In ’n tydperk van gemaklikheid en gerieflikheid, beskik u oor dít wat nodig is om uself tot die uiterste toe in te span en om altyd u beste te lewer?


“Een, twee ... een, twee ... een, twee!” gee ek luidkeels die pas aan terwyl ons twee groen kano’s voortsnel na die oorkantse oewer. Donker wolke rol in vanuit die weste, terwyl die lug troebel-blou verkleur. Ons doop ons roeispane in die donkerwordende waters, die wind gooi sproei in ons gesigte en die kano’s bokspring met elke golf.

Ons bestemming was ’n beskutte baai in noordelike Minnesota se Namakanmeer. Na ’n worsteling oor die watermassa maak agt druipnat kanovaarders dit tot in die beskutte baai. Terwyl ons vaartuie die kalm waters van die landingsplek binnevaar, was ek getref deur die reaksie van my mede-roeiers. Hulle was moeg en uitgemergel – maar gladnie ontmoedig nie. Hulle was eintlik in ekstase! Die trotsering van die golwe het hulle energiek gelaat en hulle was opgewonde omdat hulle die uitdaging aanvaar en daaroor geseëvier het!

Dit was die vierde dag van ’n sesdaagse, 80 km kanovaart deur Voyageur Nasionale Park en hierdie tog het die reklame, dat dit ’n eenkeer in ’n leeftyd ondervinding sal wees, gestand gedoen. Drie-en-veertig tieners van oor die hele wêreld het gekom na hierdie park wat oor die Amerikaans-Kanadese grens strek om die verruklike, ongerepte natuurskoon van die grenswaters te beleef.

Die tieners, saam met 27 volwassenes wat gedien het as gidse en begeleiers, het op ’n helder, aangename dag hulself en hul toerusting in 17 kano’s ingedruk om die vaart te begin. Die mooi weer het egter gou verander en elke dag daarna het nuwe winde, reën en donderstorms gebring – met slegs nou en dan ’n verposing. Slaapsakke was papnat, tente deurweek, muskiete was genadeloos en spiere was seer.

Kortliks gestel: Dit was wonderlik!
Waarom het ons onsself begeef op ’n vaart deur ’n afgeleë landskap met geen waterverwarmers en geen binnenshuise loodgieterswerk nie? Om die tieners ellendig te laat voel? Nee! Ons wou hulle op ’n kanovaart neem wat baie min mense nog ooit ervaar het. Ons het gehoop om aan hulle nuwe vaardighede te leer wat hulle in werklike situasies kon beproef. Ons wou hulle help om in te sien dat hulle die deursettingsvermoë kon bymekaarskraap om te volhard, selfs wanneer hulle uit hul gemaksone geforseer word. Ons het dit gedoen om hulle te help leer om teenspoed saam te trotseer, om saam te snoer as ’n span en uitdagings saam te oorkom. Onswou hulle leer om moeilike dinge te doen.

 ’n Uitdaging vir tieners

Dit is jammer, maar in vandag se oorvloedige Westerse kulture word tieners nie slegs selde aangemoedig om moeilike uitdagings aan te pak nie – hulle word dikwels allerhande verskonings gegee om te faal! In reaksie op hierdie neiging het tieners Alex en Brett Harris in 2008 ’n boek geskryf: “Do Hard Things”, waarin hulle tieners aanmoedig om die lewe vierkantig in die oë te kyk en hul tienerjare te gebruik as beginpunt na die volwasse lewe. Hulle herinner ons daaraan dat die tienerjare nie maar net daar is om die “tyd te verwyl” nie. Alhoewel daar vir ’n tiener genoeg tyd vir pret is, is die tienerjare ’n unieke tyd van voorbereiding vir ’n toekomstige suksesvolle lewe – deur opleiding te verkry, die denke te oefen, persoonlikheid te ontwikkel en om te leer om moeilike dinge te doen.

Om die tienerjare te behandel as ’n “vakansietyd sonder verantwoordelikheid”, is ’n taamlike nuwe verskynsel. In “America in So Many Words”, wys skrywers David K. Barnhardt en Allen A. Metcalf daarop dat die benaming “tiener” nie eens in gebruik was voor die eerste deel van die 20ste eeu nie. “Derhalwe het die jare wat in -tiener eindig iets nuuts en eiesoortig geword ... die tiener het ons wêreld herskep. Die konsep is ... ondermynend: Waarom sou enige tiener sy vryheid onderwerp aan die gesag van volwassenes? Met die ontdekking van hierdie nuwe tydperk het ons eeu tot nou toe die eeu van die tiener geword” (bl. 234).

