Ons is geneig om baie opgewonde te raak oor groot gebeurtenisse of nuwe uitvindings, veral dié wat ingewikkelde moderne toestelle behels. Ons is verstom oor nuwe vliegtuie, duikbote en onbemande vuurpyle wat hulleself na die aarde kan laat terugkeer. Ons verwonder ons oor die toenemende kragtige vermoëns van rekenaars. Baie hiervan is werklik verstommende ontwikkelings waarvoor hulle uitvinders en ingenieurs tereg lof toegeswaai word. Die meeste van hierdie gesofistikeerde uitvindings beïnvloed tog nie ons daaglikse lewens direk nie.
Ons lewens word egter daagliks verryk deur ’n magdom skynbaar eenvoudige produkte, dikwels oënskynlik so alledaags in die ontwerp daarvan dat ons gewoonlik nalaat om die genialiteit daaragter raak te sien. Hierdie ongesofistikeerde toestelle, wat dikwels as “klein dingetjies” beskou word, maak tog uiteindelik ’n groot verskil in ons alledaagse roetines.
Op ’n rol
Neem in ag dat, voor 1940, mure en plafonne van ’n huis heeltemal met ’n kwas geverf moes word. Hierdie arbeid en vaardigheid het tot gevolg gehad dat baie mense nie die werk self gedoen het nie maar verkies het om professionele verwers te huur. Baie mense is deesdae onbewus daarvan dat ’n inwoner van Toronto omstreeks 1940 ’n groot verskil gemaak het met ’n oënskynlik eenvoudige uitvinding. Norman Breakey het nogtans as onbekende gesterf – sy werk het later aandag gekry. Die tekstielstofverkoper, Tom Hamilton, het ’n gesprek onthou wat hy in 1939 met Breakey gehad het, terwyl hy ’n nuwe uitvindsel ondersoek het:
Hy (Breakey) was ’n man met wit hare wat baie doelgerig was. Hy wou my opinie hê oor die beste soort materiaal wat ’n stywe borselagtige tekstuur het. Ek het gevra vir watter doel en hy het gesê: “Dit is om verf te kan aanrol”. Dit het vir my nogal kopkrap gekos, maar hy het vasberade voortgegaan en vir my iets beskryf met ’n handvatsel in die vorm van ’n “7” wat dan aan ’n karton, tekstielbedekte silinder sou kon heg. “Indien my teorie reg is, sal hierdie ding ’n rewolusie in verfwerk in Kanada tot gevolg hê”, het hy gesê (“The Inventor From Pierson,” Heritage Explorer, VantagePoints.ca).
Breakey het sy nuwe produk plaaslik op klein skaal vervaardig, maar het nie genoeg van hierdie nuwe “verfrollers” vervaardig om sy patent te beskerm nie. Gevolglik het ander vervaardigers die idee gekry en hulle eie weergawes geskep en so het ’n werknemer van Sherwin-Williams, naamlik Richard Croxton Adams, kort voor lank ’n Amerikaanse patent verkry. Breakey se naam is nie juis bekend nie, hoewel sy eenvoudige uitvinding inderdaad ’n omwenteling in die proses van verfwerk tot gevolg gehad het. ’n “Klein dingetjie” het grootliks bygedra om mense se lewens makliker te maak (“The Canadian invention that put painters on a roll,” The Toronto Star, 28 Junie 2022).
Rits vorentoe
Dink aan ’n ander uitvinding wat ons daagliks gebruik. Waarskynlik dink ons nooit aan die werk wat gedoen is om dit uit te vind of besef nie watter enorme verskil dit in die lewens van mense regoor die wêreld maak nie. Dink aan die “ritssluiter”.
’n Verskeidenheid hegmiddels word op ontelbare wyses gebruik. Dit hou velle papier bymekaar, hou deksels op houers, hou masjinerie behoorlik aanmekaar en is noodsaaklike items wat deel is van ons klere. Mense het eeue lank na beter maniere gesoek om dinge aanmekaar vas te maak.
