Die meeste van ons het al die verlies aan ’n geliefde, ’n vriend of buurman deur die dood ondervind. Dood ontnugter ons. Wanneer iemand na aan ons sterf, neem ons die tyd – of behoort ons die tyd af te staan – om die dieper vrae van die lewe te oorweeg. Wat gebeur nadat ’n persoon gesterf het? Sal ons ooit ons geliefdes weer sien?

Die dood kom soms onverwags. Die Duitse versekeringsmaatskappy, Munich Re, berig dat in 2008, meer as 220,000 mense gesterf het in rampe soos orkane, aardbewings en oorstromings. Die sikloon Nargis in Myanmar is verantwoordelik vir 130,000 van daardie sterftes – die grootste dodetal van een enkele natuurramp, sedert die Sumatra aardbewing en tsunami wat die lewens van bykans 230,000 mense geëis het in Desember 2004. Toe die Geelrivier sy oewers oorstroom het van Julie tot November 1931, het meer as ’n miljoen Chinese verdrink, party mense beraam dat die totale dodetal as gevolg van die oorstromings, nader aan vier miljoen is. Werklik, ons leef in ’n gevaarlike wêreld waar onvoorsiene gevare ons onverhoeds kan oorval en ons planne vir ewig kan verander.

Party rampe is mensgemaak, soos die rampe van oorlog. Beramings van die dodetal as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog verskil, maar bronne stem saam dat heelwat meer as 50 miljoen mense gedurende daardie verskriklike konflik gesterf het – insluitende miljoene burgerlikes. In die 20ste eeu, wanneer ons staatsondersteunde volksmoorde, politieke suiwerings en oorlogsverwante sterftes saamvoeg, raak die syfer aan die 300 miljoen!

Dood is tragies wanneer dit voorkom, maar dit gebeur tog gereeld. Wêreldbevolking-navorsers berig dat in 2008, omtrent 8.2 uit elke duisend mense gesterf het – meer as 55 miljoen mans, vrouens en kinders! Baie het gesterf aan natuurlike oorsake, aan die einde van lang, produktiewe lewens, maar hul dood was nog steeds pynlik vir hul geliefdes.

Die meeste mense probeer hulself troos deur te glo in ’n soort lewe na die dood. Die Barna Navorsingsgroep het in 2003 ’n dokument vrygestel waarin Amerikaners se idees oor ’n hiernamaals geboekstaaf is. Barna het bevind dat 81% in een of ander soort hiernamaals glo. Slegs 10% het gesê hulle is seker dat daar geen hiernamaals is nie, nog 9% het gesê dat daar ’n soort hiernamaals mag wees. Barna het bevind dat 76% van diegene wat aan die opname deelgeneem het, glo dat die Hemel bestaan, en 71% glo in die bestaan van die Hel.

Barna het ook bevind dat Oosterse godsdienstige begrippe meer populêr word in Amerika; 18% van diegene wat aan die opname deelgeneem het sê hulle glo in ’n soort reïnkarnasie, en 34% glo dat hulle met mense ná hulle dood kan kommunikeer (“Americans Describe Their Views About Life After Death”, 21 Oktober 2003).

Wat ’n verwarring! Ons behoort die Bybel te ondersoek vir die waarheid oor lewe en dood!

Dante se Hel

Indien u is soos die meeste mense wat aan Barna se opname deelgeneem het, glo u in ’n ewigbrandende Hel waarin mense op hierdie oomblik gefolter word. Moontlik dink u dat sommige van u eie familielede nou, op hierdie oomblik, terwyl u hierdie artikel lees, ondraaglike lyding verduur.

Waar het u u sienswyse oor die Hel gekry? Heelwat mense mag verras wees om te leer dat baie van vandag se stereotipiese idees oor die Hel nie uit die Bybel kom nie, maar uit die geskrifte van ’n 14de eeuse Italiaanse digter. Dante Alighieri, outeur van La Divina Commedia (of, in Engels, The Divine Comedy), het sy lang gedig as ’n versinnebeelding geskryf om kommentaar te lewer oor die maatskaplike en politieke probleme van sy nasie. Sy uitbeelding van die Hel beeld nege afdalende streke van steeds groterwordende ewige foltering vir sondaars uit. In een gedeelte van Dante se gedig, met die titel Inferno, vind ons dat wellustige sondaars die ligste straf in die eerste kring van die Hel ontvang; die laagste gebiede van die Hel word gereserveer vir diegene wat Dante beskou as die geskiedenis se mees afstootlike verraaiers – nie slegs Judas Iskariot nie, maar ook die Romeinse verraaiers Brutus en Cassius, wat betrokke was by die moord van Julius Ceasar.

