Koning Salomo het geskryf: “... aan baie boeke maak kom geen einde nie” (Prediker 12:12). Daar is egter een boek wat belangriker is as al die ander.


U beskik heel moontlik oor ’n kopie van die wêreld se topverkoperboek in u huis. U mag selfs meer as een kopie besit. Soos die Wall Street Journal opmerk: “Dit is ’n verstommende feit dat die Bybel jaar na jaar die boek bly wat die meeste verkoop in Amerika – selfs al beskik 90% huishoudings alreeds oor minstens een kopie. Die teks verander nie, behalwe vir die vertaling. Die geweldige verkoopsvolume, ’n geskatte 25 miljoen kopieë word jaarliks verkoop, word grootliks aangedryf deur nuwighede in die ontwerp, kleur, styl en die allernuutste nisbemarking” (“Prophet Sharing: The Good Book is the Best Seller”, 23 Desember 2008).

Ja, ons Westerse Wêreld het vir lank die Bybel eerbiedig. Wat is die Bybel egter? Is dit werklik die openbaring van die Skepper-God aan mense op planeet Aarde? Kan u werklik bewys dat die Bybel goddelik geïnspireerd is – asook histories en profeties akkuraat is? Ja, u kan!

’n Onlangse verslag van die Barna Navorsingsgroep dui aan dat terwyl 58% Amerikaners van 64 jaar en ouer, glo dat die Bybel heeltemal akkuraat is in sy leerstellings, slegs 30% tussen die ouderdomme 19 tot 25 jaar hierdie siening deel (“New Research Explores How Different Generations View and Use the Bible”, 19 Oktober 2009). Wat is egter die waarheid van hierdie saak?

In ons bespreking van die Bybel se integriteit en inspirasie sal ons sien presies hoe akkuraat die Bybel is. U behoort die Bybel te bewys. Baie mense grond slegs hul godsdienstige oortuigings op opvoeding, hoorsê, groepsdruk, gerugte en vals tradisie. Hulle gebruik nie die tyd om die onderwerp self te bestudeer en die waarheid te bewys nie. Ja, wat voldoende bewys vir een persoon mag wees, mag nie vir ’n ander een wees nie. Indien u egter gewillig is om die moeite te doen om die saak vir uself te bewys, salu die waarheid vind! Eintlik daag die Bybel self ons uit in 1 Thessalonicense 5:21: “Beproef alle dinge; behou die goeie”. Die Nuwe Vertaling sê: “... toets dit alles, behou wat goed is”. Hierdie artikel sal kortliks vier bewyse ter stawing van die Bybel aanvoer!

Bewys 1: Historiese akkuraatheid

Keer op keer het skeptici en kritici beweer dat belangrike nasies en indiwidue wat in die Bybel vermeld word, nooit bestaan het nie! Hulle was egter in verleentheid gebring deur bewysstukke wat hulle verkeerd bewys het.

Is die Bybel akkuraat? Nie so lank gelede nie het ek met ’n verkoopsman gepraat wat gedurende ons gesprek in effek gesê het: “Wel, jy kan nie die Bybel vertrou nie”. Ek het ’n paar oomblikke geneem om bewyse tot die teendeel met hom te deel – veral die akkurate bewaring van die skriftuurlike teks. Om dit te laat lyk of hul intelligent en verlig is, gaan party mense slegs maar saam met die stroom van vals kritiek. Terug in die 18de eeu het kritici selfs die bestaan van die Assiriese Ryk bevraagteken, asook die bestaan van die antieke stadstaat Nineve, waarna in die Bybel verwys word. Die skeptici was baie verkeerd bewys!

Ons sien ’n voorbeeld hiervan in die lewe van die beroemde Britse argeoloog, Austen Henry Layard. In The Luck of Nineveh, herinner die skrywer, Arnold Brackman, ons: “In 1817, toe Austen Henry Layard gebore is, was daar geen tasbare bewys dat Nineve, die setel van die Assiriese Ryk, wat volgens bewering langer bestaan het as enige ander ryk voor dit of daarna, ooit bestaan het nie. Vir dieselfde prys was daar geen bewys dat daar ooit ’n Assiriese Ryk was nie” (Voorwoord, bl. vii).

Layard het in ’n omgewing gewerk wat die spot gedryf het met Bybelse weergawes. Soos Brackman geskryf het: “In die Ou en Nuwe Testamente word twintig keer na Nineve verwys en in die Ou Testament is daar 132 verwysings na Assirië ... ’n Toenemende getal skeptici, met hul godsdienstige geloof verwater deur die asemrowende wetenskaplike deurbrake wat gepaard gegaan het met die eerste roeringe van die Industriële Rewolusie, het egter gesmaal oor stories van Nineve en dit afgemaak as ’n legende wat by ’n tydperk van fabels hoort. Vir hulle was daar nooit ’n Nineve gewees nie, net so min as wat daar ooit ’n Troje was” (bl. 12-13).

