Baie moderne geleerdes kom tot die gevolgtrekking dat “die enigste beskikbare gids” vir politieke wetenskaplikes die menslike logika is, asook patrone van menslike gedrag wat met verloop van tyd onderskei kan word (The Improbable War, Christopher Coker, bll. 1-2). Hierdie sekulêre akademiese benadering kyk egter ’n bron mis wat voorheen en nou nog die toekoms in die dinamiese veld van internasionale betrekkinge voorspel. Die God van die Bybel kondig duidelik aan dat slegs Hy die toekoms kan voorspel en dit laat gebeur (Jesaja 41:21-24; 46:8-11) en “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:20-21; 4:35). In teenstelling met wat moderne geleerdes beweer, het die Bybel lank gelede reeds voorspel dat spesifieke nasies net voor Jesus Christus se Wederkoms na hierdie aarde in groot eindtydse konflikte betrokke sal wees – daardie profesieë neem vandag gestalte aan!

Antieke Bybelprofesieë

Nadat Jesus se dissipels Hom gevra het: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” het Hy vir hulle gesê om op die uitkyk te wees vir ’n spesifieke reeks van gebeure, wat wydverspreide godsdienstige misleiding, oorloë en gerugte van oorloë, natuurrampe en siekte-epidemies sal insluit – die “Vier Ruiters” van Openbaring – wat Hy gesê het, die “begin van die smarte” sou wees – waarskuwingstekens dat die einde van die wêreld naby is (Mattheüs 24:3-8; Openbaring 6:1-8). Die Skrif verklaar dat “oorloë en gerugte van oorloë” en ander rampe op ’n groot verdrukking sal uitloop, wat die voortbestaan van die menslike beskawing sal bedreig, tensy Jesus Christus terugkeer om in te gryp en die mensdom van totale uitwissing te red (Mattheüs 24:21-22).

Profesieë in die boek Daniël voeg meer besonderhede by tot hierdie eindtydse scenario. Omtrent 550 v.C. het Daniël geskryf: “Maar in die tyd van die einde” sal die koning van die Suide die koning van die Noorde aanval, maar die koning van die Noorde sal weerwraak neem en sy magte die Midde-Ooste instuur om Jerusalem te beset en Egipte, Libië en Ethiopië te oorrompel. Die koning van die Noorde sal dan deur “gerugte uit die ooste en uit die noorde” verskrik wees (Daniël 11:40-45). Profesieë in Daniël 2 en 7 dui aan dat die koning van die Noorde geskiedkundige bande met die antieke Romeinse Ryk sal hê. Profesieë wat betref die twee diere in Openbaring 13 openbaar dat die koning van die Noorde (die dier uit die see) deur Satan gemotiveer sal word en ondersteun sal word deur ’n prominente godsdienstige figuur (die dier uit die aarde) wat wonderwerke sal verrig. Openbaring 17 beeld hierdie godsdienstige figuur uit wat op die dier sal “ry” en die beleid van die koning van die Noorde sal bevoordeel en beïnvloed. Tien konings of nasies sal vir ’n kort tydjie hulle mag aan die koning van die Noorde gee om ’n handelsnetwerk met die handelaars van die aarde te vestig, voordat hulle uiteindelik teen die godsdienstige leier sal draai (Openbaring 17:12-13, 16).

Die koning van die Suide wat in Daniël 11:40 genoem word, lyk na ’n Arabiese Moslem konfederasie wat teen die einde van hierdie tydperk sal ontstaan (Psalm 83:1-8) om die tradisioneel “Christelike” magte van Wes-Europa, wat die Arabiese wêreld vir eeue oorheers het uit te daag. Die nuus uit die ooste en noorde wat die Europese koning van die Noorde onrustig sal maak, lyk of dit uit China en Rusland afkomstig is. Profesieë in Daniël 11:44 en Openbaring 9:1-12 dui aan dat die koning van die Noorde ’n aanval teen die nasies in die ooste sal loods. Openbaring 9:13-18 en 16:12 dui aan dat “die konings van die Ooste” dan met ’n groot leër ’n teenaanval van oos van die Eufraatrivier sal loods en in die Midde-Ooste sal inbeweeg om die koning van die Noorde in die oë te kyk. Dit sal egter hierdie gekombineerde weermagte wees wat deur die terugkerende Jesus Christus gekonfronteer en verslaan sal word (Openbaring 17:14; 11:15). Dít is die presiese eindtydse scenario wat in antieke Bybelprofesieë aangeteken is.

