Selfs terwyl u hierdie tydskrif lees, is nóg ’n herlewing van die Romeinse ryk besig om plaas te vind. Hier volg die redes waarom ons nie verbaas is nie.
Wat volg, is nie bedoel om een politieke party of nasie bó ’n ander te ondersteun nie. Die Wêreld van Môre onderskryf geen politieke kandidaat nie, maar ons skram nie weg van onderwerpe wat verband hou met die vervulling van Bybelprofesieë en Bybelse waardes nie. Enige melding van individuele leiers behoort nie as ’n goedkeuring van of klagte teen die individu, hulle party of hulle land beskou te word nie.
Die Bybel bewys weereens dat sy skeptici verkeerd is. Wie het die dramatiese verskuiwing in die Duitse denke voorsien wat skielik drie en ’n half jaar gelede begin het? Dit is ’n verskuiwing wat steeds hewiger raak. Die antwoord lê daarin om Bybelprofesieë te verstaan – profesieë wat al jare lank hier deur die Wêreld van Môre onder die soeklig is. Ons het nie hierdie verandering voorsien deur groter intellek te hê, in ’n kristalbal te kyk, Nostradamus te volg of ’n visioen in die nag te ontvang nie. Dit word álles in die Skrif gevind.
Ons verduidelik reeds dekades lank, uit die boek Openbaring, die boek Daniël en elders in die Skrif, dat Duitsland weereens ’n dominante militêre mag in Europa sal word. Daardie gebeure sal daartoe lei dat tien nasies of koninkryke in Europa hulle mag sal oorgee aan ’n reusagtige Duits-geleide mag, wat in die Skrif “die dier” genoem word. Teenstanders het die idee van nog ’n Europese oplewing van die Romeinse ryk bespot maar dit is wat begin gebeur selfs terwyl u hierdie artikel lees. Dit is nooit ’n goeie idee om met God en Sy woord te wedywer nie!
’n Gewigtige keerpunt
Op 21 Februarie 2022 het die Russiese president, Vladimir Poetin, troepe na die Oekraïne gestuur as “vredesbewaarders” en drie dae later het hy ’n volskaalse inval van stapel gestuur. Dit was ’n wekroep vir Europese leiers en Duitsland se destydse kanselier Olaf Scholz, het onmiddellik ’n Zeitenwende gevra – ’n besonder gewigtige verandering in mense se denkwyse. Daar was ’n skielike beweging vanaf pasifisme na oorlogsgereedheid, aangesien Duitsers vinnig die behoefte raakgesien het om ’n sterk militêre mag te bou vir gebruik waar nodig. Mnr. Scholz het gevra vir die besteding van €100 miljard (V.S. $108 miljard) om sy land se gewapende magte te herbou en om ’n jaarlikse militêre besteding tot meer as 2 persent van die BBP te verhoog, met inbegrip van die aankoop van F-35-stealth-vliegtuie wat toegerus is met kernwapens.
Dit was ’n verrassende verandering aangesien Duitsland sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog van sy militaristiese verlede wou wegkom terwyl hulle gefokus het op vreedsame naasbestaan en ’n sterk ekonomie. Ander Europese lande wat mnr. Poetin se wekroep ontvang het, het ook hulle eie militêre besteding verhoog, maar Duitsland is in ’n unieke posisie as gevolg van sy geskiedenis asook sy ekonomiese mag.
Die verkiesing van die Verenigde State se president Donald Trump, het Europeërs verder aangespoor om aangewese te wees op hulle eie verdediging. By die München-veiligheidskonferensie het die V.S. visepresident J.D. Vance, op 14 Februarie 2025 deelnemers geskok toe hy Amerika se Europese bondgenote gekritiseer het omdat hulle massa-migrasie toelaat, vryheid van spraak ondermyn, godsdiensvryheid ignoreer en poog om verkiesings omver te werp in die naam van “die verdediging van demokrasie”. Verstomde Europese leiers het gesê dat mnr. Vance se kommentaar “hulle ergste vrese bewaarheid het” (“The Speech That Stunned Europe”, 18 Februarie, ForeignPolicy.com).
