Party mense beweer Hy is net ’n mite, terwyl ander verklaar dat Hy slegs ’n man was. Wie was die ware Jesus Christus? Wat beteken Sy lewe en boodskap vandag?

Verwarring oor Jesus is aan die orde van die dag! Sommige mense glo dat Hy in die eerste eeu bloot ’n invloedryke prediker was. Party mense beweer dat Hy nooit bestaan het nie en net ’n mite is! Wie was dan die Ware Jesus Christus? Het u al ooit gekyk na wat die Bybel werklik van Jesus sê? Wat het Hy gedoen toe Hy op die planeet Aarde was en wat doen Hy nou vir u en vir u toekoms?

Dit het op die Internet mode geword om te beweer dat Jesus Christus nie bestaan het nie. Selfs die oorgrote meerderheid van skeptici gee toe dat die feite anders sê. In sy boek Did Jesus Exist?, verduidelik die geleerde Bart Ehrman – wat self nie in Christelikheid glo nie – die siening van moderne navorsing oor die saak: “Die werklikheid is dat wat u ookal van Jesus mag dink, hy beslis bestaan het ... [D]ie siening dat Jesus bestaan het, word deur feitlik elke deskundige op die planeet gehuldig” (bl. 4).

Terwyl ateïstiese geleerdes oor die algemeen erken dat die man Jesus wel in die eerste eeu geleef het, ’n bediening in die Romeinse provinsie Judea gehad het, ’n omstrede boodskap gepreek het en daarvoor doodgemaak is, beantwoord dit nie die vraag van wie Hy was nie.

Wie was die Ware Jesus Christus? Was Hy net nog ’n rondtrekkende prediker oor wie ’n klompie legendes ontwikkel het? Of was Hy die Seun van God wat gekom het om ’n boodskap te verkondig wat baie min mense vandag verstaan? Selfs al dink u dat u in Jesus glo, mag die antwoord u verras!

Ongeveer een-derde van die inwoners op die Aarde noem hulleself Christelik. Selfs onder hulle weet relatief min mense wat Jesus werklik verkondig het of wat die Bybel oor die Ware Jesus Christus openbaar. Hy het Self gesê dat daar baie nabootsers sal wees. Hy het hulle “valse christusse” genoem (Matthéüs 24:24). Die apostel Paulus het gewaarsku teen “’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het ... ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie” (2 Korinthiërs 11:4). Ken u die Ware Messias – die Ware Jesus Christus?

Wat openbaar die Bybel? Was Jesus net ’n leermeester of was Hy dít en selfs meer? In Johannes 4 praat Jesus met ’n vrou by die put van Jakob naby die stad Sígar in Samaría. Hierdie vrou het oortuig geraak dat Hy die beloofde Messias was – die Christus. Sy het die hele gemeenskap vertel van hierdie man wat, sê sy, “my alles vertel wat ek gedoen het” (vers 39). As gevolg hiervan het baie ander Samaritane gekom om na Jesus te luister en hulle het Hom oorreed om twee dae daar te bly. Wat was hulle indruk van Jesus? “En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is” (Johannes 4:41-42).

Die naam Jesus beteken “Verlosser of Saligmaker”. Was Jesus die Verlosser van die wêreld? Mens behoort eerder te vra: “Is Hy die Verlosser van die wêreld?” Die bewyse van vervulde profesie, geskiedkundige akkuraatheid, die bewaring van die teks en die openbaring van die lewe se geheime en doel, ondersteun alles hierdie waarheid dat Hy dit is! Hoe het Hy dit dan geword? Hy was Immanuel, “God met ons” – God in die vlees! Waar het Hy vandaan gekom? “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3).

Hierdie Woord waarvan die apostel Johannes gepraat het, was die Een wat Jesus Christus in die vlees geword het, die Seun van God (vers 14). Hy het Sy lewe geoffer om te betaal vir die sondes van die wêreld, soos net Hy dit kon doen. Hy word uitgebeeld as die offerlam. Let op hoe Johannes die Doper van Hom getuig: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Hy was vir 30 silwerstukke verraai, soos geprofeteer (Sagaria 11:12-13). Nadat Hy Jerusalem op ’n donkie binnegegaan het, sou Hy soos ’n geringe herder wees (Sagaria 9:9; 13:7).

