Regeer die Pous in Rome in direkte apostoliese opvolging van die apostel Petrus? Die bewys mag u verras!


Die Rooms-Katolieke Kerk is die wêreld se grootste godsdienstige organisasie, bestaande uit omtrent 60% van diegene wat hulself Christene noem. Dit doen homself voor as die enigste moderne verteenwoordiger van ’n tradisie wat, volgens hulle, teruggevoer kan word na die Apostels. Rooms-Katolieke glo die huidige Pous, die Biskop van Rome, is die direkte opvolger van die apostel Petrus, wat hulle die eerste Pous noem.

Maar, is hy werklik?
U Bybel toon dat godsdiens en godsdienstige figure teen die einde van hierdie tydvak, noemenswaardige rolle sal vertolk op die wêreldverhoog – dat godsdienstige misleiding wydverspreid sal wees. Jesus Self waarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:4-5). Dit is dus noodsaaklik dat ons verstaan wat skuil agter die aansprake van pouslike voorrang. Is dit ’n onbetwisbare feit, ’n legendariese tradisie, ’n mite of ’n saak van politieke intrige? Hierdie saak sal ’n dramatiese invloed hê op u lewe en op die toekoms van die wêreld, in die jare wat binnekort voorlê!

Die Skrif gee ’n gesprek weer waarin Jesus aan die apostel Petrus gesê het: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou” (Mattheüs 16:18). Rooms-Katolieke gebruik hierdie vers as bewys dat die “amp van die Pous nie verkry is van enige menslike owerheid nie, nie van die Kerk nie, maar direk vanaf God. Dit is God se skepping ’vir die bewaring van eenheid,’ soos St. Thomas Aquinas opgemerk het. Dit was deur Christus Self aan Petrus gegee en aan sy opvolgers tot die einde toe. Ons Here [Jesus Christus] het die voorrang van Petrus bevestig” (Catholic Belief, Cartmell, bl. 16). Rooms-Katolieke beweer dat toe Jesus aan Petrus gesê het: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee” (vers 19), daardie sleutels “simbolies is van oppermagtige outoriteit” en dit het Petrus “meester of baas” van die koninkryk van die hemel gemaak (ibid.).

Die Rooms-Katolieke Kerk maak daarop aanspraak om “apostolies in haar oorsprong te wees, omdat sy gebou is op ’die fondament van die apostels’ (Efesiërs 2:20). Sy is apostolies in haar leer wat dieselfde is as dié van die Apostels. Sy is apostolies as gevolg van haar struktuur, in soverre sy geleer, geheilig en gelei word – tot Christus se wederkoms – deur die Apostels, deur middel van hulle opvolgers wat die biskoppe is in omgang met die opvolger van Petrus ... Die Pous, Biskop van Rome en die Opvolger van Petrus, is die voortdurende, sigbare bron en fondament van die eenheid van die Kerk. Hy is die vikaris [plaasvervanger of verteenwoordiger] van Christus” (The Catechism of the Catholic Church, bll. 61-63).

Is hierdie aansprake geldig? Een sleutelgedeelte van die bewys van Petrinale voorrang is die bewering dat die apostel Petrus die Kerk in Rome gestig het en dat hy daar gemartel is, soos aangedui word deur vroeëre skrywers, insluitende Clemens van Rome, Ignatius van Antiochië, Dionísius van Korinthe en Irenaeus van Lyons. Die Catholic Encyclopedia beweer, in sy artikel, “Peter”: “Dit is ’n onweerlegbare bevestigde historiese feit dat Petrus in Rome gewerk het gedurende die laaste deel van sy lewe, en dat sy aardse lewe daar beëindig is deur ’n marteldood”. Die artikel maak melding van ’n “vyf-en-twintig-jarige episkopaat van Petrus” in Rome, vanaf ongeveer 42-67 n.C., en maak melding daarvan dat Petrus se eerste sendbrief geskryf is vanuit “Babilon” – wat volgens bewering ’n kodenaam vir die stad van Rome is. Die artikel volhard: “Die essensiële feit is dat Petrus in Rome gesterf het: Dit voorsien die historiese fondasie vir die aansprake van die Biskoppe van Rome op die Apostoliese voorrang van Petrus”.

