U besit heel moontlik ’n Bybel. Het u dit al werklik bestudeer? Indien u nie weet hoe om u Bybel te bestudeer nie, sal dit ’n raaisel vir u bly en u sal in gebreke bly om die mees opwindendste, gedagte-verrykende inligting en kennis wat die wêreld nog ooit geken het, te bekom!

Meer as 100 miljoen Bybels word jaarliks oor die wêreld heen verkoop. Verstaan enigeen egter werklik die Bybel? Kan u dit verstaan? In hierdie artikel sal ons sewe eenvoudige maar nogtans wesenlike beginsels bespreek wat u kan help om hierdie wonderlike boek te bestudeer.

Indien u al lank die Wêreld van Môre lees, dan lees u waarskynlik u Bybel dikwels. Hoeveel ander mense doen dit egter? Die Barna-navorsingsgroep het in 2005 berig dat slegs 45% van alle Amerikaners die Bybel in ’n tipiese week gelees het. Die lees van die Bybel het in die afgelope dekades afgeneem. Wanneer ’n nasie die Woord van God lees en volgens die voorskrifte daarvan handel, sal dit floreer. Grootskaalse verontagsaming van die Bybel en sy leerstellings sal voortgaan om morele verval mee te bring – en uiteindelik nasionale vernietiging.

Daniël Webster, die groot Amerikaanse staatsman, het hierdie waarskuwing aangaande sy nasie se toekoms gegee: “Indien daar enigiets in my denke of styl is wat aan te beveel is, kom die krediet my ouers toe wat in my ’n vroeë liefde vir die Skrif ontwikkel het. Indien ons bly by die beginsels wat in die Bybel geleer word, sal ons land voortgaan om te floreer en welvarend te wees, maar as ons en ons nageslag die opdragte en die gesag daarvan verwaarloos, kan geen mens voorspel hoe vinnig ’n ramp ons mag oorweldig en al ons roem in absolute vergetelheid begrawe word nie” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Ons in die Westerse samelewing behoort Webster se waarskuwing baie ernstig op te neem. Ons behoort die Bybel te bestudeer en daarvolgens te lewe. Soos Jesus sê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Slegs gehoorsaamheid aan en liefde vir God se Woord kan tot morele en nasionale voorspoed lei.

Het u die Bybel lief? Antieke Koning Dawid het die Skrifte wat tot sy beskikking was liefgehad. Hy sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Ons het almal daardie lamp en lig nodig!

Hoe kan die bestudering van God se Woord vir u tot nut wees? Heel eerste moet ons verstaan dat die Bybel die mees belangrikste boek in die wêreld is! Dit onthul die werklike betekenis en doel van die lewe. Dit voorsien beginsels vir ware sukses, vervulling en lewensvreugde. Dit verduidelik waarom ons wêreld so verward is en in gevaar verkeer. Die profesieë daarin onthul die toekoms, insluitend die komende Koninkryk van God op hierdie aarde. Dit sê vir ons hoe om voor te berei vir die groot gebeure wat kom. Die Skrif leer ons hoe om op ’n goddelike manier met ons naaste oor die weg te kom. Dit openbaar aan ons die weg na die lewe anderkant die dood – die ewige lewe.

Ons kan nie bekostig om te lewe sonder die ongelooflike geestelike waarhede en voordele wat die Bybel ons bied nie. ’n Gallup-meningspeiling het bevind dat 82% van diegene in Amerika wat deelgeneem het, die Bybel die “werklike” of “geïnspireerde” Woord van God noem. Slegs 68% van die Kanadese deel hierdie sienswyse.

Selfs onder diegene wat beweer dat hulle die Bybel glo, laat hulle kennis oor die inhoud daarvan egter veel te wense na. Ons sou verwag dat godsdienstige persone die eerste vier boeke van die Nuwe Testament moet ken. ’n Ander meningspeiling het egter bevind dat 63% van Amerikaners nie al vier evangelies, Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, kon opnoem nie.

