Waarom weier hierdie antieke en immer teenwoordige euwel om uit te sterf en steek dit herhaaldelik sy lelike kop in ons moderne wêreld uit?

Sal u die wêreld se druk teenstaan?

“Ons moet die openlike en bedekte anti-Semitisme asook die ontkenning sowel as ’n besef van die realiteit van die gebeurtenis van die Joodse volksmoord beslis teenstaan ... ons bring hulde aan die slagoffers van die Joodse volksmoord deur hulle te onthou en uit die treurige lot wat hulle getref het, te leer”. So het die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, op ’n konferensie van die Verenigde Nasies op 27 Januarie 2021, tydens die Internasionale herdenkingsdag van die Joodse volksmoord, gesê. Merkel het uitdrukking gegee aan wat sy “’n skreiende skande” genoem het met betrekking tot Duitsland se anti-Semitiese verlede en gesê dit is Duitsland se “ewige verantwoordelikheid” om die Joodse volksmoord en die slagoffers daarvan te onthou (News.UN.org, 27 Januarie 2021).

Is anti-Semitisme bloot ’n verskriklike oorblyfsel van Europa se verlede? Twee jaar tevore, tydens ’n ander geleentheid op die herdenkingsdag van die Joodse volksmoord, het die president van die Europese Kommissie, Jean-Claude Juncker, ’n skokkende verklaring gemaak: “Op hierdie dag is ek diep bekommerd. Ek sou nooit kon dink dat gedurende my leeftyd, Jode bang sou wees om hulle geloof in Europa te beoefen nie” (European Commission, 24 Januarie 2019).

Tot die afgryse van baie mense wat voorheen gedink het dat die Tweede Wêreldoorlog die einde van die Europese anti-Semitisme beteken het, verskyn daar nou ’n hernude vlaag van anti-Semitisme. Nie net herontdek sommige Europese ekstremiste die skandelike Nazi-ideologie nie, maar ook klein, steeds uitgesproke anti-Semitiese elemente het beroeringe veroorsaak onder vlugtelinge wat na Europa toe gevlug het as gevolg van die “Arab Spring” [rewolusionêre onluste] en die Siriese burgeroorlog.

Behoort ons verbaas te wees? Miskien nie. Die anti-Semitiese sentiment bestaan al baie lank. Hierdie ou haat het die lewens, optrede en verplasings van mense al vir eeue lank beїnvloed en aanleiding gegee tot periodes van politieke en godsdienstige vervolgings wat nou in oneer voortleef en tog, ontstellend genoeg, blyk dit nie ’n probleem te wees vir ’n toenemende aantal bevooroordeelde mense regoor die wêreld nie.

Baie mense vra waarom sommige mense met haat gevul is teenoor individue wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Ongelukkig word dit geïgnoreer deur ander mense wat dink dat aangesien hulle nie persoonlik daarby betrokke is nie, hulle nie bekommerd daaroor hoef te wees nie. Dus, waarom maak anti-Semitisme saak as u nie ’n Jood is nie? Lees verder om te leer wat die antwoord is!

 

’n Antieke, middeleeuse geskiedenis en moderne haat

Die moderne term anti-Semitisme is in 1879 deur die Duitse uitgewer en politieke opstoker, Wilhelm Marr, geskep as ’n “gesuiwerde” weergawe van die vroeë term, “Jode-haat”. Wêreldwyd maak Jode minder as ’n kwart van een persent van die bevolking uit. Waarom word hierdie mense, wat soveel bygedra het op die gebied van wetenskap, geneeskunde, filosofie, musiek en godsdiens, dan deur soveel mense en vir so lank al met veragting behandel? Hoe kan dieselfde mense daarvan beskuldig word dat hulle vurige kommuniste is en tegelykertyd ook skelm kapitaliste? Hoe kan hulle as te konserwatief en te liberaal verag word?

Die verhaal van Jode-haat strek baie eeue terug. In 333 v.C. het die Masedoniese veroweraar, Alexander die Grote, en sy Griekse magte die Persiese Ryk oorweldig en in die loop van die konflik is Egipte asook die Midde-Ooste in sy ryk opgeneem. Alexander was die Jode baie goedgesind en baie Jode – veral geleerdes en bekwame vakmanne – het verkies om hulle in die nuwe stad, Alexandrië, wat na die keiser vernoem is, te vestig. Hier het hulle jare lank floreer, maar teen die vroeë 200’s v.C. het ’n vlaag van anti-Semitisme in Egipte kop uitgesteek.

