Vraag: Ek sien dat “die oplegging van hande” een van die “grondbeginsels” van die Christelike praktyk genoem word en selfs as “fondamenteel” bestempel word (Hebreërs 6:1-2). Wat presies behels dit?
Antwoord: Die oplegging van hande is ’n seremoniële gebruik waarin ’n dienaar van God bid terwyl hy sy hande op die hoof plaas van die persoon vir wie hy bid. Hierdie eenvoudige seremonie is van groot geestelike belang en simboliseer God se begeerte om iets of iemand af te sonder.
Ons sien ’n vroeë voorbeeld daarvan toe Moses vir “Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel [het], en hy het hom die hande opgelê en hom ’n opdrag gegee soos die Here deur die diens van Moses gespreek het” (Númeri 27:22-23). Moses het nie vir Josua aangestel nie – hy het Josua die hande opgelê om God se besluit te simboliseer.
In die Nuwe Testament het God diakens bemagtig deur Sy geordende dienaars, die Apostels, “en hulle het gebid en hulle die hande opgelê” (Handelinge 6:6). Later lees ons dat die ouderlinge in Antiochië vir Paulus en Barnabas die hande opgelê en hulle opdrag gegee het vir hulle sendingreis: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan” (Handelinge 13:2-3). God het die oplegging van hande gebruik om te wys dat Josua, die diakens en Paulus en Barnabas almal vir Sy doel afgesonder was.
Die oplegging van hande word ook gebruik om God se seëninge oor te dra. Terwyl Jesus klein kindertjies geseën het, “het Hy hulle in sy arms geneem, sy hande opgelê en hulle geseën” (Markus 10:13-16). Hierdie seën het duidelik getoon waar en deur wie God gewerk het.
Die Heilige Gees en genesing
Die oplegging van hande ná die doop dra die gawe van die Heilige Gees oor. “En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang ... Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 8:14-17). God het een van Sy dienaars gestuur om die nuut geroepe Paulus te doop en die hande op te lê: “Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word” (Handelinge 9:17). Paulus het later die Efésiërs gedoop. “En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom” (Handelinge 19:6).
Jesus het vir Sy geordende dienaars gesê om die siekes die hande op te lê vir genesing. “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom … En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam … op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word” (Markus 16:15-18).
Ons sien dat Paulus hierdie instruksie volg: “En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak” (Handelinge 28:8). Hierdie instruksie is van toepassing op enigiemand wat siek is: “Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14). Dit is God wat genees volgens Sy wil en Hy het instruksies gegee wat die oplegging van Sy dienaars se hande behels.
God tree wel direk op maar nogtans gebruik Hy ook Sy dienaars om Sy wil uit te voer, veral in genesing, seën en inseëning, wat getuig van die menslike instrumente waardeur Hy werk. Ons behoort egter daarop te let dat die krag nie in die persoon, die fisiese daad of die hande self lê nie, maar in God wat deur Sy fisiese Kerk en Sy fisiese bediening werk. God het Sy Kerk aangestel om die oplegging van hande as ’n teken van Sy wil, Sy Werk en Sy gesag te gebruik.


