Ons leef in uitdagende tye in die geskiedenis van die Kerk wat Jesus gestig het. Idees wat vandag die rondte doen is betekenisvol op wyses wat min mense besef. Die subtiele terugkeer na hoofstroom “Christelike” leerstellings, die bekoring van nuwe vorme van kerkregering, die begeerte om weg te doen met die ampsdraers en ’n beweging verby ’n hiërargie na onafhanklikheid asook die voorkeur aan debattering eerder as om onderrig te word – is almal ontstellende kenmerke om van kennis te neem!

Sommige mense wonder wat vandag tussen God se mense aan die gang is. Waarom is daar soveel verdeeldheid, wedywering en teenstrydige menings? Is hierdie toenemende verskeidenheid ’n teken van geestelike volwassenheid? Beteken ware Christelikheid hoe om te leer om vreedsaam van mekaar te verskil? Indien wel, wat het van die eenheid tussen Sy dissipels geword waarvoor Jesus gebid het (Johannes 17:11)? Wat het geword van die doktrinêre harmonie waarop die Apostels so klem gelê het (1 Korinthiërs 1:10; Efesiërs 4:1-6, 13-16)? Mag u glo net wat vir u reg voel en steeds waarlik ’n Christen wees? Maak die bywoning van die kerk van u keuse van u ’n Filadelfiese Christen – of is daar meer by betrokke? Waarom is hierdie strydvrae so algemeen vandag?

Vir sommiges beteken hierdie florering van verskeidenheid vooruitgang, terwyl dit vir andere ’n teken is van geestelike verwarring. Vir baie mense is die gelykmaak van die piramide van kerkregering ’n bevrydende beweging, terwyl dit vir andere ’n voorskrif vir chaos is! Sommige mense is in die wolke oor die veranderings wat in die kerke aan die gang is, terwyl daar diegene is wat bekommerd en verward is. Sommiges het moed opgegee en padgegee. Wat beteken al hierdie veranderings egter tog en waartoe sal dit lei? Het ons enige riglyne om ons te help en rigting te gee om deur hierdie stormagtige tye te kom?

Die antwoorde wat ons vandag nodig het, is te vinde in die Bybel se profesieë wat ongeveer 2,000 jaar gelede al geboekstaaf is in ’n boek wat weinig teoloë verstaan. Terwyl die kerke aangespoor word om “berouvol te wees oor voorspellings-verslawing”, ís dit vir ons nodig om die profesieë wat op ons huidige tye betrekking het, te bestudeer en te verstaan. Die eerste paar hoofstukke in die boek van Openbaring voorsien waardevolle insig in die verlede, hede en toekoms van die Kerk van God. Die briewe aan die sewe gemeentes bevat nie slegs ’n oorsig van die geskiedenis van die Kerk nie, maar ook belangrike lesse wat ons deur hierdie verontrustende tye kan lei. Daardie lesse verduidelikook wat vandag in die kerk aan die gang is. U kan dit nie bekostig om hierdie noodsaaklike inligting te ignoreer nie.

Die doel van Openbaring

Die boek Openbaring word dikwels beskou as ’n vreemde boek vol misterieuse simbole wat moeilik of onmoontlik is om te verstaan. Die Bybel konstateer nogtans net die teenoorgestelde! Die woord “openbaring” beteken om “te onthul” of “te verduidelik”. In die heel eerste vers lees ons dat God die boek Openbaring geïnspireer het “... om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Openbaring 1:1). God sê verder: “Salig (bevoorreg, benydenswaardig) is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dithoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Die profesieë van Openbaring – insluitende die briewe aan die sewe gemeentes – was bedoel om verstaan te word – veral deur Christene vandag! Johannes het gebeure beskryf wat sal lei tot aan die einde van hierdie tydperk. Die skakel – tussen Johannes se tyd en die tyd van Christus se wederkoms – is die profetiese tydsduur uitgebeeld deur die sewe kerk-eras, uiteengesit in hoofstukke 2 en 3 van Openbaring.

