Ek was 15 jaar oud toe my vriend Jimmy Mallette, in ’n noodlottige ongeluk dood is. Terwyl hulle die kis met Jimmy se oorskot in die graf laat neersak, was my gemoed oorheers deur herinneringe oor hoe ons op die nabygeleë Missouri-heuwels gesit en oor allerhande dinge gefilosofeer het. As tieners het ons verskillende Protestantse kerke bygewoon en ons kon sekerlik verstaan dat ons nie die volledige antwoorde ontvang het waarom ons gebore is, waaroor die lewe alles gaan, of wat die uiteindelike doel van die mensdom is nie. Ons het dus gedurende die lang somerdae en vroeë aande in ons agterplase of teen die koppie gesit en hierdie dinge bespreek.

Ons het saam verskeie boeke en pamflette bestel, wat uitgegee is deur filosowe en godsdienstiges wat probeer het om die betekenis van lewe te verduidelik. Ons was redelik intelligent en welbelese en het spoedig agtergekom dat hierdie mense ook nie enige ware antwoorde gehad het nie.

Na Jimmy se dood het ek oor die volgende paar jaar bly nadink oor hierdie dinge. Ek het probeer uitpluis waarom ons gebore is, waaroor die lewe werklik gaan en wat die uiteindelike doel van ons lewens is. Ons plaaslike Protestantse predikant het aanhou preek oor “goeie” veralgemenings – om goeie burgers te wees, om goed te wees vir ander mense, moontlik selfs om hulp te stuur aan die hongerlydende Chinese (soos ons toe gedink het hulle was). Alhoewel ons predikant se “doengoed” gedagtes moontlik op ’n manier gehelp het, het hulle my nie tot enige besondere dade aangespoor nie, nog minder het hulle die groeiende vrae in my gemoed oor waarom ons werklik hier is, beantwoord. Waarom moet alle mense ly en sterf? Indien ons hemel toe sou gaan na ons dood, soos my predikant gesê het, sou ons dan slegs daar rondsit en harp speel, met niks om te doen nie?

“Is dit al wat daar is?” het ek gewonder. 
’n Paar jaar later het ek een van die treffendste en betekenisvolste boeke gelees wat ek nog ooit onder oë gehad het. Dit is getiteld Man’s Search for Meaning, deur dr. Viktor Frankl – ’n uitsonderlik intelligente en sensitiewe man wat later beskou sou word as een van die leidende psigiaters in Europa. Ek het gevind dat hierdie boek uniek is in sy benadering om by die ware betekenis van die lewe uit te kom. As gevolg van dr. Frankl se verskriklike ondervindings as ’n gevangene in Theresienstadt, Auschwitz en ander konsentrasiekampe, het hy sekerlik ’n besondere insig gehad – op menslike vlak – in die soeke na en beantwoording van die uiteindelike vraag oor die rede waarom ons bestaan. Hy skryf: “Indien daar enigsins ’n rede vir lewe is, dan moet daar ’n doel wees vir lyding en dood. Geen mens kan egter aan ’n ander vertel wat hierdie doel is nie. Elkeen moet vir homself uitvind en die verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat sy antwoord voorskryf” (bl. xiii).

Kyk asseblief noukeurig na die bostaande paragraaf wat oor die doel van die menslike lewe bespiegel. Dr. Frankl skryf: “Elkeen moet vir homself uitvind en die verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat sy antwoord voorskryf”. In ’n menslike sin is dit sekerlik waar. Maar – en dit is ’n groot “maar” – indien daar ’n ware God is enindien die Heilige Skrif die openbaring van daardie God is, dan behoort ons gewillig te wees om noukeurig na daardie geïnspireerde geskrifte te kyk en uit te vind wat God sêdie doel van die menslike lewe is! Dit is duidelik dat die meeste geleerde mense – doktore, wetenskaplikes, filosowe en psigoloë – dit nie doen nie. Moontlik sonder dat hulle dit besef, laat hulle die enigste werklike moontlikheid om regtig uit te vind wat die ware doel van ons menslike bestaan is, buite rekening. Die Een wat ons geskape het, openbaar ’n werklike doel vir ons lewens. Ons moet dus gewillig wees om onsself voor Hom, ons Skepper, te verootmoedig en uit te vind wat Hy aan ons sê wat daardie ongelooflike doel is.

God se openbaring

Wanneer ons in ons Bybels blaai na die heel begin van God se openbaring aan ons, vind ons dat – toe Hy die mens geskape het – God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:26-27).