Profetiese neigings in die moderne wêreld

Dit lyk of huidige gebeure in die rigting verloop soos wat dit in die Skrif beskryf word. Vandag strewe die Europese nasies daarna om ’n gesamentlike verdedigingsmag te vorm wanneer die dreigemente van Islamitiese ekstremiste en groeiende getalle van oningeburgerde Moslem immigrante in ag geneem word. Europa word ook bedreig deur Rusland se pogings om invloed en beheer in gebiede in Oos-Europa te herwin. Die opgang van ISIS en sy poging om ’n kalifaat deur geweld en brutaliteit te vestig, verenig twissoekerige Arabiese Moslemlande wat daarna streef om ’n verenigde front teen hierdie opkomende mag te vorm (“A Pan-Arab Military Remains Elusive”, Stratfor, 24 Februarie, 2015). Hierdie reaksie teen ISIS kan die opkoms van die Bybelse koning van die Suide bevorder.

In Europa is Duitsland besig om as die ekonomiese en politieke leier van die bekommerde Europese Unie na vore te tree (German Europe, Ulrich Beck). Daar word ook talle beroepe op Duitsland gedoen om ’n groter militêre rol te speel as teenvoeter vir Rusland se aggressiewe skuiwe (sien “Bring back the Panzers to bolster NATO”, The Times, 20 Februarie 2015). Die verteenwoordigers van tien Europese lande het in Duitsland saamgekom om ’n Berlynse Klub te stig om idees vir Europa se toekoms te bespreek (presseurop.com, 21 Maart 2012 – sien Openbaring 17:12). In Europa probeer die pous in Rome ook om die afsonderlike vertakkings van die Christendom te laat verenig. Hierdie pogings om die interne Moslem probleme, Islamitiese bedreigings uit die suide en die Russiese bedreiging uit die ooste te hanteer, kan tot die opkoms van die Bybelse koning van die Noorde lei, wat aangehelp word deur ’n magtige godsdienstige figuur, soos geprofeteer in Openbaring 13, 17 en 18 (sien die herdrukte artikel: “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?”).

Wat die “konings van die Ooste” betref, het die afgelope dekades getuig van China se opgang, ’n nasie met herinneringe aan eeue se vernedering en uitbuiting in die hande van die Weste en ’n sterk begeerte om sy regmatige plek in die wêreld as die leidende nasie in Asië in te neem (sien die herdrukte artikel: “Is dit China se eeu?”). Die feit dat China en Rusland gesamentlik militêre bewegings uitgevoer het en Chinese militêre leiers gesê het dit is “absoluut noodsaaklik dat ons ons gevoel van wraak in die stilligheid vertroetel ... Ons moet ons vermoëns verberg en ons tyd afwag; ...” dui aan dat die konings van die Ooste gereed sal wees wanneer die tyd aanbreek om die antieke Bybelse profesieë te vervul (Bernstein en Monro, The Coming Conflict with China, bl. 3).

Dit is verrassend dat die huidige wêreld-supermoondheid, die Verenigde State, saam met Groot Brittanje as sy jarelange bondgenoot afwesig is in hierdie eindtydse profetiese scenario. Bybelprofesieë dui nogtans aan dat nasies van Israelitiese afkoms gedurende die laaste dae in groot moeilikheid sal wees, omdat hulle hulle van God gedistansieer het (Deuteronomium 32:29; Jeremia 3:21; 30:7). Talle profesieë dui aan dat hulle bondgenote teen hulle sal draai (Jeremia 30:14; Esegiël 16:37; 23:4-10) en dat hulle ondergang skielik sal kom(Jesaja 9:14; 29:5; 30:13). Nog ’n terroriste-aanval in die VSA of ’n toekomstige botsing met China in die Westelike Stille Oseaan (wat Amerika se satelliet- en Internet-koördinering van sy gevegsgroepe as sy Achilleshiel sien (sien Asia’s Cauldron, bl. 26), kan daardie ondergang verhaas en tot die vervulling van antieke Bybelprofesieë lei wat lank reeds hierdie toekomstige eindtydse konflikte voorspel het. Namate hierdie profetiese gebeure gestalte aanneem, behoort ons vir Christus se Wederkoms voor te berei!