Glo ons dat God altyd met ’n doel optree? Wanneer ons iets in die Bybel sien wat ons nie verstaan nie, soek ons dieper om die doel te vind? Dink ’n bietjie na oor die “spreek in tale” verskynsel soos dit in Handelinge 2 opgeteken staan. Was dit net ’n vreemde verskynsel wat nie vandag op ons van toepassing is nie, of onthul dit by nadere ondersoek die gedagtes van God?

Dit is jammer dat die meeste mense se idee van in tale spreek beelde van wilde, chaotiese godsdiensvergaderings oproep waar diegene wat “in die Gees” is eindeloos onverstaanbaar brabbel asof hulle in ’n beswyming is, terwyl andere in epileptiesagtige stuipe rondruk, met hul oë wyd oopgesper nadat hulle hul tot waansin opgewerk het en dieselfde woordgrepe oor en oor herhaal.

Is dit wat Jesus Christus se dissipels op Pinksterdag ondervind het?

Kom ons kyk wat sê die Bybel oor die spreek in tale. Ons sal God se doel met hierdie wonderwerk verstaan wanneer ons die eerste keer wat dit in die Bybel aangeteken staan, ondersoek. Ons sal sien wat die apostel Paulus daaroor te sê gehad het en ons sal vasstel of God vandag nog tale in die Kerk gebruik.

’n Paar dae nadat Jesus Christus in 31 n.C. na die hemel opgevaar het, toe die apostels saam met baie ander in Jerusalem vergader het om Pinksterdag te vier, het ongewone dinge begin gebeur. “En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit” (Handelinge 2:1–3).

Dit was vir almal duidelik dat iets buitengewoon aan die gebeur was. Dit was egter net die begin, asof God die wind en vuur gebruik het om baie mense bymekaar te bring vir dít wat sou volg. “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (vers 4). Hierdie was duidelik nie ’n gewone gebeurtenis nie. Dit was inderdaad ’n belangrike mylpaal in wêreldgeskiedenis – die uitstorting van God se Heilige Gees op ’n groot groep mense vir die eerste keer ooit. Jesus se belofte aan Sy dissipels om “’n ander Trooster” te stuur, het waar geword (sien Johannes 14).

Let egter op wat met die uitstorting van die Heilige Gees gepaard gegaan het – spreek in tale. Was hierdie dieselfde spreek in tale wat baie pinksterkerke vandag beoefen? Was dit ’n waansinnige soort gebrabbel wat onmoontlik vir andere is om te verstaan? Dit was, soos ons sal sien, definitief nie!

Die tale is verstaan

Ons lees verder in Handelinge: “En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek” (Handelinge 2:5–6). Nie net was die dissipels nie besig om brabbeltaal te praat nie, maar elke persoon het hulle hoor praat in sy of haar moedertaal (vers 8). Let daarop dat dit blyk dat die wonderwerk net soveel in die gehoor as in die praat was.

Dit is interessant om die Griekse woorde te bestudeer wat hier gebruik is. Die woord vir “tale” in vers 4 is glossa, wat beteken die taal of dialek wat deur ’n spesifieke groep mense gebruik en onderskei word van ander nasies se tale. In vers 6 is die woord vir “taal” dialektos, waarvan ons die Afrikaanse woord “dialek” kry, wat die taal eie aan sekere mense beteken. Beide woorde impliseer ’n bekende taal, nie ’n vreemde pratery anders as enige bekende taal nie.

Ja, hierdie was ’n buitengewone gebeurtenis wat nog nooit voorheen plaasgevind het nie. Hierdie wonderwerk alleen sou ’n baie indrukwekkende magsvertoon van God gewees het, maar daar steek baie meer in. Hierin, soos met alles wat God doen, was ’n doel.

