Is God vir u ’n werklikheid? Is Hy ’n noodsaaklike teenwoordigheid in u lewe, of net ’n abstrakte konsep wat geen verskil maak nie? Wend u die belangrike Bybelse hulpmiddels aan wat u nader aan Hom kan trek?


Voed u uself daagliks met Christus in ’n wêreld wat uitgehonger is vir die waarheid?

Normaalweg, soos die meeste van u lesers weet, raak ek nie betrokke in direkte godsdienstige oproepe of “prekery” in die artikels van ons Wêreld van Môre-tydskrif nie. In hierdie Werk wil ons dit eenvoudig “vertel net soos dit is” om aan u die ware feite te gee en u dan self te laat besluit watter soort aksie u behoort te neem. Wat ek ook al skryf, probeer ek deurentyd om al ons intekenaars te help om sekere aspekte van die lewe of profetiese gebeure wat hulle persoonlik raak te verstaan.

Aangesien profetiese gebeure dus besig is om vinniger plaas te vind en die “trotse mag” van die nasies van Britse afkoms asook dié van die  Amerikaanse volke regtig op ’n baie duidelike manier “gebreek” word (Levitikus 26:19), het ek besef dat ek verantwoordelik is om aan u lesers ten minste die heel basiese dinge deur te gee van wat umoet doen om die komende toetse en beproewings te kan oorleef. Jesus Christus sê ten opsigte van die komende Groot Verdrukking: “Want daardie dae sal daar ’n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie” (Markus 13:19).

Nee! U hoef u nie te haas en “deel van ons kerk” te word om gered te word nie!

U ware Skepper sê herhaaldelik in Sy geïnspireerde Woord dat op ’n tyd soos hierdie, enigeen wat werklik die hulp, die leiding en die Goddelike beskerming van die Almagtige God wil hê, ten minste opreg na “God moet soek” en uitroep tot God en Hom opreg en ernstig laat weet dat u werklik die hulp en leiding wil hê van die Een wat aan u lewe en asem gee! Is dit te veel gevra?

Onderhou Sy getuienisse (verordeninge)

Nadat Hy aan die Israeliete gesê het wat hulle moes doen wanneer hulle uit hulle Babiloniese ballingskap terugkeer, sê God: “Want so sê die Here: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het” (Jeremia 29:10-14). God het Koning Dawid geïnspireer om te sê: “Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek” (Psalm 119:2). Let asseblief op na die laaste deel van die sin: “... van ganser harte soek”. Baie belydende Christene soek God halfhartig. Hulle doen ’n bietjie Bybelstudie, sal per geleentheid ’n gebedsessie met God hê en “hoop” dit kan genoeg wees om hulle so ’n bietjie spesiale leiding te gee.

Hoewel Daniël, een van die grootste profete van alle tye, egter tot die besef gekom het van die spesiale tyd waarin hy leef, het hy God met sy hele hart gesoek: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk” (Daniël 9:3-5).

Daniël het dus “sy aangesig gerig” tot God en Hom gesoek vir Sy leiding en Sy genade – God het dit grootliks waardeer. Daarna het God ’n magtige engel gestuur om Daniël te onderrig en te bemoedig. Die engel het gesê: “Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië” (Daniël 10:11-13).

Geestelike oorlog

Daniël het tot die besef gekom dat daar ’n “geestelike oorlog” gevoer word tussen God se getroue engele en die bose geeste, die “gevalle engele” wat die heidense nasies rondom Israel beïnvloed en gelei het. God het Daniël egter bemoedig en hom laat weet dat “van die eerste dag” af wat Daniël God werklik begin “soek” het deur vurige gebed, vas en belydenis van sy sondes, God hom gehoor het. Daarna is Daniël ware begrip gegee van die onstuimige gebeure wat rondom hom begin plaasvind. Hy is deur God gebruik om sy volk te waarsku. Hy is kragtig deur God gebruik om aan ons vandag, van die heel spesifiekste en kragtigste profesieë in die Bybel te gee!

Sal u by Daniël en baie ander groot dienaars van die ware God aansluit om werklik u Skepper en Sy wil vir u lewe te soek”?