Daar is altesaam meer as 100 profesieë in die Ou Testament wat die koms van die Messias voorspel. Sommige wantrouige mense sê dat Jesus Sy bediening op een of ander manier so gereël het om daardie profesieë te vervul of sê dat die Nuwe-Testamentiese skrywers die verhale in die Evangelie uitgedink het om die vervulling daarvan te demonstreer. Sou honderde van Jesus se eie tydgenote – wat geleef het in die tyd toe Paulus sy briewe geskryf het en wat baie van diegene eerstehands geken het, wat hierdie gebeure wat beskryf is bevestig het (1 Korinthiërs 15:6) – hulleself gewillig laat martel het vir ’n fiksie? Ja, daar is altyd skeptici soos diegene wat vandag die eerstehandse weergawes van oorlogswreedhede in die Tweede Wêreldoorlog, in Kampuchea, Irak en ander plekke betwyfel. Paulus en die ander skrywers van die Skrif het aan hulle tydgenote geskryf, in ’n tyd toe duisende mense vervolg is en bereid was om te sterf vir hulle oortuigings, vir dít wat hulle self gesien en gehoor het!

Ja, u kan in die woorde van die Skrif glo! Dit is skokkend om te besef hoeveel predikante aan u sal sê om te glo – maar u nooit sal maan om u te bekeer nie. Tog sê Jesus Self aan almal van ons om ons te bekeer! Ons Verlosser beveel elke mens op aarde om homself te bekeer en te glo. Vereis God regtig dat diegene wat glo oorgaan tot aksie? Die apostel Petrus het gesê dat Hy wel doen. Wat het Petrus op Pinksterdag toe hy duisende toegespreek het gesê in sy geïnspireerde preek op die dag wat die Nuwe-Testamentiese kerk begin het? Hy het gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Duisende wat hom gehoor het, het van hulle sondes oortuig geraak en is op daardie dag gedoop en het die beloofde gawe van die Heilige Gees ontvang.

Moontlik voel u die pyn van skuld en sonde. Daar is ’n manier om u lewe te verander. Jesus, die Lam van God, het u sondes op Homself geneem. Om met God versoen te word, moet u egter glo en reageer op die Ware Evangelie. Soos Jesus verkondig het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

’n Revolusionêre Jesus?

Toe ek omtrent twaalf jaar oud was het ek die leerstellings wat ek in die kerk gehoor het, bevraagteken. Ek het begin wonder of Jesus werklik bestaan. Dus het ek gedink: “Wel, ek sal net lees wat hierdie biograwe Matthéüs, Markus Lukas en Johannes oor Hom sê”.

Selfs as ’n twaalfjarige, was ek verbaas oor wat ek gevind het, veral toe ek die “Bergpredikasie” begin lees het. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Matthéüs 5:39). Ek het vir myself gesê, “Sy leerstellings is revolusionêr!” Op my eie beperkte manier, het ek my benadering tot die lewe verander maar ek sou eers baie jare later tot ware bekering geroep word.

Baie mense het dieselfde ervarings as wat ek gehad het. Skrywer Bruce Barton het “’n afkeer ontwikkel” in die valse Jesus wat in ’n Sondagskoolklas voorgehou is. In sy klassieke boek, The Man Nobody Knows, skryf hy:

Die klein seuntjie [Barton het oor homself geskryf] het na die prentjie wat teen die Sondagskoolmuur hang gekyk. Dit het ’n bleek jong man met slapperige voorarms en ’n hartseer gesigsuitdrukking vertoon. Die jong man het ’n rooi snor gehad. Die klein seuntjie het toe na die ander muur gekyk. Daar was Daniël, goeie ou Daniël, wat eenkant, weg van die leeus, gestaan het. Die seuntjie het van Daniël gehou. Hy het ook van Dawid gehou, met die betroubare slinger wat ’n klip vierkantig teen die voorkop van Goliat geplant het. Van Moses ook, met sy staf en sy groot koperslang. Daardie drie was wenners ... maar Jesus! Jesus was die “Lam van God”. Die klein seuntjie het nie geweet wat dit beteken nie, maar dit het geklink soos Mary’s little lamb. Iets vir meisies – sussieagtig. Jesus was ook “sagmoedig en nederig”, ’n “man van smarte en bekend met krankheid”. Hy het drie jaar lank rondgegaan en aan mense gesê om dinge nie te doen nie (bll. i-ii).