Is dit ’n geldige aanspraak? Tot so onlangs as 60 jaar gelede is die aankondigings deur Pous Pius XII, dat “Vatikaanse argeoloë die graf van Petrus onder die hoë altaar van die Sint Petruskatedraal in Rome gevind het, en dit lyk of dit die Katolieke leerstelling bevestig en geldigheid verleen aan die oortuiging wat voor die tyd van Konstantyn ontstaan het” (Time, 5 September 1949). Daar is egter meer aan die storie!

Roomse aansprake

Dit is ’n werklikheid dat die leerstelling van pouslike voorrang gebaseer is op apostoliese opvolging sedert Petrus – die sogenaamde “Petrinale teorie” – standaard Rooms-Katolieke leerstelling was vir eeue. Dit berus op ’n besondere interpretasie van een sleutelgedeelte van die Skrif, waarin Jesus gesê het: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (Mattheüs 16:18-19). Noukeurige bestudering van hierdie gedeelte, asook ander Skrifgedeeltes, toon egter nogtans iets heeltemal anders. In die oorspronklike Griekse teks is Jesus se stelling eintlik ’n woordspeling. Die Griekse woord vir “Petrus” is petros (wat ’n klein klippie beteken) en die Griekse woord vir “rots” is petra (wat ’n ontsaglike groot rots of berg beteken). Die Bybel openbaar duidelik dat Jesus Christus die “Rots” is waarop die Kerk gebou sou word (verwys 1 Korinthiërs 10:4; 1 Petrus 2:4-8; en ook Psalm 118:22; Jesaja 28:16). Jesus het na Homself en Sy leerstellings verwys as die petra waarop die Kerk gebou sou word en het erkenning verleen aan Petrus (’n petros) as een van die fondament klippe. Dit stem ooreen met ander Skrifgedeeltes wat toon dat die Kerk nie op Petrus alleen nie, maar “gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:20). Let daarop dat in bogenoemde aanhaling uit The Catechism of the Catholic Church, hierdie uiters belangrike laaste gedeelte uitgelaat is – om misleidend ’n ander betekenis daaraan te verleen! Sodanige verdraaiing van die Skrif is een rede waarom die Rooms-Katolieke Kerk se aanspraak op mag wat gebaseer is op Petrus se veronderstelde voorrang, nooit aanvaar was deur die Oostelike-Ortodokse kerke nie, en waarom dit verwerp was deur die Protestantse Hervormers (verwys na Civilization Past& Present, Wallbank, bl. 133).

By nadere ondersoek het ander bewyse wat veronderstel is om te “bewys” dat Petrus in Rome geleef, gewerk, ’n Kerk gestig en as martelaar gesterf het, ook minder oortuigend geword. Die boek Handelinge swyg oor waarheen Petrus gegaan het nadat hy in 33 n.C. in Jerusalem in die tronk was – dit sê slegs hy het “na ’n ander plek vertrek” (Handelinge 12:17). Volgens die Skrif het Paulus Petrus in ongeveer 45 n.C. in Antiochië gekonfronteer oor die kwessie van besnydenis, en Petrus verskyn in Jerusalem vir ’n konferensie in ongeveer 49-50 n.C. Nogtans, volgens die Catholic Encyclopedia (“Peter”, Vol 11., 1911 uitg.) was Petrus veronderstel om gedurende daardie tyd vir 25 jaar Biskop van Rome te wees – hiervoor is daar geen skriftuurlik of historiese bewys nie! Die bewering dat Petrus se groet uit “Babilon” (1 Petrus 5:13) beteken dat hy die boek in Rome geskryf het, om en by 60-64 n.C. –slegs ’n veronderstelling is. In werklikheid is die eerste kriptiese verwysing na Rome as “Babilon”, te vinde in Openbaring 17:5, wat omtrent 30 jaar later geskryf is!

