As prediker wat deur die jare begrafnisse gelei het, het ek baie weduwees, wewenaars en ander agterblywende gesinslede vertroos gesien deur die waarhede in hul Bybels – hulle weet God se woord belowe dat hulle geliefdes weer uit die dood opgewek sal word. Aan die ander kant het ek ook die geestelike wroeging gesien van diegene wat aanneem dat die “ongeredde” gesinslid of vriend ewigdurende straf in die hel verduur.

In 2004 het die Gallup Organisasie hulle opname oor “Waardes en Oortuigings” vrygestel. Dit het openbaar dat 81% van die Amerikaners glo in ’n hemel en 70% in ’n hel. Oortuigings oor hemel en hel wissel egter aansienlik. Party mense ontleen hulle idees oor hemel en hel uit fiktiewe werke soos die Middeleeuse Italiaanse digter Dante seGoddelike Komedie, terwyl andere hul weer wend na wetenskaplike verhandelings oor “byna dood ondervindings”, vir leidrade oor wat na die dood gebeur.

Lesers van die Wêreld van Môre weet dat ons opsien na God se woord vir die antwoorde op die lewe se mees basiese vrae. Wat sê u Bybel oor hemel en hel en oor die toekomstige hoop van diegene wat gesterf het? Die goeie nuus is dat die waarheid van die Skrif hoop kan gee aan diegene wat bedrieg was deur valse inligting oor hemel en hel.

Hoop in die Opstanding

Tydens sy ondervraging deur die Sanhedrin, het die apostel Paulus die kern van sy geloof verduidelik. Terwyl hy die ware grondslag van sy hoop op ’n lewe na die dood verdedig het, het hy die opstanding uit die dood die sentrale punt gemaak: “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg” (Handelinge 23:6).

Het Paulus gesê dat hy hemel toe sou gaan wanneer hy sterf? Nee! Paulus het uitgesien na die opstanding uit die dood met Jesus Christus se wederkoms! Paulus het geskryf oor sy geloof in Christus en sy doel met die toekomstige opstanding: “... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Filippense 3:10-11).

So skokkend as wat dit mag klink vir diegene wat die wêreld se gebruiklike begrip aangeneem het, leer die Bybel ons dat wanneer mense sterf, hulle dood bly tot en met die opstanding. Die opstanding is die hoop van ware Christene! Die apostel Paulus wou hê dat ons die waarheid oor die opstanding moes weet. Hy het geskryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie” (1 Thessalonicense 4:13-15).

Paulus het ontslaap gebruik as ’n metafoor vir dood. U mag dalk dink: “Daar moet tog sekerlik ’n klompie sondaars wees wat op hierdie oomblik in ’n ewigbrandende helvuur gemartel word!” U mag verras wees om uit te vind dat die Bybel antwoord: Baie beslis nie!

Ja, soos ons later sal sien, verduidelik die Skrif dat onboetvaardige bose sondaars ná die Oordeeltyd van die Groot Wit Troon (Openbaring 20:14-15; 21:8), in die poel van vuur gegooi sal word. U Bybel noem hierdie ewige straf (nie ewigdurende straf nie), die “tweede dood” – die finale dood waaruit daar geen opstanding sal wees nie. Wie gaan dan na daardie ewige straf, en wanneer? Soos ons later in hierdie artikel sal sien, het geen mens nog daardie straf ondergaan nie – en dit mag op veel minder mense van toepassing wees as wat u verwag!

Let daarop dat die apostel Paulus nie die Christene wat gesterf het, beskryf asof hulle aktief of lewendig in die hemel sou wees nie. Hulle slaap – is dood – totdat hulle met Christus se wederkoms opgewek sal word. Paulus skryf verder: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).

Let daarop dat hierdie opstanding plaasvind “met die basuin” van God. Dit is die laaste basuin, die sewende basuin wat beskryf word in Openbaring (1 Korinthiërs 15:52; Openbaring 11:15). Let ook op: “... die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan”. Ware Christene wat gesterf het, sal nie opgewek word voor Christus se wederkoms nie! Diegene van ons wat nog lewe tydens Christus se wederkoms, sal aansluit by daardie heiliges wat in die geloof gesterf het. Hulle sal uit die dood opgewek word om die beloofde gawe van ewige lewe te ontvang! Dit is waarna alle ware Christene vandag uitsien – die opstanding tot onsterflikheid met Christus se wederkoms!

Ja, die Skrif bevat baie verwysings na individuele opwekkings uit die dood na fisiese lewe, soos toe Christus Lasarus uit die dood opgewek het (Johannes 11:43). Die opstanding waarop die Christene hoop, is egter die opstanding tot onsterflikheid – die eerste van drie “algemene” opstandings wat in u Bybel beskryf word.

Wie is in die Hemel?

Waarheen sal Christene gaan nadat hulle opgewek is? Sal hulle die ewigheid in die hemel deurbring? Om te begin om hierdie vraag te beantwoord, behoort ons te vra: “Wie is nou in die hemel?” Wat van die helde van geloof wat vermeld word in Hebreërs 11, waarna dikwels as die “hoofstuk oor geloof” in u Bybel, verwys word? Indien enigeen van hulle in die hemel is, behoort dit tog sekerlik Koning Dawid te wees (want God noem hom in Handelinge 13:22 “’n man na my hart”) – maar wat sê u Bybel?