Duitsland se nuwe rigting
Die V.S. is nie die enigste land met ’n nuwe leier nie. Op 6 Mei 2025 het die konserwatiewe Friedrich Merz, die leier van Duitsland se regse Christen Demokratiese Unie, sy land se nuwe kanselier geword. In ’n onderhoud met die openbare uitsaaier ZDF [Duitse televisie-kanaal], het mnr. Merz die Trump-administrasie dadelik versoek om nie betrokke te raak by die Duitse politiek nie en het die rol van die Europese Unie beklemtoon: “Saam is ons selfs groter as die V.S. ... Ons is in elk geval tot ’n groot mate verenig” (“Merz to Trump team: Stay out of German politics.” Politico.eu, 7 Mei 2025).
Waarnemers verwag dat mnr. Merz die Europese stappe na selfonderhoud sal bespoedig wat gevolglik die Europese Raad vir Buitelandse Betrekkings sal kenmerk as ’n “tweespoed versnellende Europa” met ’n innerlike kern van ekonomiese en militêre magtige nasies wat ’n groter rol sal speel. Dit pas in by Bybelprofesie, want op die oomblik is die Europese Unie uit 27 nasies saamgestel. Dit is hoofsaaklik ’n ekonomiese unie, maar die Bybel beskryf ’n militêre mag wat uit slegs tien nasies bestaan. Ons kan verwag dat daar ’n wydverspreide ekonomiese unie sal wees met ’n kleiner binnekern militêre-unie wat slegs ’n kort tydjie sal bestaan (Openbaring 17:12).
’n Onlangse artikel op German-Foreign-Policy.com het ’n kommerwekkende titel gehad: “Alles of niks: Duitse buitelandse beleidsadviseurs en kundiges dring aan op massiewe herbewapening en baie hoër troepegetalle. Hulle waarsku: Duitsland sal andersins invloed verloor en die EU sal disintegreer”. Die artikel het verder beweer dat “regeringsadviseurs en buitelandse beleidskundiges in Berlyn aandring op ’n massiewe toename in die militêre begroting, drastiese besnoeiings in sosiale besteding en die kragtige indoktrinasie (‘verandering van mentaliteit’) van die bevolking. Hulle argumenteer dat vinnige militarisasie, die taak van die volgende Duitse regering is ... die volgende regering moet die samelewing voorberei ‘vir Duitsland om die toonaangewende Europese mag te word – diplomaties sowel as militêr’” (4 Maart 2025).
Kanselier Merz, wie voorheen ’n sterk voorstander van die Trans-Atlantiese alliansie was, erken die erns van die skeuring in verhoudings en sien dat daar geen omdraaikans is nie. Hy het in Februarie aan Duitse wetgewers gesê: “My absolute prioriteit sal wees om Europa so gou as moontlik te versterk sodat ons, stap vir stap, werklik onafhanklikheid van die V.S.A. kan bereik” (Politico.eu, 24 Februarie 2025). Let daarop dat mnr. Merz dit gesê het selfs vóór die konfrontasie op 28 Februarie in die Withuis tussen Vladimir Zelensky en die V.S. president en vise-president. Wat behels hierdie onafhanklikheid?