Soos Barton, het ek ook eens ’n vals begrip van die ware Jesus gehad. Miskien het u ook. Indien u egter self die Bybel lees, sal u moontlik verbaas wees om te ontdek dat baie van die gewilde beelde, konsepte en leringe wat dikwels as “Christelik” aan ons opgedis word, heeltemal verskil van die waarhede wat in die Skrif gevind word.

Barton het begin om ’n teenstrydigheid tussen Jesus se prediking en die wêreld se vervalste beeld van Hom, te sien. Barton skryf van sy herontdekking van die Bybelse Jesus Christus:

Hoe meer preke hy [Barton] gehoor het en hoe meer boeke hy gelees het, hoe meer verward het hy geraak. Hy het eendag besluit om die idees van die boeke en preke uit sy gedagtes te sit. Hy het gesê, “Ek sal lees wat die mense wat Jesus persoonlik geken het, van hom gesê het. Ek sal van hom lees asof hy ’n nuwe geskiedkundige karakter is, iemand van wie ek nog nooit iets gehoor het nie”. Die man was verbaas. ’n Fisiese swakkeling! Waar het hulle díe idee gekry? Jesus het ’n skaaf gestoot en ’n dissel geswaai; Hy was ’n suksesvolle timmerman. Hy het buite geslaap en sy dae deurgebring deur om om sy gunsteling meer te loop. Hy was so gespierd dat toe hy die geldwisselaars uitgedryf het, niemand gewaag het om hom tee te gaan nie! ’n Pretbederwer! Hy was die gewildste gas by etes in Jerusalem! Die kritiek wat betaamlike mense teen hom uitgespreek het, was dat hy te veel tyd spandeer het met die tollenaars en sondaars ... en die gemeenskap te veel geniet het. Hulle het hom ’n “vraat en ’n wynsuiper” genoem. Toe die man klaar gelees het, het hy uitgeroep: “Dit is ’n man wat niemand ken nie” (bll. iii-iv).

Verborge waarheid

Hoe kan ons egter die Ware Jesus leer ken? Verrassend genoeg kan sommige van die algemeenste godsdienstige tradisies misleidend wees – selfs oor iets so basies soos Sy geboorte. Waarom is Jesus gebore? Let op wat die engel aan Maria gesê het voor Sy geboorte: “En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:31-33).

Jesus se boodskap het gegaan oor die Koninkryk van God op aarde! Hy sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 17:14; 19:16). Hy sal op die troon van Dawid sit en oor al die nasies heers. Soos Jesaja geskryf het: “... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde ...” (Jesaja 9:6). Dit is goeie nuus en dit is nodig dat ons almal bid soos Jesus ons geleer het, “laat U Koninkryk kom!”

Wanneer is Jesus gebore? Is Hy in Desember op Kersdag gebore? Dit kan vir sommige ’n verrassing wees, maar ons kan seker wees dat dit nie so is nie. Let op na die agtergrond en die tyd van die jaar toe die engel Jesus se geboorte vir die herders aangekondig het: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8). Die meeste Bybelgeleerdes erken onomwonde dat herders nie in Desember in die veld was nie. Die koue reënseisoen het lank voor 25 Desember begin. Jesus is waarskynlik laat September of vroeg in Oktober gebore, soos die meeste agtenswaardige Bybelkommentare toegee.

Waarom aanvaar ons so dikwels tradisies en leerstellings sonder om dit na te gaan? Sommige van ons konsepte en idees verskil van die Bybel! Jesus het nooit Sy verjaarsdag gevier nie en ook nie die Apostels nie! Soos die Encyclopaedia Britannica se inskrywing oor “Kersfees” in die 15de uitgawe verklaar, “Volgens ’n Romeinse almanak, is die Christelike fees van Kersfees in 336 n.C. in Rome gevier”. Let ook op die volgende inskrywing oor Christelikheid”: “Die Vaders van die 2de en 3de eeue, soos Clement van Alexandria, Origen en Epiphanius, het aangevoer dat Kersfees ’n nabootsing van ’n heidense feesviering was”.