Ten spyte van die aanslae van kritici het Layard uiteindelik Nineve ontdek. Kunsprodukte in die Britse Museum in Londen, die Louvre in Parys, die Oosterse Instituut Museum in Chicago en ander museums lewer oorweldigende bewys van die geskiedkundigheid van hierdie antieke ryk, soos dit in die Bybel beskryf word.

Argeologie het honderde ander geskiedkundige verwysings in die Bybel bevestig. Om net maar ’n paar te noem: Die Israelse Grafsuil, ’n plat klip wat in 1896 by Tebes in Egipte ontdek is, en wat die oudste bewys lewer van antieke Israel behalwe die Bybel en vermeld die militêre triomf van Farao Merenpta van die 13de eeu v.C. Daarop staan: “Israel is verpletter en het geen nageslag nie, Sirië is ’n weduwee as gevolg van Egipte” (Treasures From Bible Times, deur Alan Millard, 1985, bl. 100).

Ons kan in hierdie artikel net maar so bolangs hierdie onderwerp aanroer, maar u kan die saak self verder ondersoek in tallose Bybelwoordeboeke, ensiklopedieë, atlasse en handboeke, sowel as goeie joernale soos Biblical Archaeology Review. U sal herhaaldelik bevestiging vind van die Bybel se weergawe.

Die U.S. News & World Report het ’n tyd gelede ’n kragtige voorbladartikel geplaas onder die titel: “Is die Bybel waar? Buitengewone insigte uit argeologie en die geskiedenis”. ’n Span argeoloë het opgrawings gedoen in die antieke puinhope van die stad van Dan in Bo-Galilea. Avraham Biran het die span gelei. Hulle het ’n monument van basalt ontdek, wat dateer uit die 9de eeu v.C. Die grafsuil, of monument, gedenk ’n “militêre oorwinning van die koning van Damaskus oor twee antieke vyande. Die fragment identifiseer een vyand as die ‘koning van Israel.’ Die ander vyand was ‘die Huis van Dawid’” (25 Oktober 1999, bl. 12-13).

Waarom sou dit so betekenisvol wees? Kyk na die volgende sin: “Die verwysing na Dawid was ’n historiese bom” (ibid.). Vir diegene wat alreeds aan hulself die akkuraatheid en geloofwaardigheid van die Bybel bewys het, was dit natuurlik nie ’n “bom” nie – slegs maar bykomende bevestiging van wat hulle alreeds bewys het!

Die artikel gaan voort: “Nog nooit voorheen is die bekende naam van Juda se antieke krygskoning – ’n sentrale figuur van die Hebreeuse Bybel en, volgens die Christelike Skrif, ’n voorvader van Jesus – in die anale van die oudheid buite die bladsye van die Bybel gevind nie”. Verder: “Skeptici het lank reeds daardie feit aangegryp om te argumenteer dat Dawid slegs maar ’n legende was, versin deur Hebreeuse skribas gedurende of kort na die Babiloniese ballingskap, rofweg 500 jaar voor Christus se geboorte. Nou, uiteindelik, is daar klinkklare bewys: ’n inskripsie, nie deur die Hebreeuse skribas geskryf nie, maar deur ’n vyand van die Israeliete, ’n bietjie meer as ’n eeu na Dawid se vermoedelike leeftyd” (ibid.).

Sal u skepties bly ten spyte van die bewyse? Onthou wat die apostel Paulus oor die bewys van God se bestaan gewaarsku het: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Ek moedig u aan om manhaftig genoeg te wees om die bewyse te ondersoek – om die Bybel self te lees. U kan die geloofwaardigheid van die Bybel bewys!

Kritici is in die verleentheid gebring wanneer argeologie en die geskiedenis hulle duidelike bevooroordeelde aantygings verkeerd bewys het. Let op hierdie aanmerkings deur beroemde argeoloë, soos aangehaal in ons gratis boekie, Die Bybel: Feit of Fiksie?: “Die wyse waarop argeologie die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel verifieer, is niks minder as merkwaardig nie! Soos die bekende argeoloog Nelson Glueck geskryf het: ‘Dit kan duidelik gestel word dat geen argeologiese ontdekking al ooit ’n enkele Bybelse verwysing weerlê het nie. Talle argeologiese bevindings is gemaak wat geskiedkundige stellings in die Bybel in duidelike beskrywing of presiese besonderhede bevestig’ (Rivers in the Desert, Glueck, bl. 136). Glueck se kommentaar herhaal die woorde van ’n ander prominente argeoloog, William F. Albright, wie gesê het: ‘Dit ly geen twyfel dat argeologie die wesenlike geskiedkundigheid van Ou-Testamentiese tradisies bevestig nie ... Die oordadige skeptisisme wat deur belangrike geskiedskole van die agtiende en negentiende eeu teenoor die Bybel betoon is ... is toenemend in twyfel getrek” (bl. 24-25).

