid u vir die Wederkoms van Jesus Christus – die Koning van die konings – na hierdie aarde?

Christus se Wederkoms sal ’n duisend jaar van vrede en voorspoed vir die hele wêreld inlei. Christus sál weer kom as Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 19:16). Die millenniale profesieë in u Bybel onthul ’n toekomstige wêreld met hernude lewe, volhoubare landbou en vrede tussen die nasies soos hulle almal na die tempel in Jerusalem kom om die Koning te aanbid. Die nasies sal hulle swaarde omskep in ploegskare. “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Watter wonderlike nuus is dit! Ná Armageddon lê die Koninkryk van God en blywende wêreldvrede. Dank God vir dié uiteindelike toekoms wat Hy vir u en vir my beplan het. Ons behoort elkeen nou, in ons eie lewens, te beplan vir daardie toekoms. Maak seker dat u daagliks bid en u Bybel lees. Maak seker dat u Christus vra om u te help om Sy voorskrifte te leer en daarvolgens te leef. Indien u dit doen, sal u uself goed voorberei vir Armageddon – en daarna!