Dit is een van die beroemdste boeke wat ooit geskryf is, maar is steeds onverstaanbaar vir baie mense. Selfs baie Christene doen nie eens die moeite om dit te lees nie, want hulle voel nie in staat om dit te verstaan nie. Wat is hierdie beroemde boek? Dit is die boek Openbaring, ook bekend as die Apokalips, die heel laaste boek in u Bybel.

In een opsig is dit tragies dat die oorgrote meerderheid van die mensdom onkundig is oor die belang van hierdie beroemde boek. Tog weet ons dat die dieper betekenisse van Openbaring bestem is om verbloem en verborge te bly vir diegene wat geestelik verblind is -- wat beteken die meeste mense op aarde. Dit is ’n verbasende, dog grondliggende waarheid dat die hele wêreld, behalwe vir ’n relatiewe klein groepie, geestelik gesproke feitlik blind is. Die apostel Paulus het hierdie waarheid ook beklemtoon toe hy skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4).

Indien die wêreld oor die algemeen verblind en mislei is, hoe kan u dan verstaan? Dit is slegs deur die Lig van die wêreld dat ’n mens geestelike insig en begrip verkry. Ons weet uit Johannes 8:12 dat Jesus Christus die Lig van die wêreld is, dus is dit deur Hom dat ons begrip verkry. Jesus vertel Sy volgelinge: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

Regdeur die Bybel word ons daaraan herinner dat, ten einde die verborgenhede daarvan te verstaan, ons die voorskrifte en opdragte daarin vervat, moet beoefen. In Psalms lees ons: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid (Psalm 111:10). Dis reg! Indien u gewillig is om die Bybel te bestudeer om te sien wat God van u verlang -- indien u die opdragte in Sy woord sal uitvoer en daarmee volhou, sal God u verstand open vir begrip!

Om ons begrip van hierdie geheimsinnige boek te verbeter, laat ons begin by die begin. Die boek begin met die woorde: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus -- alles wat hy gesien het” (Openbaring 1:1-2).

Christus se openbaring, nie Johannes s’n nie

Die heel eerste feit wat ons in hierdie boek leer, is dat dit die openbaring van Jesus Christus is -- nie dié van die apostel Johannes nie, soos dit in die opskrif van u Bybel (deur die Bybelvertalers aangebring) staan nie. Ons let ook op die doel van Jesus se openbaring: om aan Sy diensknegte dinge aan te toon wat binnekort moet plaasvind. Die doel van hierdie moeilik verstaanbare boek, is nie om die waarheid te verberg nie, maar om gebeure te onthul wat lei tot Christus se wederkoms! U moet weet wat daardie gebeure is en hoe dit aan die “geliefde apostel” te kenne gegee is.

Johannes het die geïnspireerde woorde van God neergeskryf terwyl hy verban is na die eiland Patmos, naby die suid-westelike kus van Turkye in die Egeïese See. Patmos is in die eerste eeu gebruik as ’n Romeinse strafkolonie. Johannes skryf: “Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus” (Openbaring 1:9).

Die meeste geleerdes plaas die tyd van Johannes se skrywe teen die einde van die eerste eeu, rondom 95 n.C. Die eindtyd gebeure rondom Christus se wederkoms en die vestiging van God se Koninkryk op aarde is aan Johannes in ’n visioen getoon. Hy het die gebeure gesien, wat lei tot die sewende basuin in die profetiese tydperk bekend as die “Dag van die Here”. Johannes skryf: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin”. Johannes praat nié van ’n dag van die week soos wat sekere kommentaarskrywers verkeerdelik onderrig nie! Johannes is in die Gees en in visioen gevoer na die tyd van die “Dag van die Here”, wat in meer as 30 profesieë in u Bybel voorkom.

Wat is die hoofgebeurtenis wat in Openbaring onthul word? Dit is Christus se wederkoms na hierdie aarde! Ons word vertel: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!” (Openbaring 1:7).