Dit is nogal interessant dat Katolieke geleerdes graag wil hê dat Petrus se verwysing na “Babilon” eintlik Rome moet aandui, om geldigheid te verleen aan die idee dat hy in Rome gewerk het – nogtans skram hulle weg van enige voorgestelde skakel tussen Rome en die vrou na wie verwys word as “Verborgenheid, die groot Babilon” in Openbaring 17:5. Dit is verseker nie konsekwent met die Skrif nie!

Nog ’n vroeëre bron wat somtyds aangehaal word om steun te verleen aan Petrus se verblyf en martelaarskap in Rome, is ’n hoogs-betwiste gedeelte in die Eerste Sendbrief van Clemens, geskryf ongeveer 100 n.C. Hierdie gedeelte noem egter slegs dat Petrus “baie lyding verduur” het voor hy gesterf het, soos die geleerde Oscar Cullman opmerk: “Die plek waar Petrus baie lyding verduur het, word glad nie vermeld nie” – dit word slegs veronderstel deur geleerdes wat die teks vertolk het (Peter: Disciple-Apostle-Martyr, bll. 91-93). Die Brief van Ignatius van Antiochië aan die Romeine, wat dateer uit die begin van die tweede eeu n.C., verwys na opdragte wat deur Petrus en Paulus gegee is maar, soos geleerdes opmerk, “nie ’n woord word gesê om aan te dui dat die twee Apostels in Rome was nie” – dit word slegs maar vermoed deur diegene wat die teks interpreteer het (ibid., bl. 110). Professor Cullman, ’n Duits-gebore teoloog en ekumeniese geleerde kom tot die gevolgtrekking dat, op grond van die beskikbare bewyse, “Die stigting van die Roomse Kerk deur Petrus, kan nóg bewys word, nóg as waarskynlik beskou word … Aangaande ’n biskopsamp van Petrus was daar nooit iets gesê nie” (ibid., bl. 113). Ander moderne naslaanwerke kom tot dieselfde gevolgtrekking: “Die tradisie dat Petrus die stigter van die kerk in Rome en die eerste biskop was, ontbreek aan historiese bewyse. Die Bybel gee geen aanduiding daarvan nie. In werklikheid is daar geen historiese bewys dat Petrus ooit in Rome was nie, alhoewel historici toegee dat hy moontlik daarheen kon gegaan het heel aan die einde van sy lewe” (The New Unger’s Bible Handbook, bl. 633).

Selfs die beweerde plek van Petrus se graf – wat veronderstel is om onder die altaar in die Sint Petruskatedraal in Rome te wees – kon nie bevestig word by nadere ondersoek nie. Alhoewel Pous Pius XII in 1950 aangekondig het dat Petrus se oorblyfsels gevind is, kon beoordeling van die bewyse deur ander geleerdes, nie daarin slaag om die Pous se aanspraak te bevestig nie (verwys na Time, 27 Maart 1950). Dit is later bevind dat die oorblyfsels die gebeente van ’n vrou en ’n paar plaasdiere is. ’n Meer onlangse teks maak hierdie stelling: “Aangesien alle betroubare inligting oor die plek van Petrus se teregstelling en waar hy begrawe is ontbreek, sal die moontlikhede daaraan verbonde soos so baie ander ope vrae bly” (History of the Church, Jedin, bl. 118). Die uiteindelike slotsom is dat niks bewys kon word oor óf die dood óf die begraafplek van Petrus in Rome nie – dit berus alles op twyfelagtige tradisie!