Kommentator Gary M. Burge beklemtoon die wesenlike rol wat die Skrif moet speel om ons te help onderskei tussen waarheid en dwaling. In ’n artikel in Christianity Today, herinner hy ons: “Om hierdie hulpbron ter syde te stel – deur die Bybel te verwaarloos – is om die hoogste gesag waarop ons geloof gebaseer is, van ontslae te raak. Ons word kwesbaar gelaat, sonder die vermoë om die leerstellings van diegene wat ons aanmoedig om hulle te volg, te kan kontroleer” (“The Greatest Story Never Read,” 9 Augustus 1999).

Dit is nodig dat ons gegrond is in suiwer en fundamentele waarhede! Ons durf nie “die hoogste gesag waarop ons geloof gegrond is verwyder nie”. Die oplossing vir hierdie probleem is voor die hand liggend: Ons moet die Bybel lees!

Wanneer is die laaste keer dat u u Bybel oopgemaak het? Indien u ’n gereelde leser van hierdie tydskrif is, mag dit slegs ’n paar oomblikke gelede gewees het. Volgens bogenoemde meningspeiling sê 41% Amerikaners egter dat hulle selde of ooit hul Bybels lees. Slegs 16% het gesê dat hulle elke dag die Bybel lees. Ons behoort egter almal die Bybel daagliks te lees. Bybelse waarhede en Bybelse kennis dra by tot nugter denke – en die wêreld het mans, vrouens en kinders met ’n gesonde karakter en suiwer geestelike gesondheid nodig!

Die Bybel is ’n pakhuis vol waardevolle skatte. Hoe kan ons die skatte wat hierdie wonderlike boek bevat, oes? Aangaande ware kennis belowe die Bybel ons: “... as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand ...)” (Spreuke 2:4-6).

In hierdie artikel gaan ons sewe beginsels vir Bybelstudie oorweeg. Hulle sal u help om God se wysheid te bekom. U sal die Skepper-God se verstommende plan vir die hele mensdom soveel beter begryp, indien u hierdie sleutels sal aanwend om die lewensbelangrike waarhede van die Bybel – wat relatief min mense verstaan – te ontsluit.

Beginsel 1: Die Bybel is ’n volledige boek.

Baie mense kan nie regtig die Bybel verstaan nie omdat hulle die eerste 39 boeke daarvan – die Ou Testament – weggooi. Wanneer Jesus egter die Skrif aangehaal het, het Hy uit die Ou Testament aangehaal. In die woestyn, tydens Sy geweldige geestelike stryd met Satan, die Duiwel, het Jesus uit Deuteronomium 8:3 aangehaal toe Hy gesê het: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Daardie diepsinnige waarheid is absoluut fundamenteel vir mense se geluk – en hul ewige lewe!

In sy brief aan die jong Timotheus, skryf Paulus van die opregte geloof wat hy in Timotheus se grootmoeder Loïs en in sy ma Eunice gesien het. Daardie twee godvresende vroue het Timotheus die Skrifte vanaf sy kinderdae geleer. En, wat was daardie Skrifte? Die eerste 39 boeke van die Bybel! Die Nuwe Testament was toe nog nie geskryf nie. Paulus herinner Timotheus daaraan: “... dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheus 3:15). Timotheus was in staat om verlossing te verstaan deur die boeke van die Ou Testament en deur Jesus Christus te aanvaar as sy Saligmaker.

Die Bybel is ’n volledige boek. Dit begin met Genesis en eindig met Openbaring. In werklikheid waarsku God ons: “As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openbaring 22:18-19). Wees op u hoede vir enigeen wat sê dat enige ander boek “’n verborge deel van die Bybel bevat” of dat dit “noodsaaklik is om die Bybel te verstaan”.

Moet nooit vergeet dat toe Jesus aan ons die twee groot gebooie geleer het, Hy dit uit die Ou Testament aangehaal het nie! Die eerste groot gebod, dat ons God moet liefhê met ons hele hart en siel en gees, is opgeteken in Deuteronomium 6:5. Die tweede groot gebod, dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, kom uit Levitikus 19:18. Jesus het nie iets nuuts uitgedink toe Hy dit gesê het nie; albei is voorskrifte uit die Ou Testament en is gebooie van God!

Eerlikwaar, ons kan nie God se plan verstaan tensy ons die hele Bybel as God se Woord bestudeer nie. Om die Bybel te kan verstaan, moet ons beide die Ou en die Nuwe Testamente lees.