Die briewe aan die sewe gemeentes het ’n drievoudige doel. Die briewe beskrywe werklike toestande in elke gemeente aan die einde van die eerste eeu n.C. Die aanvanklike les – aansporings en vermanings – was bedoel vir die gemeentes van daardie tyd. Die briewe was nogtans deel van ’n boek van profesieë vir die toekoms. Die sewe gemeentes was geografies gerangskik langs ’n posroete in westelike Klein-Asië (moderne Turkye). Geleerdes besef ook dat hierdie volgorde sewe eras van die Kerk van God uitbeeld, vanaf die tyd van die Apostels tot en met die einde van hierdie huidige tydvak. Die toestande in die gemeentes, soos beskryf in die briewe, beskryf profeties die toestande wat heersend sal wees in elke opeenvolgende era – waar dieselfde lesse van toepassing sou wees. Johannes het die boek van Openbaring geadresseer “aan die “sewe gemeentes” (Openbaring 1:4), wat aantoon dat elke gemeente se brief in al die ander gemeentes gelees moet word. Dus is die derde doel van die briewe om algemene lesse wat wêreldwye menslike neigings beskryf en daaroor handel, oor te dra. Hierdie artikel sal fokus op wat hierdie briewe aangaande die verskillende eras van die Kerk openbaar – veral ons moderne era – en hoe die lesse vandag op ons betrekking het.

Efese: Verloor eerste liefde

Efese was die toonaangewende stad van Klein-Asië – maar dit was in ’n toestand van agteruitgang. Die Gemeente in Efese is simbolies van die Apostoliese era van die eerste en tweede eeue n.C. Hierdie gemeente is geprys vir sy werke – die prediking, lyding, diensbaarheid, reise en geskrifte van die eerste dissipels (Openbaring 2:1-3). Selfs hulle moes onderskei tussen valse leraars en ware Christelike leermeesters. Net soos die verbygaande glorie van Efese, is die gemeente nogtans aan die einde van die eerste eeu meegedeel: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4). God waarsku dat indien hulle nie berou het en hulle bekeer nie, Hy sal ophou om hulle vir Sy doel te gebruik (Openbaring 2:5).

Wat beteken dit egter om jou eerste liefde te verlaat of dit te verloor? Johannes se eie geskrifte verduidelik dit. Hierdie Apostel vergelyk liefde met in die waarheid wandel en met die onderhouding van die Gebooie (2 Johannes 6). Met betrekking tot die uitwerking van vals leermeesters, waarsku hy: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ’n volle loon ontvang” (2 Johannes 8). In 3 Johannes moedig hy die kerk aan om die broeders te dien “... sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word” (verse 4-8). Terwyl Jesus nederigheid beklemtoon (Mattheüs 5:3) en liefde tot die naaste (Johannes 15:12), het die gemeente aan die einde van die eerste eeu individue gehad wat voortreflikheid liewergehad het as andere – hulle was lief vir hul posisie – wat die Bybel kwaad doen noem (3 Johannes 9-11).

Die Gemeente van Efese – die Apostoliese era – het sy liefde vir God verloor, vir die Waarheid, vir die doen van die Werk en vir die broeders. In die plek van hierdie belangrike grondbeginsels, het mense na misleidende leerstellings geluister (waarskynlik van Gnostiese oorsprong – sien Openbaring 2:6). Vir party van hulle was die bekleding van ’n posisie van meer belang as om die Waarheid aan te hang. Selfs vandag nog is party mense meer begaan oor die bekleding van ’n posisie – moontlik om as ouderling of diaken te dien, sangboeke uit te deel of om ’n koor te lei – as om die Werk van God te doen. Die les uit die Efesiese era is duidelik: Kom terug na die regte spoor – doen die Werk – verkondig die evangelie met ywer – wees lief vir die Waarheid – wees lief vir mekaar.

In ’n opvallende parallel met ons moderne era, sien ons dat die kerk van die Nuwe Testament, wat in die 30’s begin het, reeds in die 90’s begin versplinter het – toe Johannes sy sendbriewe en die boek van Openbaring geskryf het. Die apostel Paulus dui aan dat hierdie uiteenlopendheid van sienswyses reeds vir ’n tyd lank teenwoordig was (1 Korinthiërs 1:10-13) en dat dit veroorsaak het dat mense wegval (2 Timotheüs 1:15). Binne 60 jaar nadat die kerk deur Jesus Christus gestig was, was dit deurtrek met verdeeldheid en struweling oor leerstellings. Dit behoort vir ons vandag ’n sobere les te wees!

