Yousuf Karsh, ’n Armeens-Kanadees, was een van die bekendste fotograwe van portrette gedurende die twintigste eeu. In 1951 het hy die geleentheid gehad om die portret van ’n pragtige jong prinses te neem, die erfgenaam van die Britse troon. Die amptelike portret van prinses Elizabeth is geneem, net ses maande voor die dood van haar vader, koning George VI, wat haar toe in die rol van koningin van Engeland en dus ook die koningin van Kanada geplaas het. Karsh het min geweet dat toe hy hierdie eenvoudige maar gesogte taak aangepak het, hy homself in die middel van ’n vlaag van spekulasie en getwis sou bevind.
Nadat Elizabeth II die troon bestyg het, het die Bank van Kanada begin om die land se geld-eenheid op te dateer. ’n Pragtige reeks landskapfotos van Kanada was gekies vir die agterkant van die nuwe banknote en Karsh se foto is gekies vir die voorkant van die note. Daar was egter ’n probleem – die diamant-tiara was op die koningin se kop. Aangesien Karsh se foto reeds op die Kanadese twee-sent-posseël was, is daar besluit dat die tiara verwyder behoort te word en die beeld omgekeer moes word om die banknote van die seëls te onderskei.
Bridgen’s Limited, ’n grafiese kunsfirma in Toronto, het die oorspronklike portret se fotografiese negatief gemanipuleer om die kopstuk te verwyder en die koningin se beeld om te draai. Die Bank van Kanada het die British American Bank Note Company opdrag gegee om die graveerplaat van die banknote te graveer. Die meestergraveerder George Gundersen, was aangestel om die gewysigde Karsh-foto op kleurstaaldrukplate te reproduseer. Die Bank van Kanada het die finale goedkeuring vir die nuwe banknootreeks gegee en twee maatskappye – die American Bank Note Company en die Canadian Bank Note Company – het vroeg in 1954 die papiergeld begin produseer. In die herfs van daardie jaar is die nuwe banknote amptelik aan die Kanadese publiek beskikbaar gestel.
Is die duiwel letterlik in detail?
Die nuwe note was nie lank in omloop nie voordat iets verwarrend opgemerk is. Tussen die krulle van die koningin se hare, rondom die area naby haar oor, was iets wat sommige mense as die grynsende gesig van ’n demoon gesien het! Hierdie ongelooflike ontdekking was in koerante regoor Kanada en selfs internasionaal geopenbaar.
In die 1950’s was die Tweede Wêreldoorlog nog vars in die meeste mense se geheue. Die oorlog het minder as ’n dekade tevore geëindig en dit was ’n tyd van verskriklike wêreldwye onrus en intrige. ’n Groot deel van die wêreld was absoluut ingestel op enigiets wat na politieke bedrog gelyk het. Die media het net soos vandag, na enige storie gegryp wat tot sensasie kon lei. Daar was ook soos deesdae gespekuleer oor sameswerings wat gewoonlik bose motiewe impliseer.
Samesweringsteorieë kan boeiend wees, aangesien dit ’n poging is om ’n raamwerk te voorsien om sin te maak van dubbelsinnige, verwarrende en emosionele situasies in ons samelewing wat skynbaar normaliteit te bowe gaan. Sulke teorieë probeer verduidelik wat onduidelik lyk deur die “egte” waarheid te openbaar. Die Internet en sosiale media maak dit deesdae maklik om sameswerings te skep en te versprei. Soos die geval van die “duiwelskop”-banknote ons egter herinner, is sameswerings-teorieë nie nuwe verskynsels gekoppel aan ons moderne metodes en tegnieke nie.
Wie sou egter deur sameswerings-teoretici verantwoordelik gehou word vir so ’n gruwelike aanval op die Britse monargie? Sameswerings-teorieë was volop aangaande hierdie saak. Kon dit dalk anti-monargiste, sataniste of buitelandse indringers wees – of dalk al drie? Het die samesweerders dalk van binne die Kanadese regering, die Bank van Kanada, Bridgen’s Limited of die British American Bank Note Company, gewerk om ’n subtiele – of miskien ’n ópenlike – boodskap te stuur? Was daardie boodskap bedoel vir die Kanadese publiek of die Britse monargie?