Dit is jammer dat die meeste Bybelstudente net maar ’n idee oor die Hel, soortgelyk aan Dante se beskrywing, aanvaar terwyl hulle die duidelike betekenis van bekende Skrifture ignoreer. Moontlik het hulle van hul ouers oor die hel geleer, of van ’n predikant en nooit die egte waarheid in God se Woord vir hulself vasgestel nie.

Kyk: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Dante beeld sondaars uit wat die ewige lewe in die vlamme van die hel deurbring, maar u Bybel sê iets heel anders – dat sondaars die dood verdien – die afwesigheid van lewe!

Onthou wat Jesus gesê het in wat moontlik die heel bekendste vers in die Bybel is: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ons Redder het ’n kontras beskryf tussen lewe en dood. Aan die een kant, ewige lewe, aan die ander kant, om te vergaan. Om te “vergaan” beteken om vernietig te word, om “tot niks te kom nie”. Jesus het gekom sodat ons nie vir ewig vernietig word nie. Hy het gekom om aan ons die moontlikheid van ewige lewe te gee, wat ons nie nou inherent het nie.

Verbaas dit u om te leer dat ons nie nou ewige lewe besit nie? Kan ’n menslike siel vernietig word? Ja, God sê dit kan! Lees wat ons Skepper sê deur die profeet Esegiël: “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun – hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4).

Ja, u Bybel openbaar dat daar ’n poel van vuur is waarin onboetvaardige sondaars gegooi sal word – en vernietig sal word (Openbaring 20:14-15; 21:8). Wanneer hulle in die poel van vuur sterf, sal hulle die “tweede dood” ondervind (vers 8), waaruit daar geen opstanding is nie.

Is God onregverdig?

Sommige godsdienstige denkers, soos die Protestantse hervormer Johannes Calvyn, het verkondig dat God miljarde siele geskep het wat Hy geweet het bestem was om vir ewig in die Hel te ly. Ander sê dat God graag alle siele wil red, maar dat dit by Christene berus om die wêreld met Sy boodskap te bereik – en, indien hulle sou faal, sal die siele wat nooit eens die naam van Jesus Christus gehoor het nie, die ewigheid sal deurbring deur in die Hel gefolter te word.

Sal ’n liefdevolle God so wreed en onregverdig wees? Party teoloë sê aangesien hulle weet dat God regverdig is, sal selfs diegene wat nooit Christus se naam of boodskap gehoor het nie, gered kan word. Dit is egter nie wat die apostel Petrus verkondig het nie. Hy het die naam van Jesus Christus verkondig en gewaarsku: “... want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

Hoe kan ons Petrus se duidelike woorde versoen met die waarheid van ’n liefdevolle en regverdige God? Jesus het die inwoners van Gorasin, Betsaida en Kapérnaüm wat Sy boodskap verwerp het, berispe. Lees wat Hy aan die inwoners van Kapérnaüm gesê het: “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou” (Mattheüs 11:23-24).

God het Sodom en Gomorra deur vuur vernietig (Genesis 19). Nogtans het Jesus Christus gesê dat dit “verdraagliker” vir Sodom sal wees in die oordeelsdag as vir Kapérnaüm. Hoe kan dit wees? Christus het gesê dat as Sodom Sy werke gesien het, sou sy mense hul bekeer het en God sou daardie slegte en perverse stad gespaar het.

Wat sal dus tydens die oordeelsdag gebeur? Soos ons sal sien, beskryf die Skrif ’n groot opstanding tot oordeel,  die Millennium. Lees hoe u Bybel die eerste groep mense wat opgewek sal word, beskryf, asook die kernwoorde aan die einde van daardie beskrywing: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding” (Openbaring 20:4-5).

Die eerste opstanding sal diegene insluit “wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God” (vers 4). Hierdie heiliges wat in die eerste opstanding sal wees, sal onsterflik opgewek word en sal saam met Jesus Christus vir ’n duisend jaar regeer (vers 4). Tog, gedurende hierdie tyd, sal “die ander dode ... nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (vers 5). Duidelik sal die dooie mense van Sodom nie in die eerste opstanding wees nie.

Laat ons verstaan. Indien daar ’n eerste opstanding is, moet daar mos ’n tweede opstanding ook wees! In die tweede opstanding sal die mense van Sodom opgewek word totfisiese lewe, wat sal plaasvind nadat die duisend jaar voleindig is – na ’n duisend jaar van Jesus Christus se duisendjarige regering op die planeet Aarde. Waarom sal hulle opgewek word tot fisiese lewe? Om geoordeel te word, soos ons sal sien.

