Brittanje is relatief ’n klein eilandnasie maar het nogtans oor die eeue heen geweldige gesag en finansiële mag uitgeoefen. Londen was lank reeds ’n finansiële middelpunt vir die wêreld! Die pond sterling was ’n standaard globale geldeenheid en dit bly een van die sterkste wêreldgeldeenhede. Daarbenewens word die Financial Times-aandelebeurs, ’n aandele-indeks van Brittanje se top 100 maatskappye, wêreldwyd gerespekteer. Brittanje se lewenstandaard bly steeds ook onder die hoogste ter wêreld.

Daar is nogtans iets verkeerd met Brittanje se staatskas. Sy skynbare rykdom en finansiële oormag is slegs ’n illusie. Nadat die nuwe Arbeidersregering in Julie 2024 aan bewind gekom het, het Reuters ’n artikel gepubliseer met die opskrif: “Britain is ‘broke and broken’, new government declares” (29 Julie 2024). Die nuwe regering het nogtans doelbewus opruiende taal gebruik om die skuld vir Brittanje se huidige finansiële probleme op hulle voorgangers te plaas, die waarneming was korrek en dit het in werklikheid lig gewerp op ’n probleem wat al dekades lank in die nasie aan die broei was.

 

Op die rand van ’n krisis

’n Kommentaarskrywer van die gerespekteerde Telegraph het dit as volg betreur: “Daar is baie rooi ligte wat flikker, maar niemand in Brittanje se beleërde regering wil dit weet nie” (25 Januarie 2025). Die ontnugterende titel van die kommentaar was: “Brittanje is op die rand van ’n volskaalse fiskale krisis”. Die skrywer van die Telegraph het ook opgemerk dat ander nasies Brittanje sien as “’n kwynende medium-grootte ekonomie aan die rand van Europa wat steeds sukkel om Brexit tot sy ekonomiese voordeel te laat werk”. Die kern van die saak is dat Brittanje, ’n nasie met min binnelandse spaargeld is en groot lenings aangaan – dit het toenemend afhanklik geraak van buitelandse geld om kop bo water te hou.

’n Interne blik toon dat agt Britse stads- of dorpsrade (plaaslike regerings) sedert 2020 bankrot gespeel het (Telegraph, 27 November 2024) – dikwels as gevolg van slegte beleggings wat raadslede gehoop het hulle finansiële tekorte sou help. Verhoogde behuisingskoste en koste vir versorging van bejaardes wat dikwels deur stadsrade gedra is, maak dit byna onmoontlik om te bestuur. Wat die nasionale regering betref, is uitgawes soos nasionale versekering, openbare sektor pensioene en studieleningskuld besig om die ekonomie te knou. Verskeie universiteite sal na verwagting binne die volgende paar jaar bankrot speel, wat waarskynlik ’n reddingsboei van die regering sal vereis. Die Nasionale Ouditkantoor (NAO) wat verantwoordelik is vir die toesig oor die uitgawes van meer as 10,000 openbare instellings, het ’n “ernstige agterstand” in sy oudits van openbare rekenings gerapporteer. Dit beteken die regering bestee geld sonder duidelike kennis van beskikbare fondse. Een finansiële skrywer het dit so gestel: “Die harde werklikheid is dat die VK die afgelope twintig jaar geleidelik uit geld geraak het. Ons weet nie presies hoe naby ons daaraan is om sonder geld te wees nie. Die NAO-besluit is egter ’n teken dat die einde van die tydperk dalk baie nader is as wat enigiemand nou besef”.

Ekonome voorspel dat ’n toename in regerings- en huishoudelike besteding in 2025 sal lei tot ’n verbeterde Britse ekonomie wat stagnerende Europese ekonomieë sal oortref (Financial Times, 2 Januarie 2025). Met traende loonverhogings en toenemende werkloosheid sal die lewenstandaard vir die gemiddelde persoon egter steeds afneem. Toenemende skuld sal waarskynlik lei tot ’n behoefte om belasting te verhoog – wat die toestande vir die gemiddelde loontrekker verder sal versleg.

Brittanje is nie die enigste land wat finansiële probleme het nie. Europa as geheel, sukkel finansieel. Duitsland het geen ekonomiese groei in vyf jaar getoon nie en die motorvervaardigingsektor is besonder hard getref (The Independent, 17 Februarie 2025). Daarbenewens, volgens ’n voormalige hoof-ekonoom van die Internasionale Monetêre Fonds, is “Frankryk op die rand van ’n ekonomiese krisis” as gevolg van jare se politieke onaktiwiteit (FirstPost, 18 Januarie 2025). Die Franse regering het sedert 1974 op bestedingstekorte staatgemaak – dit beteken 50 jaar se oorbesteding sonder voldoende inkomste (Harvard International Review, 5 November 2024). Hoe lank kan dit voortduur? Ekonome wonder hoe Europa sal vaar indien Frankryk se ekonomie ineenstort aangesien Frankryk saam met Duitsland, een van die twee hoof ekonomiese dryfvere van die vasteland is.

Die Telegraph-skrywer Matthew Lynn het ’n ontnugterende opmerking gemaak oor Brittanje se finansiële toekoms: “’n Ernest Hemingway-karakter is gevra hoe hy bankrot gespeel het. Hy verduidelik: ‘Geleidelik. Toe skielik’”. Vir die VK “kan die ‘geleidelik’ nou enige dag na ‘skielik’ verander” (27 November 2024).

 

Oorsake en gevolge

Baie nasies regoor die wêreld verkeer in ernstige finansiële nood. Waarom sukkel die VK en ander voorheen groot nasies wat van Israelitiese afkoms is? Deur profesieë werp die Bybel lig op vandag se situasie. God het beloof om hierdie nasies te seën en te beskerm solank as wat hulle op Hom gefokus bly:

“Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen” (Deuteronómium 28:12-13).

God begeer dat hierdie nasies voorspoedig sal wees as gevolg van beloftes wat Hy gemaak het om die nageslag van Abraham deur Isak te seën (Génesis 22:15-18). Hy het egter gewaarsku dat, indien die nasies van Israelitiese afkoms Hom verwerp, verskriklike vloeke sou volg – dit sluit ook finansiële ondergang in: “En jy sal ’n voorwerp van verbasing, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal wegvoer … Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronómium 28:37, 43-44).

Die Verenigde Koninkryk en die ander nasies van Israelitiese afkoms in die Weste het gekies om God te verwerp. Ongelukkig lei dit tot die onttrekking van hulle seëninge. Dit sal ook lei tot toekomstige lyding en vernedering. God is tog genadig en Sy toorn is van korte duur (Psalm 30:6). Hy beplan ’n toekoms en ’n hoop vir die nasies van Israelitiese afkoms soos Brittanje asook vir die hele mensdom (Jeremia 29:11). Hy beplan om hulle terug te verwelkom wanneer hulle hulle in die toekoms werklik tot Hom sal wend: “So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eségiël 33:11).

Die Bybel is duidelik oor die donker toekoms van Brittanje se goddelose planne – maar hulle finansiële probleme sal nie vir ewig duur nie. God is genadig en liefdevol en Hy sal die Britse volk weer met oorvloed seën wanneer hulle uiteindelik hulle verkeerde weë insien. Indien u belangstel om meer te leer oor die hoop vir die Britte en die nasies van Britse afkoms, lees gerus ons fassinerende boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? by wvm.co.za of kontak die streekkantoor naaste aan u (lys op bladsy 2) om u gratis gedrukte eksemplaar te ontvang.