Hierdie lente (noordelike halfrond) sal miljarde mense Jesus Christus se opstanding herdenk deur die antieke seremonie van Paasfees te vier. Alhoewel hierdie fees se naam en seisoenale viering dateer voor Christelikheid en die Paassondag viering nie eens ooreenkom met die regte dag van Christus se opstanding nie, aanvaar die meeste belydende Christene dat die nie-Christelike fees nou “verchristelik” het tot iets waarmee Jesus Christus tevrede sou wees. Is hul aanname egter korrek? Christene wat die Bybel deeglik bestudeer, wat noukeurig let op die historiese annale, sal tot ’n heel ander gevolgtrekking kom. In plaas van om Christus se opstanding op die verkeerde dag te vier, sal hulle liewer Sy offer herdenk deur die Christelike Pasga te onderhou op die wyse wat die vroeëre Kerk dit gedoen het – op die manier wat Hy beveel het – soos ons dit in die Skrif vind. Skok dit u? Lees verder!

“Verchristeliking” van die feeste van antieke seksgodinne?

Die oorsprong van voor-Christelike Paasfees in heidense kulture is welbekend in die geskiedenis. In die antieke wêreld was sommige van die grootste vroulike godhede die verskeie vleeswordings van die groot vrugbaarheidsgodinne bekend as Istar (Babilonies), Astarte (Fenisies), Atargatis (Filistyns), Astarot (Hebreeus), Eastre (Anglo-Saksies), Ostara (Duits) en Afrodite (Grieks).

Hierdie godinne word beskou as essensieel dieselfde godheid, te wyte aan die ooreenkomste van hul mitologie, aanbidding, name en feeste. Hierdie faktore is wat ’n godheid omskryf namate hul aanbidding tussen kulture rondbeweeg. Die primêre vrugbaarheidsfeeste vir hierdie godhede (en hul manlike metgeselle wat aan hulle verbind word) was in die lente (noordelike halfrond) – ’n tyd van vernuwing en geboorte.

In The Myth of the Goddess, skryf Anne Baring en Jules Cashford, “Ons lees nou oral van godinne en gode wat hul bestaan te danke het aan een Allereerste Godin wat die oorsprong is van alle dinge ... Die godin het baie name en baie verskillende stories word oor haar vertel, maar een storie is onveranderd regdeur die Nabye Ooste. Hierdie godin raak afgesonder van die een vir wie sy lief is, wat sterf of oënskynlik gesterf het, en in ’n duisternis, genoem ‘die Onderwêreld’, verval. Hierdie skeiding word gereflekteer in die natuur as die verlies van lig en vrugbaarheid. Die godin daal neer om die donkerte te oorwin, sodat haar geliefde weer kan terugkeer na die lig, en die lewe kan voortgaan.

 “Afrodite is hoofsaaklik ’n nasaat van die Mesopotaanse Godin Inanna-Istar, wat Astarte in Fenisië geword het, Atargatis deur die Filistyne genoem is en Astarot deur die Hebreërs. Inanna se metgesel, Dumuzi en Istar se Tammuz het in die Griekse tradisie Afrodite se Adonis, die sterwende en opgewekte seun-geliefde, van die godin in ’n nuwe vorm geword.

“Die Griekse godin Afrodite het haar geliefde, die skone Adonis verloor ... Die godin het hom nou nie langer self gered nie, maar moes die god Zeus vra om hom te laat terugkeer na lewe vanaf lente (noordelike halfrond) tot herfs (noordelike halfrond), die vrugbare seisoen van die aarde. Uiteindelik sterf Jesus, die seun van die Maagd Maria ... Christus word ‘gered’ deur Sy Vader in die Hemel, maar, net soos die ander, stem sy terugkeer ooreen met die datum van die aarde se vernuwing. Paasfees [Easter] word gevier op die Sondag wat volg op die eerste volmaan na die lente (noordelike halfrond) dag-en-nag-ewening, sodat Christus se opstanding, net soos die ander voor hom, ook die winter se oorgang na die lente (noordelike halfrond) reflekteer” (bll. 145-147).

’n Ander baie bekende kulturele antropoloog, Joseph Campbell, kom tot die gevolgtrekking dat die “Christelike” gebruik van Paasfees “plaasvind op die datum van die jaarlikse opwekking van Adonis, wat in die Christelike kultus Paasfees geword het. In beide die heidense en die Christelike kultus, is die opstanding dié van ’n god” (Occidental Mythology, bl. 138).