Op Pinksterdag in 31 n.C. het die apostel Petrus vir ’n groot skare gepreek. Nadat hy hulle van die Messias se opstanding uit die dood vertel het, verduidelik hy: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29). Om dit nog meer duidelik te maak, voeg hy by: “Want Dawid het nie in die hemel opgevaar nie” (vers 34).

Jesus het Self hierdie punt baie duidelik gemaak deur te sê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Die apostel Johannes het hierdie stelling neergepen omtrent 60 jaar na Christus se dood en opstanding, dus het hy ’n parentetiese stelling aangaande sy Verlosser se woorde bygevoeg, “naamlik die seun van die mens wat in die hemel is”. Johannes se stelling bevestig dat toe hy sy Evangelie geskryf het in die middel 90s n.C., slegs Jesus Christus na die hemel opgevaar het!

Die Skrif openbaar dat die heiliges die aarde en “alle dinge” sal beërf – die heelal (Openbaring 21:7; Romeine 8:32)! Daardie erfenis sal egter nie gegee word voor die opstanding nie! Die Bybel toon duidelik dat dié wat dood is, dood bly tot en met die opstanding. Die idee dat mense met hul dood direk na die hemel of hel toe gaan, is gebaseer op die heidense leerstelling van die onsterflikheid van die siel, wat nie in u Bybel voorkom nie, maar wat ingebring is in die belydende Christendom namate dit deur die Romeinse Ryk versprei is en baie voormalige heidene hul ou leerstellings met hulle saamgebring het na hul nuwe kerke!

Ons moet verstaan dat ons nie gebore word met onsterflikheid nie. Dit is ’n gawe, ’n geskenk van God! Onthou: “Want die loon van die sonde is die dood, maar diegenadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Let daarop dat die Skrif nie sê, “die loon van die sonde is ewige lewe in die helse vuur” nie. Die loon van sonde is nie ewige lewe nie; dit is dood – die afwesigheid van lewe. Indien u reeds oor ’n onsterflike siel beskik, indien u alreeds ewige lewe het, dan benodig u dit nie as ’n geskenk van God nie. Ja, ’n siel kan sterf! Die profeet Esegiël herinner ons: “… die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4).

Die Hebreeuse woord vir siel is nephesh, wat fisiese of natuurlike lewe beteken. In Genesis 2 verwys hierdie selfde woord nephesh ook na “al die lewende wesens” – na alle dierlike lewe, insluitende soogdiere, visse en voëls. Die Bybel leer ons wel dat daar ’n gees in die mens is (1 Korinthiërs 2:11; Job 32:8, 18). Hierdie menslike gees is egter nie ’n onsterflike siel nie.

Is die siel onsterflik? Jesus waarsku ons: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe [vernietig] in die hel” (Mattheüs 10:28). Ja, indien u u Bybel glo, moet u erken, God beskik oor die mag om die siel te vernietig!

Van watter “Hel” praat u?

Hierdie Skrifgedeelte gee aan ons ook die antwoord op ’n ander algemene vraag: “Waar is die hel?” Die woord vir “hel” wat Jesus in Mattheüs 10:28 gebruik het, was “Gehenna” – ’n benaming vir die Hinnomvallei, die brandende vullishoop net buite Jerusalem, waar afval verbrand en vernietig was. Dus, in ’n sekere sin, is “hel” die Hinnomvallei. Die einste woord “hel” kan egter baie misleidend wees, aangesien daar vier verskillende woorde is – drie in Grieks en een in Hebreeus – wat in sommige Engelse Bybels as “hel” vertaal word. Elkeen van daardie woorde het ’n verskillende betekenis.

In die King James Vertaling en die New King James Vertaling, is die Hebreeuse woord sheol wat dikwels as “hel” vertaal word – wat eenvoudig ’n “gat” of “graf” beteken. Dit beteken nie ’n plek van ewigbrandende vuur nie! Die woord sheol kom 65 keer voor in die Ou Testament, nogtans word dit in die King James Vertaling slegs 31 keer as “hel” vertaal! Dit word 31 keer as “graf” vertaal en drie maal as “gat”. Indien u in die New International Vertaling lees, sal u opmerk dat sheol nooit as “hel” vertaal word nie – dit gebruik eenvoudig die Bybelse en taalkundig korrekte woord: “graf”. [In die Ou sowel as die Nuwe Afrikaanse Vertalings, die Lewende Bybel en die Nuwe Lewende Vertaling, word die woord deurgaans as “dood” of “doderyk” vertaal.] Soos u dus kan sien, is niemand besig om in sheol te brand nie!