’n Amerikaanse uitvinder met die naam Elias Howe, wie die eerste werkende model van ’n slotsteek-naaimasjien in die vroeë 1800’s uitgevind het, het later gewerk aan maniere om ’n materiaalhegstuk te maak wat vinnig toe- en oopgemaak kon word. In 1851 het hy, wat hy genoem het die “Outomatiese, deurlopende kleresluiter” gemaak, maar hy was nooit in staat om ’n betroubare werkende model te skep nie. In 1893 het Whitcomb Judson, ’n uitvinder van Chicago, voortgebou op hierdie ontwerp toe hy ’n taamlik ingewikkelde rits-agtige item uitgevind het wat hy ’n “Clasp Locker” genoem het en wat selfs by die Chicago World’s Fair vertoon is. Die item moes egter verbeter word en een van Judson se sakevennote het die Universal Fastener Company gestig om die item te verbeter en te verkoop onder die naam “Judson C-curity Fastener”.
Hierdie taak was ingewikkeld en uitdagend en daarom het die maatskappy vir Gideon Sundback, ’n Sweeds-gebore elektriese ingenieur gehuur. Na baie werk het Sundback die ingenieurs-uitdaging se probleem opgelos en die ritssluiter uitgevind wat ons nou ken as die hedendaagse ritssluiter, oorspronklik genoem die “Separable Fastener”. ’n Patent is in 1917 geregistreer en Sundback het ook ’n masjien uitgevind om sy hegstuk te vervaardig. Die naam “ritssluiter” was in 1924 deur die B. F. Goodrich Company geskep nadat dit die hegstuk op sy rubber-oorskoene aangebring het – (“Zipping Down History,” FashionHistoryMuseum.com, 6 September 2022).
Sundback het die internasionale regte vir die uitvinding aan ’n Britse maatskappy verkoop, wat ’n Kanadese filiaal met die naam The Lightning Zipper Company gestig het. Sundback het as president gedien tot sy dood in 1954. Hy het sy fabriek in St. Catherines, Ontario, gevestig en gereeld daarheen gereis om toesig daaroor te hou (“Otto Frederick Gideon Sundback – Inventor of the First Modern Zipper,” IngeniumCanada.org, 30 Junie 2017).
Baie min uitvindings in die menslike geskiedenis het só ’n impak op die daaglikse lewe gehad as die nederige ritssluiter. Dit word op allerhande kledingstukke, tasse en tente gebruik en dit spog met byna onbeperkte kommersiële en industriële toepassings.
Op stuk van sake is dit nie so nietig nie
Albei hierdie uitvindings is maklik om oor die hoof te sien of as vanselfsprekend te aanvaar, asof ritssluiters en verfrollers nog altyd deel van die samelewing was. Die skepping daarvan het tog verbeelding, ontwerp en deursettingsvermoë vereis deur die toets-en-tref-metode. Die resultaat van daardie harde en kreatiewe werk is twee alledaagse items wat ons nou oneindig baie sou mis indien dit skielik nie meer beskikbaar sou wees nie. Dit is twee oënskynlike “klein dingetjies” wat byna almal se lewe eenvoudiger en beter maak. Dit help om ons lewens van die moeisame en alledaagse na iets makliker, aangenamer en meer bevredigend te verander.
Dieselfde kan gesê word van die baie klein dingetjies wat elkeen van ons kan doen om iemand anders se dag te verbeter. ’n Bemoedigende glimlag, ’n vriendelike woord of groet, ’n beleefde gebaar of ’n nuttige daad – al hierdie dinge dra by tot die verbetering van die kwaliteit van iemand anders se dag asook ons eie. Sulke oënskynlik klein gebare soos ons interaksie met vriende, kollegas, werkgewers, kliënte, vreemdelinge en veral ons gesinne, dra by tot vrede en bevrediging vir onsself en ander mense.
“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kolossense 3:12-15).
Wanneer ons mense beleef behandel, vir hulle glimlag en vriendelikheid betoon, kan dit dalk na nietige gebare lyk en in ’n sekere sin is dit so. Dit is egter ook kragtige dade vol impak wat ’n veranderde verskil kan maak in ’n wêreld waar hoflikheid en sagmoedigheid vinnig besig is om te verdwyn. Trouens, dit maak ’n baie groter verskil as ’n verfroller of ’n ritssluiter om oomblikke van geluk in ’n mens se lewe te bring.
Ons as Christene is geroep om ambassadeurs vir Jesus Christus te wees (2 Korinthiërs 5:20). Laat ons dus nie geleenthede laat verbygaan om selfs kortstondige bemoedigende geleenthede in die lewens van ander mense te bied nie. Klein dingetjies maak ’n verskil om die samelewing vandag ’n bietjie beter te maak – en môre báie beter.


