Het u dit wat benodig word om ’n Christen te wees? Is u seker? Volgens Jesus Christus Self is dit nie so maklik om ’n Christen te wees as wat sommige mense wil voorgee nie.

’n Ryk, jong heerser het Jesus gevra: “Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Jesus se reaksie was doelgerig en op die man af deur aan hom te sê “as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:16-17).

Die jongman vra Hom toe “watter” gebooie hy moet onderhou. “En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (verse18-19). Jesus het God se wet van liefde beskryf: die Tien Gebooie.

Jesus verduidelik toe aan die jongman dat hy steeds ’n vals god in sy lewe het: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My” (vers 21). Deur daardie een “goeie ding” te doen, kon die ryk jong heerser sy vals god afsweer en werklik begin om die gebooie te onderhou. Hy was egter onwillig om dit te doen en het weggegaan.

Wat sou u gedoen het indien u in die skoene van daardie jong heerser gestaan het? Wat sou u bereid wees om prys te gee? Nog belangriker, wat is u vandag bereid om prys te gee ten einde ’n dissipel van Christus te wees? Of, vanuit ’n ander oogpunt beskou, wat is u onwillig om prys te gee? Plaas u enigiets in u lewe voor God?

Jesus sê: “As iemand na My toe kom en hy haat [minder liefhê in vergelyking] nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26).

Ja, om ’n dissipel van Christus te wees, kan jou uit pas laat wees met jou familie en die wêreld. U mag dalk nie besef nie dat wat die meeste mense “Christelikheid” noem, ver verwyder is van die Christelikheid van die Bybel. Die bekende filosoof, Soren Kierkegaard, het eenkeer gesê: “Die Christelikheid van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie. Deur die eeue heen het miljoene mense God geleidelik uit Christelikheid gekul en daarin geslaag om Christelikheid presies die teenoorgestelde te maak van wat dit in die Nuwe Testament is”.

Deur die eeue heen, deur die een klein verandering na die ander, het die mense die Christelikheid van die Bybel vervang met ’n geloof wat baie weerspreek van dit wat die Verlosser geleer het. Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie” (Mattheus 5:17), maar baie mense vandag sê egter dat Jesus weggedoen het met Sy Vader se swaar gebooie deur dit met liefde te vervang. Die Bybel sê egter: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:2-3).

Kierkegaard was egter verkeerd. Die Christelikheid van die Nuwe Testament bestaan wel nog. Dit word egter nie aangetref by die wêreld se groot en gewilde kerkgenootskappe nie. Daar is steeds mense wat die Christelikheid van Christus en die Apostels aktief uitleef. Hulle loop nie in geslote-gelid met hierdie wêreld se “Christelikheid” nie. Hulle volg die Bybel – die geïnspireerde Woord van God – om te leer en te leef volgens die leerstellings en gebruike wat Christus en die Apostels nagelaat het. Het u, soos hulle gehad het, wat dit vat om Jesus Christus eerste te stel, selfs al bring dit u in onguns met die wêreld? Het u dit wat benodig word om ’n ware Christen te wees?