In ons hedendaagse wêreld lyk dit of die wetenskap en die Bybel voortdurend in stryd is met mekaar en dit is sekerlik waar dat daar vrae ontbreek wat opgelos behoort te word. Baie “teenstrydighede” tussen die wetenskap en die Bybel is egter illusies, wat óf voortspruit uit die wanbegrip van die wetenskaplike data óf as gevolg van die gebrek daaraan om die waarheid van God se Woord te verstaan.

Een voorbeeld is die ouderdom van die aarde. Moet Christene altyd in ’n stryd gewikkel wees met die teorieë van betroubare geoloë ten einde die aansprake van die Bybel te aanvaar? Presies hoe oud is die aarde?

Ons kan baie duidelik in die Skrif sien dat die skepping van vandag se plante, diere en mense – Adam en Eva – sowat 6,000 jaar gelede plaasgevind het. Die Bybel voorsien ons van genoeg inligting oor die ouderdomme van die aartsvaders en hulle nageslag dat dit moeilik is om hierdie gevolgtrekking te betwis. In verband met die oorsprong van die mensdom in die Tuin van Eden – byna ses millennia gelede – is God se Woord duidelik.

Net so duidelik kom byna alle betroubare geoloë wat na bewyse van ons planeet se ouderdom kyk, tot die gevolgtrekking dat die aarde al vir ’n lang tyd bestaan. “Vra vir enige geoloog hoe oud die aarde is”, skryf die Amerikaanse geoloog G. Brent Dalrymple, “en die kans is baie goed dat hy of sy ’n antwoord van baie naby aan 4,54 [miljard jaar] sal verskaf” (The Age of the Earth, bl. 305). Hoewel toekomstige ontdekkings hierdie gevolgtrekking kan omverwerp, is 4.5 miljard jare baie ooreenstemmend met ander bewyse van die aarde se ouderdom, soos dié wat uit meteoriete en maanmateriaal geneem is.

’n Ouderdom van 6,000 jaar is beslis ver van 4,540,000,000 af!

Diegene wat egter die Bybel in hulle lewens op die proef gestel het, het geleer om dit te vertrou as die Woord van God. Wat sê die Bybel dus werklik oor die ouderdom van die aarde? Verbasend genoeg sê dit baie meer en baie minder as wat baie mense verstaan.

 

Ses letterlike dae – maar wanneer?

Dit is wonderlik en letterlik waar “want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik” (Exodus 31:17). Hierdie “skeppingsweek” het byna 6,000 jaar gelede plaasgevind, net soos wat dit in die Skrif aangedui word. Wat baie mense egter nie raaksien nie, is dat die planeet Aarde en die hemele rondom dit, alreeds bestaan het aan die begin van daardie week.

Ons lees in die heel eerste vers van die Bybel, nog vóór die gebeure van daardie week: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Génesis 1:1). Soos ons sal sien, het daardie aanvanklike “begin” van die aarde en die hemele – voor Adam en Eva en voor die diere en plante waarmee ons bekend is – dalk baie lank gelede plaasgevind!

Let noukeurig op na die tweede vers van Génesis, wat baie mense nie raaklees nie en die duidelike implikasies daarvan miskyk as gevolg van die gewone vertaling: “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed” (Génesis 1:2). ’n Eenvoudige stelling – maar dit behels veel meer as wat die oog kan sien. Die vertaling van die woorde “dit was woes en leeg” is vertaal uit die Hebreeuse woorde tohu en bohu. Hierdie twee woorde, wat net drie keer tegelykertyd in die Skrif gebruik word, dui op ’n onbewoonbare woesteny – ’n toestand van verwoesting of vernietiging. Dit is betekenisvol dat die ander twee gedeeltes waar tohu en bohu saam gebruik word – Jesaja 34:11 en Jeremia 4:23, aandui dat sulke verlate toestande van ruïnes en verwoesting deur sonde teweeggebring is.

Verder wys geleerdes daarop dat die Hebreeuse hayah – wat in Génesis 1:2 met “was” vertaal is, ook die idee van “geword het” weergee. Later in Génesis, in die gedeelte wat die vernietiging van Sodom en Gomorra beskryf, lees ons dat Lot se vrou “’n soutpilaar [hayah] geword” het (Génesis 19:26). Dit is duidelik dat Lot nie met ’n soutpilaar getrou het nie – sy was nie altyd so nie. Net so kan Génesis 1:2 meer gepas letterlik vertaal word dat “die aarde” ’n verlate woesteny geword het – die Hebreeus impliseer nie dat dit in daardie toestand geskep is nie!

