Reeds vir duisende jare kyk mense na die naghemel en verwonder hulle aan die sterre. In die Skrif lees ons van koning Dawid wat hom oor die hemele verwonder en sê: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Die sterre inspireer ons om ontsag te hê – dit wil voorkom dat hoe meer ons ontdek oor die hemele wat God geskep het, hoe meer sien ons hoe min ons in werklikheid weet.

Ons wil nog méér weet. Die James Webb-ruimte-teleskoop (JWST), wat in Desember 2021 gelanseer is, is die kragtigste ruimte-teleskoop wat nog ooit ontplooi is. So merkwaardig as wat die tegnologie daarvan mag wees, selfs nog merkwaardiger is die betowerende nuwe beelde wat dit vir ons gee, wat nuwe data voorsien en lankgekoesterde aannames oor ons heelal verdiep en selfs omvergooi.

Vir die grootste deel van die opgetekende menslike geskiedenis het die mensdom die sterre met die blote oog deursoek. Eers so onlangs as die vroeë 1600’s is die eerste teleskope gemaak, danksy die ontwikkeling van glaslense en ’n toenemende begrip van optika, wat Galileo in staat gestel het om vier van Jupiter se mane te ontdek en die teorie te weerlê dat alle hemelse voorwerpe om planeet Aarde wentel. Galileo moes egter deur die newel van die Aarde se atmosfeer waarneem. Byna 400 jaar sou nog verloop voordat die Hubble-ruimte-teleskoop (HST), wat meer as 330 myl  (528 km) bokant planeet Aarde wentel, hoë-resolusiebeelde in die sigbare ligspektrum – onbelemmerd deur die Aarde se atmosfeer – kon lewer. Ongelukkig het sterrekundiges kort nadat dit in 1990 gelanseer is, ontdek dat die HST se primêre spieël oneweredig geslyp was – ’n afwyking van slegs een-vyftigste van die dikte van ’n menslike haar was genoeg om die beelde wat dit versamel het, te vervaag en te verwring. NASA moes tussen 1993 en 2009 verskeie ruimtependeltuig-missies lanseer om die spieël te herstel en beskadigde en foutiewe HST-komponente te vervang. Die HST se werkverrigting was uitstekend maar sterrekundiges wou nog iets beters hê.

 

’n Baanbreker teleskoop

Anders as die HST, wentel die JWST nie om die Aarde nie, maar eerder ’n plek wat die L2 Lagrange-punt, genoem word, ongeveer 930,000 myl (1,488,000 km) ver weg van die aarde af – vanwaar dit om daardie punt sirkel en om die Son kan wentel terwyl dit in lyn met die Aarde bly. Met ’n deursnee van 21 voet (6,4 m)-spieël het die JWST ’n ligversamel-area van ongeveer 270 vierkante voet (25 vierkante meter), ongeveer ses keer die grootte van die HST. Dit kan voorwerpe opspoor wat 100 keer dowwer is as wat die HST kan opspoor. Terwyl die HST voorwerpe kan waarneem wat ongeveer 400 miljoen jaar terugdateer ná die begin van die heelal, kan die JWST voorwerpe waarneem ongeveer 220 miljoen jaar vroeër. Hoewel die JWST baie groter is, is sy gewig ongeveer die helfte van dié van die HST.

Die JWST se ontwerp sluit ’n sonskerm in wat die vaartuig skei in ’n warm kant wat na die Son wys met stelsels wat die krag, posisionering, kommunikasie en dataverwerking daarvan beheer. Dit het ook ’n koue kant wat die teleskoop, kameras en die elektronika bevat wat die vaartuig ondersteun. Danksy die sonskerm versamel die teleskoop data teen ’n temperatuur onder -370°F (-223°C), terwyl die sonpanele aan die Sonkant temperature bo 180°F (82°C) bereik. Die antenna wys altyd na die Aarde om die data wat  verwerk is aan boord van  die teleskoop te stuur. Dit mag rekenaarprogrammeerders dalk amuseer om te hoor dat hierdie multimiljard-dollar-vaartuig JavaScript-sagteware gebruik. Die JWST-rekenaar het 68 gigagrepe vastetoestandskyf (SSD) geheue vir korttermyn berging van die beelde en data wat deur die teleskoop versamel word voordat dit daardie data na die Aarde stuur. Ten spyte van die afstand, kan data die Aarde binne slegs 5 sekondes bereik, maar as gevolg van hulle grootte kan die JWST se hoë-resolusie-beelde van ’n paar minute tot ’n paar uur neem om af te laai, aangesien die teleskoop die data teen nie meer as 28 megagrepe per sekonde oordra – stadiger as baie moderne selfoon-verbindings. Daar is geen vooruitsig vir ’n opgradering nie – as gevolg van die afstand van die aarde, is die JWST nie diensbaar deur ruimtevaarders nie en moet in plaas daarvan staatmaak op afstanddiens deur aardse wetenskaplikes om kalibrerings en aanpassings uit te voer.