Die Bybel is God se geskenk aan die hele mensdom. Waardeer ons dit regtig soos ons dit moet doen? Indien ons dit doen, moet ons regtig die Bybel gereeld bestudeer. Die Amerikaanse President Abraham Lincoln het hierdie opmerking oor die Bybel gemaak: “Ek glo die Bybel is die beste geskenk wat God ooit aan die mensdom gegee het. Al die goeie dinge van die Verlosser van die mensdom word aan ons oorgedra in hierdie boek” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Beginsel 2: Die Bybel is altyd toepaslik

Sommige mense glo dat aangesien die Bybel meer as 1,900 jaar gelede voltooi is, dit nie meer vandag op ons toepaslik kan wees nie. Daardie veronderstelling is verkeerd! Soos wat hierdie tydskrif reeds oor die jare in dosyne artikels bewys het, is die Bybel nie net toepaslik op ons vandag nie, maar dit onthul ook die mensdom se toekoms en ons wonderlike lotsbestemming. Die goeie nuus is dat die mensdom sigself nie heeltemal sal vernietig nie. Jesus se Wederkoms sal op die mees gevaarlikste tydstip van die mensdom se geskiedenis plaasvind om ons van onsself te red. Ja, ons sien uit na die einde van hierdie “huidige bose wêreld” – die einde van hierdie tydvak en die begin van ’n nuwe tydvak, wat ons in hierdie tydskrif die “Wêreld van Môre” noem. Jesus sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Die evangelie van die Koninkryk van God is altoos toepaslik!

Die Gallup-organisasie het bevind dat 65% Amerikaners saamstem dat die Bybel “alle of ten minste die meeste van die basiese lewensvraagstukke beantwoord”. Ja, die Bybel is toepaslik – dit beantwoord wel die lewe se mees basiese vraagstukke!

’n Barna Aanlyn-navorsingstudie het bevind: “By huishoudings wat ’n Bybel besit, is die tipiese telling drie Bybels per huishouding. Verder, “bykans elke huishouding in Amerika (92%) besit ten minste een kopie van die Christelike Bybel. Dit sluit die meeste huise in, selfs waar die volwassenes nie aktiewe Christene is nie, asook die huise van honderde duisende ateïste”.

Indien daar enige ateïste is wat hierdie artikel lees, daag ek u uit om u Bybel oop te maak, as u een het, en dit eenvoudig te begin lees! Ek dink u sal verbaas wees oor die duidelike en grondige beginsels wat u vir ’n suksesvolle lewe sal vind. Twyfel u aan Jesus Christus? Begin eenvoudig die boek van Mattheus lees en gaan dan voort om die ander drie verslae oor Sy lewe op die planeet Aarde te lees (Markus, Lukas en Johannes). Lees hul ooggetuie verklarings en bewyse met ’n oop gemoed. Indien u leef in ’n huishouding met drie of meer Bybels, moedig gerus elke lid van u gesin aan om die Bybel te lees. Dit kan u lewe dramaties ten goede verander!

Beginsel 3: Die Bybel verklaar die Bybel

Ons het reeds hierdie beginsel in vorige artikels bespreek en dit is lewensbelangrik. Dit hang af van hoe u dit bereken, maar tussen ’n kwart en een derde van u Bybel is profesieë. Hoe kan u egter die simboliese taal wat dit dikwels gebruik verstaan? Neem as voorbeeld die boeke Daniël en Openbaring wat ryk is aan geheimsinnige beeldspraak wat baie min mense deesdae verstaan. Indien u egter hierdie wesenlike beginsel verstaan dat die Bybel sigself verklaar, dan kan u dit verstaan!

In vorige artikels het ons voorbeelde van die simbolisme van Openbaring bespreek. Let daarop dat die sterre waarna verwys word in Openbaring 1:20, die engele van die sewe kerke simboliseer. Die sewe lampe simboliseer die sewe kerke. In Openbaring 17 lees ons dat die apostel Johannes, in ’n visioen, ’n dier sien wat deur ’n hoer gery word. Johannes skryf: “En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:3). Sy word genoem: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 5). Vers 6 verklaar dat hierdie vrou ware Christene vervolg.

