“Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles” (Prediker 10:19).


Miljoene beleggers het in die laaste paar jaar hul “neseiers” sien krimp. Of dit nou behuisingsbeleggings is wat verlore is of aftree-fondse wat verdamp het, die geld waarop hul staatgemaak het, is weg.

Miljarde mense op die planeet Aarde ken ’n armoede wat meeste mense in die Westerse nasies hulle nouliks kan indink. Volgens statistiek van die Verenigde Nasies, verdien meer as twee miljard mense minder as R14 per dag. In die wêreld se 49 mees onderontwikkelde lande, leef 80% van die mense op daardie bedrag. Ja, selfs die armste Amerikaners tel nog steeds onder die welvarendste mense op Aarde.

Aan die een kant waarsku die Skrif God se mense daarteen om selfvoldaan en louwarm te word en op hul veronderstelde rykdom te vertrou (Openbaring 3:17). Nogtans vereis God nie armoede van getroue Christene wat aan Hom gehoorsaam is nie. Die apostel Johannes sê aan die broeders: “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 2). Lank gelede het Koning Dawid geskryf dat diegene wat behae het in God se wet, in alles voorspoedig sal wees (Psalm 1:3).

Dus, hoe behoort Christene te reageer op ’n finansiële krisis? Een belangrike beginsel is dat indien ons die regte prioriteite het, ons nie nodig het om te vrees nie. Jesus Christus leer ons: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:31-33).

Ja, vir diegene wat heel eerste God se Koninkryk soek, sal alle dinge bygevoeg word. Beteken dit twee luukse motors in elke motorhuis, ’n 152 cm platskerm TV en ’n ontsaglike groot plaas vir elke Christen? Nee! God verseker Christene dat indien hulle naby Hom bly, hulle elke ding sal hê wat hulle nodig het – as Hy aan hulle meer gee, dan verwag Hy ook soveel meer van hulle (Mattheüs 25:14-30).

Met welvaart kom verantwoordelikheid en daar is rykdom wat geld nie kan koop nie. Kyk wat het gebeur toe die towenaar Simon die Apostels genader het en probeer het om die gawe van die Heilige Gees te koop: “En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry” (Handelinge 8:18-20).

Dus, hoe bestee u u geld? Die Bybel herinner ons daaraan dat die ware skat nie gevind kan word deur die opbou van persoonlike rykdom of deur kwistig op onsself te spandeer nie: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mattheüs 6:19-21).

Wanneer u rykdom bekom, dink u hoofsaaklik aan al die wonderlike “dinge” wat u daarmee kan koop? Of dink u eerstens aan u verantwoordelikheid as ’n rentmeester van wat God aan u gegee het – hoe u u rykdom kan aanwend om u gesin, u geliefdes en u gemeenskap te help, u Skepper te dank en Sy Werk te ondersteun? God kyk na u hart. Soek u na Sy skat?