Ja, ’n tyd van oordeel is aan die kom. Die goeie nuus is egter dat diegene wat na Christus se wederkoms uitsien, verheug sal wees wanneer al die wêreld se koninkryke hulle met die sewende en laaste basuin aan die Koning van konings en Heer van here, Jesus Christus, onderwerp: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het” (Openbaring 11:15-17).

Onthou dat dit Christus is Wie ons hierdie openbaring deur die apostel Johannes gee. Johannes sien die troon van God in ’n visioen en skryf: “En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël” (Openbaring 5:1).

Die sewe seëls

Johannes het geween toe hy uitvind dat niemand waardig is om die boek oop te maak nie. Hy gaan voort: “Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek” (Openbaring 5:5). Die Leeu van die stam van Juda is Jesus Christus -- hier begin Hy die boek oopmaak wat met sewe seëls geseël is.

“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ’n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:1-2). So begin Openbaring 6, waarin ses van die sewe seëls beskryf word. Die eerste vier seëls is die bekende vier ruiters van Openbaring. Wat beteken hierdie seëls? Christus is die Openbaarmaker, daarom kyk ons na Hom vir die uitlegging. Een basiese sleutel tot die begrip van die Bybel is die beginsel dat “die Bybel homself uitlê” en in Mattheus 24 vind ons Jesus Christus se eie verduideliking van die tekens van die einde van die tyd en van die seëls se belang.

Sommige kommentare vertolk die eerste seël foutiewelik deur te sê dit beteken dat die Christendom die hele wêreld sal evangeliseer en dit geestelik sal oorwin. Wanneer ons egter Christus se woorde in Mattheus ondersoek, kom ons tot ’n heel ander gevolgtrekking. Jesus waarsku sy volgelinge: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:4,5). Vergelyk dit met Openbaring 6 en ons sien dat hierdie eerste perd en sy ruiter VALS Christusse en VALS godsdiens verteenwoordig.

Let op die verskil tussen hierdie eerste perd en sy ruiter en die beskrywing van die ware Christus met Sy wederkoms. Die eerste ruiter van Openbaring 6 dra ’n boog en een kroon. In teenstelling hiermee beskryf Openbaring 19:15 dat Jesus Christus na hierdie aarde sal terugkeer met ’n tweesnydende swaard en Openbaring 19:12 beeld Hom uit met BAIE krone. Duidelik is die man op die wit perd in Openbaring 6 NIE die ware Christus nie. Ons moet ag slaan op Jesus Christus se waarskuwing om op ons hoede te wees vir vals Christusse, vals messiasse en vals godsdiens.

Jesus se woorde in Mattheus verduidelik voorts die tweede ruiter: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheus 24: 6-7).

Die tweede ruiter van Openbaring 6 ry op ’n rooi perd. Ons lees: “En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee” (Openbaring 6:4). Die ooreenkoms met Christus se woorde in Mattheus is duidelik.

Die derde seël van Openbaring 6 beskryf ’n ruiter op ’n swart perd wat hongersnood in die wêreld onthul. Die vierde seël verteenwoordig ’n ruiter aan wie die naam “dood” gegee is. Hy ry op ’n vaal perd wat pessiektes aandui wat op die hakke van hongersnood volg. Ja, hierdie is dieselfde hongersnode en pessiektes waarvan Jesus Christus in Mattheus 24:7 praat!

Die uitwerking van hierdie vier ruiters is vernietigend: “En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). ’n Kwart van die aarde se bevolking sal sterf! Hierdie is realiteite wat min mense gewillig is om in die gesig te staar, maar u Redder wil hê dat u weet wat voorlê -- Hy wil hê dat u in staat moet wees om voor te berei, vir u eie beswil en inderdaad vir u eie verlossing!

Die vyfde seël in Openbaring 6:9, beeld die martelary van die heiliges en vervolging van die Christene uit. Dit is ’n geskiedkundige feit -- in die eerste eeu na Christus het die Romeinse Ryk onder Nero duisende Christene vervolg en hulle vermoor -- maar dit verwys ook na ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk wat weereens ware Christene sal vervolg!

