Vraag: Die kruis is een van die mees erkende Christelike simbole in die wêreld, maar waar kom dit vandaan? Het Christus se dissipels dit gebruik?

Antwoord: Alhoewel dit waar is dat die kruis al vir lank beskou word as die wesenlike Christelike ikoon, het die ware oorsprong van die kruis niks te doen met die vroeëre Christendom nie. Hoewel die algemene aanname is dat Jesus Christus vasgespyker is aan die T-vormige kruis, soos vandag algemene gebruik is, is daar geen werklike bewyse daarvan nie. Die Bybel bevat geen beskrywing van die werklike houtpaal waaraan Christus vasgespyker is nie. Die eintlike woord wat in die Bybel gebruik word, isstauros (Handelinge 5:30, 10:39, 13:28-29), wat eenvoudig ’n regop houtpaal (soms met ’n dwarsbalk, soms nie), of selfs ’n boom beteken. Die Romeine het verskeie maniere gebruik om die veroordeeldes tereg te stel.

Nêrens in die Bybel word die kruis of kruisbeeld beskryf of aangewys as ’n voorwerp wat as ornament om die hals gedra behoort te word, aanbid te word, heilig verklaar te word of dat dit op enige ander soort betekenisvolle manier hanteer of behandel behoort te word deur Christene of diegene wat daarop aanspraak maak om Christus te volg nie. Die geskiedenis en argeologie swyg ook hoofsaaklik oor hierdie punt, terwyl talle verklarings aangaande die kruis en die gebruik daarvan slegs verskyn in apokriewe geskrifte of bronne wat dateer uit talle eeue na Jesus se dood.

Uit die geskiedenis lui ons af dat die simbool van die kruis dateer uit die tyd voor die Christendom en variasies daarvan verskyn in heidense kuns en godsdiens wat terugstrek tot in die antieke tyd. Die Britse Museum byvoorbeeld, is in besit van ’n Assiriese standbeeld van die seun van Koning Samsi-Vul wat ’n byna volmaakte Maltese kruis dra. Griekse gode soos Diana en Bacchus dra kruise en het baie in gemeen met latere Middeleeuse afbeeldings van die maagd Maria.

Kruise in die vorm van ankhs, regopstaande kruishoute en selfs swastika-agtige uitbeeldings word gevind vanaf Latyns-Amerika tot in Egipte en die Ooste; een letter van die Semitiese alfabet lyk selfs soos ’n kruis en dateer terug tot ongeveer 1500 v.C. Omdat die wette van God en die leerstellings van Jesus Christus en Sy dissipels die gebruik van ikone en gesnede beelde om God of Christus te verteenwoordig summier veroordeel het, sou getroue Christene en opregte aanhangers van hierdie leerstellings nie sulke ikone in hulle aanbidding gebruik het nie.

Alhoewel daar baie belydende Christene was wat gedurende die eerste eeue n.C. die naam van Christus aangeneem het, maar wat in werklikheid mislei is of afvallig geword het as gevolg van die invloed van heidense godsdienste, kan met reg aanvaar word dat hulle variasies van die kruis gedra het ter ere van Christus. Die eerste amptelike “Christelike” gebruik van die kruis het egter nie voor 312 n.C. onder die heerskappy van die heidense Romeinse Keiser Konstantyn begin nie. Konstantyn het beweer dat hy ’n visioen van ’n tipe kruis gehad het (waarskynlik die Chi Rho of soortgelyke voorwerp, wat bestaan uit ’n P- en ’n X-vormige simbool wat saamgesmelt het en wat Christus se naam in Grieks uitbeeld). Hy het glo ook ’n bevel ontvang om dit aan te bring op die vaandels van sy leër om sodoende sy vyande te oorwin! Dit lyk na ’n suiwer polities-gemotiveerde skuif om beheer te verkry oor die toenemend gewilde afvallige stelsel van die “Christendom” in Rome gedurende daardie tyd (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, “Cross”). Konstantyn het hierdie simbool gebruik om homself te assosieer met goddelikheid en om sy weergawe van wat Christelikheid is die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk te maak.

Selfs die Chi Rho-kruis het egter verband met die antieke heidense oorsprong en bewerings dat dit voor die vierde eeu deur die vroeëre Christene gebruik is, word nie
deur konkrete bewyse ondersteun nie.

Daar word geen beskrywing in die Bybel gevind van die spesifieke soort stauros of kruis wat gebruik is in Christus se kruisiging nie en daarom behoort Christene vandag te fokus op die betekenis van Christus se offer, wat Hy op hierdie oomblik doen en waarom. Die feit dat die tradisionele kruis sy oorsprong in heidense godsdiens het, moet ons laat weifel. Die Bybel verbied die gebruik van simbole en beelde as deel van ons aanbidding van God.

In Eksodus 20:3-5 beveel God Sy volk spesifiek om nie neer te buig voor ’n gesnede beeld nie – ’n waarskuwing wat geïgnoreer word deur diegene wat vandag in hulle godsdienstige beoefening die knie buig voor ’n kruis. Hierdie opdrag word weer in die Nuwe Testament benadruk met die apostel Johannes se vermaning aan Christene: “My kinders, bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21).