Om die doel vir die spreek in tale op Pinksterdag te verstaan, moet ons teruggaan na die omstandighede van die Heilige Dag. Met Pinksterdag het baie Jode uit verskillende streke, selfs van ander lande, na Jerusalem gereis. Geen enkele taal kon hulle bymekaar bring nie en die meeste sou nie uit hul eie verkies om die apostel Petrus te hoor preek nie. Maar, saamgetrek na waar Christus se dissipels vergader het deur die opwinding van die geweldige rukwind en die vuurtonge, is hulle aangespoor om te verklaar: “Ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Handelinge 2:11). Só is die doel van die wonderwerk onthul – die verkondiging van die groot dade van God. Nie net kon die mense verstaan wat gesê word nie, maar hulle was ook oortuig deur Petrus se kragtige preek – die aansporing vir ongeveer 3 000 mense om die behoefte te sien vir bekering en om gedoop te word. Hierdie was geen doellose spektakel nie!

As gevolg van die ongelooflike gebeure van daardie dag, het die Kerk ’n entoesiastiese begin gehad. Die spreek in tale het ’n noodsaaklike rol gespeel in die uitvoering van God se wil.

Ons sien ’n soortgelyke doel in twee ander vertellings in Handelinge waar in tale gespreek is. Beide geleenthede toon geen ooreenkoms met hoe “tale” vandag oor die algemeen misbruik word nie.

Die eerste geleentheid het plaasgevind toe Petrus deur die Gees na Cornelius die Romeinse hoofman oor honderd, se huis gestuur is nadat hy die visioen oor die onrein kos gesien het (Handelinge 10:17–23). Nadat Petrus die goeie nuus van Jesus Christus se boodskap aan almal in die huishouding – beide Jode en heidene – verkondig het, sê die Bybel, “het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het” (vers 44). Die Jode wat saam met Petrus was, was verbaas dat die Heilige Gees aan die heidene gegee is. Wat meer is, hulle het diegene op wie die Heilige Gees uitgestort is “gehoor … in tale spreek en God groot maak” (vers 46). Dit was nie die ydele gebrabbel deur mense wat hulself tot ’n manie opgewerk het nie. Inteendeel, dit wat deur die tale gespreek is was verstaanbaar en opbouend vir die luisteraars.

Die ander aangetekende gebeurtenis het plaasgevind toe Paulus in Efese was. Hy het gevind dat sommige nuwe bekeerlinge gedoop is, maar nog nooit van die Heilige Gees gehoor het nie. Nadat Paulus hulle die hande opgelê het, het hulle God se Gees ontvang en “met tale gespreek en geprofeteer” (Handelinge 19:6). Die Griekse woord vir “geprofeteer” beteken om onder skielike impuls in welsprekende gesprek te tree om andere te onderrig, te weerlê, tereg te wys, vermaan of vertroos. Dit impliseer ook dat wat gesê is, verstaanbaar en van hulp was vir diegene wat dit gehoor het en nie ’n doellose wartaal was nie.

Uit hierdie vertellings in Handelinge, kan ons sien dat daar ten minste drie gemene faktore is wanneer mense in tale praat: dit gebeur met die uitstorting van die Heilige Gees; daar is altyd ’n groep wat vergader is; en dit wat gesê word, is tot voordeel van die luisteraars.

Paulus se opdrag aan die Korintiërs

Die spreek in tale blyk ietwat algemeen te gewees het in die Kerk van die eerste eeu. Paulus verwys daarna as een van God se gawes in 1 Korintiërs 12, tesame met gawes van geloof en genesing. Nie net was tale as ’n gawe beskou nie, maar ook die verklaring daarvan (vers 10).

Paulus het egter ’n geestige opdrag gehad vir diegene wat met hierdie gawe geseën is. Hy skryf eerstens dat die gawe van profesie beter was as om in tale te spreek. “Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. Hy wat ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente” (1 Korintiërs 14:1, 4).

Die verskil tussen diegene wat in tale gespreek het en dié wat geprofeteer het, was dat dié wat geprofeteer het, nie tolke nodig gehad het nie. Omdat spreek in tale ’n taal behels het wat onbekend aan die spreker was, kon dit niemand help wat luister indien dit nie verstaan is nie. Paulus sê voorts: “Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang” (vers 5).