Wanneer u die boek Handelinge lees, sien u dat die Apostoliese Kerk van die eerste eeu – die Nuwe-Testamentiese Kerk – nooit Kersfees of die geboorte van Christus gevier het nie. Die ware Apostoliese Kerk van die eerste eeu het die Bybelse feeste onderhou: Die Pasga van die Nuwe Testament, die Dae van Ongesuurde Brode, Pinkster, die Fees van Basuine, die Versoendag, die Huttefees en die Laaste Groot Dag. Die Skrif stel dit duidelik dat Jesus Christus die Laaste Groot Dag van die Fees onderhou het. Die apostel Johannes het na hierdie Heilige Dag verwys toe hy geskryf het: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38).

Is die tradisionele Christendom besig om in Jesus se voetstappe te volg soos die apostel Petrus ons aangesê het om te doen (1 Petrus 2:21)? Onderhou dit die weeklikse Sabbat – die sewende dag van die week – soos Jesus gedoen het? Christus het verklaar dat Hy, “die Seun van die mens die Here ook van die sabbat [is]” (Markus 2:28). Soos ons uit Génesis 2:3 weet, het God die sewende dag ten tye van die skepping geheilig. Vir wie is die Sabbat gemaak? Jesus het gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Markus 2:27). Die Sabbat is gemaak vir die hele mensdom as ’n rusdag en as ’n herinnering aan God se groot skepping. Onthou, God het alles geskape, met inbegrip van die Sabbat, deur Jesus Christus (Efésiërs 3:9).

Die geskiedkundige Jesus

Die Joodse geskiedkundige Josephus het verwys na Jesus se broer, die apostel Jakobus, wat die Nuwe-Testamentiese boek Jakobus geskryf het. In die eerste eeu n.C. het Josephus die volgende geskryf: “Festus was nou dood en Albinus was op die pad; dus het hy die Sanhedrin van die regters vergader en die broer van Jesus voor hulle gebring. Jesus wat Christus genoem is se broer , wie se naam Jakobus is en sommige ander, [of sommige van sy metgeselle]; en toe hy ’n beskuldiging teen hulle as oortreders van die wet gemaak het, het hy hulle oorgelewer om gestenig te word” (Antiquities of the Jews,, bl. 20, hoofstuk 9, seksie 1).

Ja, daar is geskiedkundige bewyse vir die bestaan van Jesus Christus. Dit is verbasend dat party mense die getuienis van ’n geskiedkundige soos Josephus sal aanvaar, maar die getuienis van ooggetuies van Jesus se tydgenote ignoreer. Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes het almal geskryf en getuig van die lewe, wonderwerke en leringe van ons Verlosser. Die apostel Johannes het geskryf dat hy en die ander Apostels nie net vir Jesus gehoor het nie, maar Hom gesien en Hom aangeraak het (1 Johannes 1:1-2). Na Sy opstanding het Jesus aan die ongelowige Thomas gesê om sy hand in die spieswond wat Hom doodgemaak het, te steek. Hy het beveel: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Johannes 20:27). Wat was Thomas se reaksie? “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (Vers 28).

Jesus Christus het gesterf en is opgewek. Hy leef vandag. Indien Hy nie opgewek is nie, sou ons nog in sonde wees en ons geloof sou nutteloos wees (1 Korinthiërs 15:16-17). Soos Paulus egter verduidelik, daar is goeie nuus! “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens” (verse 20-21).

So, wie was Jesus? Belangriker nóg is die vraag: Wie is Jesus? Hy is ons Verlosser wat leef! Hy is ons groot Hoëpriester, soos die apostel Paulus verduidelik in Hebreërs 3:1; 4:14. Hy sit aan die regterhand van God in die hemel, waar Hy “vir ons intree” (Romeine 8:34). Hy sal binnekort terugkeer na die planeet Aarde as Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 19:16), om die Koninkryk van God hier te vestig om wêreldvrede te bring! Sal u gereed wees vir Sy Wederkoms? Sal u Sy offer aanvaar, u bekeer en ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom leef? Dank God dat die Bybel die ware Jesus Christus openbaar – die lewende, liefdevolle Verlosser van die wêreld!