Van die heel begin af het God die mens na Sy “ewebeeld” gemaak, of na Sy gelykenis. As ons daaroor nadink, is dit duidelik uit die Bybel dat ons fisies soos God lyk – wie ook beskryf word om arms, bene, ’n kop en gelaatstrekke te hê. Ons is egter ook – tot ’n beperkte mate – volgens Sy gelykenis gemaak deurdat aan ons ware verstand en skeppende verbeelding gegee is, net soos wat God het – op ’n manier soos geen ander skepsel gevorm is nie, want die Bybel openbaar duidelik dat daar ’n “gees” in die mens is. Die apostel Paulus skryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk” (1 Korinthiërs 2:11-13).

Hierdie “geestelike essensie” wat verenig is met die menslike brein, verhef die mensdom dramaties ver bo die diereryk. Weereens, geen ander skepsel kom eens naby die vermoë van die mensdom op wetenskaplike, intellektuele en musikale gebied of enige ander soort kundigheid nie. Geen ander skepsel beskik naastenby oor die vermoë om ruimtetuie na die maan te stuur, wolkekrabbers soos die Empire Staatsgebou te bou of om allerhande soorte rekenaars uit te vind wat letterlik biljoene deeltjies inligting per sekonde kan stoor en kan weergee nie!

Mense is uniek – hulle is waarlik “na die ewebeeld van God”, hulle Skepper, gemaak.

Onthou ook, in die skeppingsverhaal in die boek van Genesis, beskryf God hoe elke dier en voël “volgens hulle soorte” gemaak is (Genesis 1:21, 24, 25). Toe God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”, het Hy aangedui dat menslike wesens geskape sou word volgens die God soort! U Bybel sê meer as een keer: “Godis liefde” (1 Johannes 4:8,16). ’n Normale, gelukkig getroude jong paartjie wil byna altyd hul liefde en hul lewens met ’n kindjie deel – gebore volgens “hulle soort”. Is die God van die Bybel dan so in homself gekeer en selfsugtig dat Hy nie Sy gedagtes, Sy planne, Sy liefde en Sy glorieryke heelal met andere van Sy soort sou wou deel nie? Mense bly gewoonlik in gebreke om dit te deurdink! Dit behoort egter duidelik te wees, indien ons gewillig is om waarlik te verstaan wat God op so baie maniere regdeur die Bybel aan ons sê. Hy sê tog aan ons dat ons “weer gebore” moet word.

Is om “weer gebore” te word alleenlik ’n emosionele godsdienstige ondervinding wat ons in die kerk of by ’n evangelistiese veldtog kan opwerk? Nee! Dit is die heel belangrikste en alles-oortreffende ondervinding wat ons onsself kan indink – om letterlik in die ware Huisgesin van God in gebore te kan word! Die apostel Paulus sê onder inspirasie aan ons: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgenamevan Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:16-18). Hier toon u eie Bybel duidelik aan dat ware Christene “mede-erfgename” met Christus is, en dat ons saam met Hom “verheerlik” sal word. Die duidelike aanduiding is dat al die beproewings, toetse, lyding en smart waardeur ons gaan, slegs ter voorbereiding is om werklike kinders van die Skepper-God te word – om Sy heerlikheid en hierdie verhewe geleentheid met Jesus Christus Self, die eersgebore Seun, te deel.

Wedergeboorte

Paulus gaan voort: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (vers 29). Indien Christus die “eersgeborene ... onder baie broeders” is, dan behoort dit tog opsigtelik te wees dat daar baie meer broeders sal wees wat uit God gebore sal word, netsoos Christus was toe Hy uit die graf opgestaan het. Vroeër het Paulus geskryf dat Christus, “... na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode” (Romeine 1:4). Christus was dus nie uit God gebore tydens ’n evangelistiese veldtog nie. Hy was verklaar as die Seun van God met krag deur die opstanding uit die dood. Soos ons tog gesien het, Hy was die eersgeborene onder baie broeders.

My vriende, wanneer u dit regtig verstaan, ons Hemelse Vader is nie alleenlik besig om geringer skepsels soos beeste, bokke of eekhorinkies “na Sy beeld” te skep nie. Hy is besig om wesens te skep wat in baie opsigte soos Hy is en wat die ontsagwekkende potensiaal het om werklike kinders van God Homself te word met die opstanding uit die dood! Hulle sal dan kan deel – met die Vader en Jesus Christus, hul Ouer Broer en “eersgeborene uit die dood” – in die planne, vreugdes en die ondervindings van die Godsgesin. Op hierdie wyse sal God Self, aan die mense wat na Sy beeld geskape is en wat hulle ten volle aan Hom onderwerp en gewillig is om te lewe volgens diemanier wat die Skepper bedoel het, gee, met hulle deel en hulle liefhê – om sodoende vrede en vreugde vir alle ewigheid te bring!