Hoe om na “God te soek”

Die bogenoemde voorbeelde toon duidelik dat die Almagtige God ag slaan op diegene wat Hom met hulle hele hart soek (Jeremia 29:13). Hy eer diegene wat Hom deurvurige gebed, vas en berou soek (Daniël 9:3-4). Nog ’n belangrike “sleutel” vir ons vandag, is die uiterste belangrikheid van waaragtige Bybelstudie. Daardie ou profete wat ons hierbo as voorbeelde aangehaal het, was dikwels in noue kontak met God op ’n persoonlike manier en het Hom werklik “geken” soos baie min mense van vandag. In ons era het die meeste mense nog nooit werklik die ware God geken nie. Satan die duiwel het werklik “die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9). Hy is toegelaat om die meeste mense in die wêreld te “verblind” vir die wil van die ware God (2 Korinthiërs 4:3-4). Daarom, aangesien ons vandag in hierdie situasie is, behoort ons nugter te word! Ek en u behoort werklik God se Woord te “bestudeer”. Dit is die geïnspireerde openbaring van ons Skepper. Dit openbaar hoe God dink, hoe Hy is en wat Hy in verskillende situasies sal doen. Sonder hierdie begrip is dit vir ons moeilik om die ware God vuriglik te “soek” op dieselfde manier as wat die ou profete dit gedoen het. Die meeste mense is werklik “afgesny” van God. Hulle ken net ’n valse God, ’n valse Christus en ’n valse evangelie (2 Korinthiërs 11:3-4).

Neem asseblief kennis van wat Jesus Christus Self gesê het: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:56-57). Hy het daarna voortgegaan en gesê: “Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (vers 63). God se geïnspireerde Woord, die Bybel, help ons dus om God se wil te verstaan en gee ons die ewige lewe in God se Koninkryk, indien ons dit gehoorsaam.

“Voed” uself met Christus

Dit is waarom Jesus aangedui het dat ons onsself behoort te “voed” met Hom en werklik Sy woorde, wat “gees en lewe” is, te bestudeer.

Ek versoek u as intekenaars dus almal: “Blaas die stof van u Bybels af” en begin werklik om die Bybel te bestudeer op ’n manier wat u waarskynlik nog nooit voorheen gedoen het nie. ’n Goeie plan mag wees om die hele Nuwe Testament van die begin af te begin deurlees. Begin by die boek Mattheüs en sien hoe Jesus Christus in Sy “Bergpredikasie” (hoofstukke 5-7) God se Wet “vergroot” (Jesaja 42:21) of om dit te “verheerlik” deur te verduidelik hoe die mens behoort te lewe. Indien u Mattheüs werklik bestudeer, sal u “die gedagte van God” begin verstaan soos dit direk deur Jesus Christus, die Seun van God, uiteengesit is.

Leer om stadig en aandagtig ten minste twee of drie hoofstukke tydens elke studiesessie te lees. Merk die sleutelgedeeltes, wat van die meeste belang is en verwys dan terug en hersien dit aan die einde van u studie. Hersien weer vlugtig die drie hoofstukke wat u gelees het in u volgende studiesessie. Skenk aandag aan die gemerkte sleutelgedeeltes voordat u voortgaan met die volgende drie of vier hoofstukke. Dink na oor wat u lees en vra God vir ware begrip.

Ware Christelike meditasie

Dit is ook noodsaaklik om die belangrikheid van Christelike meditasie te leer. Dit is nie sommer die “leegmaak van u gedagtes”, soos ’n paar Oosterse godsdienste voorgee nie. Dit is eerder die fokus van u gedagtes op ’n enkele tema. Draai dit om en om in u gedagtes om begrip te verkry. U doel behoort te wees om werklik te probeer verstaan wat God deur Sy geïnspireerde Woord sê. U behoort dus tyd te bestee na elke studie-sessie en dalk weer later in die dag, om ernstig te mediteer oor wat u gelees het en God gedurig te vra om aan u ware begripkennis en die gewilligheid te gee om Sy wil te doen, soos geopenbaar in Sy geïnspireerde Woord.

Nadat u gestudeer en gemediteer het, sal u baie meer begrip hê van hoe om te bid en die aard van die ware God tot wie u bid. Lees die voorbeelde van Christus se gebede en hoe Hy tot God gebid het en hoe die profeet Daniël tot God gebid het, asook van hoe koning Dawid tot God gebid het. Lees die inspirerende voorbeelde in die hele boek van Psalms. Indien u hulle voorbeeld volg, sal u in staat wees om op ’n sinvolle manier “u hart uit te stort” voor u Skepper en op ’n manier sal Hy u hoor en antwoord. 
Leer om elke dag met gebed te begin voordat u u huis verlaat. Om in die oggend by die deur uit te gaan sonder om te bid is amper net soos om “naak” uit te gaan. U is in ’n sekere sin geestelik nakend indien u u huis verlaat en nie tot die Skepper gebid het vir Sy hulp, leiding en Sy beskerming nie. Dink asseblief só daaraan!

Leer om ernstig met God te praat, want soos ek tevore aangedui het, waardeer God nie “halfhartige” gebede nie. Onthou die voorbeeld van ons Verlosser, Jesus Christus: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7). Jesus het vir ons die belangrikste voorbeeld gestel van hoe ons werklik “God met ons hele hart behoort te soek”!

