Die afgelope jaar het ek die geleentheid gehad om saam met die plaaslike pastoor van die noordoostelike streek van die Lewende Kerk van God, Jonathan McNair, ’n Tomorrow’s World-aanbieding in Manhattan, New York, aan te bied. Hierdie aanbiedings is vir ons intekenaars, soos u, ’n geleentheid om ons TV-aanbieders, skrywers en leraars van die Lewende Kerk van God wat u omgewing bedien, persoonlik te ontmoet. Ons bespreek die verloop van wêreldnuus soos wat dit verband hou met Bybelse profesie en ons het gewoonlik ’n opvolg-aanbieding vir diegene wat belangstel om meer oor die Kerk wat die Wêreld van Môre borg, te leer.

Die oggendaanbieding in Manhattan was getiteld “Ontwaak Amerika!” Die eerste van drie punte in hierdie aanbieding was die behoefte om na ons oorsprong – ons erfenis – terug te keer. Die gemiddelde persoon ken nouliks onlangse geskiedenis, nog minder ons geskiedenis van lank gelede wat ’n wonderlike waarheid met beduidende implikasies openbaar. Amerikaners en nasies van Britse afkoms, sowel as die Franse, Nederlanders, Belge, Switsers en Skandinawiërs het hulle ware identiteite verloor. Hierdie onderwerp is te groot om breedvoerig in hierdie kort artikel te bespreek, maar ek moedig u aan om, indien u dit nog nie gedoen het nie, ’n gratis kopie van ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, aan te vra. U sal verbaas wees dat so min mense iets wat bewys kan word, verstaan.

Dit bring my by die tweede punt. Omdat ons nie weet waar ons vandaan kom nie, het ons vergeet waar ons seëninge vandaan kom. Dit is tyd om wakker te word en ons te bekeer! Ons verwaandheid om God te verwerp sal hartseer en lyding bring, meer as wat ons onself kan indink. Amerikaners het vergeet, ja, selfs God en Sy gebooie verag en so ook die ander afstammelinge van Israel se twaalf seuns. Ongeag wat iemand se etniese agtergrond mag wees, sal u saam met daardie nasie as geheel geseën of vervloek word indien u tussen hierdie mense woon. Ons is almal in dieselfde bootjie en tensy ons wakker word en ons bekeer – daar is geen aanduiding dat dít sal gebeur nie – is ons bestem om ’n rowwe tyd te beleef!

’n Groot deel van die probleem wat ons in die gesig staar, is die gevolg van my derde punt. Ons moet bewus raak van godsdienstige misleiding! Hierdie bewuswording is hoofsaaklik van toepassing op godsdienstige misleiding in die naam van Christus! Sommige mense vind dit aanstootlik dat enigiemand die oortuigings van ’n ander kan kritiseer, maar nie alle oortuigings is eenvormig nie en nie elke geloof kan waar wees nie. Die Bybel openbaar aan ons dat daar ’n bose gees is wat die verloop van hierdie wêreld lei (Efésiërs 2:2). Verder vertel die Bybel ons dat hierdie gees die hele wêreld mislei het (Openbaring 12:9). Glo u dit? Word liefde betoon deur stil te bly en daardeur mense aan te moedig om in onkunde en misleiding voort te gaan?

Hoe kan die wêreld mislei wees, wanneer die belydende Christendom die grootste godsdiens ter wêreld is en bykans een-derde van die wêreld se bevolking uitmaak? Die antwoord is eenvoudig. Wat ons vandag as Christelikheid beskou, is baie anders as dié van Christus en Sy Apostels. Hierdie misleiding het selfs so vroeg as in die eerste eeu begin.

Die apostel Paulus het die kerk in Korinthe gewaarsku dat daar sommiges was wat reeds besig was om die mense van ’n ander Jesus te leer, wat ’n ander gees gehad het en ’n ander Evangelie verkondig het (2 Korinthiërs 11:4). Hy het verder verklaar dat Satan sy eie leraars het wat hulle as leraars van Christus voordoen (verse 13-15). Dit behoort skokkend te wees, maar die meeste mense beskou sulke nuus as vervelig, haal hulle skouers op en vra gelate, “Nou wat daarvan?” Tog waarsku én moedig God ons aan om iets te doen met betrekking tot hierdie eindtydse Babilon: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Waarom het ’n groot, sogenaamde “Christelike” heilige dag die naam van ’n heidense godin van vrugbaarheid daaraan gekoppel? Waarom word daardie vakansiedag met simbole van vrugbaarheid van eiers en hase gevier? Wat het dit met die opstanding van Christus te doen? Waarom verkies kerke wat Christelikheid bely om op die dag wat die heidense Romeinse keiser Konstantyn uitgevaardig het, wat hy die “eerbiedwaardige dag van die son” genoem het, te aanbid? Hoekom word die antieke “verjaarsdag van die son” gekies om die geboorte van Jesus Christus te vier? Hierdie vrae het eerlike antwoorde nodig!