Hoe moet ons dit alles verstaan? Die verse wat hierop volg gee aan ons die betekenis van die simbole. Vers 12 openbaar byvoorbeeld die betekenis van die tien horings van die dier: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier.” Verder vertel vers 18 aan ons: “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.” Watter stad is dit? Om meer te wete te kom oor hierdie verbasende profesie en die toepaslikheid daarvan op ons tyd, vra asseblief om u gratis kopie van ons boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid. Skryf aan die streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 van hierdie uitgawe, of lees dit aanlyn op ons Webtuiste www.wvm.co.za.

Dit gebeur soms dat die Bybel ’n simboliese woord gebruik waarvan die betekenis miskien nie in die volgende sin gegee word nie. Wanneer dit gebeur, onthou die vierde beginsel:

Beginsel 4: Bestudeer al die Skrifgedeeltes oor ’n besondere onderwerp

Bybelstudente – en onderwysers – wat nie hierdie beginsel toepas nie, eindig dikwels deur valse en misleidende leerstellings te glo. Neem, as ’n voorbeeld, die twispunt wat dikwels beskryf word as “die wet of genade.” Beteken God se genade dat ’n Christen ’n lewe van algemene sonde mag leef en blatant ongehoorsaam mag wees aan sy Redder? Natuurlik nie! Jesus sê tog: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Jesus gaan dan voort om verskeie van die Tien Gebooie op te noem.

Onthou, die Bybel weerspreek sigself nie. Jesus sê self: “... die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). God se genade gee nie aan ons toestemming om God se wet te oortree nie. Die apostel Judas waarsku teen valse leraars: “Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe” (Judas 4 NV). DieAnchor Bible Dictionary stel dit so: “Paulus maak dit duidelik dat God se genade bevryding van sonde bring, nie bevryding om sonde te doen nie” (“Antinomianism,” vol. 1, bl. 263). U kan dit vir uself lees in Romeine 6:1-2.

Sommige agtelosige Bybelstudente verstaan Efesiërs 2:15 heeltemal verkeerd, naamlik dat God se Tien Gebooie en Sy morele Wet tot niet gemaak is vir Christene. Daardie vers lees: “... deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan”. Indien ons egter noukeurig na hierdie vers kyk, sal ons sien dat die woord wat vertaal word as “insettinge” – dogma in Grieks – verwys na mensgemaakte wette wat baie Jode in Christus se tyd aangewend het om onderskeid te maak tussen hulle en die heidene. Die beginsel is om al die Bybelse verwysings oor ’n besondere onderwerp te bestudeer, sodat ons seker kan wees ons verstaan dit korrek. Kyk wat die outeurs van die NIV Study Bible oor hierdie vers geskrywe het. “Omdat Mattheus 5:17 en Romeine 3:31 verkondig dat God se morele standaarde soos uitgedruk in die Ou-Testamentiese wet nie verander is deur die koms van Christus nie, is wat hier afgeskaf is, waarskynlik die uitwerking van die spesifieke ‘gebooie en insettinge’ wat onderskeid gemaak het tussen Jode en heidene, aangesien hulle vir die Jode ritueel onrein was omdat hulle nie die Joodse wet onderhou het nie”.

Onthou ons eerste beginsel van Bybelstudie: “Die Bybel is ’n volledige boek.” Die NIV Study Bible se kommentaar stem ooreen met hierdie beginsel en erken dat Christus dieselfde wet wat Hy as die God van die Ou Testament afgekondig het, vervul het – eerder as afgeskaf het (Eksodus 20; 1 Korinthiërs 10:1-5).

Bestudeer die Skrifgedeeltes in sowel die Ou as die Nuwe Testament van u Bybel. Dan, om seker te maak dat u ’n duidelike begrip het van Bybelse waarhede, maak seker dat u al die Skrifgedeeltes oor die onderwerp wat u bestudeer, verstaan. Wanneer u dit ywerig en eerlik doen, sal u dikwels vind dat die “hoofstroom” leerstellings oor hierdie onderwerp nie ooreenstem met wat die Bybel werklik sê nie.

Beginsel 5: Verstaan die konteks

Wanneer u al die Skrifgedeeltes oor ’n onderwerp bestudeer het, gaan ’n bietjie verder. Lees al die Skrifgedeeltes rondom die vers wat u bestudeer. Byvoorbeeld, sommige mense glo verkeerdelik dat die Jerusalem-konferensie in Handelinge 15 die Tien Gebooie vir heidene afgeskaf het. Lees nou Jakobus se beslissing: “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (Handelinge 15:19-20).