Die bekende Cambridge-geleerde en skrywer, Michael Grant, het in sy boek, The History of Ancient Israel, van 1984, opgemerk dat ene Manetho van Heliopolis, ’n Egiptiese priester en skrywer van die derde eeu v.C. in ’n skrywe ’n venynige aanval teen die Jode geloods het. Hy het hulle onregverdig beskuldig van wreedheid en verspreiding van siektes. Om Egiptiese trots te laat opvlam, het Manetho die lys van Egiptiese Farao’s vervals in ’n poging om die geskiedenis van sy volk verder as die van die Grieke terug te dateer en om die Bybelse verslag van die uittog uit Egipte te weerspreek.

Die Joodse gemeenskap het gesien dat dit nodig was om te reageer op hierdie kwaadwillige aanval en dit het die openbare sentiment teen hulle laat draai. Omdat hulle besef het dat die Grieke baie min van die Joodse geskiedenis of godsdienstige leerstellings geweet het, het Alexandrië se Jode ’n baie ambisieuse projek begin – ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel. Hierdie vertaling staan vandag bekend as die Septuagint, afgelei van die Latynse Septuaginta, wat 70 beteken – die aantal geleerdes wat na bewering aan hierdie grootse poging gewerk het.

Dit was deels ’n hulp vir Hellenistiese [Griekse] Jode wat nie die Bybel in Hebreeus kon lees nie, maar dit was ook ’n poging om onkunde en vervolging te bekamp. Die Jode van Alexandrië het geredeneer dat indien die Griekse wêreld die Hebreeuse denke en geskiedenis verstaan, dit die effek van die doelbewuste verspreiding van leuens en haat sou stuit. Helaas, hierdie probleme het van tyd tot tyd weer kop uitgesteek en duur selfs tot vandag toe voort.

Die Engelstalige wêreld was beslis ’n relatiewe toevlug teen hewige anti-Semitisme in vergelyking met wat vandag in sommige wêrelddele voorkom. Dit was egter nie altyd die geval nie. Daar was baie min, indien enige, Jode in Engeland totdat koning William I die Oorwinnaar hulle ná die Normandiese verowering in 1066, genooi het om hulle daar te vestig. Ongelukkig het anti-Joodse geweld ’n eeu later tydens die regering van koning Richard I, uitgebreek. Ten spyte van koninklike pogings om die geweld te onderdruk, het koninklike ondersteuning afgeneem en hewige anti-Joodse vurige ywer het die gepeupel aangehits, wat hele Joodse gemeenskappe uitgemoor het. Destydse geestelikes het die skare in die naam van godsdiens opgesweep en die Jode, “Christus-moordenaars” genoem. Hulle het op een of ander manier Christus se eie gebed op die kruis vergeet: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34).

In 1290, tydens die regering van Engeland se koning Edward I, is alle Jode wat geweier het om hulle tot “Christendom” te bekeer, op sy bevel uit sy koninkryk verban – ’n patroon wat ander Europese nasies in die jare wat gevolg het, sou herhaal – Hongarye in 1360, Frankryk in 1394, Oostenryk in 1421, Spanje in 1492 en Portugal in 1497.

 

Wat onderskei mense van mekaar?

In die moderne tyd is die oorgrote meerderheid opgeleide mense vertroud met die Joodse volksmoord en die goed-gedokumenteerde, stelselmatige en wrede slagting van miljoene Jode deur Adolf Hitler en die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog. Tog toon peilings deurgaans dat ’n klein maar beduidende persentasie van die bevolking nie weet of nie glo dat miljoene Jode die slagoffers van volksmoord in Hitler se Duitsland was nie. Baie mense besef nie dat anti-Semitisme nie net ’n euwel ís nie, maar deur die geskiedenis heen ’n voortdúrende euwel was.

Ons kan tereg vra: Waarom? Waarom is sulke haat gemik teen ’n klein bevolking van hoogs bekwame mense wat eintlik baie belangrike bydraes tot die beskawing gelewer het? Waarlik, soos in elke bevolking, sal sommige mense probleme veroorsaak – maar die Jode het nie ’n groter aantal andersdenkende mense as enige ander groep nie. Hoekom word hulle so uitgesonder?

Hitler se vertroueling, Hermann Rauschning, skryf hierdie skokkende erkenning aan sy voormalige leier toe: “Gewete is ’n Joodse uitvindsel. Dit is ’n letsel, soos besnydenis ... Ek bevry mense ... van die vuil en vernederende selfkastyding van ’n drogbeeld genaamd gewete en moraliteit” (Hitler Speaks, 1939). Geleerdes betwis die egtheid van hierdie aanhaling, maar dit vang die boosaardige gees vas van baie anti-Semitiese denke asook van die begeerte van anti-Semitisme om die Jode in onguns te bring en te verneder met die doel om hulle te onderskei van die res van die samelewing.