 

Ontdekkings en geheimenisse

Die JWST se eerste beeld – bekend as Webb’s First Deep Field – wat op 11 Julie 2022 geneem is, was revolusionêr en het meer besonderhede verskaf as wat sterrekundiges ooit tevore gesien het en die eerste van vele vrae laat ontstaan wat lankbestaande aannames oor die heelal uitdaag. Selfs daardie eerste beeld, wat in minder as 13 uur versamel is, het ’n dieper en meer gedetailleerde beeld van die heelal verskaf as wat vorige teleskope in weke se data-insameling kon verkry. Sterrekundiges het sterrestelsels gesien wat meer as 13 miljard jaar oud is – wat onmiddellik sommige sleutelbesonderhede van die “Oerknal”-teorie van die heelal se vorming in twyfel trek. Volgens vorige begrippe sou sterrestelsels nie so gou na die Oerknal kon vorm nie.

Sterrekundiges debatteer steeds oor wat die beelde beteken. Een verafgeleë ster, HD140283 (informeel bekend as die “Methuselah-ster”) se ouderdom word nou geskat op 14,46 miljard jaar oud – wat dit volgens huidige begrippe ouer maak as die sigbare heelal. Dit skep natuurlik ’n probleem vir huidige teorieë. Om al die nuwe data bymekaar uit te bring, stel sommige sterrekundiges nou voor dat die heelal byna twee keer so oud is as wat voorheen beraam is – 26,7 miljard jaar, in plaas van die 13,7 miljard jaar wat meer algemeen aanvaar word.

Ons behoort te onthou dat hierdie datums van miljarde jare gekoppel is aan die oorspronklike gebeurtenis van die skepping wat in Génesis 1:1 beskryf word, nie aan die res van die hoofstuk se beskrywing van God se herskepping van die heelal in die nadraai van die Sataniese rebellie wat die kosmos in tohu en bohu – verwarring en leegheid – gedompel het nie. Die Skrif sê vir ons dat die herskepping – nie God se oorspronklike skeppingsdaad nie – duisende jare oud is, nie miljarde nie, soos die uitvoerende redakteur Wallace Smith in sy artikel “Ons Bybelse ou aarde” in die Maart-April 2025-uitgawe van hierdie tydskrif verduidelik het.

Afgesien van die ouderdom van die heelal, daag ander JWST-metings langdurige teorieë uit wat steun op hipotetiese en onsigbare “donker materie” en “donker energie” om te verduidelik wat ons in die hemelruim sien. Ongeag of wetenskaplikes uiteindelik hierdie vrae sal oplos deur hulle begrip van die “rooiverskuiwing”-verskynsel te verander wat die ouderdom van voorwerpe wat van die waarnemer af weg beweeg, opspoor of deur die idee van “donker materie” te laat vaar of deur ’n heeltemal nuwe en nog-onontdekte teorie aan te neem – sal nog gesien moet word. Sleutelbesonderhede van wat sterrekundiges gedink het hulle weet, kan nie deur die JWST se verstommende nuwe bevindings ondersteun word nie.

Vir dekades was sterrekundiges net so vol vertroue in hulle teorieë oor die vorming van die heelal soos wat wetenskaplikes voorheen was oor alle hemelse voorwerpe wat om die aarde wentel, voordat Galileo se teleskoop voorwerpe waargeneem het wat om ’n ander planeet wentel. Met die enorme nuwe data wat deur die JWST verskaf word, ontdek wetenskaplikes weer hoeveel hulle nié weet nie.

Sulke tegniese besonderhede is egter ver buite die bestek van hoe die meeste waarnemers die JWST se sending waardeer. Ons kyk met ontsag en dankbaarheid na die verstommende skoonheid van die beelde wat deur die JWST vasgelê is – ongeag of dit van die ringe rondom Saturnus, Jupiter en Neptunus is of die antieke sterre, newels en sterrestelsels waarvan ons so min weet en ons verwonder ons oor wat God gedoen het.

Die hemele herinner ons ook aan ons bestemming – en aan ons missie as Christene. Wat sal die beloning wees van diegene wat God getrou dien? Ons lees: “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniël 12:3). Die dag sal aanbreek wanneer Christene, wie uit die dood opgewek is as lede van God se Goddelike Gesin, die heelal sal erf (Romeine 8:32; Hebreërs 2:8) en eerstehands selfs meer – oor die sterre van die uitspansel sal leer as wat selfs die beste mensgemaakte teleskoop kan openbaar.