Die vraag oor hoe om skoolkinders op te voed en wie behoort te besluit wat hulle leer, is lank reeds ’n omstrede kwessie. Deesdae woed die debat voort met betrekking tot die feit dat meer gesag teruggegee word aan die staat en plaaslike gemeenskappe en hoe om die federale betrokkenheid van onderwys te beperk. In die lig van die huidige twispunt, behoort ons dalk te besin oor ’n gebeurtenis wat 100 jaar tevore, in die lente en somer van 1925, ontvou het.

 

Die agtergrond van die saak

Dit het begin toe Tennessee se Butler-wet, wat in Maart van daardie jaar goedgekeur is, die staatskole verbied het om die evolusieteorie te onderrig. Dit het dus onwettig geraak vir openbare Tennessee-skole wat deur die staat befonds was om “enige teorie te onderrig wat die verhaal van die Goddelike Skepping van die mens, soos dit in die Bybel geleer word, te ontken en om in plaas daarvan te onderrig dat die mens van ’n laer orde van diere afstam”. Dit het ’n boete van tussen $100 en $500 voorgeskryf vir enigiemand wat daaraan skuldig bevind sou word.

Een duidelike dilemma waarmee Tennessee se biologie-onderwysers te kampe gehad het, was dat die staat voorheen opdrag gegee het dat die gebruik van ’n voorgeskrewe biologiehandboek gebruik word – A Civic Biology, deur George William Hunter – wat baie duidelik evolusie onderrig het!

Die handboek het Charles Darwin se “wonderlike ontdekking van die evolusieleer” lof toegeswaai en verklaar dat Darwin “aan die wêreld die bewyse van die teorie gegee het waarop ons vandag die vooruitgang van die wêreld baseer” (bl. 405). Biologie-onderwysers was dus gedwing om te kies om óf die staat se kurrikulum te volg en uit ’n pro-evolusie handboek te onderrig, wat beteken het dat hulle die Butler-wet oortree, óf om die Butler-wet te gehoorsaam en die staat se kurrikulumwet te oortree. Dit is dus belangrik om te noem dat Hunter se handboek vandag “herroep” sou word en beskou sou word as beide verouderd en beledigend, aangesien dit aan verskillende rassegroepe toegeskryf word en oortref word deur die “hoogste tipe van almal, die Kaukasiërs” (bl. 196). Die hedendaagse Bybel-gelowige Christene stem saam dat mense almal lede van een veelsydige spesie is, waar die rasse beide verenig is deur algemene karaktereienskappe en onderskei word deur unieke eienskappe – verskillend maar nie hoër of laer as die ander nie.

Dit is maklik om te verstaan hoe Tennessee se teenstrydige wette tot ’n hofgeding kon lei. Die American Liberties Association, (ACLU) het aangebied om enigiemand wat bereid sou wees om die Butler-wet uit te daag te ondersteun en kort voor lank het burgerlike leiers in die dooierige dorpie Dayton, Tennessee, gereken dat die nasionale publisiteit wat so ’n saak sou kry, hulle dorpie kon help om bietjie lewe te kry – Dayton se bevolkingstal het gedaal vanaf ’n maksimum van 3,000 inwoners in die laat negentiende eeu tot slegs 1,800.

’n Jong Dayton-ingenieur met die naam George Rappleyea het toe ’n simpatieke kennis, John Scopes, ’n 24-jarige biologie-onderwyser aan die Rhea County High School, gevra of hy bereid sou wees om die verweerder in ’n toetssaak te wees. Met die hulp van Herbert Hicks – ook ’n vriend van Scopes – is Scopes aangekla van die oortreding van die Butler-wet. Hulle plan was om hom skuldig te bevind sodat appèlle met betrekking tot die beslissing by die V.S. se Hooggeregshof kon uitkom, wat die wet van Tennessee sou verander terwyl Dayton se ekonomie versterk sou word.

 

Die ontplooiing van die saak

Tussen Scopes se arrestasie op 9 Mei [van daardie jaar] en die begin van sy verhoor op 10 Julie, het Dayton ’n fokus van internasionale aandag geword. Alhoewel die Scopes-vervolging van stapel gestuur is as ’n toets van teenstrydige wetgewing en gemotiveer is deur die begeerte vir die nasionale kollig op die gemeenskap, was daar sterk openbare sentiment ten gunste van die Butler-wet. Die meeste mense het getuig dat hulle in die Bybelse skeppingsverhaal glo.