Na die Groot Verdrukking word die sesde seël geopen -- ’n reeks hemelse tekens. Die apostel Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Besef u die omvang van hierdie seël? Die aarde sal skud met ’n groot aardbewing. Mense sal vreesbevange wees vir meteoriete en asteroïde wat deur die lug trek. God sal hierdie aarde fisies skud om ons aandag te kry!

Ten aanskoue van hierdie groot vertoning van God se mag sal selfs diktators en despote verootmoedig word. Ons lees: “En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:15-17).

Hierdie skrikwekkende tekens lei die dramatiese Dag van die Here in. En wat word daardie dag genoem? “Die groot dag van Sy toorn”. Die Lam, Jesus Christus, sal toornig wees! Sommige belydende Christene vind dit moeilik om te aanvaar dat Jesus kwaad sal wees, maar hier sien ons dit duidelik -- Hy beskik oor die mag en die reg om rebelse nasies te oordeel. Hierdie nasies en alliansies sal gou leer dat hul militêre en politieke kragte swak en nutteloos is teen die goddelike mag van God! Hierdie mag sal nie slegs gedurende die sesde seël vertoon word nie, maar ook gedurende die sewende, laaste seël -- die groot dag van God se toorn, die Dag van die Here.

’n Raamwerk vir begrip

Ons moet die hoof profetiese gebeure verstaan wat ons ’n raamwerk gee vir die begrip van die boek Openbaring en die gebeure wat lei tot die wederkoms van Jesus Christus. Ons raamwerk begin met die Groot Verdrukking wat deur Jesus Self beskryf word: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Tot op hede het die wêreld nie die gevaar van ’n kernoorlog en selfs kernterrorisme uit die weg geruim nie en dit sal ook nie hierdie bedreiging kan hokslaan nie. Terselfdertyd staar die mensdom die steeds groeiende gevaar van biologiese en chemiese wapens van massavernietiging in die gesig!

Dit is ’n feit wat nie slegs aan top militêre en politieke krygskundiges bekend is nie; die Januarie 1999 uitgawe van die Reader’s Digest, het ’n artikel bevat getiteld: “Are we ready for Bioterror? [Is ons gereed vir bio-terrorisme?]” Die artikel verduidelik dat die Verenigde State onvoorbereid is op sulke aanvalle en het die Sekretaris van Verdediging, William Cohen, aangehaal waar hy openlik erken dat ’n biologiese aanval op die VSA “ tans nie slegs ’n skrale moontlikheid nie, maar ’n werklike waarskynlikheid is. Stel jou die verskrikking voor!”

Hierdie Groot Verdrukking is ’n tyd met geen gelyke in die mensdom se geskiedenis nie. Die profeet Jeremia beskryf die uniekheid en hewigheid van daardie tyd: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Dit sal die tyd van God se straf wees op die Verenigde State, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en mense van Britse afkoms. Die Groot Verdrukking is die tyd van Jakob se benoudheid!

Ons moet gereed wees vir daardie tyd en op die uitkyk wees vir wanneer dit aanbreek. Soos Jesus sê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Terwyl ons wag, moet ons na aan God en Sy Seun, Jesus Christus bly! Hoe doen ons dit? Jesus sê vir ons in hierdie vers: “bid altyddeur”.

Indien u nie reeds in die gewoonte is van daaglikse gebed nie, sal u vind dat om die Bybel te lees u sal help om te bid. Waaroor moet u tot God bid? Jesus gee die antwoord in Lukas 11, waar Hy aan die dissipels die “modelgebed” as riglyn gegee het van die areas waaroor ons met God moet kommunikeer.

Die Psalms kan ook ’n hulp tot gebed wees. Baie van die Psalms is self gebede en soos u hulle lees, sal u vind dat hulle u eie hartlike gedagtes teenoor God aanraak, sowel as u tekortkominge, vrese en ander aspekte van u intieme, persoonlike verhouding met u Skepper. Indien u Jesus se vermaning nakom en altyddeur bid, sal u ’n verhouding met Hom bou wat u sal onderhou selfs al ontvou die sewe seëls van Openbaring en kom die Dag van die Here nader.

