Ek het twee koerantberigte voor my waarmee ek ten sterkste verskil. Alhoewel ek oor die algemeen baie van die “Wall Street Journal” hou en die artikels en redaksionele kommentaar baie behulpsaam en stimulerend vind, is die artikels waarna ek verwys – volgens my opinie – geskryf deur ’n paar “geleerde dwase”. Dit is geskryf deur die welbekende wetenskaplike, Richard Dawkins, en skryfster van godsdienstige artikels, Karen Armstrong. In ’n artikel met die opskrif “Mens teenoor God” (WSJ, 12 September 2009), “debatteer” hulle oor evolusie, wetenskap en die rol van godsdiens. Dawkins spreek hom sterk uit teen die idee van ’n ware God en teen godsdiens in die algemeen. Hy beweer: “Evolusie is die heelal se grootste werk. Evolusie is die skepper van lewe, en lewe is moontlik die mees verrassendste en pragtigste voortbrenging wat die wette van fisika ooit voortgebring het”.

Dawkins gaan verder om gek te skeer met God en om die glorie van evolusie te beskryf. Is sy soort van beredenering egter op feite gebaseer? Is sy veronderstelde “wetenskaplike benadering” heeltemal noukeurig en ordelik?

Nee!
In sy opmerkings waar hy Darwin se opvattings aanprys en God swartsmeer, sê Dawkins opgeruimd: “Wat is so besonders aangaande lewe? Dit skend nooit die wette van fisika nie. Niks doen dit nie (as iets dit sou doen, sal fisici net nuwe wette moet formuleer – en dit het dikwels genoeg in die geskiedenis van wetenskap gebeur). Alhoewel lewe nooit fisiese wette skend nie, stoot dit daardie wette in onverwagte kanale wat die verbeelding laat steier”.

Sien u Dawkins se probleem? Hy begin met ’n reeds bestaande heelal. Hierdie heelal het basiese “wette” wat hy erken nooit gebreek word nie! Later gaan hy voort om weereens te erken, “nie eenmaal word die wette van fisika geskend nie, nogtans ontstaan lewe in ongekarteerde gebied”.

Dink na oor hierdie ongerymde beredenering!
Hierdie veronderstelde “groot” wetenskaplike erken dat “die wette van fisika nie eenmaal geskend word nie”. Hy faal nogtans op die een of ander manier om te begryp dat iets of iemand hierdie wette van fisika, en die hele heelal wat gevul is met onskendbare wette, moes geskape het. Dit is vir die meeste eerlike, opregte en denkende mense duidelik dat die interafhanklike en oorvleuelende wette van fisika, chemie, en ander gebiede van die wetenskap deur ’n Hoër Mag – ’n ontsagwekkende Wese – met ’n verstand ver bo die menslike verstand, geskape moes gewees het. Hy het hierdie wette in werking gestel en die skoonheid, die keurigheid en die bestendigheid van hierdie heelal geskep om die wette wat ons lewens beheer in stand te hou.

Soos briefskrywer, Joseph Furman, ’n week later antwoord in reaksie op hierdie artikel: “Ek het slegs twee semesters fisika op kollege gehad, dus moes ek die deel gemis het waar mnr. Dawkins se veel-geroemde wette van fisika die mens begin toelaat het om lief te hê, te lag en te huil” (WSJ, 19 September 2009).

Wie inderdaad het die skeppende verstand, wat slegs die mens besit, tot stand gebring – en die vermoë om terug te staan en vir homself te lag, om lief te hê, om somtyds te gee sonder om iets terug te verwag en om ’n diep geestelike hunkering te hê met die besef dat daar ’n hoër mag moet wees?

Die sogenaamde “wetenskaplikes” wat probeer om die basiese werklikheid te omseil van ’n hele heelal gevul met standhoudende wette en ’n menigte van skepsels en skeppings wat op mekaar inwerk op so ’n wyse dat dit pragtig “saamwerk” – hierdie mense skiet inderdaad tekort aan insig en wysheid. Soos die psalmdigter geskryf het: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Psalm 14:1).

Vir háár aandeel dwaal godsdiensskryfster, Karen Armstrong, rond met “sentimentele” idees wat eerlik niks bewys nie. Sy sê: “Die beste teologie is ’n geestelike oefening soortgelyk aan digkuns. Godsdiens is nie ’n eksakte wetenskap nie maar ’n soort van kuns wat, soos musiek of skilderkuns, ons bekend stel aan ’n vorm van kennis wat anders is as die suiwer rasionele en wat nie maklik in woorde uitgedruk kan word nie”.

Sy moes dit inderdaad moeilik gevind het om haar idees logies in woorde uit te druk! Dit is jammer dat, in die naam van “godsdiens”, hierdie soort antwoord gekies en veronderstel was om die ateïs Richard Dawkins te weerlê. Haar antwoord toon geen insig in ware godsdiens nie – nog minder van ’n opregte benadering tot die God van die Bybel.

’n Deel van die probleem wat hierdie verwarde indiwidue in die gesig staar, word geopenbaar in die stelling van Aldous Huxley in sy welbekende boek, “Ends and Means”.Hierdie beroemde denker en filosoof erken: “Die meeste onkunde is oorkombare onkunde. Ons weet nie omdat ons nie wil weet nie. Dit is óns wil wat besluit hoe en op watter onderwerpe ons ons intelligensie gaan gebruik. Diegene wat oor die algemeen geen sin in die wêreld sien nie, doen dit omdat dit om een of ander rede hulle boeke pas dat die wêreld sinloos moet wees” (bl. 312).