Dit is waar dat nie alle tieners wegskram van verantwoordelikheid en hul tyd vermors nie. Baie is pligsgetrou, beplan vir die toekoms en werk hard. Baie is voorbeeldige, onselfsugtige mense wat hulself daarop toelê om andere te dien. Nogtans trotseer hulle huidiglik ’n kultuur wat hoofsaaklik jeugdige onverskilligheid en traagheid aanmoedig.

Dit is geen verrassing dat die Bybel verskil van ons 21ste eeuse kulturele norm nie. Byna 3,000 jaar gelede het Koning Salomo geskryf dat ons ons jeugjare moet geniet – binne die oorhoofse konteks van ontwikkeling van ’n verhouding met God: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9).

Ja, God wil hê dat tieners hulle jeug moet geniet en pret moet hê. Hy wil hê dat hulle die wêreld moet verken en hulle verstand moet ontwikkel. Hy wil hê dat hulle verhoudings moet opbou en hulle persoonlikhede moet ontwikkel. Deur dit te doen beteken dit nie ’n dekade-lange vakansie sonder enige verantwoordelikheid nie. Die tienerjare is ’n tyd waarin mens leer om hard te werk, ’n geharde verstand en ’n sterk karakter te ontwikkel en om te leer hoe om God se Wet toe te pas om goeie – en soms moeilike – keuses te maak, wat sal help om die grondslag te lê vir ’n suksesvolle lewe!

Ouers kan tieners onwetend ontmoedig om hul beste te lewer deur nie van hulle ’n sterk karakter te verwag nie. Ons kinders sal styg tot die vlak van ons verwagtings. Ons moet hulle egter help om ’n edel lewe te begin bou, met karakter en sedelike krag. Salomo sê immers: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11).

Beteken dit dat jong mense volmaak sal wees? Natuurlik nie! Hulle maak foute. Hulle het aanmoediging nodig – en soms teregwysing. Ouers moet egter nie verwagtings verlaag of verskonings vir mislukkings maak nie. Ons moet hulle inspireer om die regte ding te doen, selfs wanneer dit moeilik is.

Nie net vir tieners nie

Waarom is dit so belangrik om tieners aan te spoor om verantwoordelikheid in die gesig te staar? Omdat traagheid in die tienerjare lei tot traagheid by jong volwassenes! Hedendaagse televisie beeld dikwels 20-plus (en toenemend 30-plus) “volwasse kinders” of “volwasse adolessente” uit – uitgegroeide kinders met geen klaarblyklike rigting of doel nie, wie se hoofingesteldheid blyk te wees om tyd met hul vriende te spandeer in ’n nimmereindigende waas van ewigdurende adolessensie.

Dit is nie ’n geïsoleerde gebeurtenis nie – dit is ’n groeiende kulturele verskynsel. Lev Grossman, skrywer vir die tydskrif TIME, het opgemerk: “Sosioloë begin besef dat ’n permanente verskuiwing plaasgevind het in die wyse waarop ons ons lewens leef. In die verlede het mense beweeg van kinderjare na tienerjare en van tienerjare na volwassenheid, maar deesdae is daar ’n nuwe intermediêre fase langs die weg. Die jare van 18 tot 25, en selfs daarna, het ’n onderskeibare, afsonderlike fase geword, ’n vreemde, oorgangs-kammaland tussen die tienerjare en volwassenheid waarin mense vir ’n paar ekstra jare vassteek en die ysterhok van volwasse verantwoordelikheid, wat voortdurend dreig om op hulle neer te stort, nog bietjie uitstel” (“Grow up? Not so fast”, 16 Januarie 2005).

Nogtans is die jong grootmensjare juis dié tyd in die lewe wanneer mense die meeste energie en lewenskrag het om te bestee aan die bou van hul loopbane, huwelike en gesinne. Dit is nie ’n tyd om te vermors deur slegs rond te “hang” nie!

