Is u deeglik voorbereid indien u beplan om te trou? Hoe vaar u met u belofte indien u reeds getroud is?

Jesus Christus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”. Indien u getroud is, is u eggenoot u intiemste vriend! Indien u reeds getroud is, leef u Christus se opdrag uit? Het u die regte doelwitte en verwagtinge indien u beplan om te trou?


Wanneer ’n man en ’n vrou trou aan mekaar beloof, is daar dikwels ’n vreugdevolle byeenkoms om die begin van die nuwe gesin te vier. ’n Troue is ’n heuglike geleentheid, wat dikwels gepaard gaan met musiek, blomme, familie en vriende. ’n Huwelik is een van die belangrikste gebeurtenisse in ’n persoon se lewe. ’n Formele belofte wat in die openbaar afgelê word, is die begin van ’n leeftyd saam. Die bruid en bruidegom sê soms tradisionele woorde soos: “... in voorspoed en teëspoed, in rykdom en armoede, in siekte en in gesondheid, tot die dood ons skei”.

Is ons nog – individueel of nasionaal – aan daardie belofte gestand? Neem in ag dat daar in 2012, volgens die Sentra vir Siektebeheer 6.8 huwelike vir elke duisend mense in Amerika voltrek is – ’n afname van 9.8 per duisend in 2001. Daar was ook 3.6 egskeidings per duisend, wat beteken dat daar vir elke 1.8 huwelike, een egskeiding was! Kanada weerspieël hierdie selfde Amerikaanse tendens, met Statistiek Kanada wat verlede jaar berig het dat na verwagting, 43.1% Kanadese huwelike in egskeiding sal eindig – meer as die 39.3% ’n dekade gelede.

Wat van u? Ten spyte van die nasionale tendense kan u strategieë vir ’n suksesvolle huwelik toepas. Daar is werklik bewese, Bybelse strategieë om ’n suksesvolle huwelik vol te hou. Dit mag dalk nie maklik wees nie, maar die poging wat u aanwend kan tot groot belonings en ’n liefdevolle verhouding lei.

Vermy die “50-50” fout

Die ou gesegde: “Die huwelik is ’n 50-50 onderneming”, is totaal verkeerd! Ware liefde is om te gee sonder om enigiets in ruil te verwag. Wanneer twee mense albei100% gee, het ’n mens ’n sterk band, ’n sterk oorvleueling wat buigsaamheid gaan waarborg en die vermoë bied om krisisse en probleme te kan hanteer. Deur die 50-50 voorstel te aanvaar word ’n ingeboude swak skakel in u verhouding gewaarborg!

Lyk dit te moeilik? Neem die volgende vers wat die grondslag is vir gelukkige verhoudings en vir die karakter wat ons nodig het tot in alle ewigheid in aanmerking: “Ek het julle in alles getoon dat ons ... die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Of, soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang”.

Een van die grootste geskenke wat u kan gee, is u tyd! ’n Paar jaar gelede toe ek baie aktief besig was met sport, was ek geneig om my vrou af te skeep met die tyd wat ons saam kon deurbring. Ek onthou die keer toe ek besluit het om van my tyd aan haar af te staan om iets te doen wat vir haar lekker sou wees. Sy wou graag op ’n kanovaart gaan – wat nie een van my gunsteling aktiwiteite was nie, maar ons het op ’n Sondagmiddag met ’n kano op ’n Oos-Texas meer gaan vaar. Dit was omring deur dennebome, blou lug, watervoëls en vrede! Wat ek beskou het as ’n opoffering van my tyd, het gelei tot ’n verbeterde verhouding – my vrou het die aktiwiteit geniet en my poging waardeer. Soos Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang”.

God se lewenswyse is om te gee – die volwasse benadering tot die lewe en die huwelik. Die Bybel beveel ook egpare om seksueel aan mekaar te gee. In die eerste eeu het die apostel Paulus hierdie opdrag gegee aan heidene wat hulle bekeer het tot die Christendom en wat in die sedelose stad Korinthe gewoon het: “... maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie” (1 Korinthiërs 7:2-5 NV).

Is u bereid om hierdie opdrag na te kom? Betoon u toegeneentheid aan u eggenoot of eggenote? Eenvoudige drukkies en soentjies wanneer u vir werk vertrek en wanneer u terugkeer is belangrik. ’n Duitse versekeringsmaatskappy het ’n paar jaar gelede ’n verslag uitgereik waarin tot die slotsom gekom is dat mans wat hulle vrouens elke dag soen, minder geneig is om ongelukke te maak. Hulle is oor die algemeen finansieel ook meer suksesvol as mans wat nie hulle vrouens elke dag soen nie. Ek het toe seker gemaak dat ek my vrou elke oggend soen voordat ek vertrek vir werk. Een dag het ek vergeet en agteruit teen ’n boom vasgery. Nodeloos om te sê, ek maak seker dat ek haar elke oggend soen!