Wat was egter die faktore wat daartoe gelei het dat onverdraagsaamheid, die Jode onderskei het van die samelewing rondom hulle? Vier faktore staan veral uit wat die praktiserende Jode van die omliggende bevolking onderskei het.

Onderwys: Gedurende die middeleeue en selfs tot en met die Renaissance was die oorgrote meerderheid Europeërs ongeletterd. Daarenteen het Joodse gesinne daaraan gewerk om te verseker dat hulle seuns nie net in ’n ambag opgelei is nie, maar ook in staat was om te lees en te skryf om hulle skrifte te kon verstaan. As gevolg hiervan het die bekwame en geletterde Joodse bevolking besonder welaf geword, wat sommige van hulle in staat gestel het om geldskieters te word. Europese wette gedurende die middeleeue het in die algemeen verhoed dat “Christene” by finansiële transaksies betrokke kon wees. Jode is egter nie verhoed om dit te doen nie en het geleidelik betrokke geraak met die voorsiening van lenings en die vroeë vorms van bankwese – waardeur hulle groot invloed verkry het, maar hulle ook teikens van jaloesie en wrewel gemaak het.

’n Kultuur van skeiding: Behalwe vir hulle eerbied vir wat die “Ou-Testamentiese” geskrifte genoem word, is die grootste deel van die Joodse samelewing gevorm deur tradisies wat deur die Talmoed voorgeskryf word – ’n uitgebreide versameling van kommentare en interpretasie van die Joodse wet en praktyk. Die gevolglike sosiale skeiding het die verspreiding van misverstande oor Jode bevorder. Heersers wat sondebokke gesoek het vir sosiale probleme, het dit maklik gevind om wantroue aan te hits wat tot geweld sou lei. Dit is interessant dat die Jode wat die Talmoed verwerp het – soos die Karaïete van Oos-Europa en Rusland – hulle nie van die breër samelewing afgeskei het nie, wat kan verklaar waarom hulle oor die algemeen veel minder gely het onder georganiseerde aanvalle en vervolgings.

Propaganda: Wanneer anti-Semitiste nie daarin geslaag het om haat te versprei deur middel van vrees vir werklike verskille nie, het sommige van hulle hulself tot openlike leuens gewend om agterdog en selfs geweld aan te wakker. Die bekendste voorbeeld is dalk ’n dokument wat in 1905 in Rusland gepubliseer is, The Protocols of the Elders of Zion. Dit word vandag erken as ’n vervalsing, maar ten tye van die publikasie was dit algemeen aanvaar as ’n geheime verklaring van Joodse leiers se planne om die samelewing te ondermyn en dit onder algehele beheer van Joodse mag en bemiddelaars te bring. Sommige mense glo selfs vandag nog aan die egtheid van die dokument en versprei die valshede daarvan.

God se Wette: Bloot deur sommige van God se Wette te gehoorsaam, sou behoudende Jode hulleself noodwendig ietwat afgesonder bevind het van nie-Jode wat nie eers die eenvoudigste Bybelse Wette met betrekking tot gesondheid en reinheid nagekom het nie. Gedurende die middeleeue, toe cholera, tifuskoors en builepes, verwoesting in Europese stede gesaai het, het nie-Jode opgemerk dat die Jode byna, indien nie heeltemal nie, onaangetas was deur hierdie teisterings. Vandag kan ons sien dat dit as gevolg van die Jode se onderhouding van Skriftuurlike Wette oor praktiese aangeleenthede was, soos kwarantyn van siekes, om gereeld te was en om menslike afval te begrawe, wat siektes tot die minimum beperk het. Destyds het die sieklike menigte egter tot die gevolgtrekking gekom dat, aangesien die Jode skaars deur hierdie siektes geraak was, hulle dit moes veroorsaak het – wat verdere anti-Semitiese vervolging meegebring het.

 

’n Dieper bron: Verwerping van God

Al die bogenoemde feite verduidelik egter nie die ware bron van anti-Semitisme nie. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die Bybelse Wette waarna in die laaste punt verwys word, baie meer behels as net kwarantyn. Hierdie Bybelse Wette – anders as die Talmoediese wette wat deur rabbynse Judaїsme ontwikkel is en wat grotendeels gedien het om die behoudende Jode af te sonder van die samelewing, was ook deur die vroeë Kerk van God nagekom soos wat Jesus Christus se Apostels onderrig het – ’n feit wat in die geskiedenis opgeteken is. Tog is hierdie Bybelse Wette vandag heeltemal afwesig in die meeste “Christelike” denominasies. Waarom? Is dit moontlik dat anti-Semitisme ’n krag is wat eeue tevore al in werking was en Christelike geloof verberg het?