Smirna: Getrou in beproewing

Die gemeente in Smirna bied nog ’n kragtige en tydlose les. Smirna was ’n vooruitstrewende, besige, pragtig-beplande hawestad, maar Christene daar het besonder baie vervolging verduur. Dit lyk of die Smirna era die derde en die vierde eeue n.C. dek – ’n periode van intense vervolging van die kerk deur die Romeine. Terwyl die Smirna era geloof word vir hulle werke en omdat hulle ryk is in geloof (Openbaring 2:9), word by hulle aangedring: “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). Die Gemeente van Smirna illustreer die kritiese belangrikheid van uithouvermoë – van vashou aan jou geloof in moeilike tye. Jesus het gesê: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Die apostel Paulus skryf dat slegs diegene wat die wedloop voltooi, ’n prys gegee sal word (1 Korinthiërs 9:24-27). Die ouderlinge word vermaan om te wees soos “een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is” (Titus 1:9). As u ’n vaste fondament het (Mattheüs 7:24-29) en u maak tyd om te “bewys” wat die waarheid is ( 1 Thessalonicense 5:21) sal u voorbereid wees om te volhard wanneer moeilike tye aanbreek.

Historiese bronne dui aan dat die Christene in die Smirna era in die Millennium – die duisendjarige vrederyk van Christus en die heiliges hier op aarde – geglo het ... Hulle wou niks te doen hê met die Romeinse Saturnalia en Brumalia (die oorsprong van moderne Kersfees), nie. Hulle het hul tiendes betaal en het nie aan ’n onsterflike siel geglo nie. Hulle het die Sabbat en God se Heilige Dae onderhou en het die dieetwette van die Skrif gevolg (verwys na Edward Gibbon se The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk15). Dit is geen wonder dat hulle vervolg was nie – hulle het nie die heersende sosiale en godsdienstige gebruike gevolg nie. Smirna is een van slegs twee gemeentes wat geen teregwysing ontvang het nie. Die les van die Smirna era is eenvoudig, maar lewensnoodsaaklik en tydloos: Bly getrou in beproewing – volhard tot die einde toe – moet nie moed opgee nie – moet nie ophou nie! Dit is ’n les wat ons nooit kan bekostig om te vergeet nie!

Pergamus: Die kompromitterende Gemeente

Pergamus, met sy imposante tempels van Zeus, Apollo, Athene, Asklepios (die genesende kultus) en die Keiser, was die hoofstad van Klein-Asië. Die inwoners was gesofistikeerd en geletterd. Die gemeente in Pergamus is tereggewys omdat hulle vals leraars toegelaat het om “’n struikelblok” voor die gelowiges te werp (Openbaring 2:14). Terwyl mense aanvanklik dalk nie die valse leerstellings glo nie, kan verdraagsaamheid teenoor die verspreiding van misleidende idees uiteindelik daartoe lei dat baie mense die beginsels van ware Apostoliese Christenskap kompromitteer en sodoende geestelik struikel. Die Bybel onthul dat nie net vals leermeesters nie, maar beproewings, verdrukking en vervolging (Mattheüs 13:21) asook swak voorbeelde (1 Korinthiërs 8:9) mense kan laat struikel. Sommiges sal selfs struikel oor die Woord van God en die leerstellings van Jesus Christus (Maleagi 2:8; 1 Korinthiërs 1:23).

Dit lyk of die Pergamus era strek vanaf ongeveer 500 tot 1000 n.C. Dit was gedurende hierdie tyd – die Donker Middeleeue toe die Roomse Kerk Europa oorheers het – dat die dominante kerk Paasfees (Easter), Kersfees, Halloween en die filosofiese idees van die drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel, uit die heidendom geabsorbeer het. Intellektuele wêreldwysheid, menslike redenasies en die begeerte na vooruitgang, lei dikwels daartoe dat fundamentele Bybelse waarhede verwerp word. Die les van Pergamus is duidelik: Moet nie valse leerstellings verdra of diegene wat dit bevorder nie – kompromie laat mense struikel: Christene moet staan vir die Waarheid.Hierdie advies is veral toepaslik op die kerk vandag!