Hierdie skrywers dui ’n uitgangspunt aan wat algemeen gehuldig word deur kulturele antropoloë dat daar ’n opsigtelike voortsetting is in “verchristelikte” heidense kulture met hul heidense verlede. Hulle het met verloop van tyd ’n neiging gehad om Christelike temas, as ’n vernis bo-oor hulle bestaande heidense gebruike aan te wend, wat reeds diep ingewortel is in hul gemeenskappe en psiges. Hulle beweer dat, in die geskiedenis, die insluiting van Pase as ’n herdenking van Christus se opstanding, ’n aanpassing is van ’n vroeëre heidense opstandingsfees. Die gebruik het nie in Christelikheid ontstaan nie.

Hoewel dit waar is dat die meeste Christene Paasfees vier, met die veronderstelling dat dit Christus se opstanding gedenk, beveel die Bybel eintlik Christene om ’n herdenking van Sy offerdood te onderhou! Toe Christus Sy volgelinge beveel het om die Pasga, met ’n nuwe, vervulde Christelike betekenis, te onderhou, het dit ’n herdenking van Sy offerdood as die Lam van God geword – nie van Sy opstanding nie. Christus het dit vermy om die betekenis van Sy unieke offer te verwar met die welbekende heidense “opstanding”-seremonies van Sy tyd en daarvoor.

Eintlik sluit God se Heilige Dae ’n datum in om die opstanding van getroue Christene, met die wederkoms van Jesus Christus, te gedenk (1 Korinthiërs 15:12-20, 50-52). Daardie Heilige Dag staan bekend as die Fees van Basuine, wat in die herfs (noordelike halfrond) val (Levitikus 23:24), en nie in die lente (noordelike halfrond) nie. Soos ons spoedig sal sien, word die gebruik en betekenis van die Christelike Pasga uitdruklik in die Bybel geleer, en die Kerk van die eerste eeu het dit ook geleer.

Nogtans, toe Christelikheid deur die opvolgende geslagte na heidense gebiede versprei het, was party kerke geneig om terug te val na vorige heidense kulturele gebruike van hulle eie gemeenskappe en het wegbeweeg van godsdienstige gebruike wat verbind kon word met Judaïsme.

Die gevolg was dat die korrekte onderhouding van Pasch, of Pasga, verander is, beide wat die datum en betekenis betref. Historici in die hoofstroom Christendom het die verandering erken. Die New Catholic Encyclopedia verduidelik: “Die betekenis van die Joodse Fees was nie alleen deur die Christene verander nie, maar ook die datum daarvan. Die Joodse metode om die datum vas te stel, die 14de dag van Nisan, het dit nie beperk tot een [Romeinse kalender] dag nie; op ’n baie vroeë tyd het [Roomse] Christene hul Paasfees verskuif na die Sondag wat volg op die Joodse feesdag” (1967, vol. 5, bl. 7). Pasch is Latyn vir Pasga, maar ten tye van die verandering van datum en betekenis word hierdie feesviering meer geïdentifiseer met die Afrikaanse woord Paasfees.

“Die Asiatiese gebruik in die tweede eeu om Paasfees op dieselfde dag as die Joodse Pasga [Pasch] te onderhou het in botsing gekom met die Roomse gebruik om Paasfees te vier op Sondag, die dag van die Opstanding ... Albei vierings was aanvanklik toegelaat, maar geleidelik was gevoel dat dit onvanpas is dat Christene Paasfees moes vier op ’n Joodse feesdag en daar is ’n beroep gedoen vir eenheid in die viering van hierdie belangrikste Christelike fees” (bl.8).

“Quartodecimanisme [beteken die gebruik om die Pasga te onderhou op 14 Nisan volgens die Hebreeuse kalender] wat in die tweede eeu oorheersend was in Klein Asië en Sirië, het die dood van Christus beklemtoon, die ware Pasga slagoffer (Johannes 18:28, 19:42), terwyl die Roomse gebruik die viering van Sondag as die dag van dieOpstanding beklemtoon ... Namate die Christendom geskei is van Judaïsme, het heidense Christene beswaar gemaak teen die viering van hierdie allerbelangrikste Christelike fees op dieselfde dag as die Joodse Pasga” (vol. 12, bl. 13).