Is dit vir u ’n verrassing? Baie mense het deesdae vergeet dat God se Kerk, vanaf die heel begin, die werklikheid van Jesus Christus se toekomstige duisendjarige regering op aarde verkondig het (om meer te leer oor hierdie wonderlike tyd, lees asseblief “God se Koninkryk is ’n WERKLIKE Regering” elders in hierdie uitgawe). Die bekende historikus, Edward Gibbon het die volgende geskryf in sy beroemde boek, The Decline and Fall of the Roman Empire: “Die antieke en populêre leerstelling van die Millennium was nou verweef met die wederkoms van Jesus Christus. Net soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hul voortbestaan in hul huidige staat, volgens ’n tradisie wat toegeskryf word aan die profeet Elia, vasgestel op ses duisend jaar. In ooreenstemming hiermee, word afgelei dat hierdie lang periode van arbeid en stryd, wat nou bykans verstreke is, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar; en dat Christus en die seëvierende groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik uit die dood opgewek is, op aarde sal regeer totdat die tyd aanbreek vir die laaste en algemene opstanding” (Hoofst. 15, seksie 2).

Ja, soos Gibbon dit uitwys, het die eerste eeu se Kerk – die Kerk van die Apostels – verstaan dat die heiliges saam met Christus sal heers vir die duisend jaar wat die “algemene opstanding” sal voorafgaan.

Wat sal tydens hierdie “algemene opstanding” gebeur? Die “ander dode” (Openbaring 20:5) sal opgewek word tot fisiese lewe. U kan ’n beskrywing van daardie tyd lees in Esegiël 37. Wie is die “ander dode”? Hulle is die massas van die mensdom wat nooit werklik tot Christelikheid bekeer was nie. Hulle sluit die mense van Tirus, Sidon, Sodom en Gomorra in, húlle wat Christus gesê het, guns en verdraagsaamheid sal ontvang na hul bekering tydens hulle tyd van oordeel. Hulle sluit selfs die mense van Israel in vir wie God geestelik verblind het (Romeine 11:25).

Verblind vir ’n rede?

God wil hê dat ons belangrike lesse moet leer ter voorbereiding vir die ewige lewe in Sy gesin. God verblind dus soms mense geestelik sodat hulle blywende lesse kan leer. Dan, wanneer hierdie mense uiteindelik geroep word tydens die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-13), sal hul gretig reageer op God se roeping en hulle bekeer. Onthou, die apostel Paulus het gesê dat God Israel ten dele verhard [verblind] het. Hy skryf: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem” (Romeine 11:25-27).

Wanneer sal die hele Israel gered word? Tydens die Groot Wit Troon Oordeel, ’n tyd wanneer al die geestelik verblinde mense wat gesterf het, se oë geopen sal word vir die woord van God. Indien God almal nou sou wou red, dink u werklik Hy sou dit nie kon doen nie? Natuurlik nie! God se plan, soos geopenbaar in u Bybel, behels dat diegene wat tans verblind is, ingesluit is in Sy plan – dus kan Hy hulle later red!

Die apostel Paulus toon aan dat God sommiges uit die heidene geroep het en sommiges uit Israel. Hy skryf verder dat die res egter geestelik verblind is: “Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard [verblind]. Soos geskrywe is: God het hulle gegee ’n gees van diepe slaap, oë omnie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe” (Romeine 11:7-8).

Verbaas dit u? In Sý dag het Jesus nie almal tot bekering geroep nie. Onthou, teen die einde van Sy 3½ jaar lange bediening, het Hy slegs 120 dissipels gehad (Handelinge 1:15). Jesus het gesê: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie” (Mattheüs 13:13).

Wat sal gebeur tydens hierdie opstanding tot oordeel? Boeke – biblia in die oorspronklike Grieks – sal geopen word (Openbaring 20:12). Wat is daardie boeke? Die boeke van die Bybel! Vir die heel eerste keer in hulle bestaan, sal miljarde menslike wesens se oë geopen word en hulle sal hul geleentheid ontvang om gered te word!

Verstaan asseblief. Dit is nie ’n “tweede kans” nie. Dit is die tyd waarvan Jesus voorspel het, met betrekking tot die oordeel oor Sodom en Gomorra, Tirus en Sidon. Die apostel Johannes het geskryf: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel [nie veroordeel nie] na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Hoop vir miljarde mense!

Ja, die dooies sal weer lewe! Miljarde mense wat geestelik deur God verblind is, se oë sal geopen word tydens die Groot Wit Troon Oordeel. Hierdie opgewekte mense sal God se weg geleer word, hoe om dit uit te leef, en nader aan hul Redder kom namate hulle voorberei om ewige, onsterflike kinders van God te word. Hierdie proses sal oor ’n leeftyd plaasvind (Jesaja 65:20), net soos lede van God se Kerk vandag – die “huis van God” – nou geoordeel word tydens ons leeftyd (1 Petrus 4:17). Sommige van u vriende en geliefdes mag deel wees van daardie toekomstige oordeel. Soos die apostel Paulus geskryf het, “so sal die hele Israel gered word” (Romeine 11:26). Waarlik, God beperk nie redding tot slegs ’n relatiewe paar mense nie; hy wil hê dat alle menslike wesens gered moet word (1 Timotheüs 2:4).