Dit was God se uitsluitlike doel van die begin af! Nie net sommige sentimentele idees om alleenlik ’n paar emosionele ondervindings te hê nie, of om deel te neem aan rituele wat deur die kerke van hierdie misleide wêreld (Openbaring 12:9) ingestel is nie – al daardie dinge is niks in vergelyking met die ontsaglike doel waarvoor God ons werklik “na Sy beeld” geskape het nie! Dit is nodig dat ons verstaan. Ons behoort gewillig te wees om uit te roep na die Ewige God om ons te help om waarlik ons deel te doen om ons menslike natuur te oorwin, die aantrekkingskragte van hierdie wêreld en Satan die duiwel. Die Bybel toon herhaaldelik dat ons nie sommer outomaties kinders van God sal word deur een of ander godsdienstige of emosionele ondervinding nie. Ons moet onsself eerder totaal aan ons Skepper onderwerp – onsself met hart en verstandbegrawe, soos gesimboliseer word wanneer ons “... saam met Hom begrawe [word] deur die doop in die dood” (Romeine 6:4). Soos Jesus aan ons gesê het: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:33). Wanneer ons uiteindelik daardie totale oorgawe maak aan die ware God om Hom toe te laat om ons lewens werklik te beheer – wanneer ons die ware Jesus Christus aanvaar as ons Redder en ons Here en Hom daagliks toelaat om Sy gehoorsame lewe in ons te leef deur middel van die Heilige Gees (Galasiërs 2:20), dan, en slegs dan, sal God Sy Heilige Gees in ons plaas om ons in staat te stel om oorwinnaars te wees en om “weer gebore” te word met die opstanding!

Slegs die ware oorwinnaars sal die ewige lewe beërf as werklike kinders van die Ewige God. Waar Hy in die boek van Openbaring in die eerste persoon praat, sê Jesus: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27).

Verstaan asseblief: God sal nie toelaat dat mense in Sy goddelike Gesin in gebore word, tensy hulle hulself eers ten volle aan Hom onderwerp, aan Sy regering, aan Sy regverdige wette en aan Sy ganse lewensweg nie. Andersins sou hulle potensiële teenstanders word – net soos Satan die duiwel, wat probeer het om homself te verhef en gewillig was om teen God te veg (Jesaja 14:12-15)!

Die heerlikheid van God se Gesin

Wanneer ons werklik uit God gebore is, sal ons regtig soos God wees. Alhoewel God die Vader altyd in absolute mag en gesag as die volslae Hoof van die Gesin sal wees en Jesus Christus altyd ons Ouer Broer en Hoëpriester sal wees, sal ons oor dieselfde basiese vermoëns beskik wanneer ons eers in Geestelike wesens verander word en werklike kinders van ons Skepper sal wees! Net soos Jesus nou lyk met “oë soos ’n vuurvlam” en ’n stem “soos die stem van baie waters” – soos die magtige golwe wat hul te pletter loop teen die rotse van Noord-Kalifornië se kus – so mag ons ook daarin deel en lede word van die Skepper se Gesin en vir altyd saam met God en Christus in glorieryke magheersindien ons onsself ten volle onderwerp aan ons Skepper!

Alhoewel die mensdom al vir baie jare probeer om die buitenste ruim te verken en om die heelal te “verower” – om dit so te stel – sal God se werklike kinders dit alles regtigkan doen met feitlik geen inspanning nie! Ons sal lede van God se Gesin wees! Kan ons dit verstaan? God is besig om ware Christene werklike kinders in Sy verheerlikte Gesin te maak – om met hierdie toekomstige kinders die heerlikheid, die mag, die volle skeppende verbeelding en intelligensie waaroor Hy beskik, te deel.

Dink net! Dit sal nie nodig wees om staat te maak op vuurpyle, ruimtekapsules en suurstoftenks om ons te help om in die ruimte asem te haal nie, ons sal na Mars of Pluto, of nog verder, kan reis – nie teen die spoed van klank nie maar teen die spoed van ’n gedagte! Kan ons ’n denkbeeld vorm van die grootsheid van God se uiteindelike doel dat Hy mense geskape het “na Sy ewebeeld”?

Die apostel Paulus het onder inspirasie gebid dat Christene “... in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efesiërs 3:18-21). Wanneer ons letterlik “vervul ... [is met] al die volheid van God”, dan sal ons werklike lede van God se Gesin wees. God se werklike kinders kan nie vergelyk word met bokke of beeste nie. Hulle is regte kinders. Net soos my vier seuns die menslike potensiaal en vermoëns van hulle vader deel, so sal God se kinders ook! Begryp ons dit? Kan ons dit verstaan?

Die Ewige God het die apostel Paulus geïnspireer om dit alles verder in die boek Hebreërs te verduidelik. God het Paulus geïnspireer om aan ons te sê: “Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:5-8).