Saam met die werklike bestudering van die Bybel op ’n gereelde basis, gereelde meditasie en vurige gebed elke oggend en gedurende die dag, is nog ’n belangrike sleutel in die soeke na God, die gewoonte om te vas. Regdeur die Bybel vind ons dat God se ware dienaars hulle vir ten minste ’n dag of twee sal weerhou van kos en water, wanneer hulle gekonfronteer word met ’n ware krisis.

Gebruik VAS as ’n “hulpmiddel”

Let op hoe Moses, die “man van God”, na God gesoek het. Hy verduidelik: “Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond wat die Here met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly – brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie” (Deuteronomium 9:9).

Een van die vernaamste “vroue van God” wat in die Bybel geopenbaar word, is koningin Ester, wat in ’n tyd toe die Persiese koning van plan was om die Jode uit te roei, opdrag gegee het aan haar oom Mordegai: “Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my onthalween julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om” (Ester 4:16).

Sonder twyfel het honderde of selfs duisende van haar mede-Jode vurig begin vas en God namens hulle mense en koningin Ester gesoek. Die hele situasie is daarna op ’n merkwaardige manier omgekeer! Lees die “res van die verhaal” in die boek van Ester!

Nadat die apostel Paulus op die grond geval en verblind is toe hy op pad was na Damaskus om die Christene te vervolg, het hy geweet wat om te doen. Die Bybel openbaar dat hy begin het om te bely en God te soek en hy het “drie dae lank ... niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie” (Handelinge 9:9). Dus het hierdie man wat een van die grootste Apostels van alle tye geword het, begin om “God te soek” deur te vas, om hom vir ’n tyd lank af te sny van kos en water om homself te verootmoedig, sodat hy sy hele wese op God en Sy wil kon fokus deur gebed en vas.

Dit is ook goed om te onthou dat, veral in ons moderne tyd met so baie fisiese swakhede en kwale, dit raadsaam is om versigtig te wees as ons vir meer as een dag vas. Jesus Christus kon vir 40 dae lank vas, maar ons behoort nie sommer te “aanvaar” dat ons Sy voorbeeld in hierdie verband kan navolg nie. Natuurlik, indien u aan ’n ernstige mediese toestand ly, behoort u ag te slaan op die advies van ’n gerespekteerde en professionele medikus voordat u met enige soort “ongewone” vas begin behalwe dit wat God Sy mense beveel (bv. die Versoendag).

Nietemin, vas is ’n belangrike “hulpmiddel” in die werklike soeke na God en ’n poging om nader aan ons Skepper te kom. Soos u kan sien, is hierdie hulpmiddel deur die geskiedenis heen herhaaldelik deur God se ware dienaars gebruik. Benutting van die “hulpmiddels” van Bybelstudie, meditasie, gebed en vas is sekerlik noodsaaklik.

Daders van die Woord

Bo en behalwe dit alles, openbaar die Skrif duidelik op baie plekke hierdie beginsel: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Jesus Christus Self verklaar: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Bo en behalwe die eenvoudige indrink van God se gedagte en denkwyse deur gebruik te maak van die “hulpmiddels” wat hierbo uiteengesit is, behoort elkeen van ons te leer om daders van God se Woord te wees. Ons moet leer om ons Skepper te gehoorsaam, soos Jesus Christus so baie keer sê. Ons moet onsself so aan God onderwerp dat Jesus Christus letterlik binne in ons dieselfde getroue, gehoorsame lewe kan leef as wat Hy 1,900 jaar gelede op hierdie aarde geleef het! Die apostel Paulus is geïnspireer om te sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Ons behoort te leer om die dae wat deur Christus heilig gehou is, heilig te hou. Ons behoort dieselfde manier te leef as wat Hy geleef het. Ons behoort die Tien Gebooie letterlik te gehoorsaam soos Hy gedoen het, omdat Hy Sy lewe letterlik in ons sal leef deur die Heilige Gees (Johannes 15:10).

Indien u werklik belangstel om Christus na te volg, moedig ek u aan om aan die streekskantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) te skryf vir ons baie inspirerende en insiggewende boekie, Die Tien Gebooie. Dit sal absoluut gratis aan u gestuur word. Daarin word uitgespel hoe Christus Sy lewe in u en in my sal lewe. U sal dit baie nuttig vind. Bestel dit vandag nog, of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

Mag God u almal help, liewe intekenaars, om te leer hoe om God werklik “te soek” in die ontstellende, traumatiese en moeilike jare wat voorlê. Dan sal u begin insien wat uwerklik behoort te doen. God sal dan ongetwyfeld u verstand open om Sy wil te verstaan, indien u Hom werklik soek met u hele hart, verstand en wese en bereid is om werklik te doen wat Hy sê in Sy geïnspireerde Woord. Mag God u help om tot aksie oor te gaan! Soos die apostel Petrus geïnspireer is om aan ons te sê: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 1:10-11).