Die Skrif vertel van ’n tyd aan die einde van hierdie tydperk wanneer God die opstandige mensdom sal neerwerp ter voorbereiding van Jesus Christus se wederkoms.


’n Belangrike profetiese gebeurtenis dreig op die horison. Die groot profete van die Bybel, Jesaja, Jeremia en Esegiël skryf daaroor. Die sogenaamde klein profete – Joël, Amos, Obadja, Sefanja, Sagaria en Maleagi – beklemtoon ook hierdie gebeurtenis. Selfs die apostels Petrus en Paulus het daaroor geskryf. Dit staan bekend as die dag van die Here. Presies wat is dit egter? Hoe pas dit in die raamwerk van Bybelse profesieë?

Die boek Joël bevat ’n profesie vir ons geslag: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby – ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie” (Joël 2:1-2).

Die Almagtige God sal op dramatiese wyse ingryp in menslike sake. Daar sal groot oorloë wees gedurende hierdie tyd wanneer God oordeel sal vel oor die nasies. Nie net sal militêre wapens verwoesting aanrig nie, maar daar sal ook groot ekologiese verwoesting wees. “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind” (Joël 1:4).

Selfs deesdae is strooptogte van swerms sprinkane nie ongehoord nie. In Julie 1874 het die grasvlaktevan Amerika [prêrie] deurgeloop onder die grootste sprinkaanplaag in die geskiedenis. ’n Stuk grond van ongeveer 513,000 vierkante kilometer – ’n gebied byna twee keer so groot soos die staat Colorado en groter as Duitsland, Irak of Japan – was oortrek met sowat 12.5 biljoen sprinkane wat gewasse, blare, leerware en nog baie ander dinge opgevreet het. Die dik laag dooie insekte was so ’n probleem dat selfs spoorverkeer gestaak moes word sodat spoorlyne skoongemaak kon word.

Vroeër vanjaar het die bevolking van die eiland Madagaskar geworstel met ’n sprinkaanplaag wat twee derdes van die nasie se land bedreig het. Kenners het minstens 100 sprinkaanswerms wat bestaan het uit sowat 500 miljard roofsugtige insekte regoor die eiland geïdentifiseer. Hulle verorber ongeveer 100,000 ton plantegroei daagliks. Die mense se lewensbron word bedreig, maar dit is ’n klein versteuring in vergelyking met die toekomstige plae wat vandag se plae gering sal laat lyk.

Wanneer God rebelse nasies straf, sal hy hulle tot verootmoediging en bekering roep! Natuurlik hoef ek en u nie te wag tot dan nie: “Heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die Here julle God, en roep tot die Here. Ag, die dag! Want naby is die dag van die Here, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:14-15).

Die dag van die Here is die tyd wanneer God die nasies sal oordeel. Dit is die tyd wanneer die almagtige God sal begin om meer direk en kragtig in die mensdom se sake in te gryp.

Sewe seëls

In Openbaring 5 lees ons van ’n boekrol wat met sewe seëls verseël is. Jesus die Openbaarmaker, maak daardie seëls oop soos beskryf word in Openbaring 6. Die eerste vier seëls staan bekend as die vier perderuiters van die Apokalips. Die eerste perd (die wit perd) en sy ruiter verteenwoordig valse godsdienste – valse Christusse.

Die tweede seël openbaar ’n ruiter (wat op ’n rooi perd ry) met die mag om vrede van die aarde af weg te neem. Die derde seël wys ’n ruiter (op ’n swart perd) wat broodgebrek en gevolglike hongersnood verteenwoordig. Die vierde seël toon ’n ruiter (op ’n vaal perd) met die naam “die dood en die doderyk”. Hierdie ruiters se gesamentlike mag sal oor ’n kwart van die aarde se bevolking vernietiging bring.

Hierdie beskrywing stem ooreen met die gebeure wat Jesus in Sy Olyfbergprofesie uiteengesit het: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheüs 24:7).

Die basuinplae wat in die boek Openbaring beskryf word, wag vir ons op die horison en ons is besig om die fondament vir ons eie vernietiging te lê. Jesus sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:22).

Die dag van die Here is ’n toekomstige tyd van God se kragtige ingryping in wêreld-sake. God sal selfs die elemente van die natuur aanroer om groot verwoesting te saai terwyl Hy ’n beroep doen op vleeslike mense om hulle te bekeer en Hom te soek. Hy sal opstandige nasies oordeel en selfs toelaat dat hulle mekaar uitroei in ’n wêreldkonflik.

’n Versnelde rit

Kritici sê ons het nog altyd oorlog, hongersnood en pessiektes gehad. Ons sal egter sien hoedat die vier ruiters van die Apokalips hulle rit versnel met die toenemende globale aanslag soos wat die tyd aanstap. Hierdie vier ruiters word geopenbaar wanneer Christus die eerste vier seëls oopmaak. Wat gebeur wanneer Christus die vyfde seël oopmaak? “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9).

Hier lees ons van die marteldood van die heiliges – ware Christene. In die eerste eeu het Keiser Nero die Christene wreed vervolg en hulle dood gemaak. Hierdie vyfde seël voorspel ook ’n grootskaalse vervolging van God se mense in die eindtyd. Daarna maak Jesus die sesde seël oop en openbaar die hemelse tekens wat mense oor die hele aarde sal skok.

Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Nie net sal asteroïdes en meteoriete mense bevrees laat nie, maar massiewe aardbewings sal ook die aarde skud. Soos die apostel Johannes in ’n visioen gesien het, “al die berge en eilande is uit hulle plekke versit”. Deur hierdie aardbewings en die hemelse tekens sal die Almagtige God die aandag van die rebelse mensdom verkry. Die Skepper God sê aan ons: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26).