Sekere woorde van die apostel Paulus aan die jong evangelis Timotheüs is veral pynlik vir hierdie geslag: “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timotheüs 4:12). Dit is ironies, terwyl die Westerse wêreld ewigdurende jeug idealiseer, word dit ookverag. Ouer persone kan nie net alleen neersien op die prestasies van jong mense, wat moeilike dinge gedoen het nie, ook jong mense self, wat agter nuttelose en verkwistende afleidings aanloop, kan onbewustelik die geleenthede wat God aan hulle bied om hul lewens op die regte spoor te bring en hul toekoms te bou, “verag”.

God gee nie slegs aan jong mense die geleentheid om voor te berei vir hul toekomstige menslike lewens nie, Hy roep alle ware Christene tans uit die wêreld uit om hul voor te berei as die eerste vrugte vir ’n toekoms in Sy Koninkryk. Wat beteken dit? Diegene wat vandag antwoord op Sy roepstem en hulle lewens aan Hom toewy, sal geleenthede ver bo hul wildste drome ontvang! Kyk wat het Jesus Christus aan Sy dissipels gesê: “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ’n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom” (Lukas 19:11-12).

Hierdie edelman het tien geldstukke aan sy diensknegte gegee om mee handel te dryf terwyl hy weg was. Nadat hy teruggekeer het, het die edelman hulle vergoed vir hul diens. Wat was die vergoeding? Kyk: “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:16-17).

Die dienskneg wat sy heer se geld verdubbel het, het ’n groot beloning ontvang. Vandag se Christene sal ’n verstommende beloning ontvang indien ons ons bekeer en antwoord op God se roepstem. Met Christus se wederkoms kan ons die eerste vrugte in God se Koninkryk word en die ewige lewe as ons beloning ontvang (1 Korinthiërs 15:52-53). Ons kan die geleentheid hê om in Christus se eie regering te dien. Paulus het die vraag gevra: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?” (1 Korinthiërs 6:2). Vandag se Christene sal regters wees – heersers – in die Koninkryk van God. Dit is noú vir ons die tyd om voor te berei, om te groei in karakter en gehoorsaamheid aan God en om ons te onderwerp as werktuie in Sy hande.

Wanneer ons eers die geleenthede begryp wat God aan diegene bied wat leer om Sy wil te doen, hoe kan ons nog val vir die luiheid en lusteloosheid wat hierdie wêreld aan ons wil bied? Dit is nou tyd om ons voor te berei vir ons lotsbestemming! Dit is nou tyd om te leer om verpligtinge aan te gaan en daarby te hou. Dit is nou tyd om verantwoordelikhede te aanvaar en nie daarvoor terug te deins nie. Dit is nou tyd om God te gehoorsaam – selfs wanneer dinge rof gaan en beteken dat ons teen die stroom moet swem. Dit is nou tyd om gewillig te wees om moeilike dinge vir God te doen.

Die profeet Jeremia het toegekyk hoe Jerusalem in oorlog en chaos verval toe die Babiloniërs die stad beleër het. Wat het hy afgelei uit wat hy gesien het? “Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here. Dit is goed vir ’n man dat hy die juk in sy jeug dra” (Klaagliedere 3:25-27).

Jeremia het verstaan. Die jonkheidsjare is die tyd om voor te berei vir verantwoordelikhede – nie om net doelloos met die samelewing se gety saam te dryf nie.

’n Tyd van lusteloosheid

Is hierdie boodskap egter net vir tieners en jong grootmense bedoel? Of is dit vir ’n groter gehoor? Soos Dr. Douglas Winnail dit duidelik maak in sy artikel: “Sewe lesse van die sewe Gemeentes” (elders in hierdie uitgawe), beskryf die tweede en derde hoofstukke van Openbaring sewe historiese Kerkgemeentes – en opeenvolgende Kerk-eras – vanaf die tyd van die Apostels tot aan die eindtyd. Die sewende en laaste era word “Laodicea” genoem – en karakteriseer die oorheersende gesindheid van die meeste Christene ten tye van Jesus Christus se wederkoms.

Ons leef nou in die eindtyd, dus is die waarskuwing aan Laodicea ’n waarskuwing aan ons geslag – aan die mense in die eindtyd, wat worstel teen die invreting van geestelike lusteloosheid: “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:14-16). Watter kontras bied dit nie teen die uitbeelding van die getroue Filadelfiese Christene wat slegs ’n paar verse vroeër beskryf word nie, hulle wat sal vasbyt as ’n oorblyfsel naas hul Laodicensiese broeders.