Die middeleeuse gepeupel wat verwoed te kere gegaan het teen die Jode, was meestal ongeletterd en het niks van die eerste-eeuse Christelike Kerk geweet nie. Hulle het nie begryp dat Jesus Christus ook baie van dieselfde Wette wat deur die Jode gehoorsaam is, ook gehoorsaam het nie. Daarom het hulle die Jode vervolg. Waarom? Na meer as ’n duisend jaar van verdraaiing deur ’n valse kerk, wat die Naam van Christus gebruik het, was die gemiddelde “Christen” onkundig wat betref die leerstellings en etiese waardes van Jesus Christus self.

Gedurende die eeue na Christus se dood en opstanding, het sekere leiers te voorskyn gekom wat probeer het om Christelikheid te skei van Jesus Christus en die Wette wat Hy – die God van die Ou Testament – gegee en onderhou het. Net soos die oorspronklike Judaїsme verdraaid geraak het deur die Talmoed en sy magtige struktuur van mensgemaakte wette wat God se eie Wette verberg het, so het die hoofstroom-Christendom, Jesus se leerstellings uit die oog verloor onder die invloed van Romeinse kerkleiers soos Jerome, John Chrysostom en Augustinus, wie se idees meer aan Plato en ander heidense filosowe te danke was in plaas van die apostel Paulus.

Hierdie skeiding van Christus van Sy eie onderwysings is ook die kern van moderne anti-Semitisme soos wat Adolf Hitler se haat vir die Jode duidelik getoon het. Professor David Nirenberg, die skrywer van Anti-Judaism: The History of a way of Thinking, dui daarop dat anti-Semitisme in werklikheid ’n verwerping van Joodse waardes is en dat die hoofdoel is om die sedelike beginsels waarop Judaїsme gebou is te verwerp – dieselfde beginsels waarvolgens Jesus Christus geleef het.

Die dieperliggende motivering van anti-Semitisme is dat dit daarna streef om die Godsdiens wat God aan die hele Israel gegee het in onguns te bring. Hierdie was ’n Godsdiens wat gebaseer was op die begrip en Wette wat God aan die Hebreërs bekend gemaak het en wat Hy Sélf – as die vleesgeworde Jesus Christus – presies gehoorsaam en vervul het. Baie belydende Christene maak die fout om te dink dat Jesus Sy eie Wette herroep het nadat Hy dit vervul het. Die waarheid is egter dat om vir ons ’n voorbeeld te stel deur die vervulling van die Wet, Jesus dit meer bindend gemaak het in die Nuwe Testamentiese toepassing daarvan. Daar is nie meer ’n tempel vir offerandes nie omdat Christus nou ons Offer is en Christene nou sélf die tempel van God is.

Die Wette waarvolgens Christus geleef het, is die Wette waarvolgens ware Christene vandag behoort te leef. Dit is beginsels wat absoluut en onveranderlik is. Dit kan nie verander word om aan te pas by die voortdurend veranderende nukke van die samelewing nie. Die God van die Bybel deur wie hierdie instruksies gegee is, maak dit duidelik dat Sy heilige Wette en standaarde nié verander kan word om aan die samelewing se standaarde te voldoen nie. “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleági 3:6).

God het die Israeliete beveel om getrou te wees aan Sy Wette en beginsels en Hy het belowe om hulle te seën en vir hulle te sorg indien hulle gehoorsaam sou wees. Inderdaad, indien hulle met ywer gehoorsaam sou wees, sou Israel ’n voorbeeld wees vir die res van die mensdom en God se Wette en lewenswyse vir hulle leer.

“Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die Here onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronómium 4:6-8).

Dit is veral belangrik om te onthou dat die eerste-eeuse Christelike Kerk – die oorspronklike Kerk – die beginsel verstaan het dat God se Wet absoluut is. Hulle het geredeneer dat indien God wel God en die Skepper van alles is, dan moet Sy Wet die absolute Waarheid verteenwoordig – die waarheid wat gevolg moet word en wat bo enige botsende menslike wet geag word.

Die halfbroer van Jesus Christus, die apostel Judas, het gesê: “geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).

