Eeue van oorlog en bloedvergieting dui die ontmoetings aan tussen die belydende Christelike nasies van Europa en die Moslem nasies van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Alhoewel internasionale leiers die afgelope dekades grootse pogings aangewend het om beter verstandhoudings tussen die nasies wat die “bloed van Abraham” deel, te beding, bestaan wrywing nog steeds – en kan te eniger tyd uitbars.

Diplomate en die meeste burgers van Europese en Islamitiese nasies begeer vrede, maar Bybelse profesieë – wat vandag besig is om gestalte aan te neem – voorspel ’n groot konfrontasie tussen Europa en die Islamitiese wêreld in die jare wat binnekort voorlê.

Gemeenskaplike oorsprong van twis

Baie Arabiere verstaan dat hulle die afstammelinge van die Bybelse patriarg Abraham is deur sy seun Ismael of kleinseun Esau (sien Genesis 21; 36). Terwyl die meeste mense verstaan dat die Jode van Abraham afstam, besef slegs ’n paar vandag dat baie mense van noordwestelike Europese afkoms ook van Abraham afstam deur sy seun Isak en die twaalf seuns van Jakob. Baie Europeërs en baie van die volke van Sirië, Irak en Iran (antieke Persië) is afstammelinge van Noag se seun Sem (sien Genesis 10), terwyl baie Moslemnasies van Noord-Afrika afstammelinge is van Noag se seun Gam.

Die Bybel openbaar dat die historiese oorsprong van twis tussen die afstammelinge van Abraham lank gelede begin het. Daar was tweedrag tussen Isak en Ismael (Genesis 21:8-14), maar daar is geprofeteer dat beide Isak en Ismael se afstammelinge groot nasies sou word (Genesis 16:10-12; 17:20; 26:1-5). Die twis tussen Jakob en Esau het eintlik al in hulle moeder se baarmoeder begin (Genesis 25:22-34; 27:42-43), maar die afstammelinge van Esau – soos die Edomiete en Amalekiete (sien Genesis 36) – het ook talryk geword. Die geskiedenis boekstaaf hoe hierdie twis voortgeduur het.

Verowerings en herowerings

Na Jesus Christus se dood en opstanding het die Christendom vinnig versprei regdeur die Romeinse Ryk, met belangrike sentrale ontwikkelings in Jerusalem, Antiochië (Sirië), Aleksandrië (Egipte), Konstantinopel (Turkye), Babilon (Persië) en Rome. Hierdie groei was egter in die sewende en agste eeu n.C. oorskadu deur ’n nuwe verskynsel. Die leërs van Islam het uit Arabië geswerm na Persië en oor Noord-Afrika tot in Spanje, terwyl hulle lande verower en die geloof van Islam deur die punt van ’n swaard versprei het. Moslemse Kaliefs het vir ongeveer 500 jaar vanuit Bagdad regeer en ’n ryk gevestig wat groter was as die een waaroor die Romeinse Keisers regeer het. Dit was ook meer gevorderd as enigiets in Europa.

Teen die einde van die elfde eeu n.C. het Pous Urbanus II ’n beroep gedoen op Rooms-Katolieke om deel te neem aan ’n “kruistog” teen die Turke. Dit was die eerste van verskeie kruistogte waardeur Roomse pouse probeer het om die gebied rondom Jerusalem uit Moslemse beheer te verkry. Kruisvaarders het Jerusalem in 1099 n.C. ingeval maar hulle aanwins was van korte duur en Islamitiese magte het Jerusalem herower. Nieteenstaande voortdurende gevegte het Moslems vir eeue vasgeklou aan gebiede in die Midde-Ooste en Klein Asië. Die Ottomaanse Turke het in die begin van die 1300s ’n Moslemse ryk gebou wat oor Egipte, Arabië, Sirië, Mesopotamië, Turkye en die Balkan lande regeer het – voordat hulle uitbreiding na Europa twee keer by die poorte van Wene gestop is deur Europese leërs wat getrou was aan die pous.

Die aanbreek van die Renaissance het gelei tot ontdekkingsreise deur Europese seevaarders, en met die opkoms van die Industriële Revolusie het Europa en sy “Christelike” erfenis die oorhand verkry oor die dalende mag van die Moslemwêreld – ’n neiging wat voortgeduur het tot in die 21ste eeu. Jerusalem, wat sedert die middel van die 1200s deur die Egiptiese Mammeluke gehou is, en daarna vanaf 1517 deur die Ottomaanse Turke, het in 1917 geval voor die Britse generaal Edmund Allenby. Dit het ’n einde gemaak aan eeue van onbetwiste Moslemse beheer oor hierdie land wat so kosbaar is vir Jode, Christene en Moslems.