Die meeste menslike wesens het geleef en gesterf sonder om selfs die naam van Jesus Christus te hoor. Andere mag slegs ’n vals evangelie oor Jesus gehoor het. Hierdie mense sal hul geleentheid om gered te word tydens die Groot Wit Troon Oordeel ontvang. Om meer oor hierdie wonderlike tyd te leer, skryf asseblief om u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Is Hierdie die ENIGSTE Dag van REDDING? Dit sal u help om die plan te verstaan wat ’n liefdevolle en regverdige God ingestel het om die oorgrote meerderheid menslike wesens te red, nadat hulle op Sy Waarheid reageer het.

Wat sal u egter doen wanneer Christus weer kom? Sal u in die eerste opstanding wees? Lees: “Dit is die eerste opstanding” (Openbaring 20:5). Indien God u roep, behoort u daarop te reageer. U behoort na God te soek met u hele hart, sodat u in die eerste opstanding kan wees met Christus se wederkoms. U kan oor daardie inspirerende tyd lees in die opstandingshoofstukke in u Bybel: 1 Korinthiërs 15 en 1 Thessalonicense 4. Getroue Christene sal opgewek word om saam met Christus hier op aarde te heers! Soos dit lees, “hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Die opstanding wat sal plaasvind wanneer Jesus Christus terugkom, is ’n opstanding tot onsterflike lewe. God sal aan getroue Christene daardie tyd die ontsaglike gawe van ewige, onsterflike lewe skenk. Dit word die “beter opstanding” genoem (Hebreërs 11:35). Waarom? Die tweede opstanding sal fisiese lewe aan diegene verleen wat verblind was, maar die eerste opstanding is ’n opstanding tot onsterflikheid! Getroue Christene van hierdie huidige tydperk wat deel gaan hê aan daardie eerste opstanding, sal in die Koninkryk van God ingebore word as onsterflike, verheerlikte kinders van God. Ons sal die aarde beërwe en saam met Christus, op hierdie aarde, vir ’n duisend jaar lank as konings en priesters regeer (Openbaring 5:10). Tydens die Duisendjarige Vrederyk sal Satan gebonde wees, nie in staat om die mensdom te beïnvloed nie (Openbaring 20:2). Diegene wat vandag deur God geroep word, moet Satan se invloed oorkom – iets wat diegene in die Millennium nie nodig sal hê om te doen nie, totdat Satan heel aan die einde daarvan weer losgelaat sal word. Vandag se getroue Christene sal Jesus Christus bystaan om die wêreld na ’n tyd van vrede en voorspoed te lei, soos hulle nooit voorheen geken het nie, wanneer Satan se invloed verwyder sal wees en God se Gees beskikbaar sal wees vir elkeen. Anders as vandag, waar slegs ’n relatiewe paar mense geroep word, sal almal tydens die Millennium dit ken en in staat wees om volgens God se weg te lewe (Jesaja 11:9). Hierdie duisendjarige tydperk van vrede, voorspoed en geestelike oorvloed sal die aarde voorberei vir die Groot Wit Troon Oordeelstyd, waartydens die res van die mensdom geleer en geoordeel sal word.

Wat sal egter gebeur met daardie mense wat God se weg verwerp – hulle wat nie verblind sal wees nie en geestelik bewus en verantwoordbaar sal wees? Wat sal gebeur met diegene wat weier om hulle te bekeer van hul sondes en die offerande van Jesus Christus verwerp? God sal hulle straf. Hy sal egter nie toelaat dat menslike wesens vir ewig ly nie. Hy sal hulle vernietig in die poel van vuur (Openbaring 20:13-15). Hierdie uitwissing in die poel van vuur, die “derde opstanding”, deel ewige straf uit aan die onboetvaardige bose mense. Die bose mense sal gefolter word wanneer hulle voor die poel van vuur staan. Dan sal al die bose mense in die vuurpoel gegooi word en heeltemal tot as verbrand. Hulle sal nie langer leef nie. Onthou: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

God het ’n ontsagwekkende plan vir die hele mensdom. Daar is hoop vir ons gestorwe geliefdes wat ons bevrees was vir altyd verlore sou wees. Miljarde mense wat gesterf het, sal weer leef en hul verstande sal geopen word vir God se plan van redding, iets wat hulle nooit voorheen verstaan het nie. Ons kan getroos wees in die wete dat ons gestorwe vriende en geliefdes nie onregverdig gestraf sal word deur ’n wispelturige God nie, maar dat hulle deel is van Sy manjifieke plan om hulle op Sy eie tyd te red, sodat hulle die ware evangelie kan hoor, hulself kan oorgee aan hul Redder, Jesus Christus, en vir alle ewigheid deel kan wees van Sy gesin.