U Nuwe Testament bevat drie Griekse woorde wat in Engels as “hel” vertaal is – GehennaHades en Tartarus – nogtans het elkeen ’n heeltemal verskillende betekenis. Soos hierbo aangedui, beskryf Gehenna die vuur wat die siele van al die onboetvaardiges sal vernietig (Mattheüs 10:28), nie ’n plek waar siele vir ewig sal brand nie. Die Griekse woord Hades, net soos die Hebreeuse woord sheol, beteken eenvoudig ’n “gat” of “graf”. Indien u die New King James Vertaling lees, sal u opmerk dat die woord Hades dikwels onvertaald gelaat is.

Die vierde Bybelse woord wat as “hel” vertaal is, is die Griekse woord Tartarus. Hierdie woord dui ’n toestand van inperking aan en volgens u Bybel het dit betrekking op gevalle engele, nie op sondige mense nie. Lees: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel [Tartarus] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word” (2 Petrus 2:4).

Dus, soos u kan sien, deur die Engelse woord “hell” vir al vier woorde te gebruik, met hulle drie uiteenlopende betekenisse, word die waarheid van u Bybel nie akkuraat oorgedra nie. Wanneer mense u dus oor die hel vra, behoort u hulle te vra om dit te omskryf: “Van watter ‘hel’ praat u nou eintlik?”

U mag nogtans wonder: “Wie gaan hel toe?” Is God onregverdig? Ons weet dat die naam van Jesus Christus die enigste naam is waardeur enigiemand gered kan word (Handelinge 4:12). Dus, beteken dit dat diegene wat nog nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, veroordeel is tot die ewige hel sonder enige fout aan hulle kant? Of het God verskillende standaarde vir mense, afhangende daarvan of hulle al die naam van Jesus gehoor het of nie?

Die antwoord mag u verras, maar behoort u ook hoop te gee. God sal aan elke mens die geleentheid skenk om die ware Evangelie te hoor. Indien hulle daarop reageer, Jesus Christus se offer aanvaar en, met die hulp van die Heilige Gees, Sy gebooie gehoorsaam, sal hulle gered word. “Wat egter van die miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit die Evangelie te hoor?” Die antwoord hierop word gevind in die boek van Openbaring, waarin ’n toekomstige tyd, bekend as die Oordeeltyd van die Groot Wit Troon, beskryf word.

Die “Boeke” sal geopen word

Vandag se Christene wat in die geloof sterf, of wat nog lewe tydens Jesus Christus se wederkoms, sal deel wees van die “eerste opstanding” en sal hul Redder en Koning bystaan wanneer Hy tydens die Millennium, wat binnekort hier sal wees, oor hierdie aarde gaan heers. Indien daar ’n “eerste opstanding” is (Openbaring 20:5), moet daar tog ook ’n tweede opstanding wees. Daardie tweede opstanding is die Oordeeltyd van die Groot Wit Troon. Die Bybel beskryf dit so: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Die Griekse woord vir “boeke” is biblion. Ja, ná die tweede opstanding sal die “boeke” – die Bybel – vir die eerste keer geopen word vir die begrip van die miljarde mense wat voor die Millennium geleef en gesterf het sonder om ooit die ware Evangelie van Jesus Christus te hoor. Miljarde mense sal vir die eerste keer die geleentheid hê om die waarheid te leer ken – en hulle sal ook een besondere voorreg geniet wat ons nie vandag het nie, aangesien hulle die gevolge sal kan sien van wanneer die mensdom sy eie kop volg soos in ons huidige tyd, en dit sal kan vergelyk met die werklikheid van ’n wêreld wat deur Jesus Christus regeer word. Dit sal nie ’n “tweede kans” vir daardie mense wees nie; dit sal hul heel eerste geleentheid wees om die waarheid te verstaan, hulle van hul sondes te bekeer en Jesus Christus as hul Redder aan te neem.

Ongelukkig, selfs tydens die Oordeeltyd van die Groot Wit Troon, sal party mense God se genade en redding minag. Hulle sal weier om hulle van hul sondes te bekeer en sal Christus se offer verwerp. God sal nie daardie rebelse mense dwing om Hom te gehoorsaam nie. Hy sal hulle vernietig in die poel van vuur. Uiteindelik sal diegene wat geleef en gesterf het terwyl hulle die waarheid geken het, maar dit verwerp het, opgewek word in ’n derde opstanding – die opstanding tot ewige straf deur dood (nie ewige lewe nie) in die poel van vuur. Ja, God is regverdig. Hy herinner ons: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here” (Hebreërs 10:30). Terwyl hulle voor die poel van vuur staan, sal die bose mense marteling ondergaan en dan sal hulle in die vuurpoel gegooi word om vir ewig opgebrand te word (Openbaring 21:8). Hulle sal nooit weer lewe nie. “Want die loon van die sonde is die dood [ewige dood] maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Daardie mense wat vandag deur God geroep word, het die ontsagwekkende geleentheid om met die eerste opstanding deel te word van Sy Gesin. Niemand hoef egter bevrees te wees dat ander mense hul geleentheid om gered te word, geweier sal word nie. Indien God nie die denke van u vriende of geliefdes geopen het nie, sal hulle hul beurt kry wanneer dit God pas. Indien God egter u denke open, behoort u nou daarop te reageer om dan die wonderlike beloning te ontvang wat Hy vir u gereed gemaak het!