Hierdie verbintenis om die lewenswyse wat God ingestel het, as ’n standaard van geloof en gedrag te handhaaf, was ’n sterk grondbeginsel van die Joodse samelewing asook van die Kerk wat deur Christus en die Apostels gestig is. Albei groepe het geglo dat reg en verkeerd slégs deur God aan die hand van Sy Heilige Skrif gedefinieer kan word. Hulle het ’n gemeenskaplike waardesisteem gedeel wat nie onderhewig was aan herinterpretasie nie, aangesien die samelewing hulle waardes verander het. Die feit dat hulle die Bybelse standaarde gehandhaaf het, het veroorsaak dat albei groepe voortdurend buitestaanders in hulle gemeenskappe was. Hoe meer die sosiale orde rondom hulle afgewyk het van die werklike Bybelse leerstellings, hoe groter was die haatdraendheid teen hulle.

In 66 n.C. en weer in 135 n.C. het Joodse magte groot rebellies teen die Romeinse regering veroorsaak. Hierdie was van die moeilikste oorloë in die geskiedenis van Rome en die Romeine het baie verliese gelei – verál tydens die opstand van 135 n.C. Die Romeine het hulle nie daaraan gesteur dat die opstande deur keiserlike onderdrukking aangespoor is nie en haat teenoor die Jode en die dinge wat Joods is, het breekpunt bereik. Hierdie haat het uitgekring en die jong Christelike Kerk ge-affekteer, wat vir buitestaanders baie soos ’n Joodse groep gelyk het, aangesien albei groepe die sewendedag Sabbat en die jaarlikse Heilige Dae onderhou het, asook die voedselwette wat in die Skrif gevind is eerbiedig het.

Omdat hulle Romeinse vervolging in die gesig gestaar het, het sommige vreesbevange Christene probeer om hulle van die Jode te onderskei. Baie van hulle het die Bybelse Pasga laat vaar ter wille van die ou en heidense paasfees. Hulle het hulle dag van aanbidding verskuif vanaf die sewendedag na die eerste dag van die week en verskillende leerstellings en praktyke aangeneem om hulleself verder van die Jode te onderskei. Tog het sommiges getrou by hulle oortuigings gebly en het dikwels gevaar geloop om ’n marteldood te sterf. Sommige van hulle het selfs daarin geslaag om uit die Romeinse ryk te vlug na dele van Europa wat nie deur die Romeine beheer was nie.

Selfs tot en met die Spaanse Inkwisisie het ondersoekers wat antagonisties was teenoor die Joodse geloof, sommige Jode ook vervolg, maar hulle haat was hoofsaaklik gemik op die paar Jode wat hulleself manmoedig Christene genoem het, terwyl hulle Jesus se werklike leerstellings behou het in plaas van die heidense en Rooms-geïnspireerde kompromieë. Diegene wat volhard om Christus se voorbeeld te volg, bly vandag ’n uitdaging vir die gewete van ’n wêreld wat Bybelse moraliteit en die onveranderbare, onveranderlike waarheid van die Skrif ontken.

 

God se weg oorwin!

Ons wêreld as geheel wou al lank gelede – reeds tydens die middeleeue en verál vandag – nog nooit enigiets van die moraliteit gehoor het soos God dit definieer nie. Hulle wil nie van die Wette wat reg en verkeerd presies definieer hoor nie – dit sal vir ewig bestaan. Diegene wat haatspraak of geweld teen die Jode aanhits of diegene wat die Kerk vervolg wat deur Jesus Christus gestig is, sal nie suksesvol wees nie. Die moraliteit wat in die bladsye van die Skrif bewaar word, is absoluut, onveranderlik en waar. Dit sal bly voortbestaan ondanks alle pogings om teen God, Sy volk en Sy weg te veg en om ten spyte van die veranderings wat in die belydende Christelikheid aangebring is ná die dood van die oorspronklike Apostels, die waarhede van die Ou Testament wat deur Jesus geleer en gehandhaaf is, te onderdruk.

Ongelukkig sal vervolgings voortduur tot aan die einde van hierdie era. Geen mens – nie eers die groot afvallige magte wat voorspel is om voor Christus se Wederkoms op te staan – sal die lewenswyse kan uitdoof wat in u Bybel uiteengesit word nie.

Wanneer ons sien hoe anti-Semitisme sy onkundige kop uitsteek, sal daar nog kragtiger pogings volg met die doel om die wêreld te oortuig om hulle te verset teen die waarheid en moraliteit van die Bybel. Net soos álle ander aanvalle op moraliteit wat in die Wet van die God van die Bybel omskryf is, moet anti-Semitisme gesien word vir wat dit is – ’n poging om die gewete van die mensdom te vernietig. Ons moet hierdie euwels uitken en verwerp vir wat dit is. Gelukkig verseker die Woord van God ons dat dit sál misluk en dat die Wet van God vir ewig sal bly bestaan!