Het u iets so verskrikliks gedoen dat geen vergifnis moontlik is nie? Is u bekommerd oor ’n geliefde wat onbekeerd gesterf het? U Bybel bied hoop!

Het u so ’n groot sonde gepleeg dat u nie meer gered kan word nie? U behoort te weet!

Een van die folterendste bekommernisse is die vrees om van God afgesny te wees. Selfs meer kommerwekkend is die gedagte dat ’n mens vir ewig afgesny kan word, met geen kans op verlossing nie. Sommige mense vrees dat hulle die “onvergeeflike sonde” gepleeg het. Voel u skuldig, bekommerd dat u sondes u van God af weghou?

Indien u verlossing van u skuldgevoelens verlang – indien u uself wil bekeer en verligting wil verkry van u wanhopige gevoelens – daar is hulp beskikbaar. God is nie daarop uit om mense te bedrieg om te sondig sodat Hy ’n verskoning kan hê om hulle te vernietig nie. Inteendeel, God wil hê dat ons deel van Sy gesin moet wees en deel hê in Sy liefdevolle lewenswyse. Hy wil hê dat ons uit ons foute leer, ons bekeer en ons lewens verander.

Pla u gewete u? Die Skrif verduidelik dat diegene wat werklik die onvergeeflike sonde gepleeg het, hulle gewetens toegeskroei het –hulle word heeltemal verteer deur opstand teen God. Hulle is nie bekommerd oor die pleeg van die opperste oortreding nie. Hulle mag bang wees vir hulle uiteindelike straf, maar hulle is nie onseker oor hulle onwrikbare toewyding aan boosheid en kwaad nie.

God is bereid om ons sondes te vergewe indien ons daarvoor vergifnis vra, indien ons jammer daaroor is en ons vasbeslote is om te verander. Wanneer ’n mens sy gewete toeskroei om nooit berou te hê nie, kan hy nie vergewe word nie. Jesus stel die probleem duidelik: “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel” (Markus 3:28-29).

Jesus sê al die sondes van die berouvolle mens sal vergewe word. Die een onvergeeflike sonde is egter lastering teen die Heilige Gees. Wat beteken dit? Hoe laster iemand teen die Heilige Gees?

Volgens die HAT, is laster “Eerskending; onware kwaadsprekery; belediging van iemand sonder bewys van die waarheid”; of “beledig, hoon, teen die Opperwese laster”. ’n Parallelle Evangelieverhaal gee aan ons ’n kragtige voorbeeld: “Toe het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?” (Mattheüs 12:22-23).
Die skare het erken dat die beloofde Messias, die Seun van Dawid, in staat sou wees om hierdie wonderwerk te verrig, maar die Fariseërs het valslik beweer dat Jesus die mag van die Satan gebruik het. “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels nie” (Mattheüs 12:24).

Hierdie beskuldigers het gelaster – hulle het van God se wonderbaarlike werk deur die Heilige Gees kwaad gespreek. Jesus het hulle kragtig gewaarsku: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie” (Mattheüs 12:31-32).

Ons behoort almal op dié waarskuwing ag te slaan. Let op die apostel Paulus se waarskuwing aan Christene, dat “as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:26).

Die opsetlike sondaar is balhorig. Hulle het ’n gewete wat verhard is om sodoende kwaad te doen. Hierdie soort sondaar sal nooit eers die gedagte oorweeg om homself te bekeer nie en begeer nie om na God se lewenswyse terug te keer nie (vgl. 1 Timótheüs 4:2). Die verharde goddeloses is nie verblind soos die res van die wêreld nie; hulle het “kennis van die waarheid”. Hulle weet wat die uitwerking van Christus se offer is, maar hulle ontheilig dit. Sulke mense staan voor “’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:27-29).

Ja, daar sal ’n vurige oordeel wees, ’n poel van vuur vir diegene wat volhard om opsetlik te sondig en wat die Gees van genade beledig. Die Skrif gee ook ’n waarskuwing aan almal wat as Christene, “deelgenote is van die Heilige Gees”. Onthou dat God die Heilige Gees aan diegene gee “wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Indien Christene opsetlik na die kwaad terugkeer, indien hulle wegval en hulle ’n geharde en permanente gesindheid van ongehoorsaamheid het – leer die Skrif ons dat dit onmoontlik is “om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig, en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:6).

