Duisende mense in Amerika is verheug oor die onlangse besluit deur die Hooggeregshof om die skynbaar geldige homoseksuele anti-Goddelike leefstyl wettig te verklaar. Die liberale media het met alle mag ingespring en uitgeroep hoe wonderlik dit is dat mans glo met mans kan “trou”.

Eerlikwaar, ’n hele golf van onbybelse, anti-Goddelike gedrag is besig om oor ons Westerse nasies te spoel. In Brittanje het BBC News berig: “Duisende mense het aangesluit by die Pride-parade deur sentraal-Londen. Die parade het in Bakerstraat begin, deur Oxfordstraat, Piccadilly en Trafalgarplein en het by Whitehall geëindig. Organiseerders sê dit was moontlik die grootste lesbiese, gay, biseksuele en transgender byeenkoms in Londen gedurende die laaste dekade”. (“Thousands march in London Pride parade”, 29 Junie 2013). Oraloor is mense verheug oor die geleentheid om die Bybelse konsep van die huwelik en die gesin wat voorheen beskou is as die grondslag van alle ordentlike samelewings, heeltemal te verander.

Waarheen lei dit alles?

Saam met hierdie homoseksuele gejuig en die sogenaamde “Gay Pride”-vieringe, is ’n nuwe monument vir ons direkte opstand teen die God van die Bybel onlangs naby Jacksonville, Florida opgerig. Soos die Time-tydskrif se Olivia Waxman berig het:

“Na ’n regsgeding en meer as ’n jaarlange getwis, sal ’n groep genaamd die Amerikaanse Ateïste, Saterdag om twaalfuur, Amerika se eerste openbare monument ter ere van ateïsme op ’n plein buite die Bradford County se hofgebou in Starke, Florida, naby Jacksonville, onthul. Die 1.5 meter lange grys granietbank om op te sit en verbindingspilaar is gebou en gegraveer deur plaaslike messelaars met graniet wat in Georgia gemyn is en vertoon sekulêre aanhalings deur die stigterslede sowel as ’n verklaring van die organisasie se stigter, Madalyn Murray O’Hair, wat die 50 jaar oue groep se standpunte insluit:

’n Ateïs glo dat daar liewer ’n hospitaal gebou behoort te word in plaas van ’n kerk. ’n Ateïs glo dat ’n daad eerder gedoen word in stede van ’n gebed. ’n Ateïs strewe daarna om betrokke te wees by die lewe en nie te ontsnap na die dood toe nie. Hy wil hê dat siekte oorwin, armoede verban en oorloë uitgeskakel moet word’.

Gewoonlik het ateïste, as gevolg van hulle godsdienstige simboliek, nie juis sin in monumente nie. Die groep wat uit 4,000 lede bestaan het egter besluit om een op te rig nadat hulle in Maart ’n regsgeding verloor het wat ’n plaaslike Christelike groep sou dwing om hulle eie monument van twee plat klippe, waarop die Tien Gebooie gegraveer is en wat op dieselfde openbare plein staan, te verwyder. Wanneer die ateïste se sitbank en pilaar op hulle plek is, sal die twee monumente net ’n paar meter van mekaar af staan op die plein se “Vryheid van Spraak Sone”, waar die publiek toegelaat word om uitstallings op te rig ... Die doel ... is om lig te werp op die ‘haatlike’ kant van die Bybel” (“Unveiling America’s First Public Monument to Atheism”, 28 Junie 2013).

Hierdie groeiende antagonisme teenoor God is so blatant dat selfs lande wat voorheen kommunisties was nou ’n bespotting maak van Amerika. Lees hierdie opmerkings wat gepubliseer is deur Rusland se Pravda: “Amerika is bankrot en Rusland is die wêreld se grootste olie-produsent met ’n groeiende ekonomie. Rusland staan nie terug nie en hulle het China om hulle te ondersteun. Wie ondersteun Amerika? Die kleine Brittanje? Die Amerikaners word gay en Russiese mans lyk al hoe meer soos die Klitschko-broers. Amerika is die hedendaagse Sodom en Gomorra, terwyl Christenskap in Rusland seëvier. Geen ACLU in Rusland dagvaar Christene nie, dis verseker” (Lerma, Xavier. “Putin Throws Down Obama”, 18 Junie 2013).

My vriende, het ons so laag gedaal dat selfs lande soos Rusland tereg kan “spot” met ons duidelike opstand teen die God van die Bybel?

Eerlikwaar, ja!