Thiatire: Die korrupte Gemeente

Thiatire was ’n binnelandse stad wat aan ’n belangrike handelsroete geleë was. Dit was ’n kommersiële sentrum met baie handelsgildes en die tuiste van ’n militêre garnisoen. Hulle beskermende godheid was ’n oorlogsgodin. Om deel te neem aan die plaaslike ekonomie, was dit nodig om aan een van die gildes te behoort, gildes wat jaarliks die feeste van die afgode geborg het – en daardeur druk uitgeoefen het om te kompromitteer om daar in te pas. Dit wil voorkom of die Thiatire era gestrek het vanaf omtrent die elfde eeu tot die sestiende eeu, met inbegrip van die tydperk van die Hervorming asook die tydperk van die Teen-Hervorming, toe groot getalle lede die gevestigde Roomse Kerk verlaat het. Gedurende hierdie tydperk het groepe Christene in sentraal en suidelike Europa tevoorskyn getree wat in die Sabbat geglo het, asook sekere van die Heilige Dae, aan betaling van tiendes, volwasse doop en die voedselwette, terwyl hulle die leerstellings van die drie-eenheid, onsterflike siel, vaevuur en die populêre begrip van hemel en hel, verwerp het. Mettertyd en onder druk van die Teen-Hervormingsmagte, het baie nogtans weer teruggekeer na die heersende gebruike om op Sondae eredienste te hou, heidense feesdae te onderhou en om in die weermag te dien, om vervolging vry te spring. Baie van hulle het gevolglik gely en gesterf (verwys na Encyclopædia Britannica, 11de uitgawe, “Waldense”).

Die les van Thiatire is onomwonde: Moet nie vir die skyn met valse leerstellings saamgaan nie – moet nie die waarheid kompromitteer nie – moet nie teruggaan na die weë waaruit u geroep is nie, anders sal u beproewings moet verduur. Die Skrif bevat baie duidelike waarskuwings hieroor (Deuteronomium 12:29-31; Jeremia 10:2; 2 Korinthiërs 6:14-18; 2 Petrus 2:18-22). Ons word uitdruklik vertel dat daar aan die einde van die dae baie belydende Christene “mislei” sal word om vals godsdienstige gelowe wat in die mode is, te aanvaar, omdat hulle nie van beter geweet het nie of omdat hulle bereid was om ’n kompromis aan te gaan met die waarheid wat hulle eens geken het ( 2 Thessalonicense 2:1-13). Vir so baie wat hedendaags terugkeer na wat hulle voorheen geglo het, klink Paulus se boodskap baie duidelik: “So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is óf deur ’n woord óf deur ’n brief van ons” ( 2 Thessalonicense 2:15). Geestelike kompromie lei tot geestelike korrupsie. Dit het voorheen gebeur – dit kan vandag weer gebeur as ons nie waaksaam is nie!

Sardis: Die dooie Gemeente

Slegs ’n paar opmerkings word oor Sardis gemaak, ’n stad wat eens beroemd was vir sy kuns, handwerk en rykdom. Dit lyk of Sardis ooreenstem met die kerk-era vanaf die sestiende eeu tot die vroeëre twintigste eeu. Die belangrikste beskrywing van die Sardis era is dat dit ’n dooie gemeente was (Openbaring 3:1). Alhoewel dit ’n herkenbare naam en gedeeltes van die Waarheid besit het, het dit nooit veel met dié kosbare inligting gedoen nie. Gedurende hierdie tydperk het daar in Engeland, Amerika en ander dele van die wêreld, ’n aantal klein kerkies verskyn wat die Sabbat en ook sommige van die leerstellings van die oorspronklike Christenskap onderhou het (sommige het selfs die naam Kerk van God of Kerk van Christus gebruik). Die meeste het egter klein, onbeduidende groepies, waarvan niemand ooit gehoor het nie, gebly. Die gemeente in Sardis is ook aangespoor om waaksaam te bly – maar, soos ons sal sien, het hulle nie geweet waarvoor om waaksaam te wees nie! Hulle het ’n noodsaaklike sleutel kortgekom om Bybelse profesieë te verstaan.

