Die grootste tekortkoming in die meeste mense se benadering tot godsdiens is moontlik hul lou en ongeërgde benadering tot die waarheid. Sommige van u mag dit in hierdie wêreld van “politiese korrektheid,” van meeloop met hierdie wêreld se samelewing van “geen vaste waardes nie, as baie onbelangrik ag.” Om die volle waarheid te leer, dit te verkondig en uit te leef, is egter ontsaglik belangrik vir die God van die Bybel!

Stel u belang in wat die groot God van die Bybel sê aangaande hierdie lewensbelangrike onderwerp?

Ons by Die Wêreld van Môre wil u die waarheid leer! Enigiets minder as dit, is werklik gevaarlik – glo dit as u wil. Jesus Christus van die Bybel sê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Johannes 4:24). Hy sê dat as u, persoonlik, die ewige lewe wil beërwe, dan moet u God in waarheid aanbid!

Wat is die uiteindelike waarheid waarom ons gebore is, die doel van die lewe en hoe om daardie opperdoel te bereik? Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Jesus Christus Self het gesê dat die Bybel – God se Woord – die opperste waarheid van ons Skepper is. Hy sê ook: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Jesus het regdeur Sy bediening gereeld daardie boeke van die Bybel, wat ons vandag die Ou Testament noem, erken as “Skriftuur” – as die geïnspireerde woord van God. Met verwysing na die Ou Testament het Hy aan die Jode gesê: “Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie ...” (Johannes 10:34-35). Jesus het dit dus baie duidelik gemaak dat die Ou- en Nuwe Testamente – wanneer dit reg verstaan word – mekaar nie weerspreek nie. Dit is omdat die Nuwe Testament bloot 'n uitbreiding of “vergroting” van die Ou Testament is (Jesaja 42:21).

Mense vandag “verwerp” in werklikheid die Bybel – moontlik sonder dat hulle dit besef – in terme van wat hulle werklik glo en beoefen in hul belydende “Christelike lewens”. “Algemene Christelikheid” het deur die eeue heen tallose vals idees ontwikkel, begrippe en praktyke wat totaal teenstrydig is met die duidelike leringe van die Bybel! In byna elke uitgawe van Die Wêreld van Môre-tydskrif, toon ons dit duidelik aan uit die Bybel self. Ons wil ons lesers opreg help om die volle waarheid te leer van wat die Bybel werklik sê. Ons vra u om dít wat ons sê, vir uself – reg uit u eie Bybel – te bewys! Dit is omdat die waarheid vir God baie belangrik is! Die apostel Paulus is geïnspireer om 'n groot vals godsdiensstelsel te beskryf – 'n stelsel wat die hele wêreld sou mislei – wat “alreeds aan die werk was” toe hy 2 Tessalonicense 2:7 geskryf het. Hy het geskryf dat hierdie vals godsdiens sou kom “met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (vers 10). Die Bybel voorspel dat hierdie stelsel homself binnekort met groot krag gaan vestig en die belydende Christenwêreld wesenlik gaan oorneem! U lewe of dood is op die spel! Verstaan asseblief!

Deur van Paulus se geïnspireerde sinsdeel gebruik te maak: Het u “die liefde tot die waarheid”?

God se Woord wys dat die meeste mense meegesleur gaan word deur “die krag van die dwaling ... om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:11-12). Paulus is ook geïnspireer om ons in die laaste boek wat hy geskryf het, te waarsku: “... want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheus 4:3-4).

Dit is 'n hoofrede waarom Paulus Christene vroeër onderrig het: “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig” (2 Timotheus 2:15, NV). Almal van ons moet God se geïnspireerde Woord werklik bestudeer – dit nie net ongeërg lees of slegs 'n paar sentimentele stukkies lees vir vertroosting nie. Ons moet ons laksheid laat vaar en uitvind wat ons Skepper ons in Sy instruksiehandleiding – die Bybel – vertel!