 Ja, die skeptici en kritici is “toenemend in diskrediet gebring”. U kan die Bybel se geïnspireerdheid en akkuraatheid bewys!

Bewys 2: Vervulde profesieë

Nog ’n manier waarop u die Bybel kan bewys is dat die Outeur daarvan – die Skepper-God – profesieë openbaar, en Hy vervul profesieë. Hy verklaar die einde van die begin af (Jesaja 46:9-10).

Die Bybel openbaar honderde profesieë. In werklikheid is een kwart van u Bybel aan profesie gewy. Meer as 200 gedeeltes in die Ou Testament is deur Jesus Christus – die Messias – vervul. Honderde meer gee gedetailleerde inligting oor eindtydse profetiese gebeure – waarvan baie reeds gebeur het of nou begin om plaas te vind – veral ten opsigte van die ontwikkeling van ’n Europese moondheid wat die heel laaste “Romeinse Ryk” sal word wat invloed oor die hele aarde sal uitoefen. Gereelde lesers van dieWêreld van Môre het al baie van ons uitvoerige besprekings aangaande moderne vervulling van profesieë gelees, dus sal ons hier slegs een voorbeeld beklemtoon van ’n antieke profesie wat vervul is presies soos God voorspel het dit sal gebeur.

Babilonië was die grootste ryk van sy tyd en die Bybel het voorspel dat hierdie groot ryk ander nasies sou straf as ’n oordeel van God. Daarna sou Babilonië self geoordeel word vir sy sondigheid.

Meer as ’n honderd jaar voordat hierdie groot ryk vernietig is, noem die profeet Jesaja by name die indiwidu wat verantwoordelik sou wees vir die ondergang van Babilonië. Koning Kores van Persië het bykans twee eeue ná Jesaja geleef, nogtans word hy by name genoem in Jesaja 44! Jesaja het selfs voorspel hoe Kores die stad Babel sou binnedring om dit te verower: “So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Israel” (Jesaja 45:1-3). Wat ’n kragtige profesie!

Alles het net so gebeur. Diegene wat skepties oor die Bybel is, kan gerus kennis neem dat die Griekse historikus Herodotus, ongeveer 440 v.C. ook geskryf het oor die beleg van Babel in The Histories (1:191-192), wat die Bybelse verhaal bevestig! Ja, beide wêreldse en Bybelse gesag bevestig dat Kores gedoen het wat Jesaja geprofeteer het!

Bewys 3: Bewaring van die Teks

Kan ons aanvaar dat ’n God wat in staat is om die Bybelse teks te inspireer, ook kan verseker dat dit getrou bewaar en aan ons in die 21ste eeu oorgedra sou word? Ons kan weereens na die aansprake van die Bybel kyk – in hierdie geval ’n belofte deur Jesus Christus. Hy het gesê: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Mattheüs 5:18). Die jota (Hebreeuse yud) waarna Jesus verwys het, is die kleinste lettertjie in die Hebreeuse alfabet – en die titteltjie is ’n klein merkie of aanwysing wat verband hou met Hebreeuse letters. Christus het dit duidelik gestel dat nie slegs die woorde van die Ou Testament getrou behoue sou bly nie, maar die letters ook.

Jesus het ook gesê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:33). Dit is een van vele beloftes en aansprake van die Bybel self dat die woorde en die openbarings van God getrou bewaar sal bly.

Kom ons neem een besondere voorbeeld: Is die boek Jesaja getrou bewaar? In 1947 was twee antieke afskrifte van die boek Jesaja ontdek as deel van die Dooie See Rolle in Qumran Grot 1. Hierdie rolle dateer ’n duisend jaar vroeër as enige ander bekende manuskripte van Jesaja. Was die woorde in Jesaja getrou bewaar? Inderdaad, “dit is bewys om in meer as 95% woord vir woord identies te wees met die teks van ons standaard Hebreeuse Bybel. Die 5% verskil bestaan hoofsaaklik uit sigbare glipse van die pen en verskil in spelling ... [hierdie verskille] affekteer die boodskap van die onthulling nie in die minste nie” (A Survey of Old Testament Introduction, deur Gleason L. Archer, 1974, bl. 25).