Die les van Sardis is sober: Moet nie toelaat dat die Waarheid doodgaan nie – hou vas aan die Waarheid wat aan u oorgedra is – dra vrugte met hierdie kosbare waarheid, of word uitgewis uit die Boek van die Lewe! Ongelukkig, ten spyte van hierdie ernstige waarskuwings, toon die Bybel se profesieë aan dat gelowiges “... die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” aan die einde van die dae (2 Timotheüs 4:4). Jesaja praat van ’n tyd voor Christus se wederkoms, wanneer “... die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie” (Jesaja 59:14). Die prys sal hoog wees as ons die Waarheid laat afsterf – veral as ons nie uit die lesse van die geskiedenis leer nie!

Filadelfia: Klein, maar getrou

In teenstelling met die ander gemeentes op die posroete, was Filadelfia nie ’n welvarende, gesofistikeerde of invloedryke stad nie. Dit was geleë op ’n maklik-verdedigbare heuwel aan ’n belangrike hoofweg en het gedien as ’n buitepos vir die verspreiding van die Griekse en Romeinse kulture en later ook van die Christendom, na die omstreke. Die stad was ’n hele paar keer deur aardbewings vernietig, maar was telkens weer opgebou. Dit bestaan vandag nog steeds. Die naam beteken “broederlike liefde”. Dit wil voorkom asof die Filadelfia-era in die 1930’s begin het – ongeveer die tyd dat die radio gewild begin raak het en net voor die tyd van televisie. In die laaste sestig jaar het die Kerk van God gebruik gemaak van massamedia om miljoene mense te bereik – in die verkondiging van die evangelie van die toekomstige Koninkryk van God en om ’n waarskuwing aan die wêreld te rig om op die uitkyk te wees vir die tekens van die einde van hierdie samelewing en die wederkoms van Jesus Christus. Dít was die missie wat Jesus aan Sy kerk gegee het (Mattheüs 4:23; 10:6-7). Daardie boodskap behoort prominent te wees teen die einde van hierdie tydperk (Mattheüs 24:14). Die vermoë om die identiteit van die moderne Israelitiese nasies te verstaan – ’n sleutel om die profesieë van die Bybel te verstaan – was aan die Kerk van God teruggegee tydens hierdie moderne Filadelfiese era.

God het belowe om aan die Filadelfiese era ’n oop deur te voorsien – ’n deur wat niemand kan sluit nie – om die evangelie te verkondig. Hierdie klein gemeente word geloof vir sy volharding om sy missie te volvoer en om aan die kosbare waarheid vas te hou en nie te kompromitteer nie (Openbaring 3:7-8). Deur getrou ’n Werk te doen en aan die Waarheid vas te hou – om nie sommer elkeen ’n kerk van sy keuse by te woon nie – word aan die Filadelfiese Christene beskerming tydens die toekomstige Groot Verdrukking belowe (Openbaring 3:10). Die les van Filadelfia is eenvoudig: Bly getrou aan die Waarheid – verrig die werk deur die evangelie te verkondig – beoefen broederliefde – moet nie toelaat dat iemand u kroon neem nie. Ons kan nie bekostig om die bal op hierdie kritieke moment in die geskiedenis, te laat val nie! Ons saligheid en ons beloning is op die spel as ons dit toelaat!