Die teenwoordigheid van William Jennings Bryan as hoof-advokaat vir die vervolging het ook nog bygedra tot die saak se bekendheid. Bryan het vir dekades lank nie aktief as regter gepraktiseer tydens die Scopes-verhoor nie, nogtans was hy ’n nasionale figuur, nadat hy drie keer as president van die V.S. verkiesbaar was. Hy het ’n prominente Protestantse godsdienstige spreker geword en een van die eerstes om sy boodskap via die radio te verkondig wat waarskynlik veroorsaak het dat hy onder die aandag van die Scopes-vervolgingspan gekom het. Bryan het op 25 Mei aan The Chattanooga News gesê: “Die koerante wat Tennessee-wetgewing as ’n grap beskou het, sal vind dat dit nie ’n lagwekkende aangeleentheid is nie. Sommige wetgewers en sommige howe het die Bybel in skole uitgesluit. Indien ’n wetgewer die lees van die Bybel kan verbied, kan dit dan nie ook die onderrig van ’n boek verbied wat die Bybel ’n leuen noem nie?” Bryan het gevoel dat “die eintlike kwessie in die Scopes-saak nie die leer van evolusie is nie, maar wie ons skole sal beheer en bepaal wat onderrig word”.

Die hoëprofiel advokaat Clarence Darrow, ’n prominente lid van die ACLU en ook ’n agnostikus, het ingestem om Scopes te verteenwoordig. Voor dit was die wetenskapfiksie-skrywer H.G. Wells, gevra om Scopes te verdedig, maar hy het dit van die hand gewys. Ander betrokkenes het probeer om die uitvinder Thomas Edison, na Dayton te bring om namens evolusie te getuig. Die Chattanooga Daily Times het op 11 Julie berig: “Dit is die hoop van die Scopes-verdediging wat modernisme en wetenskap verteenwoordig dat regter Raulston se hofsaal hier die wêreld se grootste klaskamer sal word”. Sommige mense het gevrees dat die verhoor letterlik in ’n sirkus sou ontaard toe daar verneem is dat Lillian Aurora, ’n gewilde verhoogkunstenaar wat ook bekend was vir haar diere-opvoerings, aangebied het om vir die verdediging “die opgeleide rolprent-sjimpansee” te leen indien hulle gedink het dat dit hulle saak kon bevoordeel.

In ’n poging om nasionale aandag te trek vir hulle saak, het Scopes by een van sy verdedigingsadvokate John Neal, aangesluit op ’n toer van Washington, D.C. en ander oostelike stede in die dae voor die Dayton-verhoor begin het. Tydens hierdie reis het Scopes die oorspronklike eksemplaar van die V.S. Grondwet by die biblioteek van die kongres opgesoek en vir vyftien minute lank vir verslaggewers en fotograwe geposeer. Tydens hulle reis het Scopes en Neal die Hooggeregshof se kamers besoek en opgemerk dat hulle saak uiteindelik dáár opgelos sou kon word.

Ten spyte van die risiko van wydverspreide bespotting, het sakemanne en burgerlike leiers van Dayton die verhoor verwelkom met die hoop dat dit ’n ekonomiese hupstoot vir die sukkelende klein dorpie sou bring. Die Knoxville Journal het op 20 Mei berig dat baie Dayton-burgers gekla het oor amptenare van Chattanooga se pogings om die verhoor daarheen te verskuif en het gedreig om Chattanooga-ondernemings te boikot tensy daardie pogings laat vaar word. Die aandag wat deur Scopes en Neal na die klein dorpie Dayton getrek het, was egter nie nét positief nie, aangesien die Chattanooga Daily Times van 18 Julie die Duitse dramaturg en romanskrywer Herman Sudermann aangehaal het wie gesê het: “Die verhoor stel Amerika bloot aan die bespotting van die wêreld”. Die geologieprofessor William Scott het die verhoor “’n uiters vernederende vertoning waaroor die hele wêreld lag”, genoem.

 

Die verhoor self – ’n antiklimaks?

Na soveel publisiteit – plaaslik, nasionaal en internasionaal – is dit glad nie verbasend dat die verhoor sélf nie aan baie waarnemers se verwagtings voldoen het nie. Alhoewel Bryan gehoop het om die verhoor te gebruik om evolusionêre teorie aan te val en baie van Scopes se ondersteuners die verhoor as ’n platform vir die bevordering van moderne wetenskap beskou het, het John Raulston, die regter tydens die verhoor, albei kante se hoop verydel. Hy het dit gedoen deur die deskundige getuienis wat deur evolusioniste en aanhangers van die skepping getuies gelewer is, van die verhoor uit te sluit – dit was in die hofverslae opgeneem tot voordeel van verslaggewers, maar het geen rol gespeel in die werklike verrigtinge van die verhoor nie.

Sonder die stryd van evolusie versus skepping op die voorgrond, het waarnemers gekla dat die verhoor “een van blote formaliteite” geword het, aangesien albei kante erken het dat Scopes – omdat hy uit die staatsgoedgekeurde handboek onderrig het, die Butler-wet oortree het. Sedert die mediasirkus ontspoor het, was die saak eenvoudig. Die jurie het slegs nege minute beraadslaag om Scopes skuldig te bevind en het om 11:20 op die oggend van 21 Julie vergader en hulle uitspraak om 11:29 gelewer – na slegs vyf minute se beraadslaging. Regter Raulston het ’n boete van $100 opgelê, hangende die appèl van die saak van die Hooggeregshof van Tennessee. Die Chattanooga News het dit daardie dag “die wêreld se bekendste wangedragsaak” genoem – ’n saak wat “as ’n regsgeding begin het, in ’n sirkus ontaard het en in ’n stryd van skelwoorde tussen prokureurs ontwikkel het”.