 

Geskep in skoonheid – nie in chaos nie

Indien ons hierdie feite saamvoeg, kan ons verstaan dat God sekerlik die hemele en die aarde met buitengewone orde en skoonheid sou geskep het, maar deur een of ander sondige voorval het dit alles verlate en verwoes – geruïneer en onbewoonbaar – geraak en vernuwing was nodig vóór die skepping van die mensdom (vergelyk Psalm 104:30). Inderdaad kan Génesis 1:1-2 akkuraat vertaal word: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Die aarde het ’n woesteny en ’n chaotiese puinhoop geword en duisternis was op die wêreldvloed.”

Beskryf die Bybel énige sonde of rebellie teen God, voor die skepping van Adam, wat sulke chaos en verwoesting kon veroorsaak het? Ja, dit doen! Die Skrif vertel aan ons wat die duiwel gedoen het voordat hy Eva in die tuin van Eden ontmoet het, toe hy haar verlei het om teen God te sondig (Génesis 3:1-5). God se Woord maak dit duidelik dat engele teenwoordig was voordat die aarde bestaan het en hulle het van blydskap gejuig toe hulle gesien het hoe die fondament daarvan gelê word (Job 38:6-7). Lucifer – wat Satan die duiwel geword het, het gedurende hierdie tyd bestaan.

Die Skrif beskryf hierdie verdorwe, sondige skepsel wat ’n hoogmoedige engele-rebellie lei (Eségiël 28:12-16; Jesaja 14:12-14). Die Skrif gee te kenne dat dit ’n rebellie was wat moontlik ’n derde van die engele ingesluit het (Openbaring 12:4). Jesaja 14:14 beskryf hierdie trotse wese se begeerte om “bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” om die troon van God vir homself toe te eien, wat impliseer dat sy aangewese verantwoordelikhede onder die wolke en dus op die aarde was! Lucifer het die vrye wil gehad om God te gehoorsaam of om ongehoorsaam te wees en deur te weier om God se wil uit te voer het hy Satan geword – ’n teëstander van God.

Satan se rebellie het vernietiging en ondergang gebring, soos dit altyd met sonde die geval is. In hiérdie geval is die aarde verwoes terwyl sy opdrag was om die aarde vir God se doel voor te berei. Dit is hierdie chaotiese vernietigende verwoesting, tohu en bohu, wat ons kan sien in die woorde van Génesis 1:2 en dit is die wonderbaarlike ses-dae-lange herstel van hierdie planeet, tot ’n toestand van skoonheid en wonder wat geskik is vir God se skepping van die mensdom, waarvan ons in die res van Génesis se eerste hoofstuk lees!

Ons kan dus sien daar is genoeg ruimte in die woorde van die Skrif om voorsiening te maak vir ’n baie antieke ouderdom van planeet Aarde. Die Bybel se duidelike beskrywing van die skepping van die mensdom, byna 6,000 jaar gelede, is nie in stryd met die beskrywing van engele se aktiwiteite wat lank voor die gebeurtenis van Génesis 1:2 plaasgevind het nie – terwyl die wêreld aan Lucifer en sy engele toevertrou was vir God se doeleindes, voor die skepping van die mensdom.

Presies hoe lank gelede het dit gebeur? Hoe lank het Satan se rebellie geduur? Het die dinosourusse gedurende daardie tyd bestaan? Was dit miljarde jare gelede – naby aan wetenskaplikes se huidige skatting van ’n 4,5 miljard jaar oue Aarde? Was dit baie later?

Die Bybel swyg oor hierdie besonderhede. Daar is egter geen konflik tussen die woorde van die Skrif en die algemene wetenskaplike waarneming wat betref ’n antieke planeet Aarde nie.

Die wetenskap openbaar waarlik baie verborgenhede wat nog uitgeklaar kan word. Ons behoort egter nooit toe te laat dat die veranderende bevindings van die wetenskap – wat soms heeltemal omvergewerp word met die volgende ontdekking – veroorsaak dat ons twyfel oor wat die onveranderlike God in Sy Woord sê nie. Die bewyse van die geskiedenis en wetenskap, indien dit behoorlik verstaan word, sal altyd ooreenstem met die Woord van God soos Jesus Christus verklaar: “... u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).