Die Britse historikus Niall Ferguson het ’n kommerwekkende waarskuwing vir Amerika: “Wanneer die Amerikaanse Ryk ten gronde gaan, sal dit waarskynlik vinnig gebeur”.

In ’n artikel van die Maart-April 2010 uitgawe van Foreign Affairs, maak Ferguson ons daarop bedag dat die Amerikaanse alarmklokke baie luid behoort te lui, noudat “die Verenigde State ’n handelstekort van meer as $1.4 biljoen vir 2009 verwag – omtrent 11.2% van die BBP, die grootste tekort in 60 jaar – asook een vir 2010, wat nie juis kleiner sal wees nie. Intussen word beraam dat die publieke skuld in die komende dekade sal verdubbel, van $5.8 biljoen in 2008 tot $14.3 biljoen in 2019. Binne dieselfde tydsraamwerk word voorspel dat die rente op daardie skuld sal spring van 8% van Federale Inkomste na 17%” (“Complexity andChaos: Empires on the Edge of Chaos”, bl. 30-31).

Ferguson, ’n professor in ekonomiese geskiedenis aan die Harvard Universiteit, skets ’n prentjie van toenemende staatskuld in toekomstige jare. “Volgens die Kongressionele Begrotingskantoor se ‘alternatiewe fiskale scenario’ wat moontlike veranderings in die regering se beleid in ag neem, kan publieke skuld van 44% voor die finansiële krisis, styg tot ’n skokkende 716% teen 2080. In sy ‘uitgebreide grondvlak scenario’, wat aanvaar dat huidige beleide onveranderd sal bly, is die syfer nader aan 280%” (ibid., bl. 21).

Is daar ’n geringe moontlikheid dat die eens-magtige Verenigde State in duie kan stort onder die gewig van buitensporige, ontluikende skuld? Ferguson stel voor: “Dievolgende fase van die huidige krisis mag ’n aanvang neem wanneer die publiek begin om die geloofwaardigheid van die monetêre en fiskale maatreëls wat die Obama administrasie geneem het om dit die hoof te bied, te heroorweeg. Nog rentekoerse teen nul persent, nog minder fiskale aansporings kan ’n volhoubare herstel behaal indien mense binne die Verenigde State en oorsee gesamentlik, oornag besluit dat sodanige maatreëls sal lei tot ’n baie hoër inflasiekoers of dat dit uit en uit sal faal” (bl. 31, eie beklemtoning).

Presies hoe besorg behoort ons te wees oor die welsyn en standvastigheid van die Amerikaanse finansiële stelsel? Watter uitwerking sal probleme ook in die Verenigde State hê op toestande in die Europese Unie, bestaande uit 27 lidlande, wat gesamentlik ’n ekonomiese mark vorm wat groter is as dié van Amerika? Oor die laaste twee-en-’n-half jaar het die wêreld finansiële skokgolwe van epiese proporsies verduur wat bygedra het tot ’n diep en hewige resessie wat oor die algemeen beskou word as die ergste sedert die Groot Depressie van die jare 30s. Nogtans, ten spyte van die probleme, het baie aspekte van die tipiese Westerse lewenstyl bykans onveranderd gebly. Is ons voorbereid opgroot ontwrigtings wat die mag sal hê om die wêreldorde waaraan ons almal gewoond geraak het, te verander? Is ons gewillig om die ondenkbare te dink?

Fiskale Sklerose?

Geld kan vergelyk word met bloed; tensy dit deur die sisteem sirkuleer, sterf die liggaam! Dit is wat amper gebeur het. Geld – die lewensbloed van die wêreld se ekonomie – het opgehou om te vloei, en ’n verpletterende finansiële infarksie het die wêreld se finansiële sisteem tot op die rand van uitwissing gebring. Slegs die gesamentlike optrede van regerings regoor die wêreld – eintlik soos om die pasiënt na die waakeenheid te haas en op lewensonderhoud te plaas – het die afsterwe daarvan verhinder. Dit sal egter nog baie lank duur om die pasiënt te verpleeg tot blakende gesondheid.

Eenvoudig gestel is die probleem skuld; berge en berge skuld, net waar jy kyk, op elke vlak: Persoonlik, besighede, korporatief, bankwese en nasionaal. Dit het die inspuiting van ontsaglike bedrae likwiditeit (geld) in die are van die wêreldwye finansiële sisteem gekos – die finansiële eweknie van ’n ontsaglike groot bloedoortapping – om dinge weer aan die gang te kry. Vir die huidige is die uiteindelike ramp van ’n algehele ekonomiese ineenstorting, met die wêreld wat wegsink in finansiële, politieke en maatskaplike chaos, afgeweer. Dit was egter so hittete!

Vanuit ons gunstige posisie in Mei 2010, sal baie mense graag wil glo dat die ergste agter die rug is; nogtans bly die wêreld se finansiële stelsel in ’n wisselvallige en kwesbare toestand. Daar is ook verskeie belangrike redes waaruit ons kan aflei dat daar nog ’n groot hoeveelheid pyn en skok vir daardie stelsel, en alles wat daarvan afhanklik is, aan die kom is.