Dit is dus duidelik dat dit vir ons almal beter sal wees om nou tot bekering te kom en ons voor God te verootmoedig, eerder as om geskud te word omdat ons die Skepper en Sy lewenswyse verwerp! Ja, die vername mense van die aarde sal van verskrikking vlug. Die apostel Johannes het hulle verskrikte reaksie beskryf: [Hulle het] “vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:16-17).
In gewone taal: God sal “ons aandag trek”! Die hemelse tekens sal mense verskrik. Die vername leiers van die aarde sal bang wees.

 Die hemelse tekens lui die dag van die Here in, die tyd van God se toorn en oordeel oor ’n ondankbare, rebelse wêreld bekend. Jesus Christus, die Lam, sal toornig wees. Hy sal God se regverdige oordele vel. Die dag van die Here word “die groot dag van sy toorn” genoem (vers 17)!

’n Dag vir ’n jaar

Presies hoe lank is hierdie “dag” van die Lam se toorn? Soos baie Bybelstudente weet, gebruik profesieë dikwels ’n dag om ’n jaar aan te dui. Een betekenis van die dag van die Here is dat dit die jaar voor die wederkoms van Christus is! Jesaja verduidelik: “Want die Here hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8).

Die omgewings- en politieke probleme wat deur die vier ruiters van die Apokalips gesimboliseer word, sal voortgaan om te versnel. Daar sal grootskaalse godsdienstige vervolging wees, soos geopenbaar word deur die vyfde seël van Openbaring. Die sesde seël, die hemelse tekens, sal die hele wêreld wakker skud vir die begin van die dag van die Here – die sewende seël!

Die sewende seël duur ongeveer een jaar en bestaan uit sewe basuinplae. Johannes beskryf dit so: “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Die basuine waarsku ons – hulle kondig sewe plae of oordele aan!

Let op in Openbaring 8, wanneer die eerste vier engele op hulle basuine blaas, is daar groot ekologiese verwoesting oor die hele aarde. Daar is aardbewings. Groot dele van die plantegroei word verbrand. ’n Derde van alle see-lewe sterf. Waterbronne word vergiftig. Die hemele word verduister.

Die laaste drie basuinplae word “wee” genoem. Die woord “wee” is ’n uitroep van smart! “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!” (Openbaring 8:13).

Openbaring 9 beskryf die eerste wee of die vyfde basuinplaag. Hierdie “plaag” is ’n verwoestende militêre optrede wat vyf maande sal duur. Die tweede wee, die sesde basuinplaag, beeld ’n intense militêre teenaanval deur ’n weermag van 200 miljoen man vanuit die ooste uit, wat een derde van die wêreld se bevolking sal doodmaak. Hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog sal miljarde mense doodmaak! Ja, Jesus het gesê dat tensy daardie dae verkort sou word, geen vlees gered sou word nie – andersins sou alle lewe op aarde vernietig word.

Vervolgens hoor ons die geluid van die sewende basuin. Vir Christene is die klank van die sewende basuin goeie nuus, want dit kondig die wederkoms van Jesus Christus aan en die vestiging van die Koninkryk van God op aarde. Ons behoort almal voor te berei vir daardie tyd! “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Watter wonderlike nuus!

Die sewende basuin word egter ook die derde wee genoem! Waarom? Omdat dit ook die laaste sewe plae aandui. Dit sal ’n intense vervulling van die dag van God se toorn wees. “En ek het ’n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig” (Openbaring 15:1).

U kan die beskrywing van hierdie plae in Openbaring 16 lees. Dit sluit plae in van pynlike swere aan diegene wat die diermoondheid en sy beeld aanbid het. Dit sluit selfs ’n groter vergiftiging van riviere en die see in, tot so ’n mate dat “al die lewende wesens in die see ... gesterwe [het]” (Openbaring 16:3). Die son sal warmer word – wat tot gevolg sal hê dat uiterste hittegolwe diegene sal teister wat hulle nie van hulle sondes bekeer nie!

’n Oorwinnende einde!

Uiteindelik sal Christus wanneer Hy na hierdie aarde terugkeer, al sy vyande oordeel en oorwin. Hierdie mense is die vyande van vrede. Hulle is die vyande van Christus en daardie kragtige leërs word beïnvloed deur die gevalle engele of demone (vgl. Openbaring 16:14).

Hierdie jaarlange tydperk, bekend as die dag van die Here, eindig met die aankondiging dat Christus al die koninkryke en regerings van hierdie wêreld oorneem! Dit is die goeie nuus waarna ons almal uitsien!

Jesus Christus sal seëvier oor die wêreld se leërs! Hulle sal die dwase keuse maak om teen Hom te veg met Sy wederkoms, maar Christus die Koning van die konings, sal Self verhoed dat die mensdom homself vernietig! Jesus Christus sal die wêreld red van vernietiging en vir ’n duisend jaar lank aan ons planeet vrede en herstelling bring! Ons sien almal daarna uit om die klank van die sewende basuin te hoor want dit sal die toekomstige Koninkryk van God op hierdie aarde aankondig.

In een opsig is die dag van die Here die jaar wat die wederkoms van Christus voorafgaan. In ’n ander opsig duur dit dwarsdeur die millennium voort en daarna tot in ewigheid.

Die apostel Petrus beskryf dit so: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:10-13).

Petrus waarsku Christene om geestelik paraat te wees. Ons moet wakker wees vir die dag van die Here, ’n ontnugterende tydperk van oordeel oor die nasies. Daarna lê die wêreld van môre voor – ’n wonderlike millennium met prag, welvaart en vernuwing onder die heerskappy van Christus. Mag God daardie dag bespoedig! Mag ek en u ook gereed wees daarvoor!