Waarlik bekeerde Christene is diegene aan wie God die Heilige Gees gegee het (Romeine 8:9). Selfs bekeerde Christene sal sondig, maar hulle is altyd tot bekering verbind. Hulle behoort ’n berouvolle gesindheid te hê, altyd daarna uit te sien om hulle gedrag en gesindheid te verander, selfs al voel hulle nog te swak om dit te doen. God is geduldig, maar dit is nodig dat ons op daardie geduld reageer, want die tyd raak min. Begeer altyd bekering. Streef altyd daarna om u lewe ten beste te verander, selfs wanneer u deur swakheid aan versoeking toegee. Vra God vir ’n gees van berou tot bekering!

Is u hart “verhard”?

Ons het gesien dat die onvergeeflike sonde ’n sonde is wat nie vergewe sal word nie, want die sondaar laster opsetlik teen die Heilige Gees en verhard sy hart om nooit berou te hê nie. Sulke sondaars verseël hulle gewete om kwaad te doen en sal in die poel van vuur eindig soos ons in Openbaring 21:8 lees. Hoe kan ons dit vermy om hierdie hardkoppige en geharde gedagtegang te hê?

Ons het almal die geleentheid om tussen lewe en liefde te kies, eerder as dood en ongehoorsaamheid. Hoe kan iemand doelbewus en permanent besluit om die verkeerde weg van opstand in te slaan? Hier volg wat mnr. Herbert W. Armstrong geskryf het oor hoe daardie doelbewuste keuse gemaak kan word: “Dit mag kom van verkeerde redenasies; van verkeerde begeertes wat uitgedink is en tot ’n finale, vaste, permanente besluit ten opsigte van sy lewensweg ontwikkel; of, om ’n wrok in sy hart teenoor God of ’n persoon wat hom moontlik verontreg het, toe te laat om hom te verbitter, totdat hy sover kom om sy hele lewensloop te verander en homslef van God te distansieër” (What Do You Mean, ‘The Unpardonable Sin’?, 1972, bl. 34).

Seergemaakte gevoelens lei dikwels tot aanstoot en ’n wrok verander in haat en verbittering. Voel u gegrief en haatdraend teenoor iemand? Ons moet altyd teen sulke gevoelens waak. Onthou: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). Indien u daardie gevoelens het, behoort u dit te oorkom deur te kies om God te vrees en te kies om die ernstigheid van haat en aanstoot te verstaan.

In die Bergpredikasie gee Jesus ’n beter manier om gevoelens van haat en begeertes vir wraak te hanteer. “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:43-45).

Ja, hierdie is ’n revolusionêre lewenswyse. Dit is in teenstelling met vandag se selfsugtige, gierige, ek-eerste filosofie. Dit is die lewensweg wat die Seun van God aan ons geleer het en dit is die lewenswyse vir almal wat in die Millennium sal wees – Christus se toekomstige duisendjarige heerskappy op aarde. Probeer dit! Gaan werklik op u knieë – en bid vir die welsyn van iemand vir wie u moontlik mag haat. U sal verbaas wees oor die verligting van spanning wat u sal ervaar.

Wees vol vertroue dat God in Sy oordeel, onreg sal wreek. Soos die apostel Paulus skryf: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Wanneer ons tyd aanbreek, moet ons almal voor die regterstoel van Christus staan (Romeine 14:10). Vertrou God om die goddeloses te straf, net soos Hy gesê het.

Jaag vrede na

Let op nog een sleutel om bitterheid te oorwin. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15).

Jesus sê in die Bergpredikasie: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mattheüs 5:9). Hy sê ook: “... doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mattheüs 5:44). Sal u Sy uitdaging aanneem? Sal u uself voor God verootmoedig en vir u vyande bid? Dit sal baie help om enige oorsprong van bitterheid wat u mag hê te oorwin.

’n Mens kan ook die Heilige Gees verloor en die pad na die onvergeeflike sonde volg deur volgehoue verwaarlosing. Verwaarloos u u gebed, Bybelstudie en om gemeensaam met bekeerde Christene te verkeer?

