Wat is u doel in die lewe? Het u enigsins ’n roeping, ’n doel, behalwe “oorlewing”? Baie mense in ons Westerse wêreld leef materialistiese en selfsugtige lewens. In teenstelling hiermee, het diegene wat werklik suksesvol in die lewe is, ’n doel bo en behalwe die eie ek!

Die meeste van u wat hierdie tydskrif al ’n geruime tyd lees, weet dat die Wêreld van Môre ’n wêreldwye doelstelling het. Dit is dieselfde opdrag wat Christus aan Sy dissipels gegee het in Markus 16:15: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom”. Watter Evangelie was dit? Watter boodskap het Jesus aan die wêreld verkondig en watter boodskap sal as ’n getuienis aan die wêreld verkondig word voor Sy Wederkoms? “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Ons wêreld het die “goeie nuus” nodig wat Jesus in Matthéüs 24:14 verkondig het: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”. Gelukkig vind dit nou plaas! Dit vind grootliks plaas as gevolg van die ondersteuning wat die Wêreld van Môre-lesers verleen deur hulle gebede en ander maniere van ondersteuning wat hierdie uiters belangrike wêreldwye Werk moontlik maak. Duisende van u intekenaars het onlangs op hoofredakteur Roderick C. Meredith se aanbod vroeër in 2015 gereageer, deur ons kragtige DVD, met die titel The Mission of God’s Work, aan te vra. In hierdie DVD het u die wêreldwye impak van hierdie Werk gesien wat deur toegewyde Christen-ondersteuners en vrygewige medewerkers moontlik gemaak is. Indien u nie reeds u kopie van hierdie inspirerende DVD aangevra het nie, kan u na die streekkantoor die naaste aan u skryf (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif), of aanlyn gaan by TomorrowsWorld.org om u gratis kopie te bestel.

Waarlik, ons wêreld het die toekomstige Koninkryk van God nodig om oor alle nasies te regeer en blywende wêreldvrede te bring onder die Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 19:16). Voor daardie tyd sal die wêreld egter toenemend deur ’n vervalste Christendom mislei word. Dit is skokkend, maar die nasies sal selfs teen Christus veg met Sy Wederkoms (Openbaring 17:14; 19:16-19). Selfs vandag is vervolging van belydende Christene in baie dele van die wêreld aan die toeneem, met inbegrip van die onthoofding van talle mense deur die radikale ekstremistiese groep ISIS.

Vervolging sal baie van ons beproef. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie” (Matthéüs 10:22-23).

Beskerming vir God se mense

God beloof om Sy ware dienaars te beskerm. Psalm 46 gee aan ons hierdie bemoedigende perspektief: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela” (verse 2-4). Wanneer daar dan skynbaar onverklaarbare tragedies plaasvind, soos met enigiemand kan gebeur (Prediker 9:11), gee God aan ons die krag en wysheid om dit te kan verduur en selfs ten spyte van ons heel moeilikste uitdagings te groei.

God beloof om die getrouste en ywerigste Christene teen die komende Groot Verdrukking te beskerm. Hy sal die “vrou” – God se Kerk – “na die woestyn, na haar plek” lei (Openbaring 12:14). Dit is daardie individue wat hulle harte in God se Werk het ter vervulling van die Groot Opdrag, vir wie God van die Groot Verdrukking sal bewaar wat Jesus in Matthéüs 24:21-22 aangekondig het. Ons benodig dieselfde toewyding as ons Here in die uitvoering van ons Godgegewe roeping. Jesus kondig aan: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34).

God sal meer geloof aan u gee indien u u na Hom wend en Sy Woord vir algehele leiding in u lewe bestudeer. Soos die apostel Paulus skryf, waar hy die profeet Jesaja aanhaal, in Romeine 10:17: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God”. Maak seker dat u elke dag u Bybel lees. Soos u weet, streef ons by die Wêreld van Môre daarna om die eerste-eeuse Christenskap uit te leef soos ons deur Jesus Christus en Sy Apostels geleer word. Ongelukkig is daardie ware Christenskap deur menslike organisasies verdorwe deur Christus se leerstellings met verskeie heidense idees en gebruike te vermeng. As gevolg hiervan is die grootste “Christelike” kerke van vandag eintlik in heelwat opsigte baie meer heidens as wat hulle Christelik is.