Dr. John A. Schindler het, terwyl hy kommentaar gelewer het oor die probleem van selfsug, geskryf: “Die enigste persoon wat in staat is tot ware liefde is die persoon wat homself en sy eie onmiddellike belange kan vergeet, terwyl hy die welsyn en belange van iemand anders eerste stel. Wanneer beide die man en die vrou dit kan doen, sal hulle geen huislike of seksuele probleme hê nie” (How to Live 365 Days a Year, bl. 142).

Hoeveel mans en vroue beoefen werklik daardie beginsel? Hoeveel Christelike mans en vroue beoefen werklik daardie beginsel?

Stel u huweliksmaat eerste

Waardeer u werklik u huweliksmaat? Let op God se opdrag: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Filippense 2:3).

Ja, u behoort u eggenoot hoër te ag en meer te waardeer as uself. Waardeer u maat as ’n potensiële kind van God. Soek en waardeer die positiewe eienskappe wat u in mekaar vind! Indien u u huweliksmaat mishandel het, fisies of verbaal, behoort u berou te betoon! U behoort uself voor God te verootmoedig en Hom om Sy vergifnis te vra. U behoort u maat om verskoning te vra! Ek weet dit is soms moeilik om te sê: “Ek is jammer”. ’n Verskoning kan baie doen om ’n verhouding te heel en te herstel!

Hoe betoon u eer en respek aan u eggenoot? Daar is baie maniere, soos om spesiale geskenke te gee, aandagtig te luister, dank te betuig en gewoonweg bedagsaam te wees met u woorde en u stemtoon.

Hoe geduldig is u? Geduld is ’n manier om liefde te betuig, soos ons leer uit 1 Korinthiërs 13, wat dikwels die “liefdeshoofstuk” genoem word. Ons lees: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, ...” (1 Korinthiërs 13:4-8 NV). Lees daardie hoofstuk. Bid dat God aan u die vermoë sal skenk om volgens daardie deugde te leef en om daarin te groei.

U kan u huwelik verbeter deur te luister, deur begrip te toon en deur ruimte aan mekaar te gee. U kan u huwelik verbeter deur u lewensmaat te eer en te respekteer! Let op hierdie uiters belangrike opdrag wat God aan die mans gee: “Net so moet julle, mans, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7).

God beveel die man om sy vrou te eer. Hou in gedagte dat julle saam “mede-erfgename van die genade van die lewe is”. U behoort te verstaan dat elke mens op aarde die potensiaal het om in die goddelike gesin van God as ’n verheerlikte, onsterflike kind van God gebore te word. Die apostel Paulus het ons aan God se plan vir ons herinner: “... en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18).

Stel ’n positiewe voorbeeld

Die apostel Petrus het Christene beveel om ’n goeie voorbeeld te stel, selfs aan hulle nie-Christelike lewensmaats: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het” (1 Petrus 3:1-2)

Onthou, u kan nie ’n ander persoon verander teen sy of haar wil nie, maar u kan uself verander!

Ons het almal Godgegewe verantwoordelikhede in ons huwelik en gesin. God beveel die mans: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het en Homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Kom u, as die man, u verantwoordelikheid na? Vir sommige huwelikspare is dit baie belangrik om mekaar se gedrag te oordeel om sodoende hulle eie gebrek aan getroue diens te verontskuldig. Onthou, ons sal almal voor die regterstoel van Christus verskyn, soos ons in Romeine 14:10 lees. Maak seker dat u u eie Godgegewe verantwoordelikheid as ’n man of vrou nakom!

Die boek Titus skets die Bybelse verantwoordelikhede vir Christen-vroue: “... sodat hulle [die ouer vroue] die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê” (Titus 2:4). Vervul u, as vrouens en moeders wat hierdie artikel lees, u Godgegewe verantwoordelikhede? Indien u dit wel doen, sal u ’n positiewe voorbeeld vir u man wees. God sal u pogings seën indien u Hom erken in u huwelik en as u Jesus Christus vra om Sy lewe in u te lei. Streef daarna om met God se hulp, die beste huweliksmaat te wees wat u kan.

Liefdevolle kommunikasie

Hoe dikwels vind ons dat paartjies “mekaar uitskakel” in hulle gesprekke? Effektiewe kommunikasie beteken om doeltreffend te luister sowel as te praat. Ons behoort te luister met begrip – probeer om die ander persoon se standpunt te verstaan. Probeer om die ander persoon se gevoelens en behoeftes te verstaan! Toon respek deur u volle aandag te gee.

