Die Werk agter Die Wêreld van Môre het vir dekades duidelik die Bybelse scenario van eindtydse profesie verkondig. Omdat ons verstaan dat Amerika, Groot Brittanje en die nasies van noordwestelike Europa die afstammelinge is van die “Verlore Tien Stamme” van antieke Israel, kon ons die profetiese neigings wat vandag ontwikkel, op ’n wyse begryp wat geen ander waarnemers kan nie. Ons verstaan dat Duitsland – die moderne Europese nasie wat afstam van antieke Assirië – ’n deurslaggewende rol sal speel in eindtydse profetiese verwikkelinge, en dat die moderne volk van Juda in die moderne nasie, Israel, in die middel sal wees van die vervulling van antieke profesieë.

Hoe is dit moontlik dat ons dit alles kan weet? Ons weet omdat ons vertrou op die woorde van die Bybel en nie in verbygaande politieke grille en giere wat agterlosige lesers van die Bybel deur die eeue verwar het nie.

Vir meer as vier dekades na die Tweede Wêreldoorlog het die bedreiging van wêreldwye kommunisme – die “Koue Oorlog”, botsings tussen Amerika en die Sowjet Unie en hul onderskeie bondgenote en satellietstate – die wêreld se politiek oorheers. Ongelukkig het dit ook die profetiese leringe van baie selfgemaakte predikante oorheers.

Wie is die “Dier” van Openbaring? Gewilde teorieë het vinger gewys na Amerikaanse Presidente, pouse, of selfs gewilde vermaaklikheidsterre. Die Bybel verduidelik egter in eenvoudige taal dat hierdie Dier ’n herlewing sal wees van die Romeinse Ryk, onder heerskappy van ’n magtige valse godsdiensstelsel.

Protestantse predikante verkondig gewoonlik dat die Rooms-Katolieke Kerk of die leier daarvan, die “Antichris” of die “Valse Profeet” van Openbaring is. Nogtans, so skokkend as wat dit mag wees, gaan ontelbare Protestantse leermeesters voort en bevorder baie van dieselfde valse leerstellings van daardie selfde “Antichris” wat hulle voorgee om teen te protesteer!

In teenstelling daarmee, sien hierdie Werk homself as die “klein kuddetjie” van wie Christus gepraat het (Lukas 12:32). Die leerstellings daarvan is nie dié van ’n groot valse kerk wat voorgee om “Christelik” te wees nie. Nog minder is die boodskap daarvan ’n “hervorming” of “protes” teen daardie leerstellings. Ons verkondig eerder die duidelike woorde van Jesus Christus en die Apostels.

Christus het Sy volgelinge geleer om te leef volgens “elke woord van God” (Lukas 4:4). Deel van daardie woorde is die woorde van die Ou-Testamentiese profete wat Assirië ïdentifiseer as God se werktuig om eindtydse Israel te straf omdat hulle Sy weë verwerp.

Deesdae kan u “godsdienstige” tydskrifte vind wat hul “profetiese” begrip verkry uit Stratfor Verslae of uit The Huffington Post. Solank as wat hul politieke ontleding betroubaar voorkom, mag dit lyk of hulle korrekte profetiese leringe aanbied. Deur staat te maak op politieke ontledings eerder as op die Bybel, sal hulle egter sonder uitsondering teen die einde faal.

Die Wêreld van Môre is egter anders. Ons kyk na die geopolitiek deur die lens van Bybelse profesieë en nie andersom nie, wat ’n rariteit vandag is.