Om sake te vererger het sommige van hierdie nominale Christelike groepe die afgelope paar dekades afstand gedoen van fundamentele Christelike leerstellings. Sou u uself kon indink dat hoofstroom Presbiteriaanse of Episkopaalse kerke selfs 30 jaar gelede openlik homoseksuele predikante sou aanstel en dieselfde-geslag “huwelike” vir hulle lede sou voltrek?

Ongelukkig het baie van hierdie denominasies wat uit protes gestig is as gevolg van die foute wat hulle in hulle Rooms-Katolieke “moederkerk” gevind het, nou begin om af te dwaal en te verval in verkeerde dinge wat selfs die moederkerk nie aanvaar nie! Om meer hieroor te leer, wil ek u aanmoedig om die artikel, “’n Wekroep aan alle Protestante!” deur ons Hoofredakteur, Roderick C. Meredith, elders in hierdie tydskrif te lees.

Ja, ons leef in tye van groot verwarring. Daardie verwarring is gedeeltelik ekonomies van aard. Baie van ons het tye van beduidende inflasie beleef, tye toe die pryse van goedere en dienste die hoogte ingeskiet het, terwyl ons salaris-tjeks ongeveer dieselfde gebly het. Daar is ook ander ekonomiese gevare wat voorlê. Dink daaraan wat kan gebeur in tye wanneer die ekonomie voor die teenoorgestelde van inflasie te staan kom – deflasie. Om meer oor hierdie verskynsel te leer – waarom dit saak maak en hoe dit ons wêreld kan beïnvloed, namate ons die einde van hierdie huidige tydperk nader – lees gerus die artikel “Deflasie” deur Dexter Wakefield elders in hierdie tydskrif. In ons moderne samelewing sal die meeste mense eerder van pop-sterre of skinderstories uit die vermaaklikheidsbedryf wil hoor, maar mnr. Wakefield se onderwerp is belangrik en selfs al is u nie ’n ekonoom nie hoop ek dat u sy artikel noukeurig sal lees.

Met tradisionele godsdiens aan die kwyn en met die wêreld-ekonomie wat in gevaar verkeer, kan dit maklik wees om moed te verloor en in pessimisme en selfs depressie te verval. Daar is nogtans altyd hoop vir ware Christene. Lees asseblief my artikel, “Oorleef moeilike tye” elders in hierdie uitgawe. Dit maak nie saak voor watter probleme u te staan kom nie, u kan dit verduur en selfs floreer indien u die riglyne volg wat God in die Bybel vir ons voorsien het.

Hou u oog op die “geheelbeeld”!

Soos u sal lees is een van die heel belangrikste hulpmiddels vir oorlewing en selfs verder as oorlewing, om u hart en gedagtes te fokus in die vervulling van die Groot Opdrag wat Jesus Christus aan sy volgelinge gegee het. Indien u dit doen, sal u vind dat u eie probleme baie minder belangrik in die “geheelbeeld” van dinge lyk.

U kan natuurlik nie aan ander gee wat u self nie het nie. Sommige van u wat hierdie tydskrif lees mag dalk nog nie die Bybelse doop van algehele onderdompeling in water aanvaar as ’n teken van u bekering en die simboliese “dood” van u ou vleeslike eie-wil nie. Indien u oor u sonde berou het en u wil Christus se gebooie so volledig moontlik nakom en God se Heilige Gees ontvang om u te help om te oorwin en as ’n Christen te groei, kontak dan asseblief die streekkantoor die naaste aan u en ons sal u in kontak bring met een van ons verteenwoordigers wat met u oor bekering en doop sal praat.

Waarlik, indien u leer om die Christelike manier van uitgaande besorgdheid vir ander mense uit te leef en indien u u lewe en hart daaraan wy, soos Jesus gedoen het, om God se Werk uit te voer, sal u vind dat Hy u eie lewe toenemend sal seën op maniere wat u uself nooit sou kon voorstel nie.