Die apostel Paulus gee aan ons een van die basiese beginsels vir doeltreffende kommunikasie. “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof” (Efesiërs 4:15 NV). Sommige mense praat die waarheid in haat. Vir Christene wat egter volwasse is in Christus, sal omgee oor hoe hulle woorde diegene raak wat daarna luister.

Toon u meegevoel en besorgdheid wanneer u met u huweliksmaat praat? Kommunikeer u respekvol met mekaar? Ons behoort regtig met mekaar geduldig te wees. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik”. (1 Korinthiërs 13:4) Die NV stel dit so: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik”. Wees altyd daarop bedag om die waarheid in liefde te praat!

In ons bedrywige lewens mag dit gebeur dat huwelikspare in verskillende rigtings beweeg en skaars tyd het om met mekaar te praat.

Sommige studies het getoon dat baie egpare gemiddeld minder as 20 minute per week met mekaar gesels! Skrywers Leonard en Natalie Zunin stel die “vier-minute-reël” voor as ’n manier om munt te slaan uit die kort tydjie wat u saam mag hê. Hulle wys daarop dat die sukses of mislukking van ’n huwelik “kan berus op wat gebeur tussen ’n man en sy vrou gedurende net agt minute van die dag: Vier in die oggend wanneer hulle wakker word, en vier wanneer hulle na die werksdag weer by mekaar aansluit” (Contact: The First Four Minutes, bl. 133).

Die Zunins wys tereg daarop dat u taal, gesindheid, of uitdrukking aan die begin van die dag, u hele verhouding kan beïnvloed. Leer om ’n positiewe, liefdevolle gesindheid te hê vir die eerste vier minute wat u saam is aan die begin van die dag. Indien u hiermee moeite doen kan u ’n toevallige argument of ’n onnodige wrok wat die hele dag lank kan duur, voorkom. Skenk ook veral aandag aan wanneer u weer aan die einde van die dag saam is. Selfs al is u moeg, kan ’n positiewe woord van bemoediging of waardering, ’n drukkie of ’n soen, vir die res van die aand ’n groot verskil aan u verhouding maak.

Bid Saam

Baie van u wat hierdie artikel lees, is moontlik met ’n ongelowige huweliksmaat getroud. Indien dit so is, is u dalk nie in staat om saam met u huweliksmaat te bid nie – maar u kan bid vir u huweliksmaat en vir die sukses van u huwelik! Soos vroeër genoem, kan u ’n Christelike voorbeeld vir u maat wees. Die Skrif gee die volgende opdrag aan vroue wat nie-Christelike mans het: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1). U liefdevolle, Christelike voorbeeld van gee, kan baie bydra daartoe om u maat positief te beïnvloed. Let daarop dat die klem op u gedrag val en nie daarop om te probeer om u lewensmaat met argumente van u geloof te wil oortuig nie!

Indien u en u huweliksmaat albei bid, kan u natuurlik saam bid. Wanneer ek en my vrou saam bid, begin ek gewoonlik die gebed en sal dan na ’n kort rukkie aan my vrou raak. Sy sal dan verder bid en wanneer sy klaar is, sluit ek ons gebed af. Dit is net ongelooflik watter intieme en persoonlike gedagtes uitkom in ons gedeelde gebede. Op dié manier deel ons met mekaar en met ons God.

Een van my vrou se gunsteling uitdrukkings is: “Kom ons bid daaroor”. Ek waardeer haar gewilligheid om God te betrek in ons huwelik en in ons lewe saam. Ons behoort almal God en ons Verlosser in elke aspek van ons lewens te erken. Die Skrif vermaan ons: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

’n Huwelik vereis werk, inspanning en voortdurende voeding om suksesvol te wees. Dit beteken om u uiterste bes te doen om u Godgegewe verantwoordelikhede as man of vrou na te kom. Daar sal struikelblokke, verskille en selfs konflik wees, maar met God se hulp kan u u huwelik verbeter!

Vra God om u te help om hierdie beginsels toe te pas in u eie lewe. Onthou, u kan nie u huweliksmaat dwing om te verander nie – u kan net uself verander. U voorbeeld van liefde en diens kan egter ’n geweldige groot invloed op u maat hê. Onthou ook u kan dit nie alleen doen nie. U het die hulp van u Verlosser in u eie lewe nodig. Soos die apostel Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Mag God u, u huwelik en u gesin seën terwyl u daarna streef om volgens Sy woord te leef!