Verchristelikte vernis of soliede Skriftuurlike gebruik?

Dit is duidelik dat Paasfees ’n “verchristelikte” heidense fees is. In die Skrif veroordeel God sterk enige poging om Hom te aanbid volgens gebruike wat oorgeneem is van die aanbidding van vals gode. Let op hoe Hy Israel beveel het:

“As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronomium 12:29-32).

God beveel ons duidelik om nie heidense godsdienstige gewoontes weer in gebruik te neem om Hom te aanbid nie. Ons moet God aanbid soos Hy dit beveel, nie soos ons redeneer nie. Deur Paasfees te vier, voeg ons sekerlik by, by wat God ons beveel het en ons verwerping vandie Christelike Pasga doen sekerlik weg met wat ons as Christene beveel is om te doen.

Christus sê: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas” (Markus 7:6-8).

Die Evangelies dui aan wat ons te doen staan

Sommige mense mag verbaas wees om te hoor dat die Nuwe Testamentiese Evangelies baie te sê het oor die werklike gebruik wat Jesus en Sy dissipels gevolg het die nag voor Jesus se dood: “Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet ... Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Lukas 22:8, 13-20). Hy het ook die dissipels se voete gewas en hulle beveel om dieselfde vir mekaar te doen (Johannes 13:1-15).

Christus het gesê dat hulle die Pasga moet eet en dat hulle dit “tot my gedagtenis” moet doen. Hy het hulle beveel om daardie nag as ’n gedagtenis aan Hom te onderhou, en Hy het hulle die manier gewys hoe dit onderhou moet word, deur gebruik te maak van ongesuurde brood as ’n simbool van Sy liggaam en wyn as ’n simbool van Sy bloed.

Wanneer moet die Pasga onderhou word?

Kyk nou op watter dag van die Hebreeuse kalender het hierdie dinge plaasgevind. Dit is belangrik om daarop te let dat, volgens Bybelse berekening, ’n dag met sononder begin en met sononder eindig, die volgende dag.

Die Eerste Dag van Ongesuurde Brood, ’n jaarlikse Heilige Dag, val op 15 Nisan van die Hebreeuse kalender en begin teen die aand wanneer 14 Nisan eindig (Levitikus 23:5-6). In Christus se tyd het die Jode die Pasga-lam die namiddag van 14 Nisan geslag, omtrent dieselfde uur wat Christus, die Lam van God, aan die hande van die Romeine gesterf het. Christus se laaste maaltyd het plaasgevind aan die begin van 14 Nisan, op die aand vóór die kruisiging. Daardie nag het Judas Hom verraai, Petrus het Hom verloën en Hy is voor die Hoëpriester geslaan (Mattheüs 26:30-75; Johannes 18:1-27).

Die volgende oggend – nog steeds 14 Nisan – was Hy deur Pilatus verhoor, veroordeel, gegesel en gekruisig (Mattheüs 27; Johannes 18:28-40). Let op, in Johannes 19:31 moes Christus begrawe word vóór die aand: “... dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot”. Hierdie Skrifgedeeltes wys onteenseglik dat die Pasga-gedenkdiens wat Christus ingestel het, in die aand aan die begin van 14 Nisan was. Dit was die aand voordat die Jode die Pasga gevier het, wat hulle in die aand, aan die begin van die Heilige Dag van 15 Nisan, gehou het.

Die betekenis van die simbole

Ons het nou gesien wat Christus Sy volgelinge beveel het om te onderhou as ’n gedagtenis aan Hom en wanneer hulle dit moes doen. Waarom het Hy dan gesê, moes hulle dit doen? In sy evangelie bewaar die apostel Johannes Jesus se verduideliking van die rede vir die Pasga se brood en wyn: “Ek is die brood van die lewe. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:48, 51-54).

Christus is ons Pasga

 Die gebeure van die Eksodus beeld uit wat later deur Jesus Christus vervul sou word. Jesus Christus, die Lam van God, is ons Pasga-offer. Soos die apostel Paulus die Korinthiërs herinner het, “want ook ons paaslam [pasga-lam] is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7).

Berou en bekering is nie dieselfde ding nie. Ware bekering verander wat ons gaan doen – dit verander ons toekoms. Al die bekering in die wêreld kan nie verander wat ons gedoen het nie. Slegs een ding kan die skuld van ons sondes van die verlede verwyder – die offer van ons Pasga, Jesus Christus.