Volgens die apostel Paulus het God aan die Joodse gemeenskap die verantwoordelikheid gegee om die Ou Testament te bewaar. Aangaande die Jode, skryf Paulus: “... dat aan hulle die woorde van God toevertrou is” (Romeine 3:2). Die Nuwe Vertaling stel dit so: “... dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het”. Die geskiedenis toon inderdaad dat skribas, genoem Masorete, die teks van die Skrif getrou per hand oorgeskryf het. Die amptelike Hebreeuse teks word die Masoretiese teks genoem. Hierdie skribas was so noukeurig dat hulle al die letters en al die woorde in ’n gegewe boek getel het om seker te maak dat daar geen verskille is nie, selfs nie eens in indiwiduele letters van die teks nie.

Die Nuwe-Testamentiese teks wat in Grieks geskryf is, was in die Griekssprekende wêreld bewaar. Die King James Version van 1611 was hoofsaaklik vertaal uit die Hebreeuse Masoretiese teks en die Griekse Oorgelewerde Teks, beter bekend as die Textus Receptus, en sover bekend, is die Ou Afrikaanse Vertaling van 1933 ook uit dieselfde oorspronklike Tekse gedoen. Duisende manuskripte getuig van die juistheid van die Nuwe Testament. Ons vind ook hier, net soos in die Jesaja-rolle, klein, onbeduidende verskille wat geensins die boodskap of fundamentele leerstellings affekteer nie.

Sluip daar foute in met vertalings? Ja, sommige foute in die Latyns, Engelse of Afrikaanse Vertalings – soos die valse toevoeging tot 1 Johannes 5:7 honderde jare ná die Apostels – is welbekend en word maklik uitgeken. Genadiglik, omdat ons so baie geloofwaardige manuskripte het om potensiële verknoeiing van die teks te identifiseer, kan ons volle vertroue hê in die aansprake van die Bybel.

Bewys 4: Leef volgens die Bybel

Hierdie finale bewys is meer gebaseer op ’n mens se persoonlike interaksie en ondervinding met die Bybel. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Waar kom Jesus aan hierdie stelling? Hy het aangehaal uit die Ou Testament, uit ’n gedeelte wat toon dat God wou hê dat die antieke Israeliete ’n diep, geestelike les moes leer tydens hul uittog uit Egipte. Moses het aan die Israeliete gesê: “En Hy [God] het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan” (Deuteronomium 8:3).

Hierdie laaste bewys, anders as al die ander, berus op geloof en optrede. Die eerste drie bewyse was ekstern van aard, maar hierdie bewys vereis ’n interne verbintenis om die Bybel te lees en om die beginsels, instellings en wette daarvan te beproef en uit te leef. Onthou: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Ja, ons beproef of toets die Bybel deur die opdragte daarin te beoefen of uit te leef. ”Bewys alle dinge”. U kan begin deur die beginsels wat Jesus ons in die Bergpredikasie (Mattheüs 5-7) geleer het, toe te pas en uit te leef. Toets elkeen van die Tien Gebooie deur hulle van toepassing te maak op u lewe. Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17).

Sodra u eers die beginsels van die Bybel begin toepas, sal u begin om meer insig te hê as wat u ooit tevore gehad het. Ons lees: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid;almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Psalm 111:10).

Opregte Christelikheid is nie ’n een-dag-per-week godsdiens nie. Dit is ’n lewenswyse. In die boek van Handelinge word die vroeëre Christene beskryf as sou hulle “die Weg” beoefen. Let daarop dat toe die apostel Paulus homself in Cesaréa teen die aanklagte van sy mede-Jode verdedig het, het hy aan die Goewerneur Felix gesê: “Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is” (Handelinge 24:14).

In ons tyd is baie mense nie gewillig om die Weg te bewandel en die waarheid vir hulself te ontdek nie – maar vir diégene wat wel bereid is, sal aan hulself bewys dat dit vreugde en vervulling bring, tot die mate wat ons bereid is om Christus in ons te laat leef en ons te lei om Sy opdragte en die geïnspireerde beginsels van die Skrif te volg.

U behoort die Bybel te bewys. Die Bybel gee antwoorde op die geheimenisse van die lewe. Dit gee aan ons die beginsels vir ’n suksesvolle, oorvloedige lewe. Die Bybel is God se Handleiding aan die mensdom. Dit gee aan ons hoop vir die toekoms en die weg na ewige saligheid. Mag God u seën namate u na die opdragte, openbarings en waarhede daarvan soek!