Die laaste kruistog

In die afgelope 50 jaar het oorlog in die Midde-Ooste periodiek uitgebreek tussen die Moslemnasies en die Jode. Die Amerikaans-geleide inval in Kuweit en Irak word deur die Islamitiese wêreld gesien as “Kruisvaarder-aggressie”. Meer onlangs het sommige Moslemleiers jihad (’n heilige oorlog) verklaar teen “”Kruisvaarders” (Westerse nasies) en het terroriste aanvalle geloods in die Verenigde State, Brittanje en Spanje, asook teen Westerse vestings in ander lande. Frankryk was geskud deur dae van oproer waarby ontstoke Moslems betrokke was.

Regoor Europa het Moslemgesinne baie meer kinders as nie-Moslemse Europeërs, wat aanleiding gee tot vrese dat binne ’n paar jaar, Europa ge-Islamitiseer gaan word (sien “Wanneer kulture bots” in die Julie-Augustus 2009 Wêreld van Môre-tydskrif). Namate die aantal plaaslik gebore Moslems in Europa toeneem en aangevul word deur immigrante vanuit Moslemnasies aan die suide, sal nasies wat eens aan hulself as Christennasies gedink het, gekonfronteer word deur groot bevolkingsgroepe wat vasbeslote is om nie net alleen hulle eie geloof te beoefen nie, maar om selfs hulle gemeenskappe te regeer volgens sharia wette uit die Koran. In Brittanje, waar die aantal praktiserende Anglikane die afgelope jare drasties verminder het, het ’n paar Moslemleiers selfs gespog dat dit hulle doel is om die land oor te neem en dit ’n Moslem-staat te maak.

Met hierdie soort spanning wat toeneem tussen Europa en Islam, wonder baie mense waarheen dit sal lei. Bybelprofesie openbaar die antwoord! God het lank gelede aan die profeet Daniël geopenbaar wat “aan die einde van die dae” gaan gebeur (Daniël 2:28). Aan Daniël is gesê dat “in die tyd van die einde” ’n koning van die Suide die koning van die Noorde sal aanval, “en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land [Israel], en baie [lande] sal struikel” (Daniël 11:40-41).

Die lande wat die koning van die Noorde sal binneval en oorweldig, is die Moslemnasies van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Die koning van die Noorde sal beslag lê op die hulpbronne van Egipte, Libië en Ethiopië (Sudan) – insluitend hulle goud, silwer, olie en natuurlike gas. Wanneer ons die onlangse ontdekking van groot goud- en olieneerslae in Egipte in ag neem, asook hoe die natuurlike gasreserwes van Libië en die Sudan van toenemende belang vir Europa word, dan verkry hierdie antieke Bybelse profesieë ’n groter sin van werklikheid.

Die koning van die Noorde sal teenkanting ervaar van ’n koning van die Suide. Psalm 83 toon dat die koning van die Suide sal bestaan uit ’n konfederasie van Moslemnasies – insluitend, onder andere, Edomiete, Ismaeliete, Amalekiete en Moabiete – wat sal saamsweer om Israel te “vernietig, dat hulle geen volk meer is nie” (vers 5) – ’n doel wat sommige Moslemleiers die afgelope dekades openlik verkondig het. Psalm 83 stel dit ook dat die Assiriërs (hedendaagse Duitsland) kop in een mus sal wees met hierdie Moslemse konfederasie, ten minste aan die begin. Daniël 11:27 openbaar dat hierdie twee konings ’n ooreenkoms sal aangaan – maar vir mekaar sal lieg – voor hulle konfrontasie aan die einde van hierdie huidige tydvak.

Wie is dan die koning van die Noorde? Die Skrif beskryf die finale herlewing van ’n ryk wat bande het met antieke Rome. Dit sal bestaan uit tien konings (leiers van nasies of streke) wat hulle onafhanklikheid sal oorgee aan ’n leier wat die Dier genoem word, net voor Jesus Christus se Wederkoms (sien Daniël 2; 7; Openbaring 17). Die vierde koninkryk genoem in Daniël 2, word algemeen uitgeken as die Romeinse Ryk. Die Romeinse Ryk en sy herlewings, insluitend die Heilige Romeinse Ryk, het in Europa bestaan– veral sentraal Europa – en dit is waar die finale herlewing van die Diermoondheid tot stand sal kom. Die koning van die Noorde sal dus ’n eindtydse moondheid wees wat in Europa sal opstaan en nou verbonde sal wees aan ’n vername godsdienstige figuur (Openbaring 13). Hierdie situasie sal ooreenkom met die Europa van die Middeleeue waar keisers van die Heilige Romeinse Ryk en pouse van die Rooms-Katolieke Kerk gesamentlik beheer uitgeoefen het oor die “Christendom” – die Europese nasies wat die Christelike geloof bely het. Dít was die Europa wat die Kruistogte geloods het om die Heilige Lande van die Moslems te herower. Bybelprofesieë dui aan dat ’n “finale Kruistog” nog ’n konfrontasie tussen magte van “Christelike” Europa in die noorde, en die Islamitiese wêreld na die suide toe, sal behels. Dit is nodig dat ons wêreldgebeure dophou namate profesieë oor die “finale Kruistog” gestalte begin aanneem in die tye wat binnekort voorlê.