 “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:10). Christus is opgewek op Saterdagaand, na presies “drie dae en drie nagte” in die graf (Mattheüs 12:40). Ons het ’n lewende Redder wat uit die dood opgestaan het en ons hoop op die ewige lewe is deur die opstanding deur geloof in Hom. Jesus Christus se opstanding is van groot belang vir Christene, maar ons is nie ’n Lentefees (noordelike halfrond) gegee om dit te gedenk nie.

Die apostel Paulus se lering

Wat het die eerste eeu se Kerk verkondig en beoefen? Hier volg wat Paulus aan die Christene in Korinthe gesê het: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is [die aand aan die begin van Nisan 14], brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:23-26).

Dit is Paulus se uitdruklike opdrag aan die Kerk om die Pasga as ’n gedagtenis te hou – op presies dieselfde tyd, op dieselfde manier en met dieselfde betekenis as wat Christus Sy dissipels geleer het.

Terwyl dit duidelik is dat dit die lering en gebruik van Paulus en die Christene in Korinthe was, is dit ook insiggewend om daarop te let dat, histories, hierdie leerstelling voortgeduur het tot in die tweede, derde en vierde eeue n.C. in die kerke in Klein Asië, wat almal deur Paulus gestig en deur die apostel Johannes op sy oudag gelei was. Die Roomse Kerk, wat die viering van Paasfees voorgestaan het, het diegene wat voortgegaan het om die Christelike Pasga te vier op 14 Nisan, bestempel as Quartodecimane – afgelei uit Latyn vir “vier en tien”. Die Oosterse of Asiatiese Kerke het egter daarop aangedring om voort te gaan in die geloof wat aan hulle oorgelewer is deur die Apostels.

Polycarpus, Biskop van Smirna – ’n dissipel van die apostel Johannes – het die kwessie met Pous Anicetus debatteer (ca. 155 n.C.) en daarop aanspraak gemaak dat hy persoonlik deur die apostel Johannes geleer is wat die regte manier is om dit te onderhou.

Later “is ’n poging van Pous Victor die Eerste (189-198 n.C.) om die Roomse gebruik [Paasfees] af te dwing, onsuksesvol bewys as gevolg van verbete teenstand gelei deur Polykrates, Biskop van Efese [’n kerk wat deur die apostel Paulus gestig is] ... Almal het die Roomse gebruik aanvaar, behalwe die Asiatiese biskoppe. Nadat Victor afpersing probeer het deur hulle uit die kerk te verban, het St. Iranaeus van Lyons tussenbeide getree om die vrede te herstel (Eusebius, History Ecclesiastical, 5. 23-25). Gedurende die derde eeu het Quartodecimanisme afgeneem; dit het egter bly voortbestaan in sommige Asiatiese gemeenskappe tot in die vyfde eeu” (New Catholic Encyclopedia, 1967, vol.5, bl. 8; vol.12, bl. 13).

Die feit dat hierdie gebruik uit die gesigsveld verdwyn het, is geen verrassing nie. Die Christene wat voortgegaan het met hulle Quartodecimanisme is uit die kerk verban en vervloek in die vierde eeu deur die steeds sterker-wordende Roomse kerk, met die gevolg dat baie van hulle die verskriklikste vervolging verduur het – selfs die dood. Dit is duidelik dat die Asiatiese kerke dit as uiters belangrik beskou het om die Pasga op 14 Nisan te vier!

In werklikheid het hierdie gebruik om die Christelike Pasga te onderhou, nie uitgesterf nie, maar gaan vandag nog steeds voort as ’n getroue onderhouding, in die aand, aan die begin van 14 Nisan elke lente (noordelike halfrond), deur ware Christene.

Die Bybel leer ons dat dit vir ons belangrik is om God te aanbid soos Hy ons beveel – en om Christus te gedenk soos Hy ons geleer het om dit te doen. Ons behoort nie godsdienstige gebruike te leen van heidense kulture nie! Hierdie lente (noordelike halfrond) sal milarde mense Paasfees vier. ’n Paar ware Christene, wat Jesus se opdragte en die voorbeeld van die apostels Paulus en Johannes getrou navolg, sal egter met vreugde voortgaan om die Christelike Pasga te onderhou. Watter een gaan u kies?