’n Vergelyking van Karsh se oorspronklike portret en die Gundersen-gravure toon ’n merkwaardige reproduksie wat getuig van Gundersen se indrukwekkende vaardigheid. Die opknapping van die negatief deur Bridgen’s Limited het nie uitgebrei na die kontroversiële area van die koningin se hare by haar linkeroor nie. Indien dit wel ’n komplot was – ’n sameswering – sou dit die koningin self moes betrek of ten minste die persoon deur wie haar hare gestileer is op die dag wat die foto geneem is.
Was die “duiwelskop”-banknoot dus ’n sameswering? Nee! Die spektakel was alles dwaasheid – ’n oordrewe en irrasionele bloot toevallige reaksie wat in ’n gevaarlike politieke situasie sou kon ontaard. Geen sameswering of skelmstreke nie.
Die bank van Kanada het begin om die gravering te wysig en die sonstrepies in die koningin se hare wat mense aanstoot gegee het, is effens aangepas en donkerder gemaak, wat die probleem opgelos het. Die drukkers het gewysigde kleurplate begin gebruik om meer aanvaarbare banknote te produseer (waarop die jaar 1954 steeds verskyn). Deesdae word ongewysigde 1954-banknote hoog aangeslaan deur versamelaars, met note wat in ongesirkuleerde toestand is – dikwels by verkope of veilings vér bo die nominale waarde gewaardeer.
Die oplossing vir die duiwel se misleidings
Wat kan ons leer uit die “duiwel se kop” onenigheid? Die belangrikste is dat ons die lens van God se Woord moet gebruik om ons waarneming van alle ander inligting in kennis te stel. Satan en nié God nie, is die outeur van verwarring en hy is ’n meester van wanorde! Waar chaos en gekonkel oorvloedig is, kan ons seker wees dat Satan met sy bedrog teenwoordig sal wees deur verwarring te skep, emosies aan te hits en verdeeldheid te saai. Wanneer ons nie al die feite kry en daardie feite vanuit ’n perspektief van Bybelse waarheid benader nie, kan ons maklik tot die verkeerde gevolgtrekking kom. God het ons deur die profeet Jesaja gewaarsku en hom geïnspireer om die volgende in die Skrif aan te teken: “Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie” (Jesaja 8:12).
Satan is baie skerpsinnig en uiters slim. Hy weet hoe om ons aandag af te lei en verwarring te skep. Hy kan ons “duidelik” laat sien wat duidelik nié daar is nie. Dit is nodig dat ons bewus is van Satan se planne om te verhoed dat ons voor sy dwaasheid swig. Daar is egter meer om te doen as om onsself net teen Satan te beskerm. Om ons te help om die waarheid van die leuens te onderskei, is God se boodskap aan Jesaja (en aan ons!) om op Hom te fokus: “Die Here van die leërskare – Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees” (vers 13)!
Ons moet leer om God te eerbiedig, Hom bo alles te gehoorsaam en te eer. Wanneer ons ons fokus verskuif van die dubbelsinnige, verwarrende en emosioneel “uitlokkende” afleidings van hierdie wêreld na God toe, sal ons beloon word met vrede en sekerheid, soos beskryf in Spreuke 14:26-27: “In die vrees van die Here lê ’n sterk sekerheid, ook vir die kinders van sodanige sal daar ’n toevlug wees. Die vrees van die Here is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.”
Daar is ’n magdom van sameswerings en intriges in hierdie wêreld. Die meeste daarvan is blote skelm streke van die duiwel wat ontwerp is om verwarring te skep en ons fokus weg te lok van waar dit behoort te wees. Wanneer ons op God en Sy Koninkryk fokus (Matthéüs 6:33), sal Sy Woord ons lei om te onderskei tussen waarheid, leuens en dwaling. Satan mislei deesdae die oorgrote meerderheid van mense in ons samelewing.
Indien u meer wil leer met betrekking tot hierdie misleiding, lees ons kragtige Bybelstudiegids: Satan se Vervalste Christendom. Satan is inderdaad ’n vervalser, maar hy werk op ’n vlak wat min mense deesdae herken. Lees dit self aanlyn by wvm.co.za of skryf aan die streekkantoor naaste aan u (lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) om u gratis gedrukte eksemplaar te ontvang.