Die eisers in The State of Tennessee versus John Thomas Scopes was gereed om hulle saak tot by die Amerikaanse Hooggeregshof te neem, maar nogtans het dit nooit gebeur nie. Die Tennessee Hooggeregshof het in Januarie 1927, Scopes se skuldigbevinding op ’n tegniese punt uitgegooi. Volgens die destydse wetgewing van Tennessee kon slegs ’n jurie ’n boete van meer as $50 oplê, dus is Scopes se boete van $100 wat deur die regter opgelê is, uitgegooi. Daar het dus geen regskwessie oorgebly om dit na die federale howe te eskaleer nie.

 

Die nadraai

Die Butler-wet het tot Mei 1967 in werking gebly, toe die Tennessee-wetgewer dit herroep het met die doel om nog ’n soortgelyke uitdaging van ’n hofsaak te vermy wat baie mense gevrees het ’n internasionale skouspel kon word.

Wat het geword van die ekonomiese voordeel wat die verhoor vir Dayton gebring het? Die Chattanooga Daily Times het op 11 Julie ’n artikel geplaas met die titel: “Groot skares wat vir weke lank gewag het, het versuim om hulle opwagting te maak”, is berig, en natuurlik was daar “’n paar honderd mense en hulle was intens geïnteresseerd, maar hulle was hoofsaaklik geïnteresseerd daarin om die nuus eerste te kry, want hulle is koerant-verslaggewers”. Dit was nouliks die toeloop van toeriste waarop die stad se sakegemeenskap gehoop het en die meeste van die groep het die Rhea County-hofgebou volgepak en het nie die dorp se geriewe gebruik nie. Daar word beraam dat Rhea County se ekonomie ’n veel groter hupstoot ontvang het in 2017,  toe Dayton in die pad was van ’n totale sonsverduistering, as van die Scopes-verhoor! Dit is nogtans billik om te sê dat die Scopes-verhoor ’n baie groter impak gehad het as die ekonomie.

Honderd jaar later het die feite van die Scopes-saak grootliks uit die openbare geheue verdwyn. Dit word dalk die beste onthou deur die fiktiewe lens van die 1960-rolprent Inherit the Wind en verskeie daaropvolgende televisie-verwerkings. Deesdae het die meeste evolusioniste die besonderhede van Darwin se oorspronklike teorie grootliks laat vaar en dit verwerp ten gunste van gemoderniseerde alternatiewe. Die vraag van intelligente ontwerp teenoor evolusie bly ’n omstrede onderwerp. Evolusionêre bioloë oorweeg nou teorieë wat die meeste wetenskaplikes ’n generasie of twee gelede as belaglik beskou het, soos panspermia – die idee dat aangesien daar nie genoeg tyd was vir intelligente lewe om op planeet Aarde te ontwikkel nie, primitiewe lewensvorms uit die buitenste ruimte moes kom.

Oor wát die Tennessee-universiteit sy biologiestudente in 1925 onderrig het, mag ons dalk wil besin oor een opmerksame stelling uit A Civic Biology. Ons lees: “Alhoewel daar anatomies ’n groter verskil is tussen die laagste tipe aap en die hoogste tipe aap as tussen die hoogste tipe aap en die laagste barbaar, is daar tog ’n geweldige geestelike gaping tussen aap en mens” (bl. 195). Evolusioniste verwonder hulle dat terwyl die DNS van sjimpansees en menslike wesens redelik soortgelyk is, wisselend volgens sommige beramings met so min as 2 persent, die geestelike kapasiteit van menslike wesens aansienlik groter is. Terwyl evolusioniste verward is, verstaan kenners van God se Woord dat God ’n “gees in die mens” (Job 32:8) geplaas het wat die mensdom onderskei en ons in staat stel om die Heilige Gees te ontvang na die doop en die oplegging van hande (sien die “Vrae en Antwoorde” elders in hierdie uitgawe).

Ernstige studente van God se Woord moet oorweeg: Is die teorie van menslike evolusie versoenbaar met die Skrif? Is dit ’n agenda-gedrewe poging om die eenvoudige waarhede van die wêreld wat ons rondom ons sien, te ontken? Indien u meer te wete wil kom, lees asseblief ons kragtige en insiggewende studiegids Evolution and Creation: What Both Sides Miss. U kan ’n gratis gedrukte eksemplaar bestel by die streekkantoor naaste aan u of wvm.co.za waar u dit ook aanlyn kan lees.