Predikers en profetiese entoesiaste probeer dikwels om dit wat hulle op die wêreldtoneel sien, in Bybelprofesieë in te pas. Sommige mense verklaar dat Iran die “koning van die Suide” is wat in Daniël 11 genoem word. Terwyl die land egter beslis ’n leier van onrus in die Midde-Ooste was, voldoen dit skaars aan die Bybelse kriteria. Ons by Die Wêreld van Môre wys herhaaldelik daarop dat Iran nie suid van Jerusalem geleë is nie – die punt vanwaar die Bybel rigting en ligging bepaal.

Dit is net so maklik om China te beskou as ’n opkomende supermoondheid wat die Verenigde State sal vervang, maar Bybelprofesie waarsku teen ’n groter bedreiging vir die Amerikaners en nasies van Britse afkoms. Mediakenners, geopolitieke dinkskrums en die man op straat sien net wat die jongste nuus is, maar Bybelprofesieë waarsku teen naderende onrus uit Europa – spesifiek ’n federasie van nasies wat deur Duitsland gelei word.

 

Kyk na die Bron

Dit het alles begin met die eertydse koning Nebukadnésar, wat ’n duidelike droom gehad het van ’n reuse beeld van ’n man. Die kop van die beeld was van fyn goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en dye van koper, sy bene was van yster en sy voete was ’n mengsel van yster en klei. Die koning is meegedeel dat dit vier koninkryke voorstel wat tot stand sou kom. Sy koninkryk – die Chaldese of Babiloniese ryk – was die kop van goud. Ná sy koninkryk sou nog drie koninkryke tot stand kom en die vierde een sou vervang word deur die heerskappy van die Koninkryk van God op aarde (Daniël 2:31-45).

Daniël 7 beskryf dieselfde vier koninkryke as vier wilde diere en die vierde koninkryk sal voortbestaan, in een of ander vorm, tot God se ingryping aan die einde van die tyd. Ná Nebukadnésar se Chaldese ryk sou die Medo-Persiese, Grieks-Masedoniese en Romeinse ryke volg. Soos aangedui in Daniël 2 en 7, sou die vierde ryk, naamlik Rome, voortduur totdat die Koninkryk van God opgerig is – daar word egter algemeen saamgestem dat Imperiale Rome in 27 v.C. begin het en tot 476 n.C. geduur het. Het profesie ’n fout gemaak? Glad nie!

Teen die tyd dat Johannes die boek Openbaring in die laaste dekade van die eerste eeu n.C. aangeteken het, het die eerste drie van hierdie geprofeteerde vier koninkryke gekom en gegaan, die enigste een wat oorgebly het, was Rome wat uitgebeeld was as ’n dier met sewe koppe, ’n samestelling van die oorspronklike vier diere van Daniël 7 en Openbaring 13:1-5. Ons verneem dan dat een van hierdie saamgestelde dier se koppe ’n dodelike wond gehad het wat sou genees en dat dit vir 42 maande sou voortduur.

Let daarop dat die Skrif gewoonlik die “dag vir ’n jaar”-beginsel gebruik (Jesaja 34:8; Eségiël 4:6). Indien ’n Bybelse profetiese maand van 30 dae in ag geneem word, bring 42 maande ons by 1,260 dae of jare. Die geskiedenis bevestig dat Justinianus die Romeinse Ryk in 554 n.C. herstel het (die dodelike wond is genees) en dat dit deur die eeue nog vier keer herleef het. Die vyfde herlewing was dié van keiser Napoleon, wie se bewind in 1814 omvergewerp is – presies 1,260 jaar vanaf Justinianus se herlewing in 554 n.C. en sodoende is die profesie vervul wat aan ons gegee is in Openbaring 13:3-5!

In Openbaring 17 word hierdie onderwerp weer aangeroer en ons verneem dat, ná Imperiale Rome, daar altesaam sewe herlewings sou wees. Die eerste herlewing was weereens onder Justinianus. Hierdie herlewings sou egter ’n merkbare verskil van dié van Keiserlike Rome toon; hulle sou deur ’n onsedelike vrou “beheer” word. “En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit ... En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:1, 3).

