Vraag: Die apostel Paulus sê dat “liefde die vervulling van die wet” is (Romeine 13:10). Beteken sy stelling dat ons nie die Tien Gebooie hoef te onderhou indien ons liefde het nie?
Antwoord: Die “liefde” waarvan Paulus skryf is nie ’n sentimentele gevoel van menslike oorsprong nie – hy verduidelik dat dit die ware liefde van God is wat deur die Heilige Gees aan ons verstand oorgedra word (Romeine 5:5; Galásiërs 5:22). Dit is die liefde wat ’n mens in staat stel om die Tien Gebooie te onderhou – oftewel te vervul. Presies hoé vervul God se liefde dan Sy Gebooie?
Jesus Christus het die voorbeeld gestel wat alle Christene behoort te volg (1 Petrus 2:21). Hy het Sy Vader se Gebooie onderhou en Hy het ander mense onderrig om dit te onderhou (Johannes 14:15; 15:10; Matthéüs 19:16-19).
Jesus het die Tien Gebooie opgesom as die uitdrukking van liefde vir God en ons medemens (Matthéüs 22:35-40). Die eerste vier Gebooie dui vir ons aan hoe om God lief te hê en die laaste ses Gebooie dui vir ons aan hoe om ons naaste lief te hê. Aangesien die apostel Johannes vir ons sê dat die mees fundamentele eienskap van God se natuur en karakter “liefde” is (1 Johannes 4:8, 16), is die Tien Gebooie dus uitdrukkings van die Allerhoogste Wetgewer se Goddelike liefde, omdat dit Sy ware karakter weerspieël, wat opgesom word deur liefde. Hierdie liefde is nie ’n vorm van menslik bedinkte liefde nie, maar is eerder die ware, Goddelike liefde wat direk van God af kom deur Sy Heilige Gees (Romeine 5:5).
Aangesien God liefde is, wys Jesus daarop dat die geestelike bedoeling en doelwit van God se Wet, liefde is. Die Goddelike liefde van God, waaraan ware Christene deur Sy Heilige Gees deel kan hê, word uitgedruk binne die uitvoering van Sy Wet – die Tien Gebooie. Dit is gemanifesteer in verering en aanbidding van God en in getroue gehoorsaamheid aan Hom, sowel as in uitgaande besorgdheid, empatie, welwillendheid en diens aan diegene rondom ons. Die liefde van God stel ons in staat om nie net die físiese bedoeling nie, maar ook die gééstelike bedoeling van Sy Wet te vervul.
“Paulus verduidelik: “Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:8-10).
God openbaar dat ons uitdrukking gee aan Sy liefde deur Sy Gebooie te onderhou. Johannes verduidelik eenvoudig hoe God se liefde uitgedruk word en hy definieer daardie liefde soos volg: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:2-3).
Die Wet definieer liefde
Met dit alles wat uiteengesit is, kan daar moontlik enige waarheid hoegenaamd wees in die wydverspreide oortuiging dat “liefde” die Wet van God op so ’n manier vervul dat die onderhouding van die Tien Gebooie nie meer nodig is nie?
Johannes het uitdruklik geskryf dat die antwoord nee is:
“En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:3-6).
Johannes het beslis die noodsaaklikheid van God se liefde beklemtoon, maar nooit het hy of enige ander skrywer van die Skrif, ons onderrig dat hierdie liefde die Wet van God vervang, afskaf of ongeldig maak nie. Johannes wat een van Jesus se dissipels en Sy goeie vriend was, het duidelik gesê dat iemand wat waarlik die liefde van God het, die Gebooie van God sal onderhou: “En dit is liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie” (2 Johannes 5-6).
Die tyd is naby wanneer die hele wêreld wat deur Jesus Christus regeer sal word, sal verstaan en waardeer watter ongelooflike seën die Wet van God werklik is. ’n Glorieryke wêreld van vrede en harmonie sal voortspruit uit die onderhouding van God se Wet (Jesaja 2:2-3).