Hierdie wêreld het so ’n invloed op dit wat ons interesseer dat ons aandag van ons geestelike prioriteite afgelei kan word. Wat is u persoonlike doel in die lewe? Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Volgens ons Verlosser behoort dit ons doel in die lewe te wees! Verwaarlosing van ons geestelike prioriteite lei tot geestelike swakheid, maar God se Gees is die Gees van krag, liefde en selfbeheersing. Die apostel Paulus skryf: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:6-7).

Sonder daardie geestelike krag sal ons nie in staat wees om ons lewens te verander nie. God is egter gewillig om daardie geskenk aan ons te gee, die waardevolste geskenk buiten die gawe van Sy Seun, vir die sondes van die wêreld. Wat moet ons doen? Op die dag van Pinkster, aan die begin van die Nuwe Testamentiese Kerk, het die apostel Petrus gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Christene ontvang wel daardie geskenk, maar dit is ’n geskenk wat gekoester en selfs “aangewakker” moet word, soos die apostel Paulus vermaan.

Voortgesette verwaarlosing van ons geestelike prioriteite sal tot ’n “onverskillige” gesindheid lei – ’n gesindheid wat tot ’n verharde hart en die onvergeeflike sonde kan lei. “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1). Anders, “hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam ...”? (vers 3). Christene behoort hulle daartoe te verbind om nooit toe te laat dat bitter of ’n haatdraende gesindheid hulle harte en gedagtes vergiftig nie. Ons behoort ons daartoe te verbind om die Here te soek terwyl Hy nog te vinde is. Volhard met opregte gebed en Bybelstudie. Kies om geestelik waaksaam te bly. Bly daartoe verbind om geestelik aktief en waaksaam te wees!

Een van die heel vertroostendste en bemoedigendste waarhede van die Bybel is dat biljoene mense – individue wat as vir ewig verlore beskou word – eintlik geestelik verblind was. Hulle was wêrelds, hulle was selfs boos, maar hulle het nog nooit die ware Evangelie gehoor of verstaan nie. Ja, hulle sal beslis geoordeel word, soos die goddelose mense van Sodom en Gomorra geoordeel is toe God vuur en swawel oor hulle uitgestort het. Het hierdie verblinde mense dan die onvergeeflike sonde gepleeg? Jesus het van die stede gepraat wat hulle moes bekeer tydens Sy dissipels se prediking: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” (Mattheüs 10:15). Selfs die mense van Sodom en Gomorra sal hulle geleentheid tot redding hê!

U kan hoop hê!

God het Sy beloftes aan die aartsvader Abraham gegee, maar op die oppervlak het dit gelyk of die vervulling van die beloftes onmoontlik was. Let op wat die Bybel oor Abraham se gesindheid sê. “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees” (Romeine 4:18).

Abraham “het teen hoop op hoop geglo” of soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo”. Ek kan my daarmee vereenselwig. Voordat ek ’n Christen geword het, het ek dieselfde gevoel. Die Bybel is gevul met God se beloftes aan u. U kan ’n versekering, ’n verwagting en ’n hoop vir die toekoms hê. Daar is nie net hoop nie, maar belofte – die belofte van ’n nuwe wêreld, die Koninkryk van God op aarde en die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus. Ek het geleer van Jesus se belofte om na hierdie aarde terug te keer – en dat Hy blywende wêreldvrede sal vestig. Paulus gaan voort deur te sê: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Efesiërs 2:13).

Indien u van God afgesny voel, kan u versoen word. U kan hoop hê. U kan nader getrek word deur die bloed van Christus. Indien u berading van ’n leraar verlang, skakel of skryf aan die streekskantoor die naaste aan u, soos op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys.

Indien u verbind is om u lewe te verander – indien u werklik jammer oor u sondes is en werklik berou ervaar, sal u vergewe word. ’n Noodsaaklike sleutel om te verhoed dat u die onvergeeflike sonde pleeg, is om altyd ’n berouvolle gesindheid te hê. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Dit is nodig dat ons ons sondes aan God en ons Verlosser bely. Onthou die tollenaar van wie Jesus gesê het hy het geregverdig huis toe gegaan eerder as die Fariseër? Hy het gebid: “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13). Mag God u help om Hom heelhartig te soek, want Hy is in staat om u sondes te vergewe en u van alle ongeregtighede te reinig. Indien ons hierdie berouvolle gesindheid handhaaf, kan ons weet dat ons nie die onvergeeflike sonde gepleeg het en dit nie sal pleeg nie!