In die Skrif simboliseer ’n vrou dikwels ’n kerk (2 Korinthiërs 11:2; Efésiërs 5:31-33), maar hierdie een vervolg ware Christene en gee geboorte aan hoer dogterkerke (Openbaring 17:4-6). Wat het dit met u persoonlike lewe te doen?

Gelukkig gee die Bybel die antwoord, wat alles te doen het met geopolitieke gebeure in die nabye toekoms. “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge [heersers of koninkryke] waar die vrou [hoerkerk] op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:9-10). Oor ’n tydperk wat strek van 1,260 jaar sou die groot hoerkerk haar invloed uitoefen oor vyf herlewings van die Romeinse Ryk, gelei deur Justinianus, Karel die Grote, Otto die Grote, Karel V en Napoleon. Dan sou die opkoms van Mussolini en Hitler kom, gevolg deur ’n sewende herlewing wat eers aan die einde van hierdie tydperk tot stand sal kom.

Terwyl ’n groot deel van die Westerse wêreld die opkoms van China vrees, sal die finale herlewing van hierdie Duits-geleide dieremag, saam met die hoervrou wat die dier beheer, die wêreld verras. Bybelprofesie openbaar wat nie in vandag se nuus waargeneem kan word nie. Duitsland sal ook nie alleen wees nie, aangesien dit die rol aanneem wat die Skrif aandui. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (verse 12-13).

Twee gebeurtenisse sal hierdie ekonomiese en reuse militêre mag teweegbring. Die leier van hierdie kombinasie van nasies, bekend as die Dier, sal vergesel word van ’n godsdienstige figuur wat die Bybel “die valse profeet” noem – wat dikwels as die Antichris beskou word. Dit lyk asof godsdiens in die grootste deel van die wêreld aan die afneem is, maar dit sal vinnig verander wanneer hierdie charismatiese, bedrieër wat wonderwerke doen sy verskyning maak.

’n Kragtige ekonomiese en militêre instelling van tydelike verenigde nasies in Europa, tesame met ’n dramatiese toename in godsdienstige entoesiasme, lyk of dit onmoontlik is in vandag se hedendaagse wêreld – maar dit is nie. Hierdie laaste herlewing van die Romeinse Ryk sal die wêreld soos ’n warrelwind oorweldig. Baie mense sal vasgevang word in die geesdrif en sal so mislei word dat hulle teen die ware Jesus Christus sal veg tydens Sy Wederkoms, aangesien hulle mislei is om te glo dat Hy die Antichris is. “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14).

 

God se Woord het die antwoorde

Moenie ’n fout maak nie – ons lewe nou in die tyd van die einde. Baie profesieë word nou vervul, maar net die regverdiges sal dit verstaan. Wanneer Daniël gevra is aangaande die dinge wat hy aangeteken het, was vir hom gesê: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:9-10).

In plaas van om ’n paar skriftuurlike frases uit konteks aan te haal en daarin te lees wat ons dink ons op die oomblik verstaan, moet ons getrou wees aan God se Woord en vertrou dat wat Hy sê sal gebeur. Ons sê dikwels, moenie ons glo net omdat ons iets sê nie – bewys dit aan uself uit die Bybel. Ons hoop u heg waarde aan die hulpbronne wat ons by die Wêreld van Môre aanbied om u te help om die Bybel duideliker te verstaan.

Twee van daardie hulpbronne mag veral behulpsaam wees in hierdie tyd van toenemende wêreldspanning. U kan meer te wete kom oor wat om te verwag in die Midde-Ooste in die tye wat voorlê. Bestel ons insiggewende, gratis studiegids Die Midde-Ooste in Profesie of lees dit aanlyn by wvm.co.za. U kan meer inligting bekom omtrent die Europese mag van die dier en die vrou wat daarop beheer uitoefen – wat binnekort tot stand sal kom. U kan ’n gratis eksemplaar van Die Dier van Openbaring bestel of u kan dit ook aanlyn lees.