Soos die meeste van u wat die nuus volg weet, lewer ’n toenemende aantal ontleders en kenners nou kommentaar oor hoe vinnig wêreldgebeure en maatskaplike veranderings plaasvind. Ons nader nou werklik die “voleinding van die wêreld”, soos alle Bybelgelowige Christene behoort te weet. Ons as Christene is in Lukas 21:36 opdrag gegee: “Waak dan en bid”. Ons behoort almal bewus te wees van die vinnig veranderende wêreld, veral in die lig van Bybelprofesie.

In hierdie vinnig veranderende wêreld, het ons steeds net 24 uur om ons lewens te lei. Ons tyd is beperk en kosbaar. Buitendien, kan enigeen van ons se lewens deur ’n ongeluk of groot verandering in die wêreld kortgeknip word, soos die Bybel voorspel het (Matthéüs 24:6-8). Dus, hoeveel tyd het u om te leef?

Het u uself al afgevra: “Gebruik ek my tyd en energie om die ware doel vir my lewe hier op aarde te vervul?” Die geïnspireerde Woord van God sê aan ons: “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan u verskuldig is? Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:10-12).

Met dit in gedagte behoort elkeen van ons ons dae te “tel” om seker te maak dat ons regtig – regtig – die “eerste dinge eerste” plaas wanneer ons ons kosbare tyd gebruik. Soos die bekende dekaan van die bestuursdeskundiges, Peter Drucker, in sy uitmuntende boek, The Effective Executive skryf:

“Tyd is heeltemal onvervangbaar. Binne perke kan ons byvoorbeeld een bron vir ’n ander verruil, soos koper vir aluminium. Ons kan kapitaal met menslike arbeid vervang. Ons kan meer kennis of spierkrag gebruik, maar daar is geen plaasvervanger vir tyd nie.

Alles vereis tyd. Dit is een werklik universele faktor. Alle werk vind in tyd plaas en gebruik tyd. Die meeste mense beskou nogtans hierdie unieke, onvervangbare en noodsaaklike hulpbron as vanselfsprekend. Daar is dalk niks anders wat effektiewe bestuurders soveel onderskei as hulle agting van tyd nie” (bl. 26).

Alhoewel u dalk nie ’n vooraanstaande korporatiewe bestuurder mag wees nie, is u tyd in God se oë net so belangrik soos dié van die “grootkoppe” van die wêreld. Ons almal behoort te leer om die kosbare tyd wat God aan elkeen van ons gegee het, behoorlik te gebruik. Soos die Woord wat vlees geword het, Jesus Christus, Sy voorbeeld aan ons gestel het en in werklikheid die “lig” van die wêreld was. Deel van Sy voorbeeld was om vroeg in die more op te staan om na “God te soek” en aan die dinge van God te dink, voor enigiets anders sou inmeng. Let op wat Hy gedoen het: “En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid” (Markus 1:35). Net so behoort ons werklik die eerste dinge eerste te stel. Dit is noodsaaklik in ons eie lewens dat ons na God soek en genoeg tyd afstaan om dit doeltreffend en kragtig te doen – as ’n daaglikse gewoonte – wat van die hoogste belang is.

Maak tyd vir Bybelstudie

Ons word aangemoedig om saam met gebed die Woord van God te bestudeer. Let daarop dat die apostel Paulus, die nuwe Christene in Berea as “edelmoediger as dié in Thessaloníka” beskou het; “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Hoe belangrik is die Skrif? Jesus Christus beveel alle Christene: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Hoe is dit in ons huidige era van Bybelse ongeletterdheid vir mense moontlik om van elke Woord van God te leef, indien hulle dit nie eers bestudeer nie? Namate die einde van hierdie tydvak naderkom en ons wêreld voor al hoe groter ontwrigtings te staan kom – wat deur oorloë, siektes, natuurrampe, ens. veroorsaak word – is dit vir u en u lewe noodsaaklik om seker te maak dat u die geïnspireerde Woord van God ken en verstaan.