Ontwikkeling van ’n dogma

Dus, indien daar geen historiese bewys is dat Petrus ooit in Rome was, dat hy die Kerk in Rome gestig het of dat hy selfs in Rome gesterf het nie, hoe en waarom het die idee van pouslike voorrang gebaseer op opvolging van Petrus dan ontwikkel? Twee insiggewende boeke deur Rooms-Katolieke geleerdes (Saints & Sinners deur Dr. Eamon Duffy van die Universiteit van Cambridge en The Catholic Church deur Dr. Hans Kung van die Universiteit van Tubingen) voorsien ooreenstemmende weergawes van die ontstaan van die idee van pouslike voorrang en die dogma van apostoliese opvolging van Petrus. Albei erken dat daar niks in die Nuwe Testament is wat Petrus aan Rome verbind nie. Die Bybel openbaar dat die apostel Paulus die boek van Romeine geskryf het, Paulus het ook nie eens melding gemaak van Petrus toe hy sy groete aan meer as 20 van die broeders in Rome oorgedra het nie (Romeine 16). Toe Paulus in ongeveer 60 n.C. na Rome gegaan het, het hy gevind dat die Joodse leiers aldaar nog nie eens van die Evangelie van Jesus Christus en die Koninkryk van God gehoor het nie (Handelinge 28:17-24). Indien Petrus teen daardie tyd al vir dekades lank die biskop van Rome was, sou Christus se boodskap daar werklik nog onbekend gewees het?

Die idee dat Petrus in Rome was, is ’n tweede-eeuse opvatting wat vernaam geword het in die vierde eeu nadat Konstantyn Christelikheid die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk gemaak het. Geleerdes Duffy en Kung het gedemonstreer hoe biskoppe in Rome ’n gesamentlike poging aangewend het om voorrang te verkry oor die ander kerke, deur ’n verskeidenheid van aansprake en konkelry. Irenaeus van Lyons het ’n lys saamgestel wat veronderstel was om die leiers van die Roomse Kerk terug te spoor na Petrus en Paulus. Dr. Kung wys egter daarop dat “Biskoppe van die Katolieke Kerk (net soos diegene van die Anglikaanse en Ortodokse Kerke) graag na hulself verwys het as ‘opvolgers van die apostels’ … nogtans kan dit nie bevestig word dat die biskoppe, in direkte en uitsluitlike verband, die opvolgers van die apostels is nie … die vroegste lys van biskoppe [saamgestel deur Irenaeus] … is ’n tweede-eeuse vervalsing” (Kung, bll. 30-31).

Verskeie vroeëre biskoppe in Rome het onsuksesvol probeer om daarop aanspraak te maak dat hul mag berus op Jesus se woorde aan Petrus (Mattheüs 16:18-19). Teen die einde van die tweede eeu na Christus het Biskop Victor van Rome probeer om die kerke in Klein-Asië te dwing om die Roomse Paasfees in plaas van die Pasga te onderhou, maar sy pogings was teengestaan deur die Kerkleiers in Klein-Asië, wat hulle onderhouding van die Pasga teruggevoer het na die leringe en voorbeeld van die apostel Johannes. Rondom 250 n.C. het ’n biskop van Rome genaamd Stéfanus aanspraak gemaak op oppergesag oor ander kerke in ’n geskil oor watter kerk die beter tradisie gehad het, maar die ander kerke het sy eis teengestaan (Kung, bl. 49). ’n Biskop van Rome, by name Damasus (ongeveer 380 n.C.), beskryf as ’n “meedoënlose magsmakelaar”, het die gesegdes oor Petrus gebruik as die “rots” om sy aansprake op mag te bevorder. Hy het ook gepraat van sy “apostoliese setel”, asof geen ander kerk saak gemaak het nie en hy het monumente vir martelare opgerig om die posisie van die Roomse Kerk te bevorder (Duffy, bll. 37-39).

Dit is belangrik om te onthou dat hoewel al hierdie biskoppe van Rome deesdae “Pouse” genoem word, die eerste een wat aanspraak gemaak het op daardie uitsluitlike titel, Siricius (ongeveer 390 n.C.), was. Teen 450 n.C., het Leo die Grote sterk klem gelê op die veronderstelde Petrinale skakel met Rome en die pousdom, en het selfs die vergelyking getref deur Petrus en Paulus en die stigting van Rome deur Romulus en Remus (Duffy, bll. 43-44). By die Raad van Chalcedon (451 n.C.) het Leo se aanhangers verklaar dat “Petrus deur Leo gepraat het” (Duffy, bl. 45), nogtans het die Raad Leo se omvattende aansprake op oppergesag verwerp en aan Rome en Konstantinopel gelyke status verleen (Kung, bll. 64-65).