Paulus het moontlik die behoefte gehad om hierdie punt so sterk te beklemtoon, omdat die spreek in tale so dramaties en indrukwekkend is. Baie wat die gawe gehad het, het sonder twyfel gedink dat dit die mees belangrike gawe was wat ’n mens kan hê. Dit moes ’n baie driftige ervaring gewees het – verbeel u om skielik onder inspirasie van die Heilige Gees in ’n taal te praat wat aan u onbekend is.

Maar Paulus vermaan dat alles gedoen moet word om ander van hulp te wees. “Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ’n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ’n vreemdeling wees. So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente” (verse 9–12).

Paulus dui ook aan dat spreek in tale hoofsaaklik bedoel is om nie-lidmate te bereik, soos deur Jesaja geprofeteer is: “In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die HERE. Die tale is dus ’n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges” (verse 21–22).

Paulus bring die doeltreffendheid van tale in teenstelling met profesie, om te wys dat selfs diegene wat nie lidmate is nie, meer kan put uit iets wat hulle verstaan. Maar ’n kombinasie van die twee gawes kan ’n kragtige getuienis wees vir ’n ongelowige; hom selfs tot die punt van bekering bring: “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie? Maar as almal profeteer en daar ’n ongelowige of ’n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is” (verse 23–25).

Verder beklemtoon Paulus dat die kerkdiens op ’n ordelike wyse moet plaasvind en dat een met ’n gawe van tale nie moet spreek indien niemand kan tolk nie: “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging – laat alles tot stigting geskied. En as iemand in ’n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê. Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg; en laat hy met homself en met God spreek. Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (verse 26–28, 33).

Die punt is duidelik: om in tale te spreek, is nie bedoel om ’n doellose vertoon te wees nie. Die gawe was om ander mense van hulp te wees, veral diegene wat ongelowig was. In kort was dit nog ’n manier om die evangelie te verkondig.

Vandag nodig?

Waarom spreek ons nie vandag in die Kerk in tale nie? Omdat God bykomende metodes het om die evangelie te verkondig, omdat Sy dienaars nou tegnologie kan gebruik om die doel te vervul wat tevore slegs deur in tale te spreek, bereik is. Met die instrumente van massa-kommunikasie kan ons televisie- en radioprogramme en die geskrewe woord met gemak in verskillende tale vertaal en versprei, hulpmiddels wat nie aan diegene van die eerste eeu beskikbaar was nie.

Onthou ook dat Jesus Sy Kerk toe pas gestig het. Daar was geweldige opwinding vir diegene wat getuies van hierdie wonderwerke was – tot so ’n mate dat daar altyd ’n groterige gevolg was, waar Jesus ook al Sy volgelinge geïnspireer het om te gaan. Dit was ’n doeltreffende manier vir die evangelie om ’n groot indruk te maak op elkeen wat dit gehoor en die meegaande wonderwerke gesien het.

Meer nog, is dat God se Woord nou al in bykans elke taal bekend aan die mens, vertaal is. In die Bybel is alles wat nodig is vir ’n mens om berou te hê en tot bekering te kom. Die nodigheid om in tale te spreek om die groot werke van God te verkondig, is onnodig weens die wye beskikbaarheid van die Bybel.

Soos ons gesien het, was die spreek in tale ’n baie kragtige instrument wat God gebruik het om baie mense tot bekering te bring. Diegene wat hierdie gawe gehad het, het nie dieselfde onbeheerde vertoon van emosionele vurigheid beleef as wat vandag in sommige godsdienskringe voorkom nie.

God is nie wispelturig nie – Hy het ’n doel met alles wat Hy doen. Hy gebruik verskillende metodes op verskillende tye, maar Sy doel bly dieselfde. Laat ons dankbaar wees vir ’n geleentheid om in hierdie tyd deel van daardie doel te wees, op welke wyse Hy ook al verkies.