Duitse wetgewers het gestem om ’n enorme verhoging in verdedigings-besteding asook besteding in infrastruktuur toe te laat – ’n reuse verskuiwing vir die land wat Europese verdediging kon hervorm. ’n Twee-derde meerderheid van die Duitse Bundestag-parlementslede, wat vir die verandering benodig word, het die stemming kort daarna goedgekeur. Die wet sal besteding aan verdediging en veiligheid van Duitsland se streng skuldreëls vrystel en ’n fonds vir infrastruktuur van €500 miljard ($547 miljard; £420 miljard) skep. Hierdie stemming is ’n geskiedkundige skuif vir ’n tradisioneel skuld-sku Duitsland. Dit kan geweldig betekenisvol wees vir Europa namate Rusland se volskaalse inval in Oekraïne steeds voortduur en nadat V.S.-president Donald Trump, ’n onsekere verbintenis tot NAVO en Europa se verdediging aangedui het” (“Germany votes for historic boost to defence spending, BBC.com, 18 Maart 2025).
Mnr. Merz is lank reeds ’n sterk voorstander van fiskale verantwoordelikheid en daarom behoort ons nie die belangrikheid van sy steun vir hierdie dramatiese verandering te onderskat nie. Selfs terwyl hy Duitsland se militêre mag probeer versterk, het hy nogtans nie Europa se behoefte aan ekonomiese krag uit die oog verloor nie. Nadat die Trump-administrasie ’n nuwe lys van “Bevrydingsdag”-tariewe op 2 April 2025 aangekondig het, het die meeste mense hulle aandag waarskynlik op die verhouding tussen die V.S. en China gefokus. Europa het egter ook die slag gevoel van wat hulle as ’n ongekende aanval op sy ekonomie beskou het. Die V.S. het nog nie sedert die Smoot-Hawley-tariefwet van 1930 weer sy handelsvennote met sulke ingrypende tariefverhogings gedreig nie. In reaksie op die nuus van die nuwe tariewe het mnr. Merz aan verslaggewers gesê dat hy mnr. Trump aangespoor het om tariewe “tot nul” te verlaag en hom daaraan herinner dat die “naaste handelsvennoot vir die V.S. nie Duitsland, Frankryk of Pole is nie – dit is Europa en die Europese Unie” (“Merz to Trump: Give us ‘zero’ tariffs” Politico.eu, 9 Mei 2025).
Na dekades wat hulle die posisie van vredesmaker en samewerkende mag in Europese en wêreldsake ingeneem het, is Duitsland nou gereed om ’n kragtiger rol op ekonomiese en militêre terreine te speel. Mnr. Merz het tydens ’n perskonferensie op 9 Mei, 2025 saam met EU-president Ursula von der Leyen gestaan en aan verslaggewers gesê: “Dit is nodig dat Duitsland ’n sterk asook ’n aktiewe rol, in die Europese Unie speel en die Duitse regering gaan dit doen” (“Merz says Germany is back with voice on stage,” DW.com, 9 Mei 2025). Die dae van ’n Duitsland wat getugtig en beskaamd gemaak is, as gevolg van sy militaristiese ambisies wat tot twee Wêreldoorloë gedurende die twintigste eeu gelei het, is verby.
’n Nuwe Europese wêreldleier
Mnr. Merz is nie die enigste nuwe leier wat tydens die afgelope maande op die Europese toneel verskyn het nie. Die verkiesing van Pous Leo XIV het die potensiaal om die verhoudings tussen die V.S. en Europa op maniere te kompliseer wat nog nooit voorheen beleef is nie. Leo is die eerste Rooms-Katolieke pous ooit uit die V.S. en het waarskynlik die wêreld se mees belangrike Amerikaner geword – tog staan hy aan die hoof van ’n wêreldwye organisasie met ’n kragtige oorsprong in Europa. Hy is ook ’n burger van Peru en het bande met die “Globale Suide” sowel as Europa – moontlik ’n waardevolle bate vir ’n Europa wat ’n nuwe balans van wêreldmag nastreef met minder V.S. invloed. Vir meer inligting oor die rol wat die pousdom in Europese en wêreldgebeure speel, lees asseblief Wallace G. Smith se insiggewende artikel “Oor Pouse en Profesie” elders in hierdie uitgawe.