Meer en meer hoogdrawende pouslike aansprake het voortgeduur tot in die Middeleeue, namate ambisieuse en gewetenlose Pouse blatant vervalste dokumente gebruik het om hul aansprake op wêreldwye mag te ondersteun. Een so ’n dokument is die Skenking van Konstantyn, sogenaamd opgestel deur die Romeinse Keiser Konstantyn in 330 n.C. as blyk van sy sogenaamde dankbaarheid omdat hy in die Christelike geloof opgelei is en van melaatsheid genees is deur Pous Sylvester die Eerste. Hierdie dokument sou aan Sylvester en sy opvolgers wye magte verleen het om oppermagtig te wees oor al die ander biskoppe en selfs oor groot dele van Europa en Afrika. Alhoewel dit in die Middeleeue algemeen aanvaar was as outentiek, is later bevind dat die dokument ’n absolute vervalsing is, wat om en by 750 n.C. geskep was. In werklikheid was daar nooit, gedurende sy leeftyd, na Sylvester verwys as ’n universele Pous nie en sy genesing van melaatsheid deur Konstantyn was niks meer as ’n legende nie.

Nog ’n welbekende vervalsing, die Pseudo-Isadorian Decretals, bevat honderde vervalste dokumente – as sou dit uit vroeëre eeue kom – wat lyk of dit Middeleeuse Pouse se aansprake op mag ondersteun. Soos latere geleerdes erken, “skep hierdie vervalsings die indruk dat die vroeëre kerk regeer was deur pouslike dekrete tot in die fynste besonderhede van sy lewe” (Kung, bl. 82). Selfs vandag nog aanvaar en herhaal sommige agtelosige skrywers hierdie pouslike aansprake van universele outoriteit en vergeet of ignoreer die oneerlike grondslag van hierdie aansprake.

Die Rooms-Katolieke aansprake vir pouslike voorrang berus op die idee dat hul organisasie getrou die leer van Jesus Christus en die Apostels deur die eeue heen bewaar het. Nogtans, wanneer die Rooms-Katolieke leerstellings werklik met die Skrif vergelyk word, word opvallende teenstrydighede duidelik. Die Bybel openbaar dat Jesus Christus, die Apostels en die vroeëre Kerk almal die Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou het (sien Lukas 4:16; Johannes 7:8-10; Handelinge 17:2; 1 Korinthiërs 5:7-8). Die Rooms-Katolieke Kerk het egter, sedert die dae van Konstantyn, Sondagaanbidding sowel as Paasfees, Kersfees en ’n menigte dae van “heiliges”, uit die heidendom oorgeneem – nogtans is daar geen Bybelse voorbeeld of opdrag om dit te doen nie. Die Skrif waarsku ons in werklikheid daarteen om heidense gebruike aan te neem (sien Deuteronomium 12:29-32; Jeremia 10:2).