Daardie sewende seël, die Dag van die Here, bevat sewe “basuin regsprake” of plae. “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Hierdie basuine is die waarskuwings-trompette, wat die plae of regsprake wat ophande is, aankondig.

Soos ons deur Openbaring 8 lees, sien ons dat verskriklike ekologiese verwoesting die aarde plunder en skrikwekkende tekens in die hemele voorkom, terwyl die eerste vier engele hul basuine blaas. Plantegroei verbrand, die see verander in bloed en seelewe sterf, bitter water veroorsaak baie se dood en die son en maan verduister.

Drie weë

Ná hierdie eerste vier plae, bereik ons die laaste drie, naamlik die “weë,” wat uitroepe van smarte is. Ons lees: “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas” (Openbaring 8:13).

Openbaring 9 beskryf die eerste wee, of die vyfde basuinplaag. Die vyfde engel blaas die basuin wat ’n vyf maande lange militêre optrede ontketen. Hoewel die apostel Johannes leef in ’n tyd vóór moderne militêre wapentuig, gebruik hy die taal en simboliek van sy dag om ’n onheilspellend akkurate beeld te skep van ’n moderne militêre skermutseling.

Die tweede wee, of die sesde basuinplaag, is uitgebeeld met simbole van perde en ruiters. Dit illustreer die verskriklike gevolge van ’n massiewe teenaanval na die eerste wee: “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:15-18).

Ja, die boek Openbaring toon duidelik aan dat hierdie fase van die finale wêreldoorlog biljoene mense sal dood -- een volle derde van alle mense op aarde!

Die Sewende Basuin

Uiteindelik, nadat ses basuine verskriklike verwoesting aangekondig het, blaas die sewende basuin, wat die goeie nuus aan God se mense, sy getroue dienaars, aankondig: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Met hierdie finale basuin, sal die jaarlange Dag van die Here eindig in die wonderlike aankondiging dat Jesus Christus kom om al die koninkryke en regerings van hierdie wêreld oor te neem. Dit is die goeie nuus wat alle Christene na uitsien om te hoor.

Maar hoe sal die nasies van die aarde reageer? Sal die meerderheid van die mensdom Christus met ope arms ontvang? Nee! Verbasend genoeg sal hierdie dwase nasies teen Christus oorlog voer met Sy wederkoms: “En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18).

Die nasies sal kwaad wees oor Christus se wederkoms -- hulle sal selfs teen Hom oorlog voer wanneer Hy en Sy leërskare uit die hemel neerdaal! Maar die nasies van die aarde sal heeltemal oorwin word, tot so ’n mate dat hul bloed soos ’n rivier sal vloei (vergelyk Openbaring 14:19-20).

In teenstelling sal Christus se getroue dienaars hul beloning en erfdeel ontvang. Wat is daardie beloning? Ons lees “… en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Openbaring 20:4). Ja, diegene wat Christus in hierdie tyd getrou gedien het, sal Hom in Sy duisend jaar heerskappy op aarde dien, ’n tyd wat ons die Millennium of die “Wêreld van Môre” noem. Sy heerskappy sal vrede op aarde bring. Dit sal regverdigheid en reg, heling en versoening beteken.

Indien God u roep, kan u uitsien na Christus se wederkoms en die opstanding van Sy volgelinge. Soos die apostel Johannes skryf: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Die boek Openbaring, hoewel dit deur baie mense misverstaan word, ontsluit hierdie verbasende waarhede vir diegene aan wie God begrip verleen het. Deur hierdie boek te lees, vind ons dat baie gebeure eers moet plaasvind voordat Jesus Christus terugkeer en dit maak dit duidelik dat hierdie ware “Millennium” nie in die jaar 2000 of 2001 begin het nie. Die Millennium waarop Jesus Christus se volgelinge wag, is baie meer betekenisvol -- dit sal ’n oorgang wees na ’n tydperk van God se volmaakte regering op hierdie aarde, soos in hierdie verborge en wonderlike boek verduidelik word!