Omdat die Apostels hierdie vier beperkings gespesifiseer het, het dit die heidene dan vrygestel om in enige ander opsig te sondig? Kon hulle nou maar die gebod oortree wat sê: “Jy mag nie doodslaan nie?” of dan: “Jy mag geen ander gode voor die ware God hê nie?” Natuurlik nie! Die Apostels het geensins die morele wet van God herroep nie. Om dit te verstaan, moet ons die konteks van hierdie verse lees en verstaan. Wat was die belangrikste vraag in hierdie twispunt? “En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie” (Handelinge 15:1).

Die saak onder bespreking in Handelinge 15 was die besnydenis. Die Jerusalem-konferensie het besluit dat dit nie nodig was vir heidene om besny te word ten einde gered te kan word nie. Die apostel Paulus het later aan die heidene in Korinthe geskryf: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korinthiërs 7:19).

Stel dit ’n uitdaging aan u vooropgestelde idees oor hierdie vers en die betekenis daarvan? Gans te dikwels sal predikante betroubare verduidelikings van die Skrif ignoreer om te fokus op emosionele en vroom opinies wat onvolledig is. Soos wat die kommentator Burge in sy voorgenoemde artikel in Christianity Today skryf: “Historiese Skrifuitlegging word vinnig ’n verlore kuns van die kansel af. Eerder as om die historiese agtergrond van ’n gedeelte te verduidelik, word teksverse gebruik as ’n afspringplek vir godsdienstige bespiegelinge. Bybelgedeeltes word uit konteks gehaal in die predikant se soeke na daardie stories wat die reaksies of gesindhede wat hy verlang, sal uitlok.”

Maak seker dat u die konteks verstaan deur al die verse te lees rondom die vers wat u bestudeer. Pas hierdie beginsel toe en u kan die slaggat vermy wat Burge beskryf.

Beginsel 6: Bewys alle dinge

Ons daag dikwels ons lesers uit om hul eie Bybels oop te maak en te kontroleer wat ons skryf. Moet nie dit wat ons in hierdie tydskrif publiseer as vanselfsprekend aanvaar nie. Lees dit in u eie Bybel. Christene word gemaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21), of “toets dit alles, behou wat goed is” (NV).

Slaan ag op die gesindheid van die Beréane, wat aangeprys word vir hulle positiewe, ondersoekende gesindheid deur die Skrifte te ondersoek. “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).

Een manier om te toets of te bewys, is om die beginsels en voorskrifte van die Bybel toe te pas. Jesus beklemtoon dit dat ons volgens die Bybel moet leef, “van elke woord van God.” Hy sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). U kan die Bybel toets of bewys deur die opdragte daarin vervat, uit te voer. Dit is hoe u ’n goeie begrip kan kry. Ons lees: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid;almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Psalm 111:10). Moontlik het u al onderwysers hoor praat van “leer deur te doen”? Hierdie beginsel is ook van toepassing in u Christelike lewe.

Beginsel 7: Bid om begrip

Hierdie beginsel is die grondslag waarop die eerste ses beginsels rus. Die Bybel beklemtoon dit dat ons ’n leerbare gesindheid moet hê. Antieke Koning Dawid was ’n man na God se eie hart (Handelinge 13:22). Let op Dawid se leerbare gesindheid wanneer hy om begrip bid: “Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4-5).

Onthou om te bid vir begrip wanneer u die Bybel lees of dit bestudeer. Bid om leiding. God seën diegene wat die Skrif respekteer en Sy heilige Woord eer. Almagtige God verklaar: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Die Bybel is die heel belangrikste boek in die wêreld. Indien u die lees van u Bybel verwaarloos het, is dit nou tyd om te verander. Lees dit daagliks. Indien u gesindheid reg is, sal u ryklik geseën word en u lewe sal verander word. Dit is soos Jesus sê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Johannes 6:63).

Die Bybel is nie net ’n boek vir vandag nie, maar is ook ’n boek vir die toekoms! Jesus sê immers: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:33). Dank God dat Hy Sy ontsagwekkende geestelike waarheid en die eintlike doel van die lewe, met ons gedeel het.