Die U.S. News & World Report het 'n paar jaar gelede 'n deeglik nagevorsde artikel gepubliseer oor “Geloof in Amerika.” Die skrywer het, nadat hy 'n paar studies en meningsopnames aangehaal het, gesê: “Intussen glo meer as drie uit vier Amerikaners dat alle gelowe ten minste 'n paar elemente van die waarheid bevat – hoewel min sê dat hulle veel van ander gelowe behalwe hul eie weet. Bykans 70 persent van mense dink dat geestelike ondervindinge die heel belangrikste deel van geloof is. 'As iemand se geloof meer oor indiwiduele identiteit as oor leerstelling en geloofsbelydenis gaan, is dit baie makliker om toegeeflik te wees,' sê Egon Mayer, 'n sosioloog aan die Graduate Center van die stadsuniversiteit van New York. Gallup sê die graad van godsdiensverdraagsaamheid weerspieël gedeeltelik, 'nie slegs 'n onkunde aangaande ander gelowe nie maar ook 'n onkunde aangaande eie geloof.' Hy sê dat in party meningsopnames daar 'Christene is wat sê, “Ja, Jesus is die enigste weg” en ook: “Ja, daar is baie paaie wat na God ly.” Dit is nie dat Amerikaners in niks glo nie; hulle glo alles'” (6 Mei 2002).

In plaas daarvan om in hierdie tipe verwarring te verval, moet ons ywerig wees om onsself te motiveer om uit te vind wat die Bybel werklik sê. Onthou asseblief hierdie grondbeginsel in elke aspek van u lewe: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie” (Prediker 9:10). Onthou hoe God se Woord die Christene van Beréa aangeprys het omdat hulle werklik die waarheid bestudeer en vir hulself bewys het deur gereelde, toegewyde Bybelstudie: “Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê” (Handelinge 17:11).

Vra uself asseblief: “Hoeveel uur per week bestee ek daaraan om televisie te kyk?” Vra dan: “Hoeveel uur per week bestee ek daaraan om werklik die Bybel te bestudeer – die geïnspireerde openbaring en instruksiehandleiding van my Skepper?” U eerlike antwoorde op hierdie belangrike vrae sal moontlik baie insiggewend wees!

Die punt is dat ons Skepper dit van ons verwag om ywerig te wees in ons soeke na die waarheid! Vir u eie onthalwe, moet asseblief nie ongeërg aanvaar dat “alle gelowe dieselfde is” of dat “die meerderheid altyd reg is” nie. Dink! As die meerderheid altyd reg is, dan moet ons nie enigsins Christene wees nie. Dit is omdat sowat twee-derdes van alle mense hulself nie eers Christene noem nie.
Dit is waarom Jesus Christus sê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Mattheus 7:13-14). Dit is waarom die apostel Paulus geskryf het: “... toets dit alles, behou wat goed is” (1Thessalonicense 5:21).

My vriende, ons moet selfs meer opgewonde raak om die ware weg na die ewige lewe te leer as oor wie die laaste rugbywedstryd of gewildheidskompetisie gewen het! Dit mag vanselfsprekend klink, maar baie min mense het hul prioriteite in orde – selfs al is hul ewige lewe ter sprake.

Ons moet almal leer om ywerig te wees – om naarstelik te wees – in ons soeke na God, om die waarheid te soek en daarvolgens te handel. In sy laaste brief het die apostel Petrus geskryf: “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Petrus 1:10-11).

Waarom glo u die dinge wat u glo? Is dit omdat u eerlik en ywerig die Bybel met 'n oop gemoed bestudeer het om die geopenbaarde waarheid te vind? Mag God u van vandag af help om presies dít te doen. Namate hierdie huidige samelewing om ons begin verbrokkel en namate kragtige gebeure wat in die Bybel voorspel is begin om al hoe vinniger te ontvou, skuld u dit aan uself en aan u geliefdes om die basiese dinge van die lewe te bestudeer en dit werklik te bewys. Leer om ywerig te wees oor daardie dinge wat werklik saak maak!