Dit is inderdaad nie “in die mode” om in ’n ware God te glo nie. Mense hou daarvan om die waarheid van profesie wat geopenbaar word in Sy geinspireerde woord, die Bybel, te ontken. Die waarheid bly nogtans staan! Indien u dit nog nie gedoen het nie, skryf vir u gratis intekening op ons Wêreld van Môre se Bybelstudiekursus. Daar sal u vir uself die waarheid oor vervulde profesieë leer. Daar sal u byvoorbeeld sien hoe God vir Jesaja geïnspireer het om 200 jaar voor die tyd, die handelinge van Koning Kores van Persië te beskryf – gebeure wat deur wêreldlike geskiedenis en u Bybel gestaaf word! Ja, my vriende, daar is ’n werklike God! Is hy ’n werklikheid vir u?

Mense sal eersdaags in God moet begin glo – want Hy begin reeds nou om kragtig in wêreldgebeure in te gryp op die baie besondere wyses waarvan ons by die Wêreld van Môre u reeds jare lank al vertel! Vervulde profesieë is baie moeilik vir skeptici om te weerlê. Dit het nie alleenlik slegs reeds gebeur nie – soos ek aangedui het – maar u kan ditnou voortdurend reg om u sien gebeur, indien u waarlik profesieë verstaan en u dagblaaie lees of na ’n televisiekanaal kyk wat werklik wêreldnuus uitsaai.

Hierdie einste Werk – wat die Tomorrow’s World se televisieprogram en die Wêreld van Môre-tydskrif produseer – is ’n voortsetting van die Werk wat gelei was deur mnr. Herbert W. Armstrong – ’n welbekende dienaar van Christus wat in 1986 op die ouderdom van 93 gesterf het. Hy het in Augustus 1950 in die tydsrif, “The Plain Truth”,geskryf: “Geen uit-en-uit volskaalse oorlog is voorspel tussen Rusland en die Verenigde State nie. Die beroemde profesie van Esegiël 38 en 39 voorspel ’n Russiese inval in Palestina, heelwat later, nie teen die Noord Amerikaanse kontinent nie” (bl. 2).

Onthou, geagte leser, dáárdie tyd het die oorgrote meerderheid Bybelse “profesie studente” verkondig dat Esegiël 38 ’n Russiese aanval op die Noord Amerikaanse vasteland voorspel! Dikwels, soos ons herhaaldelik opgemerk het, het meneer Armstrong heeltemal alleen gestaan in die verkondiging van die Waarheid van wat werklik gebeur het of besig was om te gebeur in wêreldaangeleenthede.

In April 1952 het mnr. Armstrong in “The Good News” geskryf en aangekondig dat (gedurende ’n tyd wanneer omtrent niemand dit verwag het nie): “Rusland mag Oos-Duitsland aan die Duitsers teruggee en sal gedwing word om haar beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en dele van Oostenryk prys te gee om die tien nasie eenheid te voltooi. Europa sal ’n vrye hand hê om Amerika en Brittanje te vernietig, soos voorspel is” (bl. 16).

Hoe is dit moontlik dat mnr. Armstrong 37 jaar vooruit kon geweet het dat Rusland nie Amerika se grootste uitdaging sou word nie – en ons nie direk sou aanval nie? Hoe kon hy geweet het dat Rusland in werklikheid Oos-Duitsland aan die Duitsers sou teruggee en gedwing sou wees om haar beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en dele van Oostenryk prys te gee?

Die rede is, my vriende, dat daar ’n ware God is wat hierdie inligting in Sy Heilige Bybel geïnspireer het! Daardie selfde God praat nou met u verstand deur hierdie Werk! Ons het aan u vertel dat tensy Amerika en die nasies wat van die Britte afstam tot ’n opregte nasionale bekering kom soos wat nog nooit voorheen gesien is nie, sal hulle voortgaan op hulle afwaartse spiraal! Dit sal voorkom asof byna alles verkeerd gaan. Die Ewige God het mos aan ons voorvaders gesê dat indien ons nie Sy gebooie en insettinge gehoorsaam nie, Hy “verskrikking” oor ons sal beskik en dan “tering en die koors” (Levitikus 26:14-17). Ons het getuienis – en sal voortgaan om te getuig – van alle soorte terreur, insluitende terroriste-aanvalle op ons stede, ons hawens, ons lughawens, ons spoorwegstasies en al ons ander vorms van vervoer. Ons sal ook eersdaags ’n tyd betree van “tering en die koors” soos ons dit nog nooit voorheen beleef het nie.

God sê aan ons dat indien ons ons nie bekeer nie, dan sal Hy ons “trotse mag verbreek” (Levitikus 26:19).

Om hierdie feite te verstaan, skryf asseblief en vra vir ons gratis boekies, Die ware God – Bewyse en Beloftes asook Vervulde Profesie: God se Hand in Wêreldsake. U het hierdie uiters belangrike inligting nodig! Dit is nodig dat u die intellektuele en geestelike eerlikheid aan die dag lê om aan uself te bewys dat die meeste van die “geleerde dwase” om u wat God se bestaan ontken, diegene is wat werklik “uit voeling” is!

Dit is nodig dat u – met u hele hart – in aanraking kom met die ware God wat aan u lewe en asem gee. Hy wat nou in menslike sake ingryp voordat Hy Sy werklikeKoninkryk of Wêreldregering vestig om uiteindelik vrede te bring na ’n baie verwarde wêreld. Mag God u ook help om gewillig te wees om ware feite onder oë te sien. En mag Hy u help om te handel volgens die kosbare Waarheid wat Hy alleen kan verskaf!