Christus se boodskap is ook ’n aanklag teen ’n louwarm en lustelose samelewing as ’n geheel. Dink daaraan. ’n Paar geslagte gelede was waardes van harde werk en selfbeheersing diep ingewortel in die wese van die Westerse samelewing. Mense het grootgeword met die veronderstelling dat sukses dikwels selfbeheersing verg en dat dit van mense verwag het om dinge te doen wat op die korttermyn nie altyd prettig of gerieflik was nie. Hoe oudmodies klink dit nie vandag vir baie mense nie! Selfs die terme “selfdissipline” en “selfbeheersing” klink verouderd! Nogtans is selfbeheersing aanneemlik voor God; dit word gelys as een van die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22), en die apostel Paulus het daaroor gepreek aan die goewerneur Felix (Handelinge 24:25).

Dit is soms moeilik om God te gehoorsaam, veral wanneer die hele vloei van die samelewing teen jou is. Byvoorbeeld, ons samelewing vind dit moeilik om die begeerte na besittings te beheer – derhalwe styg kredietkaartskuld al hoër en hoër. Christus het egter Sy dissipels geleer om nie hulle hart te plaas op besittings nie. Hy het gesê dat tensy ons gewillig is om ons besittings prys te gee ter wille van diens aan Hom, ons nie geskik is om Sy dissipels te wees nie (Mattheüs 19:21).

Dit is ook dikwels moeilik om mens se hartstog en woede te beheer. Hoe dikwels verloor ons nie ons humeur en doen dinge wat ons later berou nie? In ’n samelewing wat alle selfbeheersing oorboord gegooi het, hoor ons byna daagliks van mense wat hul humeure verloor en selfs toegee aan padwoede en moorddadige aanvalle op hulpelose slagoffers. Nogtans moet Christene wat God wil behaag, hulle emosies oorwin en elke gedagte gevange neem (2 Korinthiërs 10:4-5).

Dit is ook moeilik om te waak teen wat uit ons mond kom. Ons hoor gedurig onbehoorlike en kru taal, oor die televisie, Internet en in daaglikse omgang met andere. Dit is baie moeilik om die tong te tem (Jakobus 3:8). Nietemin behoort ons, met Christus se hulp, ons woorde te tel, want Hy sê: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag” (Mattheüs 12:36).

Dit kan deesdae selfs moeilik wees om God se Sabbat te onderhou. Hoe ironies! Die Sabbat is ’n rusdag, nogtans trotseer baie mense wat hul geloof en moed beoefen verwerping deur gesinslede, vriende en bure. Ons mag selfs ons werk verloor – of nie in staat wees om werk te kry nie – omdat ons nie bereid is om op die Sabbat te werk nie. Nogtans het Jesus Christus belowe dat as ons gehoorsaamheid aan Hom ons hoogste prioriteit maak, Hy vir ons sal sorg – selfs seker sal maak dat ons het wat ons moet eet en aantrek (Mattheüs 6:31).

Om deesdae ’n ware Christen te wees, vereis ’n sterk karakter! Dit vereis dat ons bereid moet wees om opofferings te maak. Indien God u roep en u denke open vir Sy Waarheid, sal u gewillig wees om moeilike dinge te doen? Is u gewillig om u begeertes en u hartstoge te beheer? Is u bereid om u tong te beheer? Is u bereid om u humeur te oorwin? Is u bereid om God eerste te plaas deur Sy Sabbatte en Heilige dae te onderhou?

Dit is nie nou die tyd om terug te deins nie – dit is tyd om sterk te wees en die uitdaging te aanvaar! Dit is die tyd om teen die selftevredenheid en lusteloosheid van die samelewing te gaan. Dit is tyd om ons werklik aan God te onderwerp. Dit is tyd om Hom toe te laat om ons te bemagtig om die moeilike dinge te doen om Hom te dien, selfs as ander mense dit nie doen nie. God soek mense om na vore te tree en Hom te dien, selfs wanneer dit moeilik is. Die Skrif bemoedig ons: “... want die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Ewigdurende seëninge en geleenthede wag op ware Christene wat gewillig is om hul aan Hom toe te vertrou, hulle te onderwerp aan Sy weë en die self te oorwin. Selfs wanneer dit moeilik is.