Die eerbiedwaardige dag van die son

Een van my gunsteling-aanhalings kom uit die hoogs gerespekteerde Eerdman’s Handbook to the History of Christianity: “Konstantyn het in 321 die eerste dag van die week ’n vakansiedag verklaar. Hy het dit ‘die eerbiedwaardige dag van die son’ (Sondag) genoem. Toe die heidense simbole uiteindelik verdwyn het was die Onoorwonne Son die laaste om mee weggedoen te word ... Die Christelike kerk het baie heidense idees en beelde oorgeneem. Van sonaanbidding kom byvoorbeeld die viering van Christus se geboorte op die vyf-en-twintigste Desember, die verjaarsdag van die son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17 tot 21 Desember het die geleentheid verskaf vir pret, die gee van geskenke en kerse wat tipies is van latere Kersfeesvieringe” (bl. 131).

Die bekende en invloedryke Britse skrywer Paul Johnson wys daarop hoe heidense invloed die kerk infiltreer het ná Konstantyn se sogenaamde bekering. “Dit het gelyk of hyself ’n sonaanbidder was, een van ’n aantal laat-heidense kultusse wat ooreenkomste gehad het met die vierings van die Christene. So het die volgelinge van Isis ’n Madonna aanbid wat haar heilige kind voed. Konstantyn was byna verseker ’n Mithraïs [son-aanbidder] en sy triomfboog, wat ná sy ‘bekering’ gebou is, getuig van die songod of ‘onoorwonne son’. Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid tussen die sonkultus en hulle eie geloof getref nie. Hulle het na Christus verwys wat ‘met sy koets deur die lug ry’; hulle het hulle dienste op Sondagoggend gehou, na die ooste gekniel [dienste met sonsopkoms] en het hulle geboortefees op 25 Desember gehou, die verjaarsdag van die son tydens die wintersonstilstand” (A History of Christianity, bl. 67).

As ’n opregte gelowige, lyk enigiets hiervan dalk vir u vreemd? U het waarskynlik net soos ek grootgeword deur die algemene gebruike van moderne Christelikheid te aanvaar. Is dit moontlik dat u, net soos ek, mislei is aangaande die waarheid van die Bybel en die boodskap wat Jesus na hierdie wêreld gebring het? Kon u “’n ander Jesus”, “’n ander gees” en “’n ander evangelie” aanvaar het? Kan u moontlik deel wees van die hele wêreld wat deur Satan mislei is? Is u moedig genoeg om uself hierdie vrae af te vra, ’n eerlike en ingeligte skatting te maak en op grond van u bevindings op te tree? Volgens Matthéüs 7:13-14 is daar min sulke mense!

Ek het daardie Manhattan-gehoor uitgedaag, soos ek u uitdaag, om self hierdie dinge te ondersoek. Moet ons nie glo omdat ons dit sê nie, glo dit omdat dit bewys kan word uit die Skrif en uit die geskiedenis. Maak seker dat u voortgaan om dr. Roderick C. Meredith se omvattende reeks oor die Protestantse Hervorming te lees, aangesien dit histories akkurate inligting bevat waarvan u waarskynlik nog nooit voorheen bewus was nie.

Ons het gewoonlik ’n verposing tydens hierdie aanbiedings en nooi dan almal wat belangstel om meer van die Lewende Kerk van God te leer om agter te bly om vrae te vra en antwoorde te kry. Sommige van die meer algemene vrae sluit vrae oor die Sabbat en Heilige Dae in. Wat beteken die Bybel se Heilige Dae? Hoe onderhou u dit? Hoe behoort ’n mens die weeklikse Sabbat te onderhou? Het die Lewende Kerk van God ’n gemeente in die omgewing? Is die doop nodig vir verlossing en indien wel, doop u mense? Sommige mense het vrae oor spesifieke leerstellings. Afhangende van die belangstelling, mag ons die aanbiedings met verskeie Bybelstudies opvolg en ons begin af en toe ’n nuwe gemeente waar daar genoeg belangstelling is, maar niemand is verplig om by enigiets aan te sluit nie en ons neem nie kollekte op tydens ons weeklikse dienste nie.

Daar sal in die komende maande ’n aantal Tomorrow’s World-aanbiedings wees. Hou u pos dop vir ’n uitnodiging, aangesien ons een in ’n stad naby u mag aanbied. U kan ook op hoogte bly met die plekke waar hierdie aanbiedings gehou word deur ons webwerf TomorrowsWorld.org te besoek. Ons sal u graag wil ontmoet!