Wat het die Lam van God met ’n haas te doen?
Op die ouderdom van vyf of ses jaar, het ek my moeder gevra: “Waarom word Paasfees Paasfees genoem?” Sy kon my nie ’n antwoord gee nie, al was sy gelowig. Sy was nie die enigste godsdienstige persoon wat gesukkel het om hierdie vraag te beantwoord nie.
Dit was ’n volle tien jaar later toe ek uiteindelik die werklike rede verstaan het waarom Paasfees Paasfees genoem word. The Catholic Encyclopedia erken dat die Engelse woord Easter verwant is aan Estre, ’n Germaanse godin van die opkomende lig van die dag en lente” (“Easter,” NewAdvent.org). Dit was vir my skokkend om dit uit te vind! Hierdie “Christelike” vakansiedag is vernoem na ’n heidense godin?
Die artikel gaan voort: “Paasfees is die belangrikste fees van die kerklike jaar ... Die Apostoliese Vaders noem dit nie en die feit dat ons die eerste keer daarvan hoor, hoofsaaklik deur die twispunt van die Quartodecimans, is bloot toevallig”. Nog ’n skok – Paasfees was nooit eers deur die Apostels genoem nie en ongehoord totdat ’n twispunt plaasgevind het lank nadat die Apostels gesterf het?
Die Katolieke Ensiklopedie gaan voort, “het die Roomse Kerk aanspraak gemaak op die nakoming van hierdie viering op grond van die gesag van Petrus en Paulus.” Wag ’n bietjie! Ons lees net dat die Apostoliese Vaders nie Paasfees noem nie, maar tog word die apostels Petrus en Paulus as die gesag vir die onderhouding daarvan geëis? Nie net is Paasfees die naam van ’n heidense godin nie, maar Jesus se oorspronklike Apostels het dit nooit genoem in al die jare waartydens hulle die Kerk gelei het nadat Hy na die Hemel opgevaar het nie.
Die Quartodeciman-twispunt het nie plaasgevind tot omstreeks 155 n.C. nie – Polycarp, ’n biskop van Smirna wat deur die apostel Johannes onderrig is, het met Anicetus, ’n biskop van Rome, met betrekking tot die onderhouding en datum van die Pasga gestry. Dit is deur sommige mense verwerp ten gunste van die viering van die opstanding. Dekades later het Polycrates, biskop van Éfese – wat deur Polycarp onderrig is – na bewering oor dieselfde saak met Victor, biskop van Rome, getwis. Nog later, in 325 n.C., het die Romeinse keiser Konstantyn (wat van 306 tot 337 n.C. regeer het) die Eerste raadsvergadering van Nicea byeengeroep. Ná hierdie byeenkoms het hy ’n hewige vervolging gelas van diegene wat voortgegaan het om die Christelike Pasga op die veertiende dag van die eerste maand te onderhou.
Die opdrag wat Jesus gegee het
Ek onthou hoe beïndruk my hoërskool geskiedenisonderwyseres was deur keiser Konstantyn. Sy het gedink hy was wonderlik om “al die heidene in die Christendom in te bring”. In werklikheid was Konstantyn eintlik ’n sonaanbidder, wat op sy sterfbed “gedoop” was en slegs heidene “bekeer” het deur Christelike etikette op hulle onbybelse gebruike en vierings te plaas.
Wat betref Paaseiers, erken die Catholic Encyclopedia byvoorbeeld dat “hierdie gebruik sy oorsprong in die heidendom mag hê, aangesien ’n hele aantal heidense gebruike, wat die terugkeer van die lente vier, na Paasfees neig”. In verband met die paashaas erken die Catholic Encyclopedia dat “die haas ’n heidense simbool is en nog altyd ’n embleem van vrugbaarheid was”. Die haas was die simbool van die fees van Eostre, die heidense godin van vrugbaarheid. Die Christendom het “die viering in die Paasfees-seremonies aangeneem”, wat baie ander heidense Eostre gewoontes ingesluit het.
Wat behoort ons dan te onderhou?
Jesus, die Paaslam van God (Johannes 1:29; 1 Korinthiërs 5:7), het voor Sy kruisiging ’n laaste maaltyd saam met Sy dissipels gehad. Hierdie maaltyd het op die aand van 14 Nisan plaasgevind, in die eerste maand van die Hebreeuse kalender – die Bybelse datum van die Pasga (Levitikus 23:5; Lukas 22:15). Jesus het Sy dissipels se voete gewas en hulle geleer om “mekaar se voete te was” (Johannes 13:14). Hy het nie gepraat oor die nakoming van heidense Paasfees gewoontes nie.
In plaas daarvan het Hy spesifieke instruksies gegee oor die onderhouding van die Pasga met nuwe simbole van brood en wyn (Matthéüs 26:26-27). Die ongesuurde brood simboliseer Christus se liggaam, wat vir ons gebreek is, en die wyn simboliseer Sy bloed, gestort vir die vergewing van ons sondes. Om meer te leer, lees gerus die artikel: “Die waarheid oor die Christelike Pasga” elders in hierdie uitgawe. Diegene wat na die Christenskap van die Bybel soek, behoort Jesus se eie voorbeeld en opdrag in ag te neem – en dan daarvolgens op te tree.
Indien u meer te wete wil kom oor die Heilige Dae se onderhoudings wat deur die Almagtige God beveel is – wat deur Jesus Christus se Apostels onderhou is en tot vandag toe deur Sy ware volgelinge onderhou word – vra gratis kopieë van Paasfees: Die storie wat nie vertel is nie en Die Heilige Dae – God se meesterplan, of lees dit aanlyn by wvm.co.za.