Laodicea: Louwarm en gemaksugtig

Laodicea is ’n interessante en leersame geval – ’n studie van kontraste. Uit die geskiedenis leer ons dat dit ’n trotse en welvarende stad was, maar dit het nogtans net ’n geringe rol gespeel in die verspreiding van die Griekse kultuur. Die stad se imposante verdedigingstelsel het die indruk geskep van mag en het ’n gevoel van sekuriteit geskep, nogtans het sy ligging in ’n vallei en die oop watervoorraad die stad baie kwesbaar gelaat. Laodicea was ’n banksentrum met ’n baie sterk gevoel van onafhanklikheid. Hierdie onafhanklike gesindheid word weerspieël in die Griekse naam “Laodicea” wat “die mense besluit” of “die mense oordeel” beteken (verwys na Strong’s Exhaustive Concordance). Die Laodicea era beskryf die toestand van die Kerk van God net voor Jesus Christus se wederkoms. Dit is nie ’n mooi prentjie nie. Moontlik is dit waarom sommige mense die idee misken dat hierdie sewe gemeentes sewe historiese eras verteenwoordig – dit maak ongemaklike leesstof uit!

Die aanklag teen Laodicea is hul louwarm gesindheid (Openbaring 3:16). Hulle rykdom en welvaart kweek ’n wêreldse gesindheid. Hulle is louwarm aangaande die Waarheid, gehoorsaamheid aan die gebooie en hulle missie om die Werk te doen. Dit is net so walglik vir God as wat die “water” van Laodicea walglik was. Hulle is ook baie onafhanklik en “... het aan niks gebrek nie” (Openbaring 3:17). Sommiges in Laodicea ervaar geen behoefte aan leraars, regering, struktuur of doktrinale eenheid nie – dié dinge word beskou as ontbeerlik! Laodicea het ’n mediese skool gehad wat beroemd was vir sy oogsalf en tog beskryf die Bybel die mense daar as blind vir hulle eie geestelike toestand. Hulle intellektuele wêreldwysheid verhinder hulle om hul eie gebrek aan geestelike onderskeidingsvermoë in te sien. Laodicea het fyn swart klere van wol vervaardig, nogtans sê die Bybel dat hulle nakend was en wit kledingstukke benodig het (Openbaring 3:17-18). In hierdie sin benodig die naakte mense van Laodicea noodsaaklike gedeeltes geestelike wapenrusting – toegewydheid aan die Waarheid, ontsag vir die Gebooie, geloof, liefde, volharding – en hulle mag in gebreke bly om die Heilige Gees te beoefen (verwys na Efesiërs 6:10-19). Hierdie geestelike wapenrusting is nodig om vas te staan in tye van beproewing en om die evangelie met vrymoedigheid te verkondig. Hulle boodskap, hoewel dit die waarheid bevat, is neutraal en betekenisloos – soos die waters van Laodicea.

Die prentjie van Laodicea is dié van ’n gesofistikeerde, selfgenoegsame gemeente wat vertrou op sy eie rykdom, getalle en wysheid. Dit het die voorkoms van krag, stabiliteit en eenheid, tog is dit intern verdeeld. Hierdie mense wat onafhanklikheid so hoog ag, mag onbewustelik die leierskap van Jesus Christus verwerp om hul eie ding te doen! Die demokratiese (die mense besluit) aspekte van die Laodicea era word weerspieël in besluite oor leerstellings, organisasie, regering, missie en metodes. Hierdie louwarm gesindheid is geprofeteer om oorheersend in die kerk te wees teen die einde van die dae. Die les van Laodicea is ernstig: Word wakker voor dit te laat is – smeek God om u oë te open om u eie geestelike toestand te kan insien – bekeer van welbehaaglikheid, kompromie, materialisme, hardkoppige onafhanklikheid – onderwerp u aan Jesus Christus se leierskap – moet nie u beloning verloor nie!

Die briewe aan die sewe gemeentes – asook die sewe kerk-eras wat hulle verteenwoordig – bevat belangrike lesse! Daardie lesse was bedoel vir die gemeentes in die eerste eeu, en vir Christene regdeur alle eeue. Hulle is egter krities vir Christene vandag – individue wat aan die einde van die dae leef – in die Laodicea era! As ons hierdie lesse lees en daarop ag slaan, sal ons ’n beloning van Jesus Christus verkry. As ons dit verontagsaam of in gebreke bly om hierdie lewensbelangrike lesse te leer, dan sal daardie beloning in rook opgaan! Johannes raai al sewe gemeentes in Openbaring aan: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”. Verstaan ons hoe toepaslik hierdie lesse is op elkeen van ons vandag?