Namate die krisis gevorder het, het hele nasies wat blootgestel was aan ononderhoubare vlakke van skuld, soos byvoorbeeld Ysland, en nou Griekeland, in ernstige probleme beland en verkeer in gevaar om heeltemal te vou. Dit word verwag dat meer nasies sal volg om in, soos dit tans genoem word, soewereine skuld en wanbetaling te verval. Die taak om daardie skuld reg te bestuur of die invloed daarvan te verminder, lê nog voor.

Die ernstige resessie en kredietverknorsing het veral die strukturele tekortkominge van die Europese Unie blootgelê asook die dwaasheid van wat sommige mense beskryf as die unie se misleidende aspirasies om ’n hele kontinent suksesvol te kan verenig. Die “een-grootte-pas-almal” wisselkoers en ’n enkele geldeenheid vir al die lidlande het nog altyd die gevaar ingehou om in ’n krisis wreed ontbloot te word. Byvoorbeeld, wat reg is vir die groot, goed-gedissiplineerde Duitse en Franse ekonomië, mag nie reg wees vir kleiner ekonomië soos Ierland, Spanje en Portugal nie. Die noordelike ekonomië, tiperend van Duitsland, is spaarsamig, normaalweg verantwoordelik en welvarend, terwyl die suidelike ekonomië – waarna soms verwys word as die “Club Med” en op sy uiterste getipeer word deur Griekeland – meer verkwistend, korrup en swakker is.

Die EU is in ’n krisis gedompel deur die finansiële probleme van Griekeland – met vrese dat dit ’n domino-effek van soewereine wanbetalings sal begin wat die ander swakker, skuldbelaaide ekonomië soos Spanje, Portugal en Italië sal insuig. Selfs die eens-magtige Verenigde Koninkryk, opgesaal met neerdrukkende vlakke van skuld, staan gevaar om haar hoogsgesogte trippel-A kredietstatus te verloor, tensy die regering kragdadige maatreëls instel om die val te stuit. Sommige kommentators erken nou dat hulle selfs ’n vernederende en rampspoedige wanbetaling in die vooruitsig stel.

Party mense vra of hierdie ontwikkelende krisis kan uitloop op die versplintering van die Eurozone soos dit tans saamgestel is – hoewel ondersteuners van die EU nog steeds so ’n idee as gek en ondenkbaar afmaak. Dit stel sekerlik noemenswaardige veranderings of herstrukturerings voor om voorsiening te maak vir meganismes om die opwellende kwessie van soewereine wanbetalings, wat tans nog nie in plek is nie, aan te spreek. Is dit moontlik dat een oplossing – ook ondenkbaar as gevolg van die gevolge daarvan – vir Griekeland is om uit die enkele geldstelsel te tree ten einde haar eie, meer toepaslike rentekoersvlakke vas te stel wat haar herstel sal ondersteun? Die wanbalans tussen verskillende ekonomië in die EU is so geweldig dat dit selfs voorgestel is dat Duitsland uit die valuta-eenheid moet onttrek, sodat die wyer ekonomiese probleme opgelos kan word.

’n Dief in die nag?

In sy verhandeling vra Ferguson ’n interessante vraag wat herinner aan ’n welbekende Bybelse metafoor: “Wat daarvan as die ineenstorting nie oor ’n aantal eeue ontwikkel nie, maar skielik kom soos ’n dief in die nag”? (ibid., bl. 22).

Bybelse profesieë voorspel ’n eindtydse Europese Unie van tien konings, nasies of nasionale groepe (Openbaring 17:12-14) wat vir ’n kort tydjie sal probeer om die hele wêreld te oorheers (vers 18). Tans het die EU 27 lidstate. Ons mag die herlewing sien van die idee van ’n binnegroep van EU nasies – met Brittanje wat sigself, na verdere ekonomiese verswakking, spoedig uitgestoot sal vind na die ongewilde buitenste rand – selfs indien party mense in die VK sal verkies om in te bly en die voordele van lidmaatskap in ’n welvarende EU groep in te palm.

Bybelse profesieë dui aan dat daar op een of ander manier ’n radikale herstrukturering van die EU sal moet plaasvind om die verlangde oorheersing te bereik. Wanneer daardie verandering kom, sal dit vinnig kom. Is al die saadjies vir daardie herstrukturering huidiglik al in plek? Sekerlik!

Ons behoort bewus te wees van die sirene-sang van diegene wat sê dat alles wel is, terwyl die grondbeginsels anders klink. Die apostel Paulus het geskryf: “... want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:2-3).

Die groot les om te onthou is dat dinge wat eenmaal as ondenkbaar beskou was, baie vinnig kan gebeur. Die wêreldorde is besig om voor ons oë te verander en meer belangrike omwentelings is nie ver weg nie. Waak en wees gereed wanneer dit kom (Lukas 21:34-36)!