Die Skrif toon dat die vroeëre Kerk verkondig het dat die Koninkryk van God met Jesus Christus se wederkoms op hierdie aarde gevestig sal word, nogtans het die Rooms-Katolieke Kerk geleer dat die Kerk self die Koninkryk van God is en het hulle die ware Bybelse leerstelling oor die Koninkryk van God as dwaalleer verwerp. Die Rooms-Katolieke Kerk verkondig dat Maria, Jesus se moeder, ewigdurend ’n maagd gebly het, maar die Skrif toon duidelik dat sy ander kinders ook gehad het na Jesus (Markus 3:31-32; Lukas 8:19-21). Selfs al was Petrus en van die ander Apostels getroud (Markus 1:30; 1 Korinthiërs 9:5), het die Rooms-Katolieke Kerk ’n “dissipline” van priesterlike selibaatheid ingestel, ten spyte van die Skrif se duidelike opdrag dat die verbod op die huwelik ’n Satan-geïnspireerde idee is (1 Timotheüs 4:1-3). Dit is interessant om daarop te let dat in teenstelling met die lankbestaande Rooms-Katolieke Kerk se gebruik om te kniel om die ring van die biskop of pous te soen, die apostel Petrus hierdie soort eerbetoon geweierhet (Handelinge 10:25-26). Hierdie is slegs maar ’n paar van baie voorbeelde van hoe die Katolieke Kerk afgewyk het van apostoliese leringe!

Vir meer as 1 500 jaar het ambisieuse individue probeer om die Rooms-Katolieke bisdom van Rome te gebruik om hul eie aansprake op universele heerskappy te bevorder, deur maatskaplike, politieke, teologiese, wettige – en selfs militêre – druk te gebruik saam met misleiding en vervalsing, om hul doelwitte te bereik. Hierdie slim, en dikwels gewetenlose manne, het hul gedistansieer van die leerstellings van die vroeëre Kerk – en maak selfs daarop aanspraak om die hoogste en uitsluitlike vikaris (plaasvervanger) van Christus op hierdie aarde te wees. Selfs baie Katolieke geleerdes besef die valsheid van hulle aansprake. Soos Kung dit duidelik stel: “Die aansprake wat hulle gemaak het, mag geen Bybelse en teologiese gronde hê nie, maar deur die eeue heen het hierdie [aansprake] die kerkwet binnegedring as aanvaarde feite. Dit kom derhalwe vir baie mense vandag, binne en buite die Katolieke Kerk, voor asof wat die Roomse biskoppe van die vierde en vyfde eeue aan hulself toegeëien het, dít is wat eintlik oorspronklik Katoliek was, in ’n groeiende bewustheid van hul mag” (Kung, bl. 50). Ons sien dus dat die aansprake op pouslike voorrang gebaseer op apostoliese opvolging van Petrus, nie berus op grondige bewyse nie, maar op dogma – idees wat met gesag verkondig word, maar wat ontbreek aan historiese bewyse! By die laaste ontleding berus hierdie aansprake nie op geskiedenis of op die Bybel nie, maar op twyfelagtige menslike tradisies!

Profetiese belangrikheid

Presies hoe raak hierdie kommerwekkende feite van die geskiedenis ons vandag? Eindtydse Bybelse profesieë bied belangrike en leersame insig. Soos ons gesien het, waarsku Jesus dat vals leermeesters ontsaglike groot misleiding sal veroorsaak teen die einde van hierdie tydperk (Mattheüs 24:3-5). Die apostel Paulus waarsku dat leiers sal afwyk van die ware Kerk en vals en misleidende leerstellings sal gebruik om volgelinge te verkry (Handelinge 20:29-37). Paulus waarsku ook dat, baie mense “die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” aan die einde van die tydvak (2 Timotheus 3:1-8; 4:1-4). Paulus waarsku verder dat net voor die wederkoms van Jesus Christus, ’n magtige en invloedryke godsdienstige leier wonderwerke sal verrig wat baie mense sal mislei om leuens te glo – omdat hulle nie die waarheid sal liefhê nie (2 Thessalonicense 2:1-12). Hierdie vals godsdienstige leier sal kop in een mus wees met ’n magtige politieke leier wat beheer gaan verkry oor ’n herrese Romeinse Ryk wat in Europa gaan herrys (sien Openbaring 13; Openbaring 17; Daniël 2). Dit is nodig dat u besef dat die aansprake wat ’n eersdaagse godsdienstige leier, wat sy veronderstelde “apostoliese opvolging” gaan gebruik om sy voorrang te laat geld oor ’n universieële kerk, op niks meer gebaseer sal wees as dogma en bedrog nie. Wees versigtig!