Weereens, om dit doeltreffend te kan doen, beteken dat u ’n gewoonte daarvan maak om gereeld ’n deel van u kosbare tyd daaraan te wy! Dit mag vir die meeste van ons meer as ’n halfmiljoen Wêreld van Môre intekenare vanselfsprekend wees. Ek weet ook dat baie ander mense nooit ’n gewoonte van hierdie aard aangeleer het nie. Vir die eerste twee dekades van my eie lewe, in die “hoofstroom” kerk waarin ek grootgeword het, het ek óók nie hierdie gewoonte aangeleer nie en so ook nie enige van my vriende nie. Ek het egter hierdie lewensbelangrike gewoonte begin ontwikkel en dit het my oor dekades heen staande gehou, selfs in moeilike tye. Laat ek u dus uit my eie ervaring aanmoedig, veral namate u spesifieke profetiese gebeure sien plaasvind, soos ons dit in hierdie tydskrif aan u meedeel. Word asseblief “wakker” en gebruik u tyd, terwyl u die geleentheid het, om werklik die eerste dinge eerste te stel.

Die apostel Paulus is geïnspireer om aan ons te sê: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efésiërs 5:15-16). Om iets “uit te koop”, beteken om iets wat u reeds in die proses verloor het, “terug te koop”. Vir die meeste mense – beslis ook vir die meeste van u, die lesers – wil dit voorkom of die tyd net verbyvlieg voordat ons besef wat gebeur en dan is dit weg. Ons lewe kom tot ’n einde, dikwels gouer as wat ons gedink het en moontlik op ’n onverwagse manier.

In hierdie Werk van die lewende God, hoop en bid ons dat u almal waarlik sal “seker maak” wat ons sê. Ons wil in alle opregtheid hê dat u vir uself sal bewys wat en waarom u glo. Moenie glo wat ek vir u sê, net omdat ek dit aan u sê nie. Kontroleer dit in u eie Bybel. Soos u wel weet, beklemtoon die meeste ander predikers dit nie. Omdat ons by die Wêreld van Môre begin het om die waarheid te verstaan, kan ons en wil ons u uitdaag om soos die inwoners van Beréa te wees en die onderwerpe waarvan ons u uit die Skrif leer te bestudeer, sodat u heeltemal seker kan wees dat ons u leer om te verstaan en uit te leef wat die Bybel werklik sê.

Bewys en leef God se Woord!

Indien u dieper wil navors om ten volle te verstaan en te bewys wat God se Woord oor die doel vir u lewe sê, maak seker dat u aan ons skryf of skakel ons en vra vir u gratis inskrywing van die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. Staan nou dadelik die tyd af om hierdie belangrike versoek te rig, voordat u te besig raak of vergeet om dit te doen! Dit is een van die beste maniere wat u kan hoop om te vind oor hoe om u tyd te gebruik.

Soos mnr. Richard Ames in sy artikel, “Oorwinning oor die dood”, elders in hierdie tydskrif verduidelik, wil ons Almagtige God hê dat u sal leer om die geleentheid te waardeer wat Hy aan die mens gee om ten volle Sy kinders te word en opgewek te word tot onsterflikheid. Die God van die Bybel wil hê dat u sal leer om Sy Koninkryk en Sy geregtigheid te “soek” (Matthéüs 6:33). Niks anders as die Koninkryk van God is “die antwoord” op ons huidige wêreld se probleme nie, soos ek in my artikel, “Die Antwoord”, elders in hierdie tydskrif verduidelik.

Teen die einde van sy lewe het die apostel Petrus aan Christene gesê: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 1:10-11).

Dit is waarlik nodig dat elkeen van ons leer om tot aksie oor te gaan. Soos die apostel Petrus geïnspireer was om aan ons te sê, “as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie”. Hierdeur sal u toegang tot die ewigdurende Koninkryk van God hê. Dit sal nie net deur geloof alleenlik verwesenlik kan word nie. Dit verg daadwerklike optrede en die bereidwilligheid om God met u hele hart te “soek” en u kosbare tyd te gebruik om dit elke dag van u lewe te doen. Doen dit! Tree nou op!