“Europa se tyd het aangebreek”
Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie is op 4 April 1949 gestig kort na die Tweede Wêreldoorlog. Daar is informeel gesê dat NAVO gevorm was “om Duitsland in bedwang te hou, Rusland uit te hou en die Verenigde State binne te hou”. Wat ons nou sien gebeur is dat Duitsland opstaan, Rusland wat aan Europa se oostelike deur klop en die V.S. wat hom van Europa onttrek.
Dit is nie vreemd dat bondgenote geskille en verskille het om te oorkom nie, maar wat ons hier sien, is ’n geskiedkundige geopolitieke verskuiwing wat studente van Europese geskiedenis en Bybelprofesieë angswekkend behoort te vind. Die opkoms van ’n ekonomiese en onkeerbare militêre mag wat ’n kombinasie van Europese nasies behels, is iets waaroor hierdie bediening al dekades lank praat, skryf, verkondig en waarsku. ’n Jaar se tydskrifte van die Wêreld van Môre sou nie alles kon bevat wat ons al oor hierdie onderwerp gesê het nie en dit is besig om nou gestalte te neem. Ons bied verskeie boekies aan wat hierdie saak direk aanspreek. Dit sluit onder andere in, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? Indien u hierdie kragtige boekie, wat deur die oorlede evangelis en die Wêreld van Môre-bydraer John H. Ogwyn, geskryf is, nog nie gelees het nie, moedig ek u aan om dit te doen. U kan dit aanlyn lees of ’n gratis gedrukte eksemplaar bestel by wvm.co.za of by die streekkantoor naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif.
Wat ons nou sien gebeur, is die opkoms van ’n Duits-geleide Europa, wat besig is om ’n kragtige wêreldklas militêre mag op te bou wat kernwapens insluit en heeltemal onafhanklik is van die V.S. – sy voormalige beskermer. ’n Artikel wat in die tydskrif Politico verskyn het, met die titel “Will the threat of Trump end Germany’s austerity zeal?”
“In die lig van die bedreigings vir ons vryheid en vrede op ons vasteland”, moet die gesegde “wat dit ook al verg” nou op Europa se verdediging van toepassing wees, het Merz vroeër vandeesmaand aan verslaggewers gesê toe hy ’n geskiedkundige leningsplan aangekondig het wat €1 biljoen in nuwe besteding vir verdediging en infrastruktuur oor die volgende dekade sou kon vrystel … “Die vergadering in die Withuis tussen Zelensky en Donald Trump het werklik die hele drama saamgevat waarin ons vandag in terme van veiligheidsbeleid leef en dit is waarom ons vinnig moes optree”, het Merz Sondag [16 Maart] 2025 op openbare televisie gesê. “Ons moet nou ’n meer onafhanklike pad sónder Amerika inslaan”, het hy bygevoeg. “Europe’s time has come” (18 Maart 2025, klem bygevoeg)
Ja, Europa se tyd. Nie slegs Duitsland s’n nie. Reuters het oor hierdie reaksie van die president van die EU-kommissie berig na die konfrontasie in die Withuis tussen die V.S. se administrasie en president Zelensky van die Oekraïne: “Nuwe EU-planne om Europa se verdedigingsbedryf te versterk en militêre vermoëns te vermeerder, kan byna 800 miljard euro ($841.4 miljard) mobiliseer, het die president van die EU-kommissie, Ursula von der Leyen, gesê ... Die EU sal voorstel om aan lidstate meer fiskale ruimte vir beleggings in verdediging te voorsien, sowel as 150 miljard euro in lenings vir daardie beleggings en sal ook daarna mik om private kapitaal te mobiliseer” (“EU defence plans could mobilize 800 miljard euro says von der Leyen,” Reuters.com, 4 Maart 2025).
Europese nasies maak gereed vir ’n bedreiging aangesien hulle besef dat hulle nou op hulle eie bene moet staan en ’n bedreiging uit die Ooste in die gesig staar. Die militêre ontwaking van Europa en veral van Duitsland, is nie net ’n geringe saak nie. Gedurende die laaste eeu het ’n gemilitariseerde Duitsland twee keer die wêreld in oorloë gedompel wat die lewens van etlike miljoene mense geëis het. Ons weet dat dit nie hulle voorneme is om ’n derde rondte teweeg te bring nie, maar die afstammelinge van antieke Assirië sal weereens die wapens teen die nasies van Israel opneem:
“Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:5-7).
Die transformasie van Duitsland en Europa is geskiedkundig en dit vind teen ’n verbysterende spoed plaas. ’n BBC-artikel met die titel “Duitsland besluit om die geskiedenis agter te laat en voor te berei vir oorlog” het Duitsland se ontnugterende verandering in verdedigingsbeleid weerspieël:
Duitsland se weermag, die Bundeswehr, het onlangs die groen lig gekry vir ’n massiewe toename in belegging, nadat die parlement daarvoor gestem het om verdedigingsbesteding van streng reëls oor skuld vry te stel. Die land se hoof-generaal het aan die BBC gesê dat die kontanthupstoot dringend nodig is omdat hy glo dat Russiese aggressie nie by die Oekraïne sal eindig nie. “Ons word deur Rusland bedreig. Ons word deur Poetin bedreig. Ons sal doen wat nodig is om dit te ontmoedig”, sê generaal Carsten Breuer. Hy waarsku dat NAVO homself behoort te staal vir ’n moontlike aanval binne so min as vier jaar ... “Hoe gouer ons voorbereid is, hoe beter” (BBC.com, 31 Maart 2025, klem bygevoeg).
Die komende Europese mag
Die feit is dat die V.S. en Europa uitmekaar dryf. Europeërs erken hulle behoefte om te verenig ter wille van hulle eie verdediging en Duitsland besef die nodigheid om na vore te tree. Die boek Openbaring beskryf wat ons in die nabye toekoms sal sien. Ons kan nie die presiese tydsberekening vooraf bepaal nie, maar soos in die aanhaling hierbo getoon, is die tyd min wat dit Europa sal neem om voor te berei om ’n aanval deur ’n kern-supermoondheid aan sy oostekant teen te staan – dalk net vier jaar of selfs minder.
Bybelprofesie verduidelik dat hierdie “dier”-moondheid egter veel meer sal doen as om Europa teen Russiese aanvalle te verdedig. Hierdie Duits-geleide mag van “konings” (nasies of groepe van nasies) sal die hele wêreld weereens in oorlog dompel soos twee keer in die vorige eeu gebeur het. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier gee” (Openbaring 17:12-13). Wat is die tydsberekening van hierdie profesie? Tydens die Wederkoms van Jesus Christus: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (vers 14).
My pa het my eenmaal vertel dat die Europeërs nooit bymekaar kon staan nie – dit was gebruiklike wysheid wat gebaseer was op sy kennis van die verskille tussen die Europese volke. Die Bybel beskryf tog dat hulle presies dít sal doen. Hierdie selfde tien nasies wat in Openbaring gevind word, word in die boek Daniël uitgebeeld as die voete en tone van ’n reusebeeld wat koning Nebukadnésar in ’n droom gesien het. Ons weet hulle is dieselfde as gevolg van die konteks en hoe hulle deur die terugkerende Messías vernietig sal word.
“En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie” (Daniël 2:41-43).
Wanneer sal hierdie brose kombinasie van tien nasies dan uitmekaar val? Ten tye van God se ingryping, wanneer Jesus Christus terugkeer om ’n ander Koninkryk op te rig: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).
Gebeure is besig om vinnig te ontvou. Terwyl ek hier skryf en teen die tyd wat u hierdie tydskrif lees, hoeveel meer sal die wêreld verander? Maak seker dat u voortgaan om Die Wêrld van Môre te lees om Bybelprofesieë te verstaan soos dit voor u oë afspeel.