Taalkundiges erken dat die Griekse woord wat hierbo vertaal is as “alle dinge” letterlik “elke ding” of “alles” beteken – die ganse heelal! God beplan om Sy ware kinders,werklike kinders te maak met die volle vermoë van God se Familie op dieselfde wyse as wat almal van ons in die menslike familie heeltemal menslik is! Terwyl hy hierdie grootse feit beskryf het, sê die apostel Petrus dat God aan “... ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:4). Dus – wanneer ons letterlik uit God gebore word tydens die opstanding – noem God ons nie slegs Sy kinders nie. Hy plaas veel meer Sy ware aard in ons sodat ons reg van God kom, met Sy goddelike aard – op dieselfde wyse as wat ons direk uit ons menslike ouers kom en hulle geaardheid het. Dit is wat dit beteken om “uit God gebore” te wees.

Jesus se laaste gebed

Eerlikwaar, wanneer ons hierdie alles oortreffende onderwerp bespreek, moet ons nooit die wonderlike en waarlik inspirerende gebed uitlaat wat Jesus tot God gebid het die nag voordat Hy gesterf het nie. Jesus het gesê: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik ... Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:1, 4-5).

Later het Hy gesê: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soosOns een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (verse 20-23).

Hier het ons Redder – wat God in die vlees was en vir wie God in die begin gebruik het om alle dinge te skape (Johannes 1:3) – die Vader gevra om aan Sy dissipels dieselfde heerlikheid te gee wat Hy met die Vader van ewigheid af gedeel het! 
In hierdie laaste gedeelte van Jesus se mees inspirerende gebed, is dit duidelik dat Hy vir ons gebid het – ons wat vandag “deur die woord” wat die dissipels vir ons in die Bybel opgeteken het, glo. Hy het gebid “sodat hulle een kan weesnet soosOns een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees” (Johannes 17:22-23).

Met die opstanding sal ware Christene – die werklike oorwinnaars – uit die Gees gebore en werklike lede van die Gesin van God, heeltemal een wees met God en met Christus, netsoos Hulle met mekaar een is. Let daarop dat Jesus sê dat die grootse heerlikheid wat God aan Hom gegee het, ook deur  Jesus aan Sy ware volgelinge gegee word – “dat hulle een kan wees net soos Ons een is” (vers 22).

Kan dit nog duideliker wees
Hierdie vers dui beslis aan dat ons werklike kinders van God en ten volle lede van God se heilige Gesin sal word – “een” met God en met Christus, net soos Hulle een is! Indien u graag meer wil leer oor hierdie uiters belangrike onderwerp, nader asseblief die Streekskantoor die naaste aan u (soos gelys op bl. 2 van hierdie uitgawe) en bestel ugratis kopie van ons inspirerende boekie, U uiteindelike lotsbestemming.

Deur met mense deur Sy Gees te werk – en deur ons almal toe te laat om ons foute te begaan, om deur toetse en beproewings te gaan, om ons eie vorms van menslike regering, onderwys en godsdiens uit te toets – sal ons Skepper ons uiteindelik tot by die punt van algehele onderwerping aan Hom bring en dan – deur Sy Gees – sal ons bekwaam en gereed wees om die glorieryke mag van die ware Skepper te verkry as werklike lede van die Gesin van God. Ons sal dan in staat wees om te wandel, te praat en as “kamerade” met God en met Christus te verkeer, op so ’n wyse as wat min mense hulle dit kan indink. Ons sal in staat wees om – as lede van die Gesin van God – te deel in verskeie uitdagings wat nog sal opduik in die regering, asook om God se plan regdeur die ganse heelal nog meer volkome te maak. Ons sal geestelike liggame hê. Ons sal nooit moeg voel nie. Ons sal nooit siek wees nie. Ons sal nooit ontmoedig wees nie. Aangesien ons verheerlikte geestelike wesens in die Goddelike Gesin sal wees – die Skeppergesin – van die ganse heelal! Dit is die ontsagwekkende toekoms van diegene wat gewillig is om hulle heeltemal aan hul Skepper te onderwerp asook om Sy wil te doen.

Al die vorige swaarkry van die mensdom – al die beproewings en toetse, die folterkampe, verlies van geliefdes deur siektes, ongelukke of oorlog, al die smart en wroeging wat oor ons kom omdat ons self, saam met die hele mensdom, die verkeerde pad gegaan het – sal verdwyn! Die Bybel sê aan ons: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Mag God onsalmal help om werklik die uiteindelike doel – die werklike rede waarom ons gebore is – te verstaan. Mag Hy ons help om ook gewillig en nederig genoeg te wees om Sy geïnspireerde Woord te bestudeer – om al hierdie dinge – met die hulp van Sy Heilige Gees – aan onsself te bewys “om julle roeping